en my vye word ryp in jou son
my maan huiwer op die grens van die sabbat
ek woon in ’n huis waaruit die son
elke dag oop-oog rol
net binne die deur rus
rooi honde en woorde
hierdie binneruimte word op eie risiko betree
laat ’n duisend duiwe hoogvlerk vlie
met die boodskap
die prins rus in die skadu van my boom
my boom met sy ryp soet vye
waar kom hy vandaan
wie noem sy naam
wanneer begin sy verhaal
ek sien wat met jou gebeur
en ek sal jou hand vashou
en kerse brand
en dans
los jou trane en jou tuniek buite asseblief
hier borrel die fonteine
en blaas die fluite
die klokke beier oor die ou stad
op die hitte van die dag is my stoep koel
en my vye word ryp en soet
wat is die naam van die man wat ek liefhet
waar is die huis van die man wat ek liefhet
sy naam is Adam
die eersteling van sy moeder
sy huis is die veld
sy vriende die diere van die veld
laat die engele sing
juig oor die man wat ek min
ek pluk vir hom ’n rooi hibiskus
les sy dors uit die kelk van my hande
ek bring hom na my huis
die man wat ek min is
in my moeder se huis
noem weer sy naam
jubel in sy naam
laat die engele sing
die laataand ruptuur pers om my in te laat
kom jou woorde van groet soos los swaels na my
dalende wolke biggel voor my vensters
my minderwaardighede breek soos dagoud brood los
en verder aan in die gruispad jou versagtende voetval
teen môrestond breek jou wegwees soos ’n eier oop
etterige geel dooier drup van die horison
oor die gras en op teen die mure van ons huis
my herd is onwillekeurig koud en droog
by ’n gedekte tafel staan ’n mensling
voor pare vurke messe en bid op ’n
verwagte afwesige gas
in die aquarius-dag bly ek een klein somerdood skuldig
al wil ek dit so bitter graag nou vereffen
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Nicolette Lottering se inskrywings appeared first on LitNet.