Geen ander tuiste
Die lamlendige tuinhekkie kreun
soos ’n pasiënt in pyn
Vir ’n oomblik protesteer dit
asof ek onwelkom is
Die afgeskilferde verf
gluur my vyandig aan
Ek hoor hoe die mure fluister:
"Hoekom word ons so afgeskeep?"
Die voordeur se skarniere
het beter dae geken
Dit mompel in ’n vreemde taal
wat geen mens kan verstaan
Die stilte in die sitkamer
bring heimwee in my hart
Heimwee wat die sonskyn
in donderweer verander
Die balju het al my besittings
soos ’n rower weggedra
My bed is ’n ou matrassie
by die buurmense geleen
Maar ek het nog my gemmerkat
wat saans by my voete lê
Vir ons twee is daar net een huis
Een woning
Een tuiste
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Geen ander tuiste appeared first on LitNet.