Tussen bakstene van woorde
tussen stapels woorde
wat netjies oor die bladsy marsjeer
sit ek
ingeprop
tussen wêrelde
wat nie aan my behoort nie
tussen bladsye
waarvan die woorde afskilfer
omdat my oë
gulsig was
om woorde te verorber
wat nie my eie was nie
tussen rakke se houtmure
wat honderde verhale
se geheime beskerm
maar nie teen my nuuskierigheid
om die stories te vind
wat nie myne was om te vertel nie
ek sluip tussen die mure
met bakstene van woorde –
hulle is nie myne nie
maar tog hoort ek hier
dit maak nie saak
of die woorde
myne is
of nie
hulle is my blyplek,
my tuiste,
my huis
die plek waar wêrelde
tussen twee skerwe karton
vasgevang is,
is waar ek hoort
die stories
is nie myne nie
maar dis geen probleem nie:
ek het ’n boek vol blaaie,
’n pen vol ink
en ’n kop vol gedagtes
geen motor
kan my huis toe neem nie
ek los dit vir die stories
wat ek nog gaan skryf
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Tussen bakstene van woorde appeared first on LitNet.