Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

LitNet Akademies-resensie-essay: Broedertwis deur Albert Blake

$
0
0

broedertwisBroedertwis
Albert Blake
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624075172

Die noodsaak van rekenskap oor versweë trauma

1. Inleiding: Die swye van die tweede generasie ná oorlogstrauma

’n Belangrike verskynsel tans in die Afrikaanse boekemark is dat ongeveer ’n eeu en ’n dekade ná die Anglo-Boereoorlog daar drie niefiksieboeke oor die oorlog in twee agtereenvolgende jare verskyn het: Carel van der Merwe se Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog (2015), Albert Blake se Broedertwis: Bittereinder en Joiner: Christiaan en Piet de Wet (2016) en Elsabé Brits se Geliefde verraaier: Emily Hobhouse (2016). Waar ek spesifiek skryf oor Blake se Broedertwis, wat ek, soos Van der Merwe se Donker stroom, aandagtig en indringend gelees het, is Brits se boek oor Emily Hobhouse die volgende op my leeslys. Ek kan my dus op dié tydstip nie gesaghebbend oor Geliefde verraaier uitspreek nie. Desnietemin lê dit voor die hand dat die drie boeke noodwendig ’n sekere aanklank by mekaar moet vind, gesien hulle so te sê gelyktydige ontstaan in die huidige tydsgewrig oor dominante figure wie se lewens deur die Anglo-Boereoorlog, weliswaar op verskillende maniere, maar nogtans intiem, met mekaar verweef was.

Dié boeke is nie geskryf deur historici nie, en nie net bedoel vir ’n selektiewe kontingent histories-geïnteresseerde lesers nie. Van der Merwe het aanvanklik ’n roman oor Eugène Marais beoog, maar sy navorsing oor die vrywel onbekende jare van Marais in Londen tydens die oorlog het gevra om ’n niefiktiewe weergawe van sy ondersoek. Hy is tans wel besig met sy doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch. Blake is ’n regsgeleerde wat as prokureur in Roodepoort praktiseer en wie se topverkoper, Boereverraaier, die draaiboek vir die film Verraaiers geïnspireer het. Elsabé Brits is ’n joernalis en haar boek oor Emily Hobhouse het skaars twee maande ná sy verskyning in Augustus 2016 reeds in Oktober van dié jaar sy tweede druk beleef.

collage_broedertwis

’n Mens kan dus met ’n groot mate van sekerheid ’n skielike, onverwagte oplewing van hernude belangstelling in die Anglo-Boereoorlog konstateer en jou afvra waaraan dit toe te skryf is. Die skrywers van die drie boeke moes uiteraard put uit bestaande historiese bronne. Broedertwis sentreer om die verraad van Piet de Wet toe hy by die Britse mag aangesluit en as joiner aktief aan die oorlog deelgeneem het as vernaamste rede vir die vervreemding van sy broer, Christiaan. Blake haal dikwels aan uit die historikus AM Grundlingh se werk van 1999, Die “Hendsoppers” en “Joiners”: Die rasionaal en verskynsel van verraad. Dié verraad hang ten nouste saam met die verhouding van die “hendsoppers” en “joiners” met die Britse imperialiste in Broedertwis, en in Van der Merwe se Donker stroom is Marais se verhouding met die aartsimperialiste Alfred Milner en Percy FitzPatrick tydens sy vooroorlogse jare in Pretoria as redakteur van Land en volk ’n sentrale motief.

409167Die begrip tweede generasie kom uit die Tweede Wêreldoorlog en het ontstaan na aanleiding van die Holocaust (Engels vir “offer”), of Sjoa (Hebreeus vir “vernietiging”) en die gevolge daarvan vir die kinders van die oorlewendes van die Nazi’s se vernietigings­kampe. Op die lewenslange implikasies wat dit vir dié kinders gehad het, gaan Eva Hoffman in haar After such knowledge indringend in, maar wys ook op die las wat hulle opgelê is se ooreenkoms met die las wat alle nakomelinge in die generasie ná ontwrigtende gebeure moet dra: “The second generation after every calamity is the hinge generation, in which the meanings of awful events can remain arrested and fixed at the point of trauma; or in which they can be transformed into new sets of relations with the world, and new understanding” (2005:103). Kenmerkend van die “tweede generasie” is hulle swye, waarna Hoffman verwys as die “period of forgetfulness” oor die Sjoa in die vyftigerjare van die 20ste eeu wat eers in die 1970’s verbreek is (2005:84).

Die ouers van my generasie sou ’n mens kon beskou as die tweede generasie van die oorlewendes van die Anglo-Boereoorlog. Dit maak die generasie waartoe ek behoort, dan die derde generasie Afrikaners wie se grootouers die Anglo-Boereoorlog meegemaak het as klein of opgeskote kinders. Van my twee grootmoeders het ek van hulle ervarings gedurend die oorlog gehoor, maar van my ouers omtrent niks nie. My afleiding dat my ouers tot die swyende tweede generasie behoort het wat gebuk gegaan het onder hulle ouers se belewenis van oorlogs­trauma, het ek getoets aan enkele van my tydgenote, wat my afleiding bevestig het.

Die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog het ook sonder ophef verbygegaan.

220px-thomas_stearns_eliot_by_lady_ottoline_morrell_1934

TS Eliot

Die Anglo-Boereoorlog as ’n verskriklike werklikheid het sy eerste neerslag in die poësie gevind, waarby ek aan die slot van my artikel stilstaan. Dit is nie uitsonderlik dat Afrikaans sy volwassenheid deur sy gebruik as poëtiese werktuig verwesenlik het nie. ’n Taal vind sy emansipasie altyd volgens TS Eliot eerstens in poëtiese uitdrukking, en daarvoor voer hy oortuigende redes aan in een van sy gebundelde literêre essays, “The social function of poetry”. Hy skryf: “Through the Middle Ages to within a few years ago Latin remained the language for philosophy, theology and science. The impulse towards the literary use of the languages of the peoples began with poetry” (1969:19). Ek bring Eliot se uitspraak hier ter sprake omdat die oorlogsliriek die emansipasie van die Afrikaanse taal teweeg gebring het en aanvanklik die bewussyn van die Anglo-Boereoorlog by Afrikaners lewend gehou het.

 

Ná die neerslag van die Anglo-Boereoorlog in die Afrikaanse poësie was dit nie meer ’n kragtige impuls vir Afrikaanse digters nie, wat waarskynlik daarmee saamhang dat die werklikhede van die oorlog algaande uit die bewussyn van Afrikaners verdwyn het. Tereg wys Albert Blake in Boereverraaier op die “historiese geheue­verlies” waaraan die Afrikaners gely het oor die teregstellings van verraaiers deur die Boere wat die stryd voortgesit het (2010:14).

Dié geheueverlies was verantwoordelik vir die swye oor die oorlogstrauma wat nou blootgelê word in al sy aspekte deur skrywers soos Albert Blake, Carel van der Merwe en Elsabé Brits. Daarmee dwing hulle Afrikaners tot ’n nuwe besef van die Anglo-Boereoorlog, gestroop van illusies en idealisering.

Broedertwis word gekenmerk deur die helder betoog wat Blake uit ’n magdom gegewens opbou, sonder om ooit sy hooftema uit die oog te verloor: die konflik tussen Christiaan de Wet en sy jonger broer, Piet de Wet, tydens die Anglo-Boereoorlog wat hulle vervreemding veroorsaak het en nie ná die oorlog tot versoening gelei het nie. Blake motiveer sy keuse van dié onderwerp in sy voorwoord deur dit ’n “tragedie” te noem met “veel wyer implikasies as ’n blote familievete” (2016:vii). Sy doelstelling is om die invloed van oorlogstrauma op die De Wet-broers te ondersoek, sonder om voor te gee dat hy dit psigologies kan verklaar, maar met die voorneme om “te waak teen ’n oorvereenvoudiging van menslike gedrag” (xi).

