Skrywers oor hul nuwe boeke: Ria Smuts gesels met Naomi Meyer oor Die helder oomblik.
Die helder oomblik
Johan en Ria Smuts
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624080497
Hallo Ria, dankie dat jy kans sien om vrae te beantwoord oor Die helder oomblik. Hierdie bundel is voor Johan se afsterwe gesamentlik deur julle geskryf, is ek reg? Hoe het die proses gewerk om ’n kortverhaalbundel saam met mens se lewensmaat te skryf?
Ja, ons het saam dié bundel geskryf. Die graad van samewerking het egter gewissel. Party verhale was oorspronklik Johan s’n; ander myne, maar ons het mekaar se werk intensief gelees en dikwels ingrypende veranderings gemaak. Daar was verhale wat byna onveranderd gebly het en waar ons net klein stilistiese verfynings aangebring het, maar in baie gevalle het ons radikale wysigings voorgestel en sommer gesê: "Wag, gee, ek sal dit self skryf!" Partykeer was dit groot stukke wat ’n gans nuwe wending aan die verhaal gee en dan het die oorspronklike skrywer weer met dié byvoegings voortgewerk. Ander kere, weer, het een van ons gesê: "Hoekom skryf jy nie dié storie nie?" en dan die breë verloop van ’n verhaal voorgestel wat uiteindelik deur die ander een vertel is. Maar enkele van die stories het ons letterlik saam geskryf: hy skryf ’n stuk en ek skryf dan weer ’n stuk en so, al vlegtend, het ons die geheel tot stand gebring.
Die helder oomblik was nie jul eerste gesamentlike skryfwerk nie. Daar was ook akademiese handleidings en nog ’n kortverhaalbundel, Die water wat verby is. Het julle nog altyd gedink julle wil albei skryf en sáám skryf? Hoe het julle skryfwerk deur die jare verloop?
Ons het dikwels saam gepubliseer omdat ons vakgebiede oorvleuel het. Johan was ook in ’n stadium van sy akademiese loopbaan ’n dosent in Afrikaans in die fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch soos ek was, en ons het albei by DJ Opperman studeer. Dit het meegebring dat ons met byna dieselfde stem gepraat; of liewer dan, geskryf het en selfs in gevalle waar ons vir verskillende dele van ’n boek verantwoordelik was, het ons partykeer later verskil oor wie wat geskryf het en wie nou presies aanspreeklik was vir ’n sekere insig of formulering. Maar Johan het ook ’n groot aantal vakkundige publikasies op sy eie gelewer. Alles wat hy gepubliseer of voorgedra het, het hy altyd aan my voorgelê vir kommentaar en ek het natuurlik my eie werk ook aan hom voorgelê. Maar dié soort formele of akademiese tekste moet ek nou onderskei van sogenaamde "kreatiewe skryfwerk", hoewel ek eintlik dink alle skryfwerk – behalwe nou goed soos inkopielyste en instruksies vir jou motorwerktuigkundige – is kreatief.
Johan het as student baie kortverhale in Huisgenoot gepubliseer, maar toe hy begin skoolhou en en verder studeer, het hy heeltemal opgehou daarmee. Ek het nooit gedink ek kan skryf nie en in my ganse vorige bestaan net twee pogings aangewend om ’n storie te skryf. Ná ons aftrede het ek op ’n dag vir Johan gesê: "Hoekom probeer ons nie saam ’n kortverhaalbundel skryf nie? Ons is heeltemal te oud om elkeen sy eie te skryf, maar as ons saam aan ’n boek werk, haal ons dit dalk net-net." Hy het aanvanklik gemor en gesê hy kan nie meer stories skryf nie en hy wil ook nie meer nie. Maar toe, op ’n dag toe dit reën en ons half vasgevang was in die huis, gaan sit ons elkeen by sy skryftafel en begin skryf. En toe kry ons momentum en skryf binne ’n baie kort tydjie elkeen ’n paar stories. En ná die eerste bundel het ons dit ’n tweede keer gedoen.
Julle verhale in Die helder oomblik is uiteenlopend en baie verskillend. Dit handel oor mense en dit handel oor die proses van storie-vertel. As jy skryf, hoe ontstaan ’n storie vir jou?
Eintlik is die verhale miskien nie so uiteenlopend en verskillend as wat dit mag lyk nie. Ons het in die vorige bundel en nou weer, aanvanklik onbewus, maar later doelbewus ’n eenheidsbundel probeer skep. Dit is die soort bundel waar die interpretasie van die verhale – as hulle los van mekaar gelees word – nie drasties aangetas word nie, maar as hulle as deel van ’n groter geheel gelees word, kry hulle ’n wyer resonansie.
