orphan elopes, spends time with the homeless, captures billionare's heart, meets US president, lives happily ever after. #iloveyatomorrow
weeskind loop weg, sing wêreldbekende lied vir hond, verower hart van miljardêr – wat haar so lief kry soos haar eie pappa. #annie
Die storie is so bekend dat mens dit in 'n twiet kan opsom. Die hoofkarakter is beroemd genoeg dat mense weet wie sy is deur slegs haar voornaam te noem.
En nou is dié rooikop in die Kunstekaap se Kerskous. Sy vertolk die hoofrol in die Pieter Toerien- en Hazel Feldman-produksie Annie. Die produksie is internasionaal, maar al die akteurs is plaaslike kunstenaars.
- Opsomming
Ons ontmoet vir Annie een nag toe sy uit Miss Hannigan se weeshuis wil ontsnap. Die oomblik toe die teater se ligte verdoof, ontsnap die gehoor ook dadelik aan die werklikheid.
Oor teater en ontvlugting word die hoofregisseur van die produksie, Anton Luiting, in die program aangehaal:
Despite being set in an orphanage in 1930's New York during the Great Depression, Annie proves time and again that musicals have an enduring ability to dispel any feelings of doom and gloom and to allow us to escape from the hardships of our daily lives the minute we enter the theatre.
Die verhaal is die vertroude en bekende een, die storie waarvoor die gehoor gekom het. Die kleinverhaal, die storie van die dogtertjie Annie, word geskets teen die agtergrond van 'n problematiese sosio-ekonomiese omgewing: New York tydens die Depressie. Annie wil wegkom uit 'n soort weeshuis wat herinner aan Astrid Lindgren se armhuise in die Emil van Lönneberga-boeke uit Swede. Die dronklap Miss Hannigan sorg teësinnig vir die weeskinders. Annie verlang na haar ware ouers. Sy loop weg, en sing haar bekende lied vir 'n straathond wat net soveel soos sy na 'n blinker toekoms smag.
Wanneer sy terugbesorg word aan Miss Hannigan, is daar 'n wonderbaarlike sameloop van omstandighede en kan sy tydens die Kersvakansie by die skatryk Mr Warbucks gaan bly. Mr Warbucks vind uit geld alleen veroorsaak nie blywende geluk nie, Annie vervul 'n leemte in sy lewe, en sy word uiteindelik deur hom aangeneem.
- Die musiek en die sang
Die gehoor het nie nét vir die toneelspel in die bekende musiekblyspel gekom nie. Toe die aand se Annie, Lilla Fleischmann, "Tomorrow" sing, kon mens aan die stil teater hóór: almal het hiervoor gewag. Niemand is teleurgesteld nie. Hoe doen sy dit, dié twaalfjarige aktrise? Sy moet sekerlik besef hoeveel druk daar op haar is om die lied wat al male sonder tal op die verhoog of op die silwerskerm gesing is, nét reg te vertolk. En sy slaag met vlieënde vaandels.
Dis nie net "Tomorrow" wat suksesvol is nie. Elke stuk musiek, en die vertolking daarvan, is van hoë gehalte. Daar is net één lied in die hele produksie wat nie reg is nie, en dis perfek. Want dis 'n doelbewuste flater. En toe die betrokke sanger lostrek met 'n vals nommer waaroor ek eerder nie nou veel moet verklap nie ingeval dit die pret bederf, het dit die gehoor veel plesier verskaf.
- Die toneelspel en die danse
Dit was gedurende 'n toneel in Mr Warbucks se woning dat ek besef dat ek nie net na die hoofkarakters op die voorgrond se danse moet kyk nie. In die agtergrond was Mr Warbucks se personeel en werknemers almal besig met hul eie vertonings. Hoe sou mens alles kon inneem wat op een verhoog plaasvind? Waar begin 'n mens om die randfigure uit te sonder? Elkeen van hulle verