Rotsduifrefleksie
Maria, sit net ’n bietjie …
Maak los die druk van doen
om by pseudo-eindstrepe verby te jaag.
Sing hartliedjies, saam met die visarend,
en volg die skoenlapper,
met oë wat diep drink van die berg wat soos ’n fliek lyk.
Wees net bietjie rotsduif,
om te voel en te vra.
– want mirre ruik partykeer bietjie soos koffie
wat op ’n valleistoep gedrink word –
Ons kan môre weer wind jaag.
Winterbos
Verberg in winterbos-oggendstilte;
’n Onsentimentele koestering.
Visarendgesang eggo om halwe waarhede,
agtergelaat.
So grawe grystakgrouheid hartsgroewe
wat in lente weer reën sal lei.
’n Skugter hoop.
Maar tog.
Seisoenale wangedrag
Seisoene maak nie altyd
soos wat mens verwag nie.
Vandag sing die winde weer ’n wintermineur,
en lê Afrika-berge gehul in Europa-sluier om my harthuis …
… maar dis eintlik,
laatlente in die Boland.
Wingerdkind
Wingerdkind,
sien jy ook die hemel
in die vallei waar jy geplant is?
Omraam die berge ook jou beloofde land?
Voel jy die stempel van God se goedheid
as die laatsomerskemer
die bergvesting in pastelskakerings skilder?
Wingerdkind,
waai die wind jou gees ook
tussen die wyntrosse deur?
Is die blinkdou van die skitterblare
ook vir jou ’n skatkamer?
Wingerdkind, ek kuier in jou wêreld.
’n Gas wat hier kom bid en sing het.
Ek drink die skoonheid van die skildery
wat vir hierdie tydjie
ook my lêplek is.
Wingerdkind,
Jou onskuld is jou erfenis
wat die vrug van hierdie vallei by jou wil steel.
Maar jou kindwees is jou krag,
en jou engel sal jou troos.
Wingerdkind,
Jou wêreld is my lafenis
na lank se droogpad stap.
Dankie dat ek hier,
in jou wingerde,
my sleutels kon leer gebruik.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Cilnette Pienaar se inskrywings appeared first on LitNet.