Toespraak deur dr JC Heunis SC, president van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch, by geleentheid van die jaarvergadering van die konvokasie op Donderdag, 26 Januarie 2017 te Paul Roos Sentrum
Dames en here
Ek is hier omdat ek vir ’n idee staan; vir ’n beginsel. Ek is verbaas oor die felheid en intensiteit van die teenstand wat my standpunt ontlok, maar die voortbestaan van hierdie idee is nie van my afhanklik nie, want dit leef in die harte van duisende Afrikaanssprekendes en dit sal deur hulle in stand gehou word.
Dit is vandag waarskynlik belangriker as ooit vantevore dat die nasionale debat oor sake wat verband hou met die welsyn van Suid-Afrika en al sy mense, eerlik, openhartig, besadig, verdraagsaam, met volharding, met ’n oop gemoed en, veral, sonder uitsluiting, gevoer moet word, omdat ingrypende stappe en dramatiese koersaanpassings nodig is om die staatskip te beveilig.
Dit ly geen twyfel nie dat die positiewe ontwikkelinge sedert die totstandkoming van ’n demokratiese bedeling in ons land geruime tyd reeds oorskadu word deur talryke negatiewe tendense: toenemende, verbysterende politieke magsug en verwoestende openbare korrupsie is onder die mees kommerwekkende en mees tragiese hiervan.
En hierby sou ’n mens nou moet voeg wydlopende en aanhoudende studente-opstande wat universiteite landswyd ontwrig en enorme skade, finansieel en andersins, aanrig, ook aan mense se toekoms en, per definisie, die land se toekoms.
’n Aspek van die nasionale huishouding waaroor so ’n debat met groot wysheid en insig en ’n behoefte om die dinge te identifiseer waarop dit werklik aankom, gevoer moet word, is tersiêre onderrig: die toeganklikheid daarvan vir verdienstelike kandidate en die bekostigbaarheid daarvan. ’n Ander aspek is dié van Afrikaans as onderrigtaal, ook aan tersiêre opvoedkundige inrigtings wat, op hulle beurt, bepalend is vir die tale waarin skole onderrig aanbied.
Die feit dat vier Suid-Afrikaanse universiteite binne die bestek van ’n jaar Afrikaans se status as primêre taal van onderrig saam met Engels beëindig het, en boonop dat nie een van daardie universiteite ’n betekenisvolle verbintenis aangegaan het tot die daadwerklike bevordering van ’n ander inheemse taal as wetenskaps- en akademiese taal nie, is rede tot groot kommer.
Die feit dat klein aggressiewe minderhede wat nie aan ’n gesprek soos dié wat ek bepleit, wil deelneem nie, soms ’n buitensporige en disproporsionele rol in die formulering van taalbeleid gespeel het, is eweneens ’n groot bron van kommer.
Hierdie is ’n saak waaroor ons met mekaar in gesprek moet kan tree met inagneming van, en volle begrip vir, fundamentele regte wat in die Grondwet opgeneem is, juis omdat dit uitdrukking gee aan dit wat moreel en eties reg en regverdig is.
Die eerste so ’n fundamentele beginsel is dié van gelykheid. Ons moet dus hieroor in gesprek met mekaar tree met inagneming van en respek vir die feit dat ons gelyke deelnemers aan die debat is en dat ons almal geregtig is op ’n standpunt.
Die tweede is dié van menswaardigheid, wat ten grondslag van alle ander fundamentele regte lê, wat verg dat ons mekaar sal behandel soos wat ons verwag om behandel te word.
Die derde is dié van sekerheid van die persoon, wat beteken dat ons aan hierdie debat moet kan deelneem sonder vrees vir lewe en veiligheid.
Die vierde is dié van vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra, asook akademiese vryheid.
Van hierdie debat mag niemand uitgesluit word nie – nie op grond van sy of haar velkleur nie; nie op grond van sy of haar oortuigings en standpunte nie; nie op sterkte van etikettering en wanvoorstelling nie; nie op grond van verdagmakery nie; nie as gevolg van ’n verbintenis met enige organisasie, polities of andersins, nie; en nie as gevolg van geweld of dreigemente van geweld nie.
