Huis paleis
Tot onlangs toe was jy
bloot krabbels op ’n wit papier,
’n droom, ’n hartewens
van eendag, dalk,
en wie weet waar …
Toe word jy hope hout en steen en staal
fondasies ferm en sekuur
’n roesemoes gewerskaf
van kontrakteur en ambagsman
wat klippe kap en balke saag
hier ’n deur
daar nog ’n muur
plek vir slaap en kook en bad
sús kom die dak en só die geut,
’n klipvloer moet die plek tog hê
’n sonstoep en ’n klippiespad
Dan kom daar water uit ’n kraan
en eensklaps gaan die ligte aan!
Oplaas vertrek die werkerspan
en vrede daal oor alles neer.
Ek hoor hoe jy jou asem haal
voel jou skuilte, kry jou reuk,
my aardsgoed sypel kamers in,
my siel kry in jou hartklop sit.
Ek weet dis dan nou ek en jy,
die huis waarin ek hiér gaan bly.
Ek weet, so seker soos die son
deur jou wye oë lag,
dat as ek eendag Huis toe gaan,
jy stééds hier teen die duin sal staan.
Eksodus
Mamma, ek pak ons huis op, Ma,
die kontrak is reeds geteken.
Jy’s lankal weg – so sonder groet –
en steeds nog vreeslik hiér
jou reuk in elke kas en rak en laai
waar jy jou lewenslied gesing het,
jou doen en late se verhaal
gewerk, gelag, gebid het.
Ou Pa is kwaad en bang en seer,
verfrommel soos ’n verlepte blom,
sy plek, sy goed, sy lewe in bokse toegeplak
die res in swartsakbondels weggesmyt.
Hy moet laat los maar dis te swaar –
en die wat en waarnatoe so sonder sin –
waarheen hy nie wil nie, vat ons hom.
’n kolwyntjiepan het nog krummels in ...
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Ann Hiemstra se inskrywings appeared first on LitNet.