Die skakels tussen die afsonderlike verhale is nie altyd sigbaar nie. Daar is nie opvallende woordelikse herhalende motiewe wat in die verskillende verhale nagespeur kan word nie, hoewel sommige van hulle duidelik genoeg inspeel op mekaar. Maar wat eintlik die eenheid skep, is die skakeling van die afsonderlike dele met die kern: Die bundel se titel. Dit is dié skakeling wat die bindkrag van die bundel beheer.
In elkeen van die verhale is daar die oomblik van verhelderende insig waartoe die hoofkarakters kom – of dalk nié kom nie. Die eenheidsbundel maak sy afsonderlike komponente ryker as wat hulle op hul eie sou wees. Dit is dan ook waarom ’n mens dikwels byna meer tyd bestee om die geheel te vorm en af te werk as aan die skryf van die stories. Jy wil die onderdeel sy eiesoortigheid en sy spesifieke bekoring laat behou, maar jy wil ook die voordele van die groter geheel benut.
Hoe ontstaan stories? Uit werklike ervarings, vertellings van ander mense, dinge wat jy hoor of lees. Ek besef net soms: Hier sit ’n storie, maar dit is nog nie ’n storie nie; ek kan dalk hieruit ’n storie maak.
Alle verhale het iets met die werklikheid en met werklike mense gemeen, maar storievertel is tegniek. Jy manipuleer die werklikheid. Jy selekteer, jy voeg karaktereienskappe van werklike mense saam, jy verander, borduur by, versteur die chronologie; jy rek uit en pers saam; jy manipuleer al die figure, en uiteindelik is elkeen van die karakters – ook die verteller – fiktief. In elke verhaal is daar ’n element van waarheid, maar geen karakter stap net so uit die werklikheid ’n storie binne nie.
Het julle vooraf beplan aan ’n bundel, aan hierdie een? Of het julle elk jul eie stories geskryf en dit agterna saamgevoeg?
Ons het bloot begin met ’n handvol losstaande stories, maar soos die skryfproses gevorder het, het ons geleidelik agtergekom dat daar tog ’n geheel begin ontstaan. In die herlees-en-herskryf-stadium werk ’n mens natuurlik die verhale fyner af en dan begin jy sekere bindingselemente meer prominensie gee. Maar verhale kom natuurlik uit ’n mens se gees voort en alles wat jy in jou leeftyd gelees, gedink, gesien en gevoel het, lê maar in jou. Al kies jy verskillende vertellers en al probeer jy om uit jou stories te verdwyn, is jy maar steeds ’n vae teenwoordigheid. Alle skryf is wesenlik tegniek en die werklike skrywer is nie regtig kenbaar uit die tekste nie, maar dat jy êrens vaagweg teenwoordig is, is onmiskenbaar. Bloot deurdat die skryfwerk deur jóú gedoen is, ontstaan daar ’n sekere eenheid sonder dat jy dit doelbewus beheer. En omdat ek en Johan baie na aan mekaar geleef het, is daar subtiele skakeling tussen ons tekste, onafhanklik van die doelbewuste meet-en-paswerk wat ons gedoen het.
Waarom: Die helder oomblik? Vertel asseblief iets van die titel.
Die omslagontwerp, die titel en die bundel se motto het ten nouste betrekking op mekaar. Dit gaan in al die gevalle oor die beslissende oomblik; die moment wanneer daar helderheid kom; wanneer ’n oordeel gevel word; ’n besluit geneem word – een kant toe of ander kant toe. In die geval van die groot golf: Die kritieke oomblik voordat die krisis losbars. Dieselfde idee kom na vore in Van Wyk Louw se gedig wat gebruik word as motto by die openingsverhaal "Die eerste tsoenami". Dit is die oomblik wat voel asof dit vir ewig duur; die verstilde moment. En natuurlik is daar ’n direkte, opvallende verband tussen die titel van dié verhaal en die groot golf van Kanagawa.
Die sensasie dat jy ’n oomblik van helder insig beleef, dat jy bewus word van iets wat baie belangrik vir jou is, word in Engels ’n "epiphany" genoem. In die literatuur is die karakter Gabriel in die verhaal "The dead" uit The Dubliners van James Joyce se erkenning dat hy ’n dooie lid van ’n dooie gemeenskap is só ’n "epiphany". Dit is ook ’n interpretasiemoontlikheid wat ons met die bundel se titel in gedagte gehad het.
Ook Nadine Gordimer se woorde het betrekking op die oomblik wanneer die lig helder skyn – maar dit dui verder daarop dat die kortverhaal wesenlik ’n klein, gekonsentreerde geheel is, dat die saamgebalde teks sy eie intensiteit het wat dit anders maak as byvoorbeeld ’n roman van honderde bladsye. Juis die gekonsentreerdheid gee aan die kortverhaal sy energie en trefkrag – in baie opsigte soos by ’n gedig. Dit is dikwels metafories en simbolies; dit sê so baie met sóveel minder woorde. Die kortverhaal is so ’n boeiende, uitdagende soort teks!
Vir wie het julle jul stories geskryf? Of, anders gestel: wie is jul ideale lesers?
Die ideale leser is seker maar die persoon wat bereid en gretig is om hom of haar oop te stel vir wat in die teks staan, wat bereid is om noukeurig, maar ook kreatief te lees en "saam te speel". ’n Storie kry eers betekenis as die leser reageer en saamdink; die leesproses voltooi die skryfproses. Vir hierdie bundel is die ideale leser waarskynlik iemand met ’n stewige dosis nuuskierigheid na die lewe, ’n knippie lewenservaring, ’n stuk wysheid en ’n groot porsie fantasie.
Om mekaar se werk te lees en te kritiseer, verg ’n sekere soort sterk verhouding. Om saam te skryf en jou met jou maat se skryfwerk te vereenselwig, iets anders. Hoe was jou ervaring?
Soos ek reeds gesê het, was ons vandat ons mekaar leer ken het, volkome eerlik in ons reaksies op mekaar se werk. Dit was nie asof ons delikate, taktvolle draaitjies om mekaar gegooi het nie – ons het peil getrek op mekaar se noukeurige, deurdagte kommentaar en gedetailleerde kritiek. Die saamskryf het wel verander toe ons ons eie stories begin skryf het. Waar die oorwegings in die soort tekste wat ons voorheen geskryf en beoordeel het sterk rasioneel was – sake soos korrektheid, geldigheid, verantwoordbaarheid, logiese denke – het ons nou ruimte gehad vir humor, ironie, fantasie, spel, drome, gevoelens. Alles wat ’n akademikus laat fyn trap, het skielik moontlik geword, en om in dié wêreld te kon saamskryf en op mekaar te kon reageer, was louter plesier.
Verraad is ’n tema in die bundel. Is dit ’n soort emosie of aksie wat volgens jou heelwat plaasvind, en in verskillende gedaantes?
Ja, ek dink dit is ’n verskynsel wat op baie vlakke voorkom en ’n vernietigende uitwerking op mense het. Dit gaan teen jou verwagting in en ’n mens is totaal weerloos, want hoe sterker jou toegewydheid aan iemand of iets was, hoe groter is die verplettering wanneer dié toewyding verraai word. Verraad is so gruwelik onbillik en verskriklik ironies.
Het jy en Johan ook baie gereis? Wat was jul gunstelingbestemmings, of interessantste plekke wat jul besoek het?
Ons het regtig baie gereis. Europa was maar meestal ons mikpunt, met Italië ons heel spesiaalste plek. Daar is byna nie een plekkie in Italië wat nie ’n bekoorlike hoekie het nie, al is dit net ’n bruisende fontein in die middel van die dorpsplein of ’n preekstoel met wonderlike mosaïekpilare in ’n donker kerkie. Ons was altesaam omtrent vyf maande lank in Rome en daar is steeds dinge wat ek nie gesien het nie. Rome is nie ’n stad nie; dis ’n wêreld. Maar dan is daar Firenze, en Venesië en die hele Sicilië, ag man, ek gaan nie oud genoeg word om Italië klaar te kyk nie! En dan het ek nog ’n passie vir Frankryk en Spanje ook, en ek was nog nooit in Rusland nie.
En noudat hy nie daar is nie: Sal jy nog wil skryf? Kortverhale, gedigte, ’n roman? As hierdie ’n onsensitiewe soort vraag is, vra ek om verskoning! Dan verneem ek eerder wat jy graag lees, of wat jy nog graag in jou vryetyd doen.
Ek kan myself nie net definieer in terme van wat agter lê nie en ek wil nie omkyk-omkyk lewe nie. Dus, dalk doen ek dit. Op die oomblik is ek nie besig om te skryf nie, maar as ’n storie na my toe kom, sal ek hom waarskynlik nie kan weerstaan nie.
Wat ek origens doen: ek is baie onlangs weer getroud en geniet dit om ook in ’n ander dampkring te beweeg. Ek lees op die oomblik Donker stroom en Koors, maar daarbenewens is ek ’n passievolle kyker na films, ek speel kroukie en ek sit ure lank en kyk na die see op Bettysbaai.
The post Die helder oomblik deur Johan en Ria Smuts: ’n onderhoud appeared first on LitNet.