Daar kan nie meer ruimte wees vir die uitskakeling van mense op sterkte daarvan dat hulle kwansuis teruggryp na die verlede terwyl die enigste rede waarom hulle daarvan beskuldig word, ’n armoede aan geldige weerleggende argumente is nie.
En alhoewel die vrygeborenes belangrike deelnemers aan ’n debat oor Suid-Afrika se toekoms is, is enige aanspraak dat hulle die enigste deelnemers mag wees, aanduidend van ’n hartseer onvermoë om argument met argument te ontmoet, om standpunt teenoor standpunt te stel, om in ’n betekenisvolle debat met mense wat van jou verskil, te tree, bereid om oortuig te word van ’n ander standpunt.
Woorde het betekenis.
Die woorde van ons Grondwet, wat daarop ingestel is om ’n vreedsame oorgang van ’n politieke bedeling wat die mense van hierdie land verdeel, verneder en beskaam het, na een waar die soewereiniteit van die reg en fundamentele regte die boustene van ’n ten volle demokratiese bestel is, te verseker, het betekenis.
The words of our Constitution which were crafted to lift a new nation like a phoenix from the ashes of our tortuous past and to bridge the chasms of a deeply divided society were intended to have elevated meaning and enduring quality.
The words of section 6 of the Constitution were intended to have meaning. The words
The state must take practical and positive measures to elevate the status and advance the use of historically diminished indigenous languages
were intended to have meaning.
Ditto the peremptory words in section 6(4):
All official languages must enjoy parity of esteem and be treated equitably.
If we were to survey, 20 years on, the landscape of South African society against the backdrop of these provisions, we have to ask ourselves the question: What has become of these national commitments?
Were these words taken seriously by governments – national, provincial and local – by organs of state and civil society, by the Pan South African Language Board, by universities which are themselves organs of state, by the people themselves?
Were they given effect to? Were they adhered to?
Assuming they had meaning then, do they still have meaning now?
Does the reality of the South African landscape, which belies these noble intentions, inevitably and incontrovertibly and finally and conclusively say that the words might have been intended to have meaning then, but through neglect they have lost all meaning and have none now?
Should we say that as a government, as organs of state, as organs of civil society, as a nation, we have been unable to give effect to them and that they have, alas, now become irredeemably meaningless?
If good men do nothing, the rogues take over. It is time for the good men to stand up and be counted. To step into the arena of discourse and take a position and claim a voice.
I invite your attention to section 29(2) of the Constitution which is a provision in two sentences and in two parts and which also has meaning.
The first expresses the fundamental human right that everyone has to receive education in the official languages of their choice in public educational institutions where that education is reasonably practicable.
This right has only one internal qualification: it has to be reasonably practicable. That is all.
In the second part the state is charged with the responsibility to ensure effective access to and the implementation of this right, to which end it has to consider all reasonable educational alternatives.
The words of section 29(2) also have meaning. They have meaning unaffected by the fact that, for example, English is considered an international language, a passport to more and greater opportunities, to wealth, to larger sources of knowledge and information, to a larger community; even the fact that it is the language, albeit the second language, of the vast majority of them, in which South Africans by and large communicate with one another.
Die woorde van artikel 30, dat elkeen die reg het om die taal van sy keuse te gebruik, het betekenis.
Die woorde van artikel 31, dat mense wat aan taalgemeenskappe behoort, nie die reg ontsê mag word om, saam met ander lede van daardie taalgemeenskap, hulle taal te gebruik nie, het betekenis.
The words of section 27(2) of the Higher Education Act have meaning. It elevates to the status of law the ministerial language policy where it says:
The Ministry acknowledges that Afrikaans as a language of scholarship and science is a national resource. It, therefore, fully supports the retention of Afrikaans as a medium of academic expression and communication in higher education and is committed to ensuring that the capacity of Afrikaans to function as such a medium is not eroded.
