Die grootste vyand van enige kwessie waarmee aktiviste te doen het, is dat die boodskap oorbekend raak en dat mense dan ophou luister.
Mense raak moeg daarvan om te hoor hoedat die apokalips op ons is, veral as hulle dit dag na dag hoor. Ons almal weet byvoorbeeld dat ons watertekorte in die gesig staar, maar mense gooi nog steeds grasperke nat, plas heerlik in hulle swembaddens rond en geniet lang baddens – asof water ’n maklik-hernubare bron is.
Vigs is ’n ander voorbeeld. In terme van die planne wat die Departement Gesondheid voorberei het, moes die hele Suid-Afrika teen 2015 bewus gemaak gewees het van MIV en Vigs, geen nuwe infeksies moes plaasgevind het nie, en dié wat reeds geïnfekteer was, moes effektiewe behandeling gekry het. Dit het aanvanklik gelyk asof die plan werk, met ’n daling in infeksies. Daarna het dit egter weer skerp begin styg. Dit was haalbare planne, maar in 2017 kry ons nog steeds mense wat sterwe aan Vigs, en nuwe infeksies neem toe in plaas van af.
Onkunde is nie die probleem nie. Mense wéét hoe om Vigs te voorkom. Kinders in skole weet wat om te doen en wat om te vermy. Die boodskap het maar net begin oud word, soos bangmaakstories oor Antjie Somers. Ten minste ’n gedeelte van die probleem is dat die boodskap te rigied was en nie kon aanpas by veranderende omstandighede nie. Redelik vroeg was daar op die ABC-benadering besluit, en ons is gebombardeer met advertensies op TV en radio en in koerante. Die teikenmark was oorversadig met nuus, en wat het gebeur? Mense het ophou luister. Op daardie stadium moes die bewusmakingsplan gewysig gewees het, maar dit is nie.
Deesdae hoor ons feitlik nie meer van Vigs-voorkoming nie, en die paar organisasies wat nog werk in die veld doen, sukkel om kop bo water te hou, want daar is geen befondsing nie. Die probleem het nie weggegaan of kleiner geraak nie. Mense het bloot ophou aandag skenk.
Dié wat vir die behoud van Afrikaans stry, behoort baie versigtig te gaan kyk na die lesse wat aktiviste in ander arenas geleer het, om te voorkom dat dieselfde lot hulle geval. Hier is ’n paar gedagtes oor wat nodig is.
Die eerste les is dat jy nie aanmekaar op dieselfde snaar kan tokkel nie. Mense raak verveeld. As die apokalips nie regtig môre kom nie, moenie aanhou om dit te voorspel nie. Doemprofete word nie ernstig opgeneem nie. Wees realisties oor waar die gevaar regtig lê. Moenie jou teikenmark se intelligensie onderskat, of oorskat, nie. Leer ken jou gehoor, vind uit wat hulle belange is. Pas jou boodskap aan sodat dit relevant bly.
Wees versigtig in wie jy kies om jou boodskap uit te dra. Geen issue het beswaardes wat uniform is nie. Mense verskil, en jy moet seker maak dat jou spreekbuise nie dele van jou constituency vervreem nie. As jy byvoorbeeld iemand kry wat luidkeels verkondig dat Standaardafrikaans die enigste aanvaarbare Afrikaans is, gaan jy jou Kaapssprekers verloor. As jy iemand kies wat op die kultuur van Afrikaners steun om die boodskap uit te dra, gaan jy almal wat negatiewe assosiasie met Afrikaners het, vervreem.
Maak gebruik van diversiteit – nie net in jou ledetal nie, maar kultiveer dit in jou leierkorps. Moenie net een of twee wat anders lyk en dink daar sit om te paradeer by fotosessies en die res van die tyd word hulle in motgifballe toegedraai nie. Gebruik die kundigheid. Luister na die Ander, en gebruik dit wat jy hoor om jou boodskap aan te pas.
Maak die aktivisme relevant. In ’n land waar die oorgrote meerderheid mense nie kan bekostig om hulle kinders universiteit toe te stuur nie, gaan dit nie help om jou boodskap te fokus op behoud van die taal op universiteitsvlak nie. Dis belangrik, ja, maar dit kan nie die enigste fokus wees nie. Vind uit wat belangrik is vir die gemiddelde Afrikaanssprekende in Mitchell’s Plain en Khayelitsha en Upington en Durban. One size fits all het nog nooit gewerk nie, nie in mode nie en beslis ook nie in aktivisme nie.