By die aanpak van sy skrywe was Blake terdeë bewus daarvan dat hy ’n baanbrekende taak op hom geneem het, soos blyk uit sy uitspraak dat Afrikaners ná wat hul “in die Anglo-Boereoorlog deurgemaak het klaarblyklik nie maklik oor verraad geskryf het nie”. Hy vervolg: “Dit is nietemin merkwaardig dat daar nog geen omvattende werk verskyn het wat die broedertwis tussen Christiaan en Piet de Wet ontleed nie. Dalk was dit in die verlede ’n te sensitiewe onderwerp. Terwyl ek my navorsing gedoen het, is ek ook gereeld gevra waarom ek my besig hou met omstrede en pynlike onderwerpe uit die Afrikaner se verlede” (xiii). Die onuitgesproke pynlike gevoelens oor die twee uiterstes waarby die verraaier, Piet de Wet, teenoor sy broer, Christiaan de Wet, die bittereinder, in die oorlog te staan gekom het, pas perfek binne die swye van die tweede generasie.

Die skryf van hierdie artikel stel my voor die uitdaging om die magdom gegewens in Broedertwis saam te vat in ’n sinvolle geheel. My strewe is om in my samevatting reg te laat geskied aan die histories-gedetailleerde verhaal wat Blake boeiend vertel in uitstekende Afrikaans en ’n helder styl en, soos hy, eweneens te konsentreer op die vervreemding tussen Christiaan en Piet de Wet.

 

2. Die ontstaan van die onoorbrugbare kloof tussen twee broers

Blake beskryf die verloop van die twis tussen die De Wet-broers met die daarmee gepaardgaande vervreemding in ses dele, elk met ’n titel wat die belangrikste motief wat hy in dié bepaalde deel aan die orde stel, uitlig.

Met die titel van Deel 1, “Die duif en die valk”, wil hy die verskil in aard tussen Christiaan en Piet de Wet beklemtoon wat eers in die Anglo-Boereoorlog geblyk het. Om daarby uit te kom, wys Blake daarop dat albei broers op “militêre gebied meteoriese opgang gemaak het”: hulle het deelgeneem aan die Eerste Anglo-Boereoorlog en met die uitbreek van die Tweede Anglo-

christiaan_de_wet

Christiaan de Wet

Boereoorlog was Christiaan ’n gewone burger in die Heilbron-kommando en Piet ’n verkose veldkornet in die Bethlehem-kommando. Al twee broers sou “binne ’n verstommende drie maande ná die aanvang van die oorlog deur pres MT (Marthinus) Steyn as generaal aangestel word” (20). Op dié tydstip sou dit vir die twee generaals onvoorstelbaar gewees het dat hulle weë in die Tweede Anglo-Boereoorlog sou skei en hulle nooit versoen sou raak nie.

Teen die einde van 1900 het die Britse troepe hulle van die suidfront onttrek, terwyl die Boere onder die indruk was dat ’n groot offensief daar sou plaasvind. Piet de Wet was deel van die groep burgers wat lank daar vasgepen was sonder ’n ware oorwinning. Volgens Blake het hy op dié tydstip waarskynlik sy krygsenergie verloor (54). Op 1 Februarie 1900 is hy saam met sowat 1 000 burgers uit Colesberg onttrek om sy broer aan die wesfront te gaan help waar Piet Cronjé by Paardeberg vasgekeer was. Die Britse oorwinning en die Boere se vernederende neerlaag by Paardeberg was die keerpunt in die oorlog.

Van konvensionele teenstand teen die vyand in die Vrystaat was daar teen einde April, begin Mei 1900 nie veel sprake nie (56) en die kiem van die De Wet-broers se konflik was aanwesig in hulle opponerende siening van hoe die oorlog voortgesit moes word. Piet het aan konvensionele aanvalle uit stelling­names van voor geglo, wat “strategies fataal sou wees”, terwyl Christiaan guerrillaoorlogvoering toegepas het en die vyand in die rug geteister het (56, 57). Christiaan se briljantheid as guerrilla­vegter het hom reeds in sy leeftyd wêreldroem besorg, met die gevolg dat Piet al hoe meer in sy skaduwee geleef en gekwyn het.

piet_de_wet

Piet de Wet

Die aanwysing deur pres Steyn van Christiaan as opperbevel­hebber van die Vrystaatse magte het die volgende fase in die sage van die broedertwis ingelui. Piet het toe nog deelgeneem aan die stryd. Die rang van veggeneraal is op aanbeveling van ’n aantal offisiere afgeskaf en Piet is as assistent­hoofkommandant aangestel (86). Die benoeming van Christiaan deur pres Steyn as opperbevelhebber van die Vrystaatse magte het Piet, genl Jan Olivier en genl Marthinus Prinsloo se misnoeë gewek. Hulle het aangedring op ’n verkiesing om aan die onenigheid ’n einde te maak en 26 van die 32 offisiere het vir Christiaan gestem. Olivier het drie, Prinsloo twee en Piet net een stem gekry (85, 86). Die burgers se vertroue in Christiaan is onomwonde bevestig. Die uitslag van die verkiesing moes uiteraard vir Piet vernederend gewees het.

Christiaan het Piet as laerkommandant aangestel en Piet het sy broer se opdragte nagekom, maar hy is nie betrek by krygbeplanning nie en volgens sommiges het Christiaan hom selfs geïgnoreer (87). Toe Christiaan met 500 man suid van Lindley beweeg het om ’n Britse kolonne te onderskep, het hy Piet nietemin in bevel van die laer gelaat. Hulle is aangeval en net Danie Theron en sy manne se verbete agterhoedegeveg het verhoed dat die Boere deur die Britse oormag oorweldig is. Volgens oorlewering het Piet tydens dié Britse aanval verwoed teruggeveg, waarskynlik met die wete dat dit sy laaste geveg was (89). Die volgende oggend het Piet by die opstal op die plaas Blesbokfontein opgedaag waar Christiaan ontbyt genuttig het, eenkant met hom gepraat en hom meegedeel dat hy wil oorgee. In sy weergawe van die gesprek in sy opgetekende herinneringe, Die stryd tussen Boer en Brit, lui Christiaan se antwoord op sy broer se vraag of hy “kans sien om nog aan te hou veg” kort en saaklik: “Is jy gek!” (89).

Hoofstuk 8 van Blake se boek handel, soos die titel te kenne gee, oor “Piet de Wet, die hendsopper”: “Donderdag 26 Julie 1900 ry Piet de Wet die Britse linies by Lindley binne en gee hom oor aan ’n buitepos van die 1st Bucks Volunteers” (92) Sy optrede sou nie ongestraf bly nie en sy vrou moes magteloos toekyk hoe ’n groepie burgers ’n “strooptog op sy plaas uitvoer en al die perde en vee wegvoer” (93). Onder beskerming van ’n Britse ruitery het Piet op 28 Julie 1900 op Kroonstad aangekom, waar hy in een van die beste huise gehuisves is (94). Die middag van dieselfde dag woon hy ’n “sportbyeenkoms van die militêre personeel van die Skotse hospitaal in Kroonstad by” (95). ’n Groot menigte het mekaar om hom verdring, onder meer verslaggewers, en ’n mens kan aanneem dat dit ’n streling van sy ego moes gewees het. Dit was vir hom ’n nuwe begin van sosialisering en samewerking met die Engelse waardeur hy vir goed onder sy legendariese broer se skaduwee uit was.

