Die duo Medicine Boy – bestaande uit André Leo en Lucy Kruger – se eerste vollengte-album is onlangs bekendgestel. Die groep het die bedryf aan die praat, en met goeie rede. André beantwoord 'n paar vrae.
Goeiedag, André. Hoe lyk dinge?
Hallo Henry. Dinge lyk goed. Dit is die eerste onderhoud wat ek in Afrikaans tik. Be gentle!
Foto: Pierre Rommelaere
Geluk met Medicine Boy se eerste vollengte-album, wat einde verlede jaar die lig gesien het. Dis 'n bitter indrukwekkende, meesleurende versameling liedere – afwisselend kliphard-kopswaaiwekkend ("You're an animal now") en uitnodigings om met 'n whiskey in die hand die verte in te tuur ("Lucy"). 'n Eerste vollengte-album vir 'n duo bestaande uit twee mense wat reeds baie onderskeie treë in die musieklandskap gegee het, is seker 'n taai ding om te beplan? Aan die een kant moet 'n mens 'n onmisbare stelling maak, en aan die ander kant is julle al lank genoeg in die game om eintlik nou net te doen wat julle wil. Hoe het julle die skryf, skep en opneem van Kinda like electricity benader in hierdie opsig? Met ander woorde, wat wou André en Lucy sê met hierdie album oor die rigting wat julle inslaan met julle musiek, hoe julle die musiek voorts wil uitleef, en dies meer?
Ons het vir die eerste keer die selfvertroue gehad om die musiek en plaat te laat word presies wat dit wou – natuurlik. Ons het nie rêrig enige idees gehad van watse tipe album dit moes wees nie, ons wou net hê dit moes 'n eerlike refleksie wees van waar ons op daai tyd was in ons lewe, en in ons musiek.
Ek doen eintlik al van dag een af net wat ek wil.
Dis interessant om tog te hoor hoe julle onmiskenbare style aanhou deurslaan – die Pretty Blue Guns / The Very Wicked-tipe strukture en klank is duidelik te hoor, asook Lucy se meer intieme, amper ethereal inslag uit haar solo-dae. As ek dit nie mis het nie, het jy ook gewerk aan Lucy se laaste solo-album? Hoe voel jy vul julle mekaar aan in terme van liedskryf? Hoe werk daardie proses vir julle? Wie bring die voorstel? Die melodie, die lirieke? Tot hoe 'n mate word die lied dan sáám herbewerk tot die uiteindelike produk? Hoe dink jy vul jou en Lucy se style mekaar aan, en waaroor stamp julle soms kop in die skeppingsproses?
Die meeste van my gunsteling-liedjieskrywers werk in pare – Nick Cave / Warren Ellis, Jagger/Richards, Tom Waits / Kathleen Brennan. Om iemand te hê wat dalk iets anders sien in die liedjie is baie belangrik. Asook iemand wat nie so precious oor dit is nie. Iemand wat die ding se bene kan afsny sou dit nodig wees.
Ek en Lu is gelukkig in dat ons skryfstyle mekaar komplementeer, maar ons weet ook dat prosesse verander. Daar is nie een manier wat vir ons die beste is nie. Partykeer sit ons op die vloer saam en drie ure later het ons 'n song. Ander tye sal een van ons 'n jaar werk aan iets voor ons dit vir die ander een speel.
Ons probeer om nie te sensitief te wees nie en probeer altyd die ander een se idees uit.
Medicine Boy se eerste live show is, volgens 'n biografie, reeds in September 2014 gespeel. Sedertdien het die EP More knives gevolg, en nou die vollengte-album. Party bands verkies dit om deesdae, met die fokus op digitale platforms, sommer enkelsnitte bekend te stel soos mens aangaan. Wat dink jy is die onderskeie waardes van die twee benaderings? Wat verloor mens met 'n album of EP versus die deurlopende digitale vrystellings, en wat wen mens? Is dit vir Medicine Boy belangrik om eerder jul tyd te vat en 'n EP of album te bou? Indien wel (of nie), hoekom (nie)?
Heel aan die begin was die idee om twee tracks vry te stel, maar ons het gou besef dat ons meer nodig het om vir mense (en onsself) 'n idee te gee van waaroor ons gaan. Die sewe snitte op More knives is waar ons was op daai tyd. Met die langspeler (lekker woord daai) was daar ook baie klanke, gevoelens en emosies wat ons wou uitsit. Om dit in een of twee tracks te doen sou net nie werk nie.