On the occasion of the awarding of a honorary doctorate to him by this University, and consistent with the Ministerial Language Policy, President Nelson Mandela said the following:
It surely must be possible in a system of more than 20 universities to come to an agreement that there would be at least one university whose main task would be to promote the sustained development of Afrikaans as an academic medium.
Maar gedurende 2016 het nóg drie universiteite Afrikaans as onderrigtaal afgeskaf.
Die Universiteit Stellenbosch is nie ’n eiland in die see van Suid-Afrikaanse tersiêre onderrig nie, en die implementering van die Grondwet en die ministeriële beleid aan hierdie universiteit behoort ingegee en bepaal te word deur ’n groot verskeidenheid faktore. Faktore soos die volgende:
- Volgens die 2011-bevolkingsensus is Afrikaans die huistaal van 6,8 miljoen mense, of 13,5% van die totale bevolking. Dit is die derde grootste huistaal naas Zulu en Xhosa, met Engels, wat 4,8 miljoen huistaalsprekers het, as die vierde grootste huistaal. Afrikaans is die huistaal van 75,8% van bruin mense en 60,8% van wit mense. Indien die 2016-middeljaar-raming van Statistiek Suid-Afrika toegepas word, is daar 7,5 miljoen Afrikaanstalige mense, van wie 3,6 miljoen bruin mense is.
- In die Wes-Kaap is Afrikaans die huistaal van 49,7% van die inwoners en Engels die huistaal van slegs 20,2%.
- Tans studeer bykans 140 000 Afrikaanssprekende studente aan 26 universiteite, waarvan nog net die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit Afrikaans as ’n gelyke taal van onderrig het.
- In die Wes-Kaap is vier universiteite, waarvan drie volledig in Engels onderrig gee.
- Skoolhoofde van bruin Afrikaanse hoërskole in die Wes- en Noord-Kaap wys daarop dat hul matrikulante met Afrikaans as huistaal baie moeilik suksesvol aan Engelse universiteite studeer en vir B-graad-studie is die uitsaksyfer van bruin studente 34% – heelwat hoër as die 24% van swart studente en 22% van wit studente.
Voorgaande is waarskynlik een van die belangrikste redes waarom bruin mense die laagste deelnamekoers van alle bevolkingsgroepe aan hoër onderwys het, en die verengelsing van hierdie universiteit sal bruin studente van nóg geleenthede ontneem.
Alhoewel die status van Afrikaans as onderrigtaal vanselfsprekend vir ons aan hierdie instelling van besondere belang is, is Afrikaans in die praktyk ook veel meer as bloot ’n amptelike landstaal en ’n taal van onderrig en studie.
Ewe belangrik is die feit dat Afrikaans as ’n medium vir die oordrag van kulturele waardes onontbeerlik is. Dink mens na oor die gevestigde Afrikaanse letterkundeskatte en die vakkundige, sosiale, tegniese en religieuse woordeskat van Afrikaans in sy wonderlike verskeidenheid, kom jy agter dat die taal tekenend is van ’n ganse kultuur, simptomaties daarvan en onderliggend daartoe – en dat die uitsluiting van die taal terselfdertyd uitsluiting van die middel tot kultuuroordrag en -oorlewing moet beteken.
Of dit so bedoel word of nie, deur die ontkenning van gevestigde taalregte word die oordrag van kultuur self gekniehalter, en die naakte vraag wat vanaand voor ons is, is of dít die uitkoms is wat die Grondwet beoog het met sy visie vir ’n demokratiese bestel?
As vertrekpunt bevestig, erken en beskerm artikel 30 van die Grondwet onomwonde Suid-Afrikaners se taal- en kultuurverskeidenheid.
Natuurlik word die uitoefening van hierdie reg begrens. Natuurlik is dit nodig om daarteen te waak, soos wat die wetgewers in feitlik elke ander beskaafde land in die wêreld ook daarteen waak, dat in die uitoefening van hierdie regte die fyn grens tussen kulturele eiesoortigheid en rassehaat, die saai van etniese verdeeldheid en die voer van oorlogspropaganda nie oorgesteek word nie.