Waar Blake die twis tussen Christiaan en Piet de Wet te midde van die gruwels van die Anglo-Boereoorlog blootlê, wil ek fokus op Piet se belangrikste konfrontasies met sy eie mense sedert sy aktiewe deelname aan die oorlog aan Britse kant.

Teen Desember 1900 het Piet geglo dat ’n georganiseerde vredesbeweging met genoegsame steun van vooraanstaande Vrystaatse Afrikaners die oorlog tot ’n einde kon bring. As antwoord op ’n brief kry hy toestemming van Kitchener om terug te keer na Kroonstad, waar hy ’n besoek aflê by Cornelia, Christiaan se vrou, wat tydelik onder Britse bewaking was. Hy kon haar nie tot sy standpunt oorhaal nie, maar het hom, inteendeel, vasgeloop in haar onwrikbare geloof in die voortsetting van die stryd. Sy het die Britse owerhede versoek om haar swaer nie weer by haar toe te laat nie (104).

Piet self het sy verwagtende vrou en kinders uit die oorloggeteisterde gebied onder Britse beskerming na veiligheid gehaal. Daarbenewens is hy deur bemiddeling van Milner, wat op hoogte was van sy klaaglike finansiële posisie, as kontrakteur aangestel om onder Britse bewaking gras te laat sny wat as hooi gedien het vir die trekdiere wat die vroue en kinders na die konsentrasie­kampe moes vervoer. So ’n besending hooi het hy geweeg en eiehandig by die Kroonstadse konsentrasiekamp afgelewer en is onmiddellik daarvoor betaal. Blake wys daarop dat Piet se kontrakwerk vir die Britte ’n “Judassonde” in die oë van “republikeinsgesindes” was (110, 111). Wat my as leser ook nie ontgaan het nie, is Piet se skynbare onverskilligheid omtrent die bydrae deur sy kontrakwerk tot die vervoer van vroue en kinders na die konsentrasiekampe, terwyl sy eie gesin hulle in veilige beskerming bevind het.

Cornelia de Wet, wat die bittereinder-mentaliteit met haar man gedeel het, maak weer haar opwagting in hoofstuk 14, “Die invloed van twee vroue”. In Julie 1901 is Cornelia saam met haar kinders na die Merebank-konsentrasiekamp gestuur, waar hulle tot die einde van die oorlog gebly het. Lord Kitchener het op 15 September van dié jaar ’n proklamasie uitgevaardig “waarin hy gedreig het om die Boereleiers lewenslank uit die land te verban tensy hulle die wapen neerlê” (150). Sommige van die vrouens wat hewig deur die proklamasie ontstel is, het onder druk van die Britse kampowerheid ’n petisie onderteken wat by die vegtende burgers aangedring het om oor te gee. Cornelia de Wet het die plek boaan die petisie wat vir haar handtekening bedoel was, oopgelaat, die petisie in stukke geskeur en op die grond gegooi, tot die ander vrouens se klaarblyklike verligting (150, 151).

hobhouse

Emily Hobhouse

Waar Piet de Wet besef het dat die oorlog op ’n einde sou wees “as die gees van die vegtende burgers se vrouens gebreek kon word” (176), het hy hom deeglik misgis met die mentaliteit wat baie van die vrouens met sy skoonsuster, Cornelia, gedeel het. Daarvan was hy getuie by sy besoek aan die konsentrasiekamp in Bloemfontein waar Emily Hobhouse humanitêre werk gedoen het. Ons dank ons kennis van wat presies daar gebeur het aan haar brief aan haar tante wat Blake aanhaal. Hobhouse skryf dat aan die einde van Piet se rede om die vrouens te oortuig van die wenslikheid om hul mans te oorreed om die wapen neer te lê, hy ’n sekere mevrou Botha in die gehoor geteiken en om haar ondersteuning gevra het. Sy het sy blik beantwoord, haar kop geskud en, gevolg deur die ander vrouens, die “wretched orator” alleen op die verhoog agtergelaat (176).

Uit Blake se boek blyk dit dat daar oor Piet se vrou, Sannie, nie soveel bekend is nie. Sy was nou eenmaal die vrou van ’n verraaier. Dit het Blake in sy strewe na objektiwiteit voor die moeilike taak gestel om ’n betroubare beeld van haar te gee. Hy kon nie daarin slaag nie, omdat hy hom op een bron moes verlaat, die dagboek van Oskar Hintrager, ’n Duitse vrywilliger by die Boere, wat dikwels by Sannie op Vinkfontein in die Lindley-omgewing gekom het voordat sy na veiligheid in Kroonstad verplaas is. Hintrager skryf dat sy haar menings vry uitgespreek het en “openlik oor die gevare wat die voortsetting van die oorlog volgens haar inhou”, gekla het. Hy het Sannie se hand in Piet se oorgawe gesien en skryf: “Cherchez la femme! Deurgrond die vrou: vir haar was huis en haard belangriker as die onafhanklikheid en die vaderland. (Dis nou die gevolg van al haar klagtes wat ek destyds so dikwels in haar huis moes aanhoor.)” (148).

Sannie de Wet was waarskynlik meer as net ’n klaagkous en die spreekbuis van haar man. Blake erken dat die rol van die Afrikanervrou in die Anglo-Boereoorlog “genuanseerder en komplekser” was as om haar man getrou te ondersteun (146).

Hintrager gee kennelik as simpatiseerder met die Boeresaak ’n vereenvoudigde siening van Sannie. Sy siening dat sy “huis en haard” gestel het bo die onafhanklikheid van die vaderland geld veel sterker vir haar man, Piet. Om in die fynste besonderhede te skryf oor die betekenis van die vrou in haar verhouding tot die oorlog, val egter buite die bedoeling van Blake se boek. Hy gaan hoofsaaklik daarop in as dit lig werp op Christiaan en Piet se twis, maar dan laat hy reg geskied aan die vrou se belangrikheid te midde van die oorlog wat om haar afspeel en haar op meerdere wyses as vrou en moeder intiem raak.

Dit was stiksienig van Piet de Wet om te glo dat hy die vrouens in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp kon oortuig dat die Boere die vyandelikhede moes staak ter wille van vrede en dat hy hulle tot dié standpunt kon oorhaal. Die vrouens was immers woningloses en Piet was kennelik uit voeling met die pyn en die verset wat die vernietiging van hulle huise en die daaropvolgende wegvoering na konsentrasiekampe by hulle gewek het. Piet het reeds hooi na die konsentrasiekampe aangery en met die onversetlike houding van die Boervroue kennis gemaak in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp. Indien hy net teoretiese kennis gehad het oor wat presies voorafgegaan het aan die vroue se transportasie, het hy met sy eie oë die geweld­dadige vernietiging van sy eertydse buurvrou, ene mevrou Van Niekerk, se huis op die plaas, Windbult, aanskou. Die oggend van

10 Desember 1901 het Piet saam met Britse troepe daar opgedaag en toegekyk hoe “deure en vensters van die plaashuis, asook meubels, met hamers en byle stukkend geslaan is” (200).

through-shot-and-flameBlake haal die gesprek wat mevrou Van Niekerk met Piet gevoer het, uit die Engelse vertaling, Through shot and flame van JD Kestell se boek Met de Boeren-command’s aan. Terwyl die verskriklike toneel van die vernietiging van haar huis hom voor mevrou Van Niekerk afspeel, vra sy aan Piet of hy nie sien hoe die Britte die Boere ruïneer nie en op sy beurt stel hy aan haar die belaglike vraag: “And why do you ruin England so?” (201). Behalwe uit dié vraag spreek Piet se apatie verder daaruit dat hy in die ontstellende gebeure nog ’n geleentheid sien om mevrou Van Niekerk te probeer oorreed om aan die Boere te vertel dat hulle ’n verlore stryd voer. Haar kort en saaklike antwoord was dat sy nie so iets sou doen nie. Wat die gebeure des te tragieser maak, is dat haar seun, wat ‘n dag daarna kom ondersoek instel het na wat op die plaas gebeur, in ’n hinderlaag doodgeskiet is. Later dié dag het sy pa daar op sy seun se lyk afgekom (201).