So 'n mens verloor daai persoonlike konneksie soms met singles. Maar aan die ander kant wil 'n mens nie altyd na iemand se hele album luister nie. Daar is vir my 'n paar bands wat heerlik is elke nou en dan, maar ek wil nie twee kante van 'n vinyl van 180 g deursit met hulle nie.
Julle het einde verlede jaar 'n toer na Europa en Engeland onderneem om met Kinda like electricity se geboorte saam te val. Hoe het dit gegaan met dié toer? Hoe het jy die gehore ervaar in terme van ontvanklikheid en betrokkenheid? Hoe verskil dit van hoe jy Suid-Afrikaanse gehore ervaar? Sal julle nog toere – of selfs 'n permanente skuif – oorsee oorweeg, of hoe voel julle daaroor?
Dit was 'n wonderlike ervaring, die toer. 2016 was vir ons 'n wonderlike jaar, daar en in Suid-Afrika. Gehore is groter daar anderkant, maar ons het rêrige uitstekende mense hier wat vir ons kom kyk. Die feit dat 'n mens so veel kan speel in Europa is 'n groot ding. Alles is so naby en elke plek het 'n ander gevoel.
Wanneer ons weer gaan, gaan ons probeer om vir 'n jaar of twee te bly.
Gepraat van ... die Suid-Afrikaanse musieklandskap en -bedryf is 'n moeilike dier om te verstaan en te tem. Wat is jou gevoel daaroor? Wat is kief en uniek aan die scene in Suid-Afrika, en wat suig? Hoe beskou jy Medicine Boy se posisie op dié landskap? Wat wil jy graag hê moet verander in die plaaslike bedryf, en wat dink jy moet meer fokus ontvang?
Ons het definitief nie 'n tekort aan goeie kunstenaars nie, dit weet ek. Ons het wel 'n tekort aan venues.
Dan het ons probleme wat die res van die wêreld ook het: kommersiële musiek is koning, en is aaklig.
Om as duo op te tree is seker in 'n mate moeiliker as met 'n drie- of vierstuk-band ... Almal moet meer dinge gelyk doen, meer oorrompelend en meer tight wees. Tog ken julle jul instrumente, pedale en dies meer duidelik ontsettend goed, en lyk dit nie tydens vertonings of julle swaar trek nie! Vind jy/julle dit moeiliker om slegs as duo op te tree? Was daar druk om meer aan jul vaardighede te skaaf as voorheen, of hoe benader jy daardie proses van beter en beter raak met jou "craft"? Wat sal jy graag nog self wil verken of verbeter in jou eie spel en sang?
Ja, dit is 'n hele ander gevoel om daar bo te wees met net ons twee, of drie (ons drummer speel meestal nou saam). Als wat jy doen, is hoorbaar. Dit is die eerste keer wat ek die enigste kitaarspeler is.
Ek voel ek het nou eers my styl ontwikkel en leer nog die heeltyd. Die tunings verskil van song tot song en die pedals begin al deel van my raak. Dit hou my op my tone – letterlik.
Ek sal graag hierdie jaar bietjie meer wil fokus op my stem en aanhou werk aan hierdie manier van speel.
Jy het, soos genoem, al baie myle in die Suid-Afrikaanse musieklandskap gestap – deur Pretty Blue Guns, The Very Wicked, Medicine Boy en nog. Watter hoogtepunte staan tot dusver vir jou uit in terme van gigs en toere? Watter agter-die-skerms-stories sal jy altyd onthou? Watter sal jy eerder wil vergeet?
Pretty Blue Guns: The Stooges, "Fun House" kliphard in die strate van Oudtshoorn 2 vm sal ek altyd onthou. Hoeveel hair straighteners by Studio 1 was. Daai een aand in Bloemfontein. Brandon se lieflike Gibson 335. Amper doodskok by die Kimberley Hotel.
The Very Wicked: Daai band het almal geleer om dinge bietjie meer ernstig te vat. Almal het hard gewerk en die shows was altyd befok. Daai keer toe ons geboek was om te open vir The Black Angels, en toe word hulle toer gekanselleer.
Medicine Boy: Als.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir André Leo en vir Medicine Boy, in so verre jy dit kan beheer?
Die nuwe Lucy Kruger & The Lost Boys se album kom in Mei uit, waaroor ek baie opgewonde is. Ons beplan om 'n nuwe Medicine Boy-album op te neem in die winter en in 2018 weer Europa te toer. Vir lank.
Wat is die sin van die lewe?
Vir my – musiek.
Foto: Pierre Rommelaere
The post Medicine Boy: "Ons doen al van dag een af net wat ons wil" appeared first on LitNet.