Tuis in my eie huis
Die rots waarteen
my binnebranders klots,
het met jare erodeer;
skandeer nou tekens
van ’n lewe geleef
deur geloof, wat daagliks
na hoop streef
’n lewe mosbegroei
aan twyfel se kwellings
(oor reg of verkeerd)
met ’n vaste wil
om alles te ondersoek
die waarheid te wil weet
’n wese diep gekraak,
(aardskuddend geraak)
deur fisiologiese denke
met holtes en skeure
vol opgebergde
lewenswenke
dale van wegkruip en vrees
in my lewensreis
deur heuwels van opstand in gees;
maar mettertyd
kon ek wel arriveer
in my menswees
stilword en stabiliseer
ja …
my binne-ek
grens soms aan gek,
diep verward
en ingeperk
maar
deur al die seisoene
se bloei, worstel en stoei,
staan my huis
nog stewig en sterk
het ek leer aanvaar
talle onsekerhede kon uitklaar
ophou roei en teen prikkels skop
weldra vrede kon vind
hier in my eie dop
en nou?
nou voel ek veilig en gekoester,
geborge en beskut
en weet ek
ek is waar ek hoort
klop hier binne my
’n hart van waarde
(met insig en wysheid as skat)
diep gedelf en beleef
uit die bron van ’n vrugbare lewe
vanuit hiérdie skatbelaaide aarde.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Tuis in my eie huis appeared first on LitNet.