koninkryk
my tuiste was nooit by die huis nie,
selfs nie by ’n vakansiehuis by die see.
ek het nooit my tuiste by vriende gevind nie,
maar ook nie in ’n minnaar se sagte fluister nie.
my tuiste is in die feëbos, waar die bome so groei –
hul boonste takke vleg tussen die sterre deur.
ek wandel die middag deur veld en woud,
totdat die son se dood die hemele skarlaken en goud skilder.
die sterre word wakker,
en die meerminne sing
terwyl die woudnimfe hul tromme speel en begin dans.
as ek tuis is,
dwaal ek soggens deur strate van pêrel en smaraggroen,
en swem saam met waterfeëtjies in kristalfonteine.
ek sweef op kopervlerke soos Ikarus,
maar wel net in die aand.
ek ry op ’n spierwit takbok as ek oorlog voer,
met ’n boog en pyle is ek die vrees van die bos –
alhoewel daar vele trane van blydskap vir elke druppel bloed is.
die feëbos is die koninkryk van die kinders,
die koninkryk van die glasskerwe van ’n gebroke hart,
maar ook dié van die reënboogglans op die strand se skulpies,
’n koninkryk waar mens so maklik lag as wat jy treur.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: koningkryk appeared first on LitNet.