Maar kan ons werklik realisties argumenteer dat die behoud van die bestaande reg op moedertaalonderrig aan hierdie universiteit ten doel het om rassehaat aan te blaas of dat ’n geldige aanspraak gemaak kan word dat dit die geval is?
Dat die opstellers van die Grondwet die siening dat daar ’n verband bestaan tussen die beskerming van taalregte en die beskerming van ’n kultuur ingesien en gedeel het, is ook duidelik uit artikel 31, wat uitdruklike beskerming aan die regte van kultuur-, taal- en godsdienstige gemeenskappe bied.
Dit kan nie ernstig beweer word dat die afskaffing of afwatering van onderrig in ’n amptelike taal, by ’n instelling waar die reg daarop dekades lank gevestig, bestendig en bewese prakties uitvoerbaar is, hierdie opdragte bevorder nie.
Prontuit gesê, ’n mens bevorder kwalik grondwetlike waardes wat almal glo wenslik en ideaal is deur by die plekke waar dit nog in vervulling gaan, ’n einde daaraan te maak eerder as om dit as voorbeeld en inspirasie te koester.
Natuurlik word hierdie regte, soos trouens alle fundamentele regte, begrens, maar daar kan tog nie werklik ’n argument wees dat die afskaffing van die gevestigde reg op moedertaalonderrig aan ’n instelling waar dit
- lank gevestig is
- klaarblyklik prakties uitvoerbaar is
- en waarvoor daar ’n legitieme, redelike aanvraag is
werklik in stryd met ander regte van die Grondwet is nie. En is dit werklik so dat die afskaffing daarvan op die een of ander manier gaan bydra tot die bevordering van die regte van ander, soortgelyke maar nog latente, ongerealiseerde regte?
Natuurlik is ek bewus van die hulpbrongebaseerde weergawe van hierdie argument ingevolge waarvan fondse kwansuis deur die instandhouding van bestaande regte van ander groepe weerhou word. U weet waarskynlik self hoe maklik dit is om hierdie argumente oortuigend te weerlê.
Laat ek my derhalwe daarby bepaal deur dit duidelik te stel: Die praktiese en logistieke werklikheid aan hierdie instelling is dat daar geen eenvoudige en liniêre verhouding is tussen die ontneming van bestaande regte van die studente wat Afrikaanse onderrig verkies en die opgradering van die omvang van onderrig in Engels aan studente wat verkies om nie in Afrikaans onderrig te ontvang nie.
Inteendeel, hierdie koers sal groter ongeregtigheid en ongelykheid meebring. As daar meriete was in die aanklag dat Engelssprekende studente nie gelykwaardig behandel was nie, is daar nou meriete in die aanklag dat Afrikaanssprekende studente nie gelykwaardig behandel word nie. Nie een van die twee uitkomste behoort nodig te wees nie.
Let me be clear: When, having historically granted this right, we decide suddenly to deprive South Africans of the right to receive education in their mother tongue, we are guilty of ignoring most of the clearly elucidated and fundamental principles of the social, economic and political vision for a democratic South Africa.
We are in fact doing violence to some of the most important principles enshrined in the Bill of Rights relating to the protection of cultural and language rights, the Bill of Rights which constitutes the core of all that was considered by the drafters of that basic law to be sacred and central to a new and just socio-political and economic order. I know this. I was one of them. No legal principles in our society were more carefully and judiciously crafted than those.
It is against this vault that any law or decision that derogates from the language and cultural rights of South Africans has to shatter and break if all is to be well in our country.
If one looks at the bigger picture, there is no justification for the derogation of the rights which underpin this argument.
It would appear, then, that the roots of the current opposition, and the maintenance of the right to tertiary education in Afrikaans, at this and other institutions, should, sadly, be sought elsewhere than in our founding law.
