Die wêreld het verander.
Onherroeplik. Mense het nuwe hoop nodig. Nuwe geloof in die toekoms. Nuwe geloof in mense. Nuwe geloof in God en Godsdiens.
Wat gister gewerk het in die Politiek, die Ekonomie en Godsdiens, werk nie meer vandag nie. Dit waarin ons geglo het, het ander dimensies aangeneem wat na ander verstaanbare antwoorde soek. Antwoorde wat nie vrae laat nie, maar eerder rasionele begrippe gee wat die denkende mens sin en geloof gee.
Ek is nie 'n teoloog nie. Ek weet nie of Christus een was nie. Die beste wat ek in Godsdiens kan doen is die tollenaarsgebed (wat ek eerlik wel bid) ..."Here, wees my, die ongelowige, baie genadig. Want ek glo nie."
Ek glo nie die kerk en die politici nie. Ook nie die ekonome wat profeet wil speel oor langtermynbeleggings nie. Ek glo wat ek nou sien en weet, en dit is dat die mens en die dier uit dieselfde water en koolstof en materiaal gemaak is, uit dieselfde suurstof wat ons in- en uitasem.
Ek glo die wiskunde en die biologie, die fisika. Die res is onmoontlik om te glo. Ek verstaan die Tweede Wet van Entropie goed. Ek verstaan die mooiste liefdesprosa ooit geskrywe in Hooglied, want ek voel ook so. Die wysheid in Prediker en Spreuke.
Die mens se psige en kwantitatiewe emosionele mensbelewenis het nuwe behoeftes gekry. Soos troeteldiere waarin hulself liefde vind, rede vind om te lewe, vervulling vind. Ou godsdiensbegrippe en verklarings antwoord nie meer die behoefte van die moderne en denkende mense se reis na sy einde nie.
Nie eens te praat van politici en ekonome nie. Weglaatbaar onbelangrik, wyl hul godskreiende onsin vir vreemde redes irrasioneel die toekoms dikteer.
Die alleenmens, die enkel ma en die eensame wil nie tot stof verniet lewe nie. Dit is dit. Daarvoor is die lewe te moeilik en die pryse te betaal te duur.
Die sin van hul bestaan soos gedefinieer in hul liefde en omgee vir diere, is nie 'n reis na êrens op die verlate pan van nêrens nie. Dit is 'n reis na 'n plek nog nie gedefinieer deur niemand nie, want die ontkenners se oplossing is in ontkenning, stel hul vry van antwoorde soek van kwellende vrae. Klomp sissies. Dit is wat hul is.
Die kankermens, die HIV/vigs mens, die oumens, die kind en die verwerpte, die onvervulde ...
Wil nie nutteloos tot stof verdwyn nie. Sy pyn was te diep en te veel. Iemand moet hierdie vraag hierdie keer met sin antwoord. Dat die Hiernamaals vol asems ook ene is vir diere.
The post Nuwe geloof appeared first on LitNet.