Huisie van die Gees
Ek neem nege bakstene en graveer jou naam op elk,
binne-in bêre ek ’n titseltjie rus, net genoeg sodat die innerlike nie kan verwelk,
ek smeer dit toe met die vriendelikheid vanself
waar dit insypel, dieper as waar die blote oog kan delf.
Met lojaliteit bedek ek dit van hoek tot rand,
’n stewige stawing van ’n soliede band,
bo-op ’n opstapeling van geluk lê ek dit neer
waar geen storms of vloede kan poog om te verweer.
Beskeie pak ek ons lewensloop steen vir steen
sodat ons samekoms méér kan wees as net geleen,
ek struktureer dit met volhardende wilskrag,
waar die ewigheid glimlaggend vir ons lê en wag.
Deeglik bestrooi ek dit met kalme berusting
waar ons ’n tweesydige verstandhouding kan volbring,
ek voeg ’n laaste sagte stukkie hart by net voor ek hom finaal verrig
sodat die stemmetjie van goedheid ons altyd in die ware rigting rig.
Laastens, Liefde, die belangrikste boumiddel van verbintenis
wat ons huisie worteldiep met onverganklikheid vernis.
Ek bou my huisie saam met jou, o wondermooie van toekomsgesigte,
en kyk: hy blóm; ons huisie dra sy vrugte
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Huisie van die Gees appeared first on LitNet.