Moenie dié wat met jou verskil oor hoe bewusmaking moet geskied, of selfs waaroor bewusmaking moet gaan, uitsluit en stilmaak nie. Luister. Dalk leer jy iets.
Maak aktivisme cool. As jy onder jongmense bewustheid wil kweek, span cool ouens soos Les Javan of Frazer Barry in. Middeljarige wit mans in akademia gaan waarskynlik nie dieselfde energie ontketen nie.
Moedig diverse jong filmmakers aan om hulle films in Afrikaans te skiet. Befonds diverse dramas op radio en televisie wat relevante kwessies in Afrikaans aansny. Gee geleentheid vir diverse musikante om in Afrikaans te skryf en sing. Sorg dat daar publiseringsgeleenthede vir diverse skrywers en digters is. Kunste was nog altyd ’n getroue vennoot van aktivisme.
Maak dit pret, en moenie te “in your face” met die boodskap wees nie. Kyk hoe suksesvol is die jaarlikse rieldanskompetisie. Dit bevorder taal en kultuur, maar op ’n manier wat mense positief stem en wat mense nader aan mekaar bring oor kleurgrense heen.
Doen iets. Om vadersnaam, doen iets. Moenie net talkshops hou nie. Vergaderings is great vir die ego van die paar in beheer, maar as daar nie konkrete aksie uit voortvloei nie, is dit tydmors van epiese proporsie. Dit maak mense ook ontnugterd met die proses, sodat hulle nie toekomstige vergaderings wil bywoon nie. Die toets van enige suksesvolle beweging is of jy mense kan kry om belangstelling te behou, en dit kry jy net deur suksesstories. En suksesstories kry jy net deur dade. Vergaderings doen dit nie.
Verlaat die ivoortorings van Stellenbosch en Potchefstroom. Jy gaan dalk ’n paar like-minded persone kry wat saamstem met als wat jy glo, maar as jy iets gedoen wil hê, beweeg weg. Maak kontak met die skole en die sjebiens en die jeugorganisasies en die kuns-en-kultuur crowd.
Maak Afrikaans cool. Newsflash: dit ís nie cool nie. Dit represent nie. Afrikaans moet uit sy pak klere met die stywe das kom, in jeans en tekkies inglip en cool word. Jongmense is die toekoms van die taal. Hou op om hulle te sê dat hulle nie hulle tale mag mix nie. Dan hou hulle eerder op Afrikaans praat. Is dit regtig wat ons wil hê? Ons moet by ’n punt kom waar mense kies, en trots kies, om Afrikaans te praat, waar mense trots kies om hulle kinders in Afrikaans groot te maak.
Die enigste manier waarop ons dit kan doen, is deur die hand in ons taalboesem te steek. Wat is daar wat ons trots maak om Afrikaans te wees? Wat is daar wat ons skaam maak om Afrikaans te praat, en wat ons verhinder om ons kinders daarin groot te maak? Hoe kan ons persepsies rondom Afrikaans verander sodat mense dit wíl kies?
Hier is die bottom line: hofgedinge hou nie ’n taal lewend nie. Mense se liefde doen dit, mense se keuse om die taal in hul daaglikse wandel te gebruik, doen dit. Mense se keuse om die taal in hul huise te praat, en ’n liefde daarvoor by hul kinders te kweek, doen dit. Unesco het onlangs ’n studie gedoen oor tale wat aan die uitsterf is. ’n Interessante bevinding was dat dit nie saak maak hoeveel persone ’n taal praat nie. Die belangrikste aanwyser daarvan of ’n taal die gevaar loop om te verdwyn, is of dit aan jongmense oorgedra word en of hulle dit gebruik.
Om onder mekaar te baklei, en een manier van praat bo ’n ander te verhef, en om een spreker en groep te onderdruk ten gunste van ’n ander, het uiteindelik net een gevolg: dit speel in die hande van dié wat Afrikaans wil vernietig.
Afrikaanssprekendes is hul eie grootste vyand. Afrikaans is nie enige politieke drukgroep s’n om te vernietig nie. Hulle hoef nie. Ons doen ’n heel goeie job op ons eie.
The post Afrikaans: Is strydros-uitputting besig om in te sluip? appeared first on LitNet.