ek het kaalarm om die aarde gaan stap
ek het kaalarm om die aarde gaan stap
die gletsers van gister van my onderbrein probeer skei
en woorde geleer
maar minder geskryf
ek het ou briewe van die huis teen my muur gehang
vir vergete eerlikheid
vir ’n bietjie hartskos
my dae loop draaie langs ’n stram gestrek
die koper draad wat my van soet weerhou
soos die muisval by die voet van my trap
koes ek die gesprek oor die seerste tyd
al is tyd en seer subjektief in alles
bloedkolle word maklik weggevee
en matjies maklik opgerol
gewas en weggepak
my terugkeer wag op koue ys
want op my eie bly ek een
so, sal dit daar dan beter kan wees
as dit wat ek weet,
as dit wat ek is in die hier
en nou?
Geur van my huis
Ek het op die stoep gaan staan en deur my asem
na die vliegtuigflikkers in die lug gekyk,
gewonder hoe ver jy van Kaapstad-internasionaal moes wees
en hoe die een moes skitter wat jou na die somer terug sou neem.
Jou spuitgoed en die pakkie het op die rakkie in my kamer gewag,
jou reuk het nog op die kussing langs myne gelê.
Wat sou jy vir my gee?
Eers toe ek hoor dat jy veilig is
het ek die papier stadig oopgeskeur,
jou brief drie keer oorgelees
en toe ’n sakkie teen die rou van my neus gehou
terwyl beelde op die skerm van my geheue ontvou:
ek het die gevoel van my huis herontdek
in die geur van jou en rooibostee.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Marguerite Steenkamp se inskrywings appeared first on LitNet.