I have yet to hear a remotely coherent and convincing argument supportive of the devaluation of the existing right to tuition in mother-tongue Afrikaans at this university. In fact, the one thing that is clear is that those who propagate and fight for equality for Afrikaans as a primary language of instruction have decisively won the debate and we continue to win it.
Ons sien dus aan die een kant dat die grondwetlike opdragte om inheemse tale, benewens Afrikaans, tot wetenskapstale te ontwikkel, verontagsaam word.
Aan die ander kant word die opdrag om Afrikaans se status as akademiese taal uit te bou, eweneens verontagsaam. Dit gaan lei, in die woorde van die konstitusionele hof, tot die "equality of the graveyard, not of the vineyard".
Dít het implikasies vir meer as die tale; dit het implikasies vir gemeenskapsontwikkeling; dit het implikasies vir die kwaliteit van onderrig; dit het implikasies vir die ekonomie; dit het implikasies vir ons geloof in die waardes wat onderliggend aan ons Grondwet is; en omdat dit so is, het dit implikasies vir ons politieke stelsel.
Die taal wat mense praat, het niks op aarde te doen met of hulle – hetsy individueel of kollektief – inherent goed of boos is nie, of mense hul lewens inrig op so ’n wyse dat dit in pas is met die norme en standaarde wat die beskawing van vandag behoort te onderskei van die donker eeue van gister nie.
Dit het niks te doen met die politieke keuses wat hulle vir hulself maak en wat hulle dalk by magte is om aan ander op te dring nie.
Verslawing en onderdrukking, soos bevryding en opheffing, is nie die funksies van ’n taal nie – dit is die funksies van mense – goed en sleg, ongeag die taal wat hulle praat.
Vir sover dit nog steeds dien as motivering vir wat by ons universiteite aangaan, is dit dwaas om wat histories verkeerd geloop het, voor die deur van ’n taal te lê en dit daarom nie te praat nie; of ander sprekers daarvan te verbied om dit te praat; of andere die geleentheid te ontneem om daarin onderrig te ontvang.
En laat ons nie vergeet nie dat Afrikaans ook die taal van verset en opstand, van boetedoening en van bevryding was.
’n Mens kan nie wraak neem op ’n taal nie; jy kan wraak neem op mense; en jy sou kon wraak neem op mense deur hulle die geleentheid te ontneem om onderrig in hul moedertaal te ontvang; maar as dít deel van enigiemand se agenda is, dan word die noodsaak vir ’n oop debat soveel dringender.
Want dit maak nie saak wie of wat jy is nie – jy kan nie verby die bepalings van die Grondwet en van die ministeriële beleid waarna ek verwys het, kom nie, en jy kan nie verby die versoeningsopdrag waarin ons Grondwet gebed is, kom nie.
Jy kán nie. Jy kan dit nie doen sonder om ’n bespotting te maak van die hoë waardes waaraan die Grondwet uitdrukking gee nie. En jy kan dit nie doen sonder om dit alles op risiko te plaas nie.
Die antwoord is nie die weg van die minste weerstand nie. Die antwoord behoort bepaal te word deur die insig dat die vooruitsig van veeltaligheid ’n geleentheid is, eerder as ’n las.
Om die middele te vind om, eerder as om Afrikaans as ’n primêre taal van onderrig af te skaf, die verantwoordelikheid te aanvaar om ’n inheemse taal, benewens Afrikaans, óók tot volwaardige akademiese taal te ontwikkel. Om méér te doen, nie minder nie.
Afrikaanssprekendes het daarin geslaag om binne ’n baie kort tydsbestek van Afrikaans ’n volwaardige wetenskaps- en akademiese taal te maak. Hulle weet hoe om dit te doen. Hulle is dit aan hulself en aan die mense van hierdie land verskuldig om:
- te verseker dat die besluite om Afrikaans as onderrigtaal aan tersiêre onderriginstellings af te skaf of om dit te devalueer, omgekeer word
- te verseker dat die universiteite van hierdie land die verantwoordelikheid opneem om, universiteit vir universiteit, ’n inheemse taal tot volwaardige akademiese en wetenskapstaal te help ontwikkel.
Dit is die uitdaging. Die uitdaging is om te besef dat ’n aanspraak om in ’n moedertaal onderrig te word, ’n regverdige, grondwetlik-gefundeerde aanspraak is.
Dat dit verdien om voor gestry te word.
Dat dit ’n stryd is wat Afrikaanssprekendes saam met ander bevolkingsgroepe kan stry.
Dat dit nie net ’n aandrang verg op Afrikaans as taal van onderrig nie, maar ook op die ontwikkeling van ander inheemse tale as akademiese en wetenskapstale.
Dit verg geloof daarin dat daar nog ’n toekoms in hierdie land is, of weer een sal wees.
Dit verg van studente om meer te doen as om net so gou as moontlik in enige taal hulle kwalifikasie te verwerf sodat hulle ’n loopbaan, hier of elders, kan volg.
Dit verg van sakemanne om meer te doen as om net te oes.
Dit verg van akademici, met inagneming van hulle billike aansprake op genoeg navorsingstyd, om saam te besin oor hoe die grondwetlike regte waarna ek verwys het, aan akademiese instellings in vervulling kan gaan.
Dit verg van ons almal deelname aan die debat hieroor.
Dit verg ’n besef dat ons mekaar nodig het.
Dat ons sal besef dat die land ons nodig het.
Die Universiteit Stellenbosch het dikwels in die verlede die leiding op baie terreine geneem. Hier is weer ’n gulde geleentheid om ’n tweetalige universiteit van Afrikaans en Engels met sterk ontwikkeling van Xhosa as onderrigtale uit te bou wat nasionaal en internasionaal navolgenswaardig sal wees.
Ek sluit af met ’n nuwe, ongepubliseerde gedig van die man wat aan die voorpunt staan van die derde Afrikaanse taalstryd – dié vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal ook op tersiêre vlak:
wanneer jy die moedertong
in my mond laat verdor
neem jy die wêreld weg
verduister jy my geheue
maak jy dat ek as vreemdeling
en sonder ’n eie paar skoene
die toekoms moet ondergaan
wat ek nie meer fatsoeneer nie
wat ek nog net interpreteer
en nie penetreer nie
wanneer jy die taal
van my wegneem
ruk jy die hart uit my drome
om dit te vervang
met die mondmaniere
van ’n tong wat nog net
die blinde werk van miere kan doen
wanneer jy van my ’n massasyfer maak
om soos ’n gefuikte papegaai
te pik-pik na sy nabootsing
maak jy dat ek ’n weesmens is
in die leë huis van my vaders
sonder taal om my afwesigheid te beween.
Foto van Jan Heunis: Naomi Bruwer
Lees ook:
US-konvokasie 2017: US se taalstryd duur voort
Jean Oosthuizen "Die felheid en intensiteit waarmee die taaldebat aan dié universiteit die afgelope paar jaar gevoer word, het verskeie kere na vore gekom tydens die vergadering." |
US-konvokasie 2017: videogreep van Wim de Villiers oor die US-taalbeleid
Naomi Bruwer Kyk 'n kort videogreep, wat spesifiek aansluit by die US-taaldebat, uit Wim de Villiers se toespraak by die US-konvokasievergadering 2017. |
US-konvokasie 2017: toespraak deur Wim de Villiers
Wim de Villiers "Ons beskou diversiteit as ’n voorvereiste vir uitnemendheid. Blootstelling aan ’n groter verskeidenheid mense en idees verruim die denke en verryk ons uitsette." |
US-konvokasie 2017: videogreep van Christo Viljoen oor die US-taalbeleid
Naomi Bruwer Christo Viljoen, vorige voorsitter van die US-konvokasie, het by die US-konvokasievergadering 2017 kortliks oor die US-taalbeleid gepraat. |
The post US-konvokasie 2017: toespraak deur Jan Heunis appeared first on LitNet.