Toe Meryl Streep hierdie week haar Golden Globe in ontvangs neem, het sy ’n herrie ontketen. Hoekom? Sy het die inkomende president, Donald Trump, tydens haar toespraak gekritiseer.
Van die kommentators het haar keuse gekritiseer. Dit was die verkeerde geleentheid. Sy’s ’n aktrise, sy moenie kommentaar lewer oor politiek nie. Dis nie haar plek om die president te kritiseer nie. Aan die ander kant weer was daar heelparty kommentators wat haar reg om kritiek uit te spreek, ondersteun het. Dis natuurlik ook glad nie die eerste keer dat ’n kunstenaar die platform wat aan hulle gebied word, gebruik om protes aan te teken nie. Jane Fonda het teen Viëtnam protesteer. Die Dixie Chicks het teen George W Bush se bewind protesteer. ’n Onlangse voorbeeld van Suid-Afrikaanse protes was met die Spear of the Nation-skildery, ook Zapiro op gereelde basis met sy spotprente.
Dwarsoor die wêreld word die reg van kunstenaars, digters, skrywers en satiriese tekenaars om deur hul kuns kommentaar te lewer op hul samelewing, onderdruk. Gedurende apartheid was werke van ons voorste skrywers verbied omdat dit krities teenoor die regering van die dag was. In Sjina, Angola, Sirië en Iran, om maar ’n paar voorbeelde te noem, word kunstenaars vervolg omdat hulle kritiek uitgespreek het teen die regime van hulle land, of teen sosiale toestande.
Meryl Streep hoef ten minste nie bekommerd te wees dat sy in hegtenis geneem sal word nie. Nog nie. Haar vryheid van spraak word nog erken. Ek vermoed egter dat die Amerika wat sy ken, vanaf 20 Januarie 2017 baie anders gaan begin lyk, met die wesenlike moontlikheid dat vryhede wat as vanselfsprekend aanvaar word, ingeperk sal word.
Streep se toespraak het een belangrike ding gedoen: dit het die vraag of kunstenaars betrokke moet wees by hulle samelewing, weer na vore gebring.
Dis nie ’n nuwe vraag nie. Ovidius, die Romeinse digter en politikus, het in die sop beland oor sy politieke uitsprake en sy “liberale” oortuigings. Ovidius het pornografie geskryf en hiermee die keiser se morele wetgewing oortree. Sy pornografie het bestaan daaruit dat hy vroue se enkels in sy gedigte beskryf, asook huweliksontrou. Vermoedelik hieroor is hy in 8 nC deur keiser Augustus verban. Ek vermoed as enige van ons hedendaagse rymkletsers na sy tyd verplaas sou word, hulle terstond onthoof sou word.
Is kunstenaars veronderstel om deur hul kuns net die estetiese in hul samelewing te weerspieël, om hulle af te sonder van die ongeregtighede? Is hulle veronderstel om op een of ander manier hulself as verhewe bo die alledaagse van hul samelewing te beskou, selfs as die alledaagse tot onreg lei? Of is hulle taak om deur hulle kuns aktief mee te doen daaraan dat ongeregtighede aan die lig gebring word, juis sodat skoonheid en estetika bevry kan word in ’n verligte samelewing?
Adam Small het op ’n stadium verkies om hom te onttrek aan openbare diskoers, om sy digterlike stilte in protes te gebruik. Toe hy sy stilte verbreek, het hy verkies om ’n rubriek te skryf vir ’n Engelse koerant wat doelbewus afwyk van die politiese.
Sommige kunstenaars verkies om, uit vrees of dalk omdat hulle tevrede is met die regime, hul stilswye te handhaaf.
Ek wil aan die hand doen dat daai stilswye dalk meer skade as goed doen. Nie net vir die kunstenaar self nie, maar ook vir hul samelewing. Stilswye help nie slagoffers nie, dit gee die oortreders meer mag om voort te gaan met hul oortredinge.
Joernaliste het nodig om te skryf oor die wandade van politici. Satirikusse het nodig om spotprente te teken om die absurdheid van situasies uit te lig. Digters en skilders en skrywers en beeldhouers het nodig om deur hulle kuns kommentaar te lewer op hul samelewing. Wat kunstenaars uitsonder, is juis hulle vermoë om op ’n ander manier te kyk na situasies, en om daai alternatiewe lens oop te gooi vir die publiek om daarin te deel. Ons het as samelewing nodig om die alternatiewe Weltanschauung te ervaar, want dit gee gehalte aan ons lewens en keuses. Ons uiteenlopende lewensuitkyke dra by tot die simfonie van ons bestaan.
Ons kan nie wag vir politici om die regte ding te doen nie. Ons kan nie wag vir kiesers om vanself te besef hulle keuses kan hul samelewing verdoem nie. Ons kan beslis nie ons kuns skep om die publiek se oor te streel en net dit te sê wat hulle gunstig sal ontvang nie. Ons kan nie stilbly en ons waarheid versmoor omdat dit nie populêr is en ons negatiewe kommentaar wil vermy nie.
Ons is nie kunstenaars in isolasie nie. Ons identiteite is nie eksklusief verbind aan kunstenaar-wees nie. Ons is ook burgers, met verwagtinge van hoe die samelewing waarin ons lewe, behoort te lyk. Ek wil selfs so ver gaan as om voor te stel dat ons ’n plig het om te werk daaraan om daai samelewing ’n realiteit te maak. Ons het ’n plig om ons samelewing beter te maak vir almal wat daarin woon.
Stilbly gaan dit nie laat gebeur nie.
The post Betrokke kunstenaars: noodsaaklik of onvanpas? appeared first on LitNet.