Bouwer Bosch se nuwe album, Hopelik, is pas uitgereik. Die man met verskeie ysters in die vuur beantwoord 'n paar vrae.
Goeiedag, Bouwer. Hoe lyk dinge deesdae jou kant?
Dagsê! Dit gaan heel goed hierdie kant, dankie. Ons is tans besig met preproduction op ons nuwe film, Vuil wasgoed, so dit is 'n baie exciting projek wat voorlê vir Februarie/Maart. Verder sit ek maar die res van my tyd en energie in Liefde Wen in om die organisasie bietjie op nuwe plekke uit te kry.
Geluk met jou nuwe vollengte-album, Hopelik. Die eerste ding wat mens opval met die luister na die album is die besonder hoë produksiegehalte. Met ander projekte – soos Dans Dans Lisa – en van jou vorige solo-vrystellings was die klank dikwels juis gestroop, lo-fi amper, as deel van die aantrekkingskrag. Hopelik is op 'n totaal ander vlak, met so baie dinge wat aangaan op die voorgrond en agtergrond (veral op snitte soos “Tiekiedraai”). Hoe het die besluit gekom om in dié rigting te beweeg? Wat was vir jou opwindend daaromtrent, en wat was meer uitdagend? Hoe en saam met wie het jy die proses benader? Wat is vir jóú die grootste "nuwe rigting" wat verken word op Hopelik?
Baie dankie, waardeer dit. Oukei, so ek dink dit is maar iets wat natuurlik gebeur hoe langer jy hierdie ding doen. Ek het nie opgestaan en gedink ek moet ’n album doen met hierdie tipe klank nie. Ek dink met Dans Dans Lisa was die plan om acoustic-gedrewe te wees, omdat niemand anders dit gedoen het daai tyd nie. My vorige album was ’n groot leerskool en ek het geleer dat ek meer moet omgee oor die goed wat ek skryf en die klank van my album. Ek dink toe ek jonger was, was ek baie meer net soos “enigiets sal fine wees, dis mos musiek”, maar ek het gou geleer mense gee om oor mense en jy het ’n verantwoordelikheid om jou beste te gee vir die mense wat van jou werk hou.
So, met hierdie album wou ek iets anders doen. Ek wou Peach van Pletzen as vervaardiger gebruik, want ek hou baie van sy aanslag tot musiek. Hy het 'n ongelooflike oor vir pop, maar tog alternatiewe pop – hy het my baie gechallenge oor hoe my songs geskryf was en my baie geleer oor die proses te vertrou en nie alles vinnig te wil afhandel nie. Elke Straatligkinders-album was in vier weke opgeneem, gemix en gemaster. Met Dans Dans Lisa se laaste album het ons in twee weke als gedoen. Hiérdie album van my is oor agt maande gedoen. Dit was ’n great ervaring om ’n song te laat lê vir ’n week of twee en hom dan weer te gaan besoek en nuwe goed te hoor.
Ek probeer maar altyd iets doen wat ander nie doen nie – ek kan nie sing soos Francois van Coke of Bobby nie, so ek moet maar iets try wat anders is om tussen die groot visse te swem, so ek wou aan ’n klank werk wat rouheid vasvang met klanke wat jy vandag baie op die radio sal hoor. Hoe die proses gewerk het, is: ek het die songs geskryf op my rekenaar by die huis, baie rowwe produksie op dit gedoen met beats en kitaar licks waarvan ek gehou het en dan het ek die project files vir Peach gestuur dat hy kan begin timmer aan dit. Hy sou dan sy voorstelle deurstuur, en so het ons heen en weer gewerk en deur die songs gestoei. Ek het baie van die lirieke saam met Almero geskryf ('n nuwe up-and-coming singer-songwriter saam met wie ek begin werk het). Vir die eerste keer ooit was ek oop om saam met iemand lirieke te skryf – dit was altyd vir my ’n baie heilige ervaring en ek wou dit altyd alleen doen, maar ek dink ek kyk deesdae anders na musiek – ek het die platform om ander skrywers ’n kans te gee om hulle stemme en penne dik te maak, so ek geniet dit om mense beter as ek in te pull deesdae.
Ek dink die mees uitdagende deel van hierdie album is die feit dat ek moes vrede maak dat ek vir ’n meer produced sound gaan, so dit gaan my live show in ’n manier beinvloed – ek het vir drie jaar net met ’n kitaar en kickdrum gespeel, nou speel ek weer met ’n band of soms net ek en ’n guitarist en tracks wat ek laat hardloop.
Net so 'n interessante storie oor "Tiekiedraai": ek skryf deesdae bietjie songs vir ander kunstenaars en "Tiekiedraai" was actually ’n follow-up single op ’n song wat ek vir ’n ander kunstenaar geskryf het. Hulle het nie rêrig van die song gehou nie en toe besluit ek maar ek gaan hom dan op my album sit. Jy sal mooi hoor hy is die enigste song wat nie rêrig inpas in terme van die lirieke nie, maar ook nie die musiek nie. Dit is net ’n cheesy love song, maar dit is die mooi deel van musiek of om ’n album te maak. As iets perfek of predictable is, is dit vervelig vir my.
Met die bogenoemde in ag genome ... die nadeel van 'n album met so baie musikale elemente wat bygewerk word, is natuurlik dat dit bykans onmoontlik is om die liedere net so live uit te voer! Hoe hanteer jy dié uitdaging? Wat dink jy wen of verloor 'n mens tussen die opname en die live optrede? Word dit eintlik 'n heel nuwe lied wanneer daar slegs kitaar en stem betrokke is, of is dit vir jou belangrik om live so na as moontlik aan die opname te bly? Hoe vind 'n mens, met herbesoek, die essensie (die ruggraat) van jou eie lied, en hoe krities moet mens op jouself wees in dié opsig?
Baie goeie vraag. Dit was my grootste ding waarmee ek moes vrede maak – dat as ek hierdie wil live doen, gaan ek met ’n band moet speel en/of met tracks, wat oorspronklik vir my nogal ’n scary idee was. Ek het vir vyf jaar my longe uit gesing en geskree saam met Straatligkinders en nou daag ek met tracks by ’n show op. Dit is waar Peach my baie gehelp het om nie musiek en live shows so te overthink nie. So, tans is my live show baie soos die album se produksie, omdat Peach my live show produce het ook – ek het ‘n klomp van my vorige singles ook verwerk en oor-opgeneem vir die live shows om dinge bietjie fun en meer lewendig te maak live.
Ek het vir so lank net die acoustic ding gedoen en dit was great, maar mense raak verveeld by sekere tipes shows waar hulle net wil partytjie, so ek het nou die opsie om ’n baie intieme unplugged show met die songs te doen, of ’n full-on live, meer dans-georiënteerde show te gooi, wat dit lekker maak vir my. Toe ek jonger was, was ek baie erg teen tracks en ek was nogal arrogant en het gedink dit is ‘n swak vorm van live shows, maar ek dink ek verstaan die proses nou anders en besef musiek behoort nie aan my nie, dit behoort nie aan jou nie, so daar is nie reëls rondom dit nie. Daar was nooit reëls gewees dat jy nie tracks mag gebruik nie, en daar was ook nie reëls gewees dat jy met ’n band moet speel nie. Mense maak maar hulle eie idees oor artistieke integriteit op, en dan word dit die barometer van wat is goed of nie of wat selling out is of nie.
Ek het vir lank nogal ’n selfsugtige uitkyk oor musiek gehad, ek was baie arrogant en het net geskryf en opgeneem en gedink almal gaan van als hou wat ek doen, en indien nie, is dit hulle loss, maar ek dink hoe ouer ek raak, hoe meer besef ek die ongelooflike voorreg en verantwoordelikheid wat ek het, want die goed wat ek sing en skryf val op mense se harte, so ek moet meer integriteit insit en moet meer die mense dien, as ek so kan sê. Jy gaan altyd maar vyf ouens by jou show hê wat gaan dink jy is overrated, en dan gaan daar ook vyf mense wees wat absoluut alles love wat jy doen. Ek het nog nooit live musiek gedoen soos ek dit nou doen nie, en dit is vir my ’n lekker ding, dat ek myself met nuwe goed uitdaag, want waar lê die groei vir jouself as jy heeltyd dieselfde goed doen? Mens swem baie lekkerder in die diepkant.
Die album het ook in die algemeen 'n intieme, laer-tempo inslag op die meerderheid van die liedere – ver weg van die harder Straatligkinders-tipe klank, of die ligter en vrolike Dans Dans Lisa-benadering. Voel dit of jou solowerk juis die ruimte is waar jy dié meer op-die-man-af liedere kan skep en uitvoer? Of is dit bloot 'n geval van ouer word, anders dink oor musiek, en 'n evolusie in die skryfproses? Hoe sou jý jou groei oor die afgelope klomp jaar as musikant beskryf, met Hopelik as verwysingspunt vir waar jy nou is?
Wow, diep vraag, haha. Ek geniet hierdie baie. Ek dink dit is alles deel van waar ek nou in my lewe is. Met Straatligkinders was baie van die content waaroor ek geskryf het die kerk en hoe ek oor God voel, en saam met dit wou ons ’n klank skep wat relevant was in daai tyd. Ek dink dit was goed en nodig vir daai tyd, maar mens ontgroei sekere goed, so deesdae wonder ek minder oor God, en die kerk het meer mense as geboue geword vir my, so my aanslag en uitkyk rondom skryf en musiek het drasties verander. Ek dink vir ’n lang tyd het ek geskryf uit ’n kwaai plek in my hart. Ek wou sekere goed duidelik maak, ek wou die kerk gas gee, ek wou vir almal sê daar is hoop in ’n stukkende wêreld, ek was baie selfsugtig in ’n manier waar ek baie van my eie idees en opinies oordra – nie noodwendig om te sê ek is reg en jy's verkeerd nie, net sodat daar ’n ander stem op die tafel kan wees, en deesdae probeer ek net meer eerlik wees oor my gebrokenheid, as ek so kan sê. Meer eerlik wees oor my weerloosheid. Toe ek jonger was, wou ek skryf om gesond te word en wou ek skryf om almal hoop te gee in ’n mate. Deesdae skryf ek om net meer eerlik te wees met myself en iemand wat luister.
Net op ’n produksie-aspek van die album: ek het nie die mooiste stem in die wêreld nie en het nog altyd met ’n vreemde husky vibe gesing, of so 'n sing-skree tipe ding wat nie rêrig aantreklik op die oor was nie, maar Peach het my baie gechallenge om net te sing, probeer net die note nail, vergeet van al die ander goed, en dit was baie nuut vir my, want ek was gewoond aan ’n sekere manier vir sewe jaar en nou moes ek net sing en probeer mooi sing, so dit was ook iets waaraan ek gewoond moes raak.
Hopelik is definitief ’n projek of album wat my al die meeste gestretch het, liriekgewys asook musiekgewys. Ek het ook geleer die beste ding wat ’n kunstenaar kan doen is om homself te omring met mense beter as hy. Ek sal nie sommer weer ’n album of songs alleen aanpak nie – ek voel hoe meer inklusief die proses is, hoe ‘n groter invloed gaan die werke hê.
Jy's besig met 'n toer vir die album se bekendstelling. Onder meer speel jy een aand in die Bergsig Kerk, Durbanville, en twee aande later in die nagklub Aandklas, Stellenbosch. Dit is, wel, uiteenlopend! Vind jy dat jou gehoor noemenswaardig verskil van wanneer jy in 'n kerk speel teenoor 'n nagklub, en hoe? Hoe verskil jou verhoogpersoonlikheid tussen dié soort venues? Het die fisiese omgewing 'n impak op jou benadering, die stories wat jy vertel en dies meer, of tot watter mate is dit vir jou 'n doodnatuurlike vloei? Wat is vir jou die lekker en minder lekker elemente verbonde aan gigs by dié verskillende soort venues?
Ek was ’n jeugwerker in Potch gewees voor Straatligkinders begin het en het nog altyd gevoel die Sondagoggend-kultuur is 10 jaar agter die Saterdagaand-kultuur, en het destyds toe Straatligkinders net begin het, baie nonsens gekry omdat ons by Oppikoppi gespeel het en dat ek in die kerkband ook was. Maar ek het presies dieselfde benadering met albei shows. Shows by kerke word maar net anders georganiseer, so daar is gewoonlik ’n Q&A session wat ek baie van hou, want dit gee my kans om eerlik my hart te deel rondom hoe ek voel die kerk maak soms droog, so dit is lekker om by ’n kerk te wees en eerlik te kan praat oor my hart en hoe ek dinge sien.
Ek het maar my issues met die kerk en ek sukkel om die NG Kerk te vergewe dat hulle apartheid ondersteun het, so ek weet maar net dat geloof ’n groot rol in almal se lewens speel, maak nie saak in wat jy glo nie, so enigiets wat met die siel te doen het, stel ek baie belang in om van deel te wees. Ek doen glad nie “worship” musiek nie, omdat dit vir my ’n leefstyl is en nie ’n musiekgenre nie, so my shows by kerke en clubs is maar dieselfde show in terme van die musiek. Hunter Kennedy het eenkeer vir my gesê hy sien my as die “Trojan horse” van christene – omdat hy my hart ken en verstaan, het hy gesê wat ek doen is nodig, want iemand moet die kerk van die binnekant af aanvat. Dit was ’n baie fun en informele gesprek en spotterig gewees, maar dit is definitief iets waarvoor ek nog altyd ’n passie gehad het.
My shows by clubs is mense meer net daar om ’n lekker tyd te hê, saam te sing en dans en dan te waai – ek het al geleer dat as jy te veel praat en stories wil vertel by sulke goed, dan verloor jy bietjie die crowd, so elke show het sy uitdaging. Ek dink my gunsteling-tipe shows is maar teaters, waar jy twee ure het om te doen wat jy wil. Mense kom om te luister, na jou songs en jou stories, en gewoonlik is die stories beter as die songs, so dit is lekker om tyd te hê vir albei by teater-shows.
Die album bevat onder meer die snit "Sy klink soos lente", geskep vir die gelyknamige fliek wat onlangs uitgereik is. Jy was 'n vervaardiger van dié fliek, en het self 'n akteur- en aanbiederloopbaan aan die gang. Stel jy jouself deesdae voor as "Bouwer, musikant" of "Bouwer, akteur"? Hoe het jou ervaring in dié ander sfere beïnvloed hoe en wat jy dink oor jou eie musiek – in terme van, sê maar, tot hoe 'n mate die behoeftes en reaksies van jou gehoor 'n rol moet speel? Hoe waardevol is dit vir jou om 'n vinger in soveel pies te hê, of mis jy eintlik die kans om op slegs een ding te fokus?
Ja, dit is ’n baie goeie vraag. Weer eens iets wat ek in 2016 geleer het: “Don’t half-ass two things … whole-ass one thing” – Ron Swanson (my favourite TV-karakter). Ek dink ek stel my deesdae voor as ’n kunstrepreneur. Iemand wat maar in die kunste dabble, iemand wat vyf goed moet doen in die kunste om aan die lewe te bly. Ek het ongelooflike vriende met amazing talente, en hoe die filmgoed op my tafel beland het is deurdat ek musiekvideo’s al vir sewe jaar doen. Ek weet bietjie van skiet en edit, en ek en my vriend Bennie Fourie, wat ’n skrywer is (Hotel op kykNET), het vir fun ingeskryf vir Silwerskermfees en wraggies beste kortfilm gewen en die geld gekry om full-length te ontwikkel, wat nou al twee jaar neem.
So, ek het nie eintlik aspris ’n keuse gemaak dat ek nou films gaan begin maak of act nie – alles het maar so toevallig gebeur en die projekte het toevallig net groter geraak. Ek sal nooit kan ophou musiek maak nie, omdat dit die taal is waarin ek dink. Ek droom nie in stories of flieks nie, ek droom in musiek en note; ek is maar net bevoorreg om omring te wees met great vriende wat skrywers en actors is wat my vra om deel van hulle amazing wêreld te wees.
Die nadeel van films maak is dat dit ongelooflik baie tyd vat. Ons het in November 2016 begin met oudisies vir Vuil wasgoed, ons het nou in Januarie begin met preproduction vir vyf weke, dan skiet ons vir vyf weke, en dan screen ons die film by Silwerskermfees 2017 en dan release hy landswyd in November, so al daai tyd tussenin werk jy aan bemarking en gaan op toere om jou fliek na almal te vat. So dit is ’n crazy gedagte dat jy omtrent 16 maande werk aan ’n 90-minuut-film.
Wat die TV-aanbieding betref, is dit lekker om met die amazing kunstenaars skouers te skuur en om 5-minuut-sessions te hê waar jy in ander mense se lewens en kreatiewe prosesse kan inklim – die mense wat ons al ontmoet het op die show was amazing en dit is mense wat ek nie op ’n ander manier sou kon ontmoet nie, so dit is great om so iets in my lewe te hê, want al daai stories en ervaringe sit ek in my songs. Iemand soos Francois van Coke is ’n ongelooflik goeie voorbeeld van die waarde van op een ding te fokus. Hy is die grootste legende van ons era en gaan vir altyd hierdie kan doen wat hy nou doen, omdat hy so gefokus is en omdat hy op een ding fokus. Ek het soveel respek vir hoe hy sy loopbaan bestuur en ek dink hy herskryf die boeke vir wat dit vat om ’n musikant te wees.
Die ander issue in my lewe is dat ek baie gou verveeld raak. “Verveeld” is dalk nie die regte woord nie, maar ek kan nie net een ding doen nie, veral nie vir te lank nie, so vir my om te oorleef emosioneel het ek nodig om verskillende outlets te hê. Ek is baie lief vir komedie, maar kan dit nie rêrig in my songs inbring nie, so ek het dan die acting waar ek dit uit my uit kan kry. Ek moet sê, though, dat toe ek Hopelik opgeneem het, het ek dit baie gemis om net musiek te doen, omdat dit so ’n ongelooflik fulfilling ding is om te doen, so maybe as ek oor twee of wat jaar klaar is met die films, dan bou ek my eie studio en word ’n producer (ek wens).
Benewens dit alles is jou Liefde Wen-veldtog ook nie te versmaaie nie. Wat is die mikpunte van dié veldtog vorentoe? En hoe balanseer jy dit alles met musiek? Hoe wissel jou prioriteitslys in dié opsig, en wat sal jou raad aan andere wees (uit ervaring) wat ook so baie dinge gelyk aan die gang moet hou? Het die getroude lewe miskien iets te doen met die geordende manier van dinge doen? Hoeveel moeiliker is dit as wat dit lyk?
Ek gaan eerlik wees met jou, dit is nie altyd ideaal nie. Die gevaarlike ding van om te doen waarvan jy hou, is dat jy dit sal aanhou doen ten koste van mense om jou, en dan besef mens te laat wat eintlik belangrik was in die lewe. Ek het dit nogal laat agtergekom en baie meer foute gemaak toe ek jonger was rondom "besig wees". Liefde Wen is ’n voltydse projek wat ek aan die gang hou saam met ’n amazing span mense. Die hele mission agter Liefde Wen is om te help. Om te probeer nood minder maak. Soms kry ons dit reg, ander kere nie. Weer eens Ron Swanson se “Don't half-ass two things, whole-ass one thing” – en ek probeer deesdae baie minder goed op my tafel sit, juis omdat as mens se aandag so versprei is oor projekte, kry dit nie jou volle aandag nie. Dit help dan juis om goeie mense om jou te hê wat kan help, maar ek is nogal ’n control freak soms, so dit is moeilik vir my om goed te laat los en om mense te vertrou wat wil help ... ek raak wel beter met dit.
My vrou het definitief gehelp dat ek beter beplan. Sy is ongelooflik goed met dit en dit help my baie. Ek dink my grootste uitdaging of vloek van wie ek is, is dat ek baie gou verveeld raak met net een ding doen. Ek sal nie net kan sing en skryf nie – dis vreemd, maar ek raak soms net te verveeld met dieselfde ding oor en oor, so dan begin ek ander goed aanpak, en as jy weer sien doen jy vyf goed. So deel van hoekom dit soms so chaos is in my lewe, is dat ek nie net een ding kan doen nie, maar die ander kant van die muntstuk is maar besigheid. Ek dink nie ek maak die regte tipe musiek om 20 shows per maand te doen nie, dis net nie kommersieel genoeg nie (dink ek), so ek moet vyf goed doen om aan die lewe te bly, so daar is maar altyd ook ’n besigheidsrede agter die klomp goed.
Hoe ouer ek word, hoe beter word ek darem daarmee om te besef dat musiek maar ’n besigheid is. Mense het brood en melk nodig om te oorleef, en net so het mense musiek nodig om te oorleef. My raad aan ander is net om jouself te omring met mense beter as jy; dit help altyd om dinge gedoen te kry asook om dit goed gedoen te kry.
Terug na die musiek. Jy het al 'n magdom gigs agter die rug, met al die verskillende projekte. Wat, spesifiek met betrekking tot jou solowerk, is vir jou tot dusver die hoogtepunt in terme van optredes, vreemde agter-die-skerms-stories en dies meer? Enige spesifieke laagtepunte, of uitdagings wat onoorkombaar gelyk het? Wat (of dalk eerder "waar") sal jy nog wil bereik in terme van jou solo-optredes?
Ek dink een ding wat nooit sal oud raak nie, is persoonlike stories. Mense wat jou stories kom vertel van hoe ’n song hulle deur ’n moeilike tyd gehelp het. Die meeste van my songs word geskryf in moeilike persoonlike tye, en dan help dit ander weer in sulke tye. Daar is ’n vreemde magic in musiek wat mens nooit sal verstaan nie, so mense se stories roer my altyd. My live shows tans is baie lekker, omdat dit gevul is met baie random stand-up comedy bits wat ek doen, maar ook ’n groot stuk weerloosheid. Daar is maar net ’n handjievol alternatiewe kunstenaars in Afrikaans, en ek het vir ’n hele ruk nogal gevoel daar is nie plek vir my nie – dat my songs outdated is en dat niemand rêrig meer omgee oor wat ek te sê het nie. Vir ’n lang ruk was daar maar net hierdie groot stuk insecurity binne my oor wat ek doen en wie ek is, maar ek dink dis weer eens hoe amazing musiek is – dat die oomblik wat mens maar net weer agter daai klavier sit en eerlik is met jouself, dan vind jy bietjie weer moed om weer jou mond en hart oop te maak.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Bouwer Bosch?
Op die oomblik werk ons hard aan Vuil wasgoed se preproduction. Ons shoot middel-Februarie tot einde Maart en release by Silwerskerm hierdie jaar, so daar is nog baie werk wat voorlê met dit. Liefde Wen is ook besig met ’n paar exciting projekte.
Om in ’n huwelik of enige verhouding te wees verg werk en sacrifice, so binne al die projekte probeer ek ’n goeie man wees vir my vrou en probeer ons maar sorg dat ons verhouding ook groei en nie net ons loopbane nie. Dit is maar ’n ewige stryd, omdat ons so gelukkig is om te doen waarvan ons hou, maar ons leer elke dag meer en meer van die bedryf en mekaar, so daar is nog genade sigbaar binne al die chaos.
Wat is die sin van die lewe (deesdae)?
Vir my is dit maar net om lief te wees vir die persoon langs jou. Ek weet nie altyd hoe liefde lyk nie, veral nie vir vreemdelinge nie, maar ons almal is op hierdie rowwe aarde gesit met geen bloudruk van hoe om hierdeur te kom nie, so ons almal wing maar net eintlik die lewe, so hoekom nie maar net vriendelik wees met die persoon langs jou of bietjie liefde wys soos jy goeddink nie?
Ek is op ’n vreemde plek in my lewe. Apartheid en als wat gebeur het daai tyd en al die nagevolge van dit is ’n ding wat my deesdae in my diepste dele van my hart raak, en my sommer soms in ’n ligte depressie laat, so ek het hierdie gevoel in my hart wat op my druk wat handel oor jammer sê – ek voel nie daar was genoeg gedoen van die NG Kerk of die destydse regering om jammer te sê vir wat hulle gedoen het nie. Ek voel dit moet meer gereeld gebeur ook. Dit is so vreemd vir my – ek het lanklaas so ’n gevoel in my hart gehad, die gevoel van iets wat ek moet doen. Jy ken daai gevoel van wanneer jy weet jy moet met iemand gaan praat of vir iemand gaan jammer sê of vir ’n meisie gaan uitvra? Ek sit met so ’n vreemde gevoel in my hart en probeer uitfigure hoe ek te werk moet gaan om daaraan uiting te gee.
Dit kom maar net neer op vergifnis en genesing, en ons (blanke NP-) regering destyds was deel van die grootste seer in ons land, maar ek voel nie ons doen genoeg om deel van die genesing te wees vandag nie, en dit moet verander. So, ek dink deesdae is die sin van die lewe vir my om ’n brug te probeer wees op een of ander manier, maar die ironie van om ’n brug te probeer wees is dat mense oor jou loop van albei kante af, so mens kry maar flack vir elke tweede ding, maak nie saak wat jou intensie is nie.
The post Bouwer Bosch: "As iets perfek of predictable is, is dit vervelig" appeared first on LitNet.