My huisie
Vasgekeer op die vlak tussen hoofpad en spoor
Waar Guy Fawkes- en oujaarsvuurwerke nog toor
Waar padgeraas vroegdag die voëlsang verdring
Met satire wat spot hoe ou keuses my dwing
Lê my hawe op reis na my binneste spasie
Vir veilige vasmeer veel eerder as grasie
Buiteligte wat snags maan en sterre laat verbleek
Word ‘n skans wat my hart se ontbloting versteek
As die mure my soms met oorywer omvou
Laat die engte my weerloos die ruimtes onthou
Die portret van ’n bruidspaar in jare van seën
Hou wag oor ’n stuitige queensize vir een
As die oggendson krul om die Simonsberg-kruin
Warm strale die nagbed omskep in ’n tuin
As die koel Boland-briesie die donkerte stroop
Word my huisie ’n dankbare tempel van hoop
Bring dit langsaam die moed om weer vars te vertrou
Kruip my hart uit sy skadu en dans op my mou
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: My huisie appeared first on LitNet.