 

3. Die einde van die oorlog en wonde wat nie heel nie

Aan die begin van 1900 was dit duidelik dat die Transvalers nie die stryd wou voortsit nie, maar Christiaan de Wet, geswore bittereinder wat hy was, het hom teen oorgawe verset. Dit moes nogtans vir hom duidelik geword het dat hy nie die onmoontlike saam met sy bittereinder-Vrystaters sou kon vermag nie en op die nippertjie het hy omgeswaai en tog die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 onderteken. Blake gee twee moontlike weergawes van wat hom daartoe kon beweeg het: ’n besoek van Louis Botha en Jan Smuts die vorige aand (234), of ’n besoek van genls De la Rey en Botha vroeg die oggend van die ondertekening (235).

Ná die vredesluiting het alle deelnemers aan die oorlog, passief of aktief, bittereinders of hendsoppers en joiners, van aangesig tot aangesig gestaan met die wydverspreide verwoesting wat die oorlog aangerig het. “Die verskriklike verwoesting in sy tuisdistrik, asook elders in die Boererepublieke, moes Piet de Wet oortuig het dat sy optrede tydens die oorlog reg was” (227). Dit was vir hom dan ook kennelik geen probleem om die groot dinee waarheen die vernaamste joinerleiers van die National Scouts en die Orange River Colony Volunteers genooi is, by te woon nie, so vroeg as in Junie na die oorlog. Aan dié dinee wat vir Piet maar net ’n “gebaar van versoening was”, het die bittereinders, gewikkel in ’n stryd om oorlewing, gewalg weens die “prag en praal” daarvan wat hulle as “banaal” beskou het (228). Tydens dié dinee in Pretoria het elke joiner langs ’n Britse offisier gesit. Daaroor sê Blake verder: “By die dinee lewer genl Ian Hamilton en die vier joinerleiers – Piet de Wet; Andries Cronjé, die leier van die Transvaalse National Scouts, SG Vilonel en die omstrede Jan Celliers – in Engels en Afrikaans toesprake waarin hulle mekaar se lof besing” (228).

Blake gaan nie in op wie dié Jan Celliers was wat die naam gedra het van die geëerde volksdigter Jan FE Celliers, wat algemeen bekend is net as Jan Celliers nie. Dit is die enigste hiaat wat ek in Blake se betoog kon vind. Die leser is vanselfsprekend nuuskierig oor wie dié Boer en wat die aard van sy omstredenheid was. Ek het Blake daarna gevra en sy antwoord in ’n e-pos lui: “Dié Jan Celliers is gelukkig nie die digter nie, maar ’n rampokker met ’n duistere verlede. Hy is reeds voor die oorlog in 1891 in die destydse Noord-Transvaal van moord aangekla en aan manslag skuldig bevind en tot gevangenisstraf met harde arbeid gevonnis. ’n Ander landdros het later na hom as ’n “regular scoundrel” verwys.” Die Engelse offisiere het hulle dus die lof laat welgeval sonder wete van “wat voor vlees zij in de kuip hadden”, om my ’n Nederlandse uitdrukking te veroorloof.

Piet de Wet was volkome uit voeling met die bittereinders. Die kloof tussen hom en Christiaan het onoorbrugbaar gebly. As opskrif by hoofstuk 10 haal Blake die skokkende woorde aan wat genl Chris Badenhorst Christiaan “hoor prewel het toe hy die nuus van Piet se oorgawe aan die einde van 1901 aan hom oorgedra het: ‘Het ek hom maar liewer doodgeskiet.’ Christiaan het die dreigement dat hy sy broer soos ’n hond sou doodskiet indien hy hom in die hande kry, later openlik herhaal” (113). Dié onderdrukte aggressie het tot uitbarsting gekom in die ontmoeting tussen Christiaan en Piet in die gewilde kroeg van die Grand Hotel in Kroonstad, wat die oorlogsverwoesting gespaar gebly het.

’n Jong Britse luitenant, Fuller Boney, vertel van dié ontmoeting in sy opgetekende herinneringe. Blake skryf dat dit “onduidelik is wat Christiaan as geheelonthouer in die kroeg gaan soek het en dat die ontmoeting tussen hom en Piet waarskynlik toevallig was” (238). Hy haal Fuller uitvoerig aan wat skryf dat ’n heftige rusie tussen die broers uitgebreek het wat in geweld sou geëindig het as daar nie tussenbeide getree is nie. Christiaan het daarop eers die Britse intelligensie-offisier wat by die kroegtoonbank gesit het en sy eertydse krygsgevangene was met die hand gaan groet voordat hy die kroeg verlaat het. “Waarskynlik wou hy daarmee te kenne gee ’n eertydse vyand is ’n groet waardiger as ’n verraaierbroer” (239).

Die vooruitsig by die Vrede van Vereeniging dat selfregering aan die oorwonne republieke toegeken sou word, het bygedra tot Christiaan de Wet se ondertekening van die vredestraktaat, al was dit hoe onwillig. Sy hoop is nie beskaam nie. “Met die Liberale Party se bewinds­aanvaarding in Brittanje […] is selfregering aan die Transvaal en die Oranjerivier­kolonie toegeken” (264). Daarmee is die eenheid van die Afrikaners nie verseker nie en die broedertwis tussen die De Wet-broers nie besleg nie. Die ontwaking van Afrikaners in die Kaapkolonie het momentum ontwikkel en gelei tot meerdere kongresse, wat die aanleiding was tot die stigting van die Orangia Unie-party in Bloemfontein in 1906. As teenvoeter daarvoor is die Britsgesinde Konstitusionele Party in 1907 gestig, eweneens in Bloemfontein (264).

Piet de Wet het die Konstitusionele Party nie openlik gesteun nie, miskien omdat dié party net in Bloemfontein met sy sterk Engelssprekende basis kandidate gestel het. Hy het hom geskaar by dié plattelandse afvalliges en besluit om as onafhanklike kandidaat die verkiesing in Lindley, sy tuisdistrik, aan te durf, maar is verpletterend verslaan (265, 266). In 1907 is “’n onwillige Christiaan met moeite oorgehaal om hom as kandidaat van die Orangia-Unie in die kiesafdeling Vredefort verkiesbaar te stel” (268, 269). Hy het ’n wegholoorwinning behaal en minister van landbou in die kabinet geword. Oor sy bekwaamheid as minister maak Blake melding dat verskil van mening daaroor bestaan (269), maar nogtans blyk daaruit dat Christiaan nog ’n aktiewe lewe in diens van sy volk gelei het, terwyl sy broer Piet ’n uitgeworpene geword het.

Piet se onderdanigheid aan die Britte het uiteindelik gelei tot sy ontkenning van Britse onmenslikheid. Blake haal aan uit ’n berig in die Wangani Chronicle van 22 April 1902, waarin goedkeurend uit ’n toespraak van Piet aangehaal word: “He rejoiced, he said, to bear testimony to the truth and to thank God that, if he and his countrymen had lost their independence, they lost it to a Government that ‘treats us as well as can be wished’” (206). So ’n uitspraak is in skreiende teëspraak met Piet se herhaaldelike regverdiging dat hy die wapen neergelê het om ’n einde aan oorlogslyding en -vernietiging te maak. Hoe maak ’n mens ’n einde aan lyding wat jy ontken? Piet se blatante ontkenning van Britse wandade herinner die leser weer daaraan dat hy ’n gevoellose ooggetuie was van die vernietiging van sy buurvrou Van Niekerk se huis kort ná sy voortydige oorgawe en toe reeds, teen alle redelikheid in, beweer het dat die Boere “Brittanje ruïneer”.

Piet se apatie ten opsigte van die smart van sy mense, veral van die vroue in die konsentrasiekampe, is moeilik verklaarbaar en Blake waag hom tereg nie aan ’n sielkundige interpretasie daarvan nie. Dit bly ook ’n ope vraag of Piet hom sy verguising as verraaier aangetrek het. Volgens hom wou hy net die vrede bespoedig. Daarnaas het hy daarop gewys dat ’n “geldige Vrystaatse regering ten tyde van sy optrede nie bestaan het nie” en Blake konstateer dat “onlangse navorsing sy standpunt in ’n mate ondersteun” (211). As argument teen dié beskouing wys Blake in hoofstuk 17, “Regtens skuldig, moreel verwytbaar?”, daarop dat die Romeins-Hollandse reg die “algemeen geldende reg” in die Boererepublieke was “tot en met die oorgawe van genl Marthinus Prinsloo op 30 Julie 1900” (212). Toe eers het die verkose Volksraad nie meer gefunksioneer nie en “was daar dus nie meer ’n geldige Vrystaatse staat nie” (214). Vir die bewyse van Piet se verraad kan volgens Blake dus op ’n “hoogsgevorderde regstelsel gesteun word” (212). Hy gee die volgende weergawe van dié dade waaraan Piet de Wet volgens hom regtens skuldig was: “Piet het onder meer sonder toestemming met die vyand onder­handel, hom oorgegee, vertroulike militêre inligting verskaf, die oorlogspoging daadwerklik met die pogings van die vredesbeweging teëgewerk en uiteindelik die wapen teen sy eie mense opgeneem” (213, 214).

Die vraag na wat die Boere, en veral die bittereinders, gemotiveer het om die stryd vir die vryheid van die Boererepublieke met die magtige Britse Ryk aan te gaan, beantwoord Blake deur te verwys na die Boere se geloof: “(H)ul vryheidsstryd was ’n geloofsaak”: die bittereinders het geglo dat “God aan hulle kant was” en om vroeër oor te gegee het, sou daarop neerkom “dat hulle hul geloof moes verloën” (212). In dié geloofsoortuiging is hulle versterk deur hulle oortuiging dat aan ’n vyand wat ’n verskroeide-aarde- en konsentrasiekampbeleid voer, nie oorgegee kon word nie. Direk in teenstelling met hierdie oortuiging regverdig Piet sy oorloop na die Britte “in ’n ope brief wat hy op 11 Januarie 1901 aan Christiaan rig” ook as uitkoms van sy geloof.

Met die ter sprake bring van die Boere se geloof waarbinne vir hulle as Calviniste die Bybel die sentrale plek inneem, stel Blake een van die belangrikste en mees kontroversiële kwessies ten opsigte van die oorlog aan die orde. Blake haal die brief van Piet de Wet aan Christiaan in Engels aan waaruit ek sy uitsprake met betrekking tot die onversoenbaarheid van die De Wet-broers in Afrikaans weergee. Piet verklaar dat hy nie een van die dapperste soldate was nie, maar so goed as hy kon geveg het totdat hy ingesien het dat hy nie langer verantwoordelik kon wees vir die verlies aan lewens in ’n hopelose oorlog nie. Dit was vir hom duidelik dat die Here sy hand teen hulle gekeer het en hy het hom afgevra aan watter dade hulle skuldig was dat ’n regverdige God dit gedoen het. In die eerste plek het hy ingesien dat die verklaring van die oorlog teen ’n ryk 20 keer so sterk soos hulle in stryd was met God se Woord met verwysing na Lukas 14:31 (166). Dié teks waarmee Piet sy afvallige optrede regverdig, lui: “Of watter koning wat in ’n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie? Anders stuur hy ’n afvaardiging om vredesvoorwaardes te vra terwyl die ander een nog ver is.” Piet siteer dié teks buite konteks van Jesus se vermaning aan sy dissipels dat hulle die prys moet bereken wat dit hulle kan kos om Hom te volg.

Dit is dus nie vreemd dat Christiaan die teks waarop Piet hom beroep, nie as van toepassing op sy stryd in die Anglo-Boereoorlog beskou nie. “Vir hom het die voorbeeld van die Ou-Testamentiese Gideonsbende wat die onmoontlike teen ’n oormag vermag, eerder gegeld” (166). Nogtans het Piet en Christiaan de Wet hulle albei skuldig gemaak aan manipulasie van die Bybel deur tekste buite konteks aan te haal om hulle diverse standpunte te regverdig. Dit is, helaas, ’n praktyk wat vandag nog wyd voorkom by Bybelvaste Afrikaners wat beter behoort te weet.

Die bewondering vir Christiaan de Wet het sy hele leeftyd lank geduur en daarna. Blake stel dit as volg in hoofstuk 21 in Deel 5 van sy boek, “Onversoenbare naoorlogse jare”: “Hy is op die hande gedra, selfs nadat hy hom in 1914 aan ’n wederregtelike opstand teen die staat skuldig gemaak het” (220). Met Blake se interpretasie van die Rebellie van 1914 is ek dit prinsipieel eens: Dit was ’n opstand teen die wettige regering van die land en ’n tragedie wat die Afrikaners se vervreemding van mekaar net vergroot en verdiep het. Dit het reeds ná die oorlog gelei tot die stigting van verskillende gemeentes binne die NG Kerk, en ná die Rebellie is die kerktwis nog hoër opgestook. Die tragiek van die Rebellie spreek die sterkste uit die hoë prys wat Christiaan de Wet self betaal het.

“Ná die besluit van die Botha-regering om Duitswes binne te val het die een krisis vinnig op die ander gevolg. Herhaalde geleenthede om die dreigende opstand te keer, is verspeel” (274). Christiaan met sy rebelle het ná die besetting van Vrede suidwaarts beweeg en die “opstand het ook al gaande gewelddadiger geword …” Op 8 November 1914 “sneuwel Christiaan se belowende seun Danie saam met nog nege rebelle by Doornberg naby Winburg. Christiaan self ontkom ternouernood aan die dood – ’n opslagkoeël wond hom lig in die gesig en sy perd word doodgeskiet” (275). Saam met sy oorgeblewe groepie word hy op 1 Desember 1914 op die plaas Waterbury naby die grens van Betsjoeanaland (die huidige Botswana) deur regeringsgroepe gevange geneem (279). Op sy vraag aan hulle of hulle Engelse of Afrikaners is, het hulle geantwoord “Afrikaners” en het hy verlig gesê: “Goddank, dan het die Engelse my nooit gevang nie” (279). Die bittere ironie het hom ontgaan dat sy eie mense hom gevange geneem het.

Christiaan is in die Johannesburgse Fort en die Bloemfonteinse tronk aangehou. Hy is verhoor, aan hoogverraad skuldig bevind en naas ’n boete tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis. Ná ’n jaar is hy op parool vrygelaat. Blake meld dat etlikes hom tydens die Rebellie veroordeel het, maar dat dit uiteindelik geblyk het “dat hy niks van sy hoë aansien ingeboet het nie” (281). Christiaan het sy aktiewe lewe tydens sy parooljare en daarna voortgesit tot op sy brose ouderdom. Van sy plaas naby Memel in die noordoos-Vrystaat het hy getrek na ’n plaas by Edenburg in die suid-Vrystaat voordat hy terug is na die plaas Klipfontein by Dewetsdorp, waar hy grootgeword het. Hy is op 3 Februarie 1922 daar oorlede (298).

Christiaan de Wet se graf is “in die indrukwekkende ommuurde ringgebied” van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein (298), terwyl Piet de Wet se oorskot vir meer as vier dekades in ’n ongemerkte graf in Lindley gerus het “totdat van sy klein- en agterkleinkinders ’n grafsteen laat oprig het met die eenvoudige opskrif ‘In Liefdevolle Herinnering Aan Ons Vader’” (298, 299). Dié twee grafte verteenwoordig die teenpole van verering en verguising wat die deel was van twee broers in en ná die Anglo-Boereoorlog en van hulle twis wat nooit bygelê is en tot versoening gelei het nie.

vrouemonument

Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein

Dit bring ’n mens noodwendig by die kwessie van vergifnis. Blake skryf: “Vir Christiaan is daar geen vergifnis vir joiners nie, al is dit ’n belangrike beginsel van die Christelike geloof. Dat hy nie gedink het dit bots met sy geloof nie is waarskynlik ’n aanduiding van sy onbuigsaamheid” (116). As bevestiging haal Blake Christiaan direk aan: “Ons is nou wel almal sondaars, maar ’n sonde soos landsverraad sou ek nie eens ’n dag mee kon saamleef nie” (116). Blake het begrip vir Christiaan se onbuigsaamheid en besef dat met die verkeerde aanslag bittereinders nie tot ’n gees van vergewensgesindheid oorgehaal kon word nie. Hy sê van Piet de Wet en ds Hercules du Plessis dat hulle in ’n brief aan The Bloemfontein Post “byna in ’n gees van selfvoldane gesag ’n beroep op almal doen om mekaar te vergewe en hande te vat” (230). Die brief is myns insiens ’n onbedekte belydenis van pro-Britse sentimente onder die skyn van Christelike vergifnis, boonop in Engels, en met ’n beroep op God se wil wat dié sentimente bevestig: “God, who rules the destiny of nations, has willed that the Union Jack shall fly over South-Africa” (231).

Ek glo dat die moontlikhede en grense van vergifnis ’n kardinale kwessie vir die oorlewendes van ’n oorlogstrauma is. Waarskynlik glo ek sterker as Blake aan die grense, maar ek onderskryf sy herhaalde uitspraak dat indien ’n later generasie oor alle sensitiewe kwessies in verband met ’n oorlogstrauma wil oordeel, hulle dit verantwoordelik en verantwoord moet doen. In ’n veranderde land, volk en gemeenskap kan maatstawwe van die hede nie klakkeloos toegepas word op sensitiewe gebeure in die verlede nie, soos Blake beklemtoon.

albert-blake

Albert Blake (Foto: Naomi Bruwer)

4. Die konfrontasie met ontluistering van die Anglo-Boereoorlog met verwysing na die neerslag daarvan in die Afrikaanse oorlogsliriek

Hoofstuk 3 van Deel 1 van Blake se boek lui: “Oorlog: die vloek van die mensdom”. Dit is inderdaad wat oorlog is, en oorlogsgebeure is altyd gruwelik of grens aan die gruwelike. Dis op die gruwels van die oorlog dat Christiaan en Piet de Wet verskillend gereageer het. Dié gruwels het uit die Afrikaner se geheue verdwyn, soos Blake tereg beweer: “Onder die magdom niefiksiewerke oor die slagveldgeskiedenis van die Anglo-Boereoorlog is daar, interessant genoeg, min eerstehandse vertellings wat die gruwelike werklikheid van die liggaamlike en geestelike verminking van die oorlog eksplisiet uitbeeld. Die meeste boeke (soos die rits herinneringe deur oudstryders wat in die 1930’s gepubliseer is) is grootliks ’n geromantiseerde of feitelike relaas van gebeure, waarin die gruwels van die slagveld eerder vermy word” (2016:127).

Blake se blootlegging van dié gruwels was vir my as letterkundige die stimulus om my opnuut te vergewis van die neerslag daarvan in die Afrikaanse poësie onmiddellik ná die Anglo-Boereoorlog, toe die Afrikaanse taal in die oorlogsliriek volwassenheid bereik het. Dit was die oorlogsgedigte van die sogenaamde Driemanskap, Jan Celliers, Totius en C Louis Leipoldt, wat die vermoë van Afrikaans bewys het om nie net aan die geestige uitdrukking te gee nie, maar ook aan die tragiese en pynlike wat behoort tot die menslike soort – die “human condition”.

Om my te vergewis van hoe die Afrikaanse oorlogsliriek literêr beoordeel is, het ek bewus G Dekker se Afrikaanse literatuurgeskiedenis geraadpleeg, waarvan die eerste druk in 1935 verskyn het en ek self die “sesde, om- en bygewerkte druk van 1961” besit. Dekker staan as lid van die “tweede generasie” te na aan die Afrikaanse oorlogsliriek om dit vanuit ’n afstandsperspektief slegs aan die hand van bopersoonlike, literêre maatstawwe te beoordeel. Sy beoordeling van die oorlogsliriek is van besondere betekenis vir die tema van hierdie artikel: die Anglo-Boereoorlog as die skrikwekkende gebeure wat dit was.

Tereg wys Dekker daarop dat die “Driemanskap” nie ’n “groep vorm met ’n gesamentlike strewe literêr of andersins nie”, alhoewel vir al drie digters die Anglo-Boereoorlog ’n “bron van hulle kuns was” (60). Hy beklemtoon die verskil tussen die drie digters vanuit elkeen se verskillende “digterpersoonlikheid” en dié “digterpersoonlikheid”, by implikasie die digter as mens, het ’n beduidende invloed op Dekker se evaluering van hulle werk.

Dekker bespreek eerstens Celliers se oorlogsliriek en is reg in sy siening van Celliers as “vaderlander” wat “veral weemoedig terug dink” aan die “idilliese huislike geluk wat deur die oorlog verwoes is en in ‘Die kampsuster’ hoor ons van die lyding in die kampe” (64). Ons hoor hierdie lyding egter by monde van ’n sterwende moeder wat dit rustig vertel aan die verpleegster wat haar in haar sterwensuur bystaan en aanskouer was van die sterwe van haar drie klein kindertjies. Sy dink ook terug aan die murasie van haar afgebrande huis “waar almal so saam was om moeder haar skoot;/ maar ver van die huis en verstrooi deur die land,/ rus almal tog saam in die Here se hand.” Wat ons hoor, is nie die stamelende sterfbedtaal van ’n beproefde moeder nie, maar die stem van Jan Celliers, die vaderlander, van buite ’n konsentrasie­kamp.

totius

Totius

Totius studeer aan die Teologiese Skool in Burgersdorp, waar hy in 1899 die proponents­eksamen aflê. “Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog gaan hy as veldprediker saam met die Boere-kommando’s, maar in 1900 vertrek hy na Nederland vir verdere studie aan die Vrije Universiteit, Amsterdam, waar hy in 1903 die doktorstitel behaal” (67, 68). Dekker beskryf Totius as “die ontroerde peinser oor die raaiselvolle smartlikheid van die lewe, om tot weemoedige berusting te kom in die Raadsplan van sy Skepper wat hy daarin bespeur” (68, 69). As Calvinis kon Totius vanuit so ’n lewensbeskouing nie heftig, hartstogtelik, intens die smarte verwoord van die Anglo-Boereoorlog nie. Die oorlog was ook nog lank nie verby toe Totius die land verlaat het nie en dit is myns insiens ook ’n rede waarom die oorlog by hom nie in aangrypende belydenisverse uitdrukking gevind het nie. Hy het nie in die werklikheid of in sy verse van aangesig tot aangesig voor die oorlog te staan gekom nie.

Totius se bekendste oorlogsgedig, “Vergewe en vergeet”, gaan dan ook aan die smarte van die oorlog verby om die herrysenis van die gebroke Afrikanervolk te verwoord. Die Afrikanervolk is die “doringboompie” langs die pad wat deur die “ossewa” as simbool van die Britse Ryk met sy “swaar wiele” platgery word, maar weer sy kroontjie oplig en genees deur die “salf van eie gom”, al laat die wonde ’n “merk” wat deur die jare “groter word”. Die simbolis Totius het kennelik nie ingesien dat om die “ossewa” beeld van die Britse Ryk te maak, strydig was met die gevestigde simboliese betekenis van die ossewa as simbool van die Afrikaners ná die Groot Trek en hulle vestiging in die noordelike Republieke nie.

Dis verbasend dat Totius dit nie ingesien het as digter van sy uitgebreide gedig “Die lied van die ossewa”, waarin hy die ossewa as beeld van die Afrikanervolk ontgin nie. Die ossewa is die spreker in die vers en begin sy lied met die reël: “Hoor hoe sing ek my lied as die osse so stap” en vertel dan van sy samehorigheid met die trekker deur verskillende fases van die geskiedenis. In die tweede strofe dra hy die “bruidegom” noordwaarts om by implikasie ná sy huwelik die land mak te maak, terwyl hy, die ossewa, sy “taak verlig”. In strofe 3 beskut sy tentjie die trekker se kroos en in strofe 4 “begelei” sy “klaagtoon” die trekker se “psalm” tydens die “rampe” wat hom tref, maar vervoer hom weer ná die “stryd met Dingaan” na ’n “geweste van rus”. In die voorlaaste strofe is die ossewa “hees” as sy “geluid” “gesmoor” word deur die “nare geklaag” uit sy “tentjie”. Dit kom van die vrouens en kinders van wie die ossewa weet dat hy met hulle na die konsentrasiekampe onderweg is. Die slotkoeplet lui: “Want ek rol, ek en honderde waens met my,/ na die plek waar die vrouens en kinders gaan ly.”

Totius se oorlogsliriek het vaderlandse verse geword wat nie ’n vorm kon vind om tans nog te ontroer as poësie nie. Sy bekendste oorlogsgedig, “Vergewe en vergeet”, doen vandag met sy simboliek en sentimente vals aan. Die gedig slaag nogtans in so ’n mate dat dit as komponent in die oorlogsliriek van die Driemanskap ’n sekere waarde en betekenis behou. Dit is meer as wat gesê kan word van “Die lied van die ossewa”. Die ossewa is ’n onoortuigende spreker van ’n lang-uitgerekte relaas oor die Afrikaner se trek na die noorde en sy rol as vervoermiddel van die vroue en kinders na die konsentrasiekampe. Dit is simptomaties van ’n digter wat die Anglo-Boereoorlog ten slotte net kon sien in die lig van die volkswording van die Afrikaner.

Tereg noem Dekker Leipoldt die “boeiendste figuur van die Driemanskap”. In sy vergestalting van dié boeiende individualis gee Dekker ’n uitvoerige samevatting van die eienskappe wat hom en sy werk kenmerk: sy “hartstogtelikheid”, “spontaneïteit” en “vryheid van konvensie” (82). Leipoldt was tydens die Anglo-Boereoorlog “oorlogskorrespondent vir ’n groot aantal oorsese Republikeinsgesinde koerante” (82) en dus ooggetuie van die lyding voordat hy in 1902 na Europa is om in Londen in die medisyne te studeer (81). Sy oë het dus gesien wat Totius in Amsterdam nie kon sien nie, en waarop Celliers in sy oorlogsgedigte ook nie fokus nie, al het hy in die woorde van Dekker “die mauser opgeneem vir die vryheid en geveg tot die bittere einde” (60).

c_louis_leipoldt

C Louis Leipoldt

Leipoldt bevestig self sy oorlogsliriek as ’n ooggetuieverslag in die “Voorrede” tot sy eerste bundel, Oom Gert vertel en ander gedigte, wat in 1911 verskyn het: “Die meeste van die gediggies is gemaak geword toen ik nog half flou was met die skok van die oorlog, en toen die donder van die Engelse kanonne snog altijd in mijn ore was” (Dekker 1961:83). Die bundel, en in besonder die titelgedig, “Oom Gert vertel”, was by verskyning reeds ’n hoogtepunt in die Afrikaanse poësie en is dit nog tot op hede. Dekker se beoordeling van Leipoldt se oorlogsliriek waarvolgens hy uitgaan van die “digterpersoonlikheid” is in twee opsigte veelbetekenend: enersyds spreek hy sy lof vir Leipoldt uit en andersyds sy kritiek: “Geen Afrikaanse digter wat sy smart oor die oorlogsleed so onmiddellik, so hewig vertolk as die digter van Oom Gert vertel nie, maar ook geen Afrikaanse digter wat so ver van sy volk af gestaan het as hierdie kosmopoliet nie” (1961:83).

Die essensie van Dekker se beskouing van Leipoldt as volksvreemd wat lê aan die grond van al die vergesogte redes vir dié opvatting, is dat die digter kennelik nie meegevoer is in die euforie van Afrikaner-nasionalisme wat ná die Anglo-Boereoorlog steeds meer momentum gekry het nie. Volgens Dekker het hy bly steek by die “tonele en episodes van lyding” waarvan hy getuie was en nie verder gekyk na wat die toekoms vir die Afrikanervolk inhou nie (1961:85). Dekker kanselleer die hoë waardering wat hy uitgespreek het vir Leipoldt se oorlogsliriek met ’n verbysterende stelling: “Waarskynlik sou soortgelyke ervarings in ’n ander land onder ’n ander volk dieselfde emosionele reaksie by hom uitgelok het” (1961:85). Daarop kan die enigste redelike antwoord lui: Lyding is lyding en dit sal ’n digter kan aangryp of dit die lyding van sy eie of ’n ander volk is.

’n Korrektief op Celliers se sterwende moeder wat so ’n rustige gesprek met die verpleegster in die konsentrasiekamp voer, is Leipoldt se gedig “In die konsentrasiekamp”, waarin hy die toneel wat binne-in so ’n kamp afspeel, oortuigend vasvang asof hy dit met sy eie oë aanskou het, wat waarskynlik die geval was, geoordeel aan die datering by die gedigtitel, Aliwal-Noord, 1901. Ek volstaan met die aanhaal van enkele sprekende reëls: “Hier struikel die kind wat te vroeg was gebore;/ hier sterwe die oumens, te swak vir die stryd;/ hier kom ’n gekerm en gekreun in jou ore;/ hier tel jy met angs elke tik van die tyd …” En kan ’n mens jou ’n wranger lydingsgedig in enige taal voorstel as Leipoldt se “’n Nuwe liedjie op ’n ou deuntjie”, waarin die moeder haar kind aan die slaap wieg; die slaap waaruit hy nie wakker sal word nie. Ek haal die eerste vier en die laaste twee reëls van die slotstrofe aan:

Siembamba Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Kinkhoes en tering, sonder melk,
Bitter vir jou is die lewenskelk!
Daar is jou plek, by die graffies daar –
Twee in een kissie, ’n Bruilofspaar!

Vou maar jou handjies dig tesame,
Sluit maar jou ogies en sê – ame.

Ten slotte kom ek ná my kort ekskursie deur die Afrikaanse oorlogsliriek by Blake se ontsluiering van die versweë traumas van die Anglo-Boereoorlog in Broedertwis. Sy ontsluiering is wesenlik ’n ontluistering: van die onbeslegte twis tussen die vereerde genl Christiaan de Wet en sy verguiste verraaierbroer, Piet, wat hy in al sy haat en verbittering blootlê, en van die verskrikking en gruwels van die Anglo-Boereoorlog. Sodoende maak Blake korte mette met die romantisering en idealisering van die oorlog en die mite van Afrikanereenheid. Eweneens vernietig Carel van der Merwe in Donker Stroom al die illusies in verband met Eugène Marais: hy was nie ’n taalstryder nie, al was sy gedig “Winternag” van deurslaggewende belang in die Tweede Afrikaanse Taalbeweging; hy was die vlotste in Engels en hy was ’n boesemvriend van Alfred Milner.

 

5. Die Anglo-Boereoorlog in die hede

Die Anglo-Boereoorlog laat sy invloed tot in die hede geld. Blake se voorbeeld daarvan in sy Nawoord is ’n opmerklike geval. Max du Preez wou in sy rubriek in Die Burger Piet de Wet rehabiliteer, maar Blake se oortuigende betoog daarteen is dat die verlede nie ongedaan gemaak kan word deur ’n bevooroordeelde joernalis binne hedendaagse konteks nie. Die hede kan nie met maatstawwe van die verlede gemeet word nie (304). Ook sê Blake tereg dat Afrikaners van vandag nie by die Afrikanernasionalisme soos die strydvaardige Christiaan de Wet dit tydens die Anglo-Boereoorlog verpersoonlik het, kan aansluit nie. Maar daarnaas wys Blake op die wesenlike belang vir Afrikaners van kennis van die verlede, veral ook van die Anglo-Boereoorlog: “Om dié tragiese tyd te ignoreer sal ons ons wortels ontwrig. Ons moet weet waarvandaan ons kom” (305).

Waarby bring dit ons? Eerstens dat ons nooit weer ’n geïsoleerde bestaan in die nuwe Suid-Afrika kan voer nie. Ons leef in ’n wêreld wat klein geword het en waarin ons voortdurend grense oorsteek, met die gevolg dat Afrikaners die moontlikheid van verskillende identiteite het om optimaal in ons “global village” te funksioneer. Die eie taal is egter die belangrikste merker van identiteit, en dit geld nie net vir Afrikaners nie, maar vir alle volke: ons herken aan die taal wat mense praat die land waarvandaan hulle kom.

Sonder die taal as merker van sy identiteit word die voortbestaan van ’n gemeenskap en ’n volk bedreig. Voor die Anglo-Boereoorlog was geskrewe Afrikaans ’n onbeholpe Nederlands wat dit begryplik maak dat Eugène Marais Engels as spreek- en skryftaal verkies het en dat selfs Leipoldt sy oorlogsgedigte aanvanklik in Engels geskryf het. In die oorlogsliriek, gebore uit die tragiek van die Anglo-Boereoorlog, het Afrikaans volwassenheid bereik. Dit is die onbetwisbare waarde van die Afrikaanse letterkunde, poësie en prosa, wat vandag nog aan die taal sy waarde en aan sy sprekers met goeie reg hulle trots gee. By die belangrike komponent niefiksie in Afrikaans hoort nou ook die onlangse boeke oor die Anglo-Boereoorlog, waarvan Blake se Broedertwis die onderwerp van hierdie artikel is.

Blake stel ten slotte die vraag: “Het die Afrikaner die Anglo-Boereoorlog nie dalk nog altyd verkeerd geïnterpreteer deur die swaarkry en smart van die oorlog in die eerste plek in ’n heldestryd te omskep nie?” (307). Daarop wil ek bevestigend antwoord. Sy ontsluiering van versweë trauma dwing die leser tot ’n eerlike konfrontasie met die oorlog as die tragedie wat dit was. Dis ’n konfrontasie wat vra om vernuwende denke en ’n vermyding van die foute van die verlede. Dit stel Afrikaners voor die uitdaging om daarvan sin te maak vir die lewe in ’n veranderende land en wêreld.

Waar die tragedie van die Anglo-Boereoorlog neerslag gevind het in die poësie wat reg laat geskied het aan die lyding, veral in die oorlogsliriek van Leipoldt, is dit onwaarskynlik dat die poësie weer die aangewese medium daarvoor kan wees. Maar dit sou op ’n vertekening van die Afrikaanse poësie neerkom om die jorikneerslag van die Anglo-Boereoorlog in DJ Opperman se Joernaal van Jorik (1949) nie te noem nie. Jorik, die spioen, ’n skuilfiguur van Opperman self (soos die naam Jorik, afgelei van die digter se voorname, Diederik Johannes, te kenne gee), hoor van die Anglo-Boereoorlog by monde van die bejaarde vrou Wiesa. Joernaal van Jorik is ’n grootse epiese gedig in Afrikaans wat in sy omvang en diepte deur geen ander gedig in dié genre oortref word nie. Ook die teregstelling van die Kaapse rebel Gideon Scheepers in “Gebed om die gebeente” uit Opperman se bundel Engel uit die klip (1951) is ’n sublieme en aangrypende monoloog by monde van Scheepers se moeder. Sy smeek God om haar seun se gebeente vir haar te wys waarvan niemand tot vandag toe weet waar dit begrawe lê nie. Maar uiteindelik kan sy haar verhef bo haar persoonlike smart en bo Afrikanernasionalisme met die woorde: “maar soveel beendere lê onder die roosmaryn …” Opperman se vermoë tot “volstrekte vereenselwiging” as eis vir die digterskap het hom in staat gestel om episodes uit die Anglo-Boereoorlog te laat herleef. Dit is onwaarskynlik dat ’n Afrikaanse digter in die nuwe Suid-Afrika is dit weer sal kan doen.

Intussen het die Anglo-Boereoorlog wel gedien as die stof vir twee betreklik onlangse romans, PG du Plessis se Fees van die ongenooides en Francois Smith se Kamphoer. Ek is nie genoeg op hoogte van die historiese roman as genre of van die twee tersaaklike romans om hulle op dié tydstip literêr te beoordeel nie. Wat ek wel van fiksie oor die Anglo-Boereoorlog sou verwag, is dat dit die gruwelikheid van die oorlog so oortuigend blootlê soos Blake in Broedertwis. Die groot verdienste van Blake se boek is dat sy feite oortuig en terselfdertyd ontroer, omdat dit verband hou met die menslike aard van die hoofrolspelers in die tragedie van die Anglo-Boereoorlog.

Bibliografie

Blake, Albert. 2010. Boereverraaier. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2016. Broedertwis. Kaapstad: Tafelberg.

Dekker, G. 1961. Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Kaapstad:  Nasionale Boekhandel Beperk.

Eliot, TS. 1969. On poetry and poets. Londen: Faber and Faber.

Grundlingh, AM. 1999. Die “Hendsoppers” en “Joiners”: Die rasionaal en verskynsel van verraad. Pretoria: Protea Boekhuis.

Hoffman, Eva. 2005. After such knowledge. Parktown: Random House.

Opperman, DJ. 1983. Groot verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2015. Versamelde poësie. Kaapstad: Tafelberg.

Pienaar, EC. 1944. Digters uit Suid-Afrika. Kaapstad: HAUM.

Van der Merwe, Carel. 2015. Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog. Kaapstad: Tafelberg.

  • Foto's van Albert Blake en Lina Spies: Naomi Bruwer

The post LitNet Akademies-resensie-essay: Broedertwis deur Albert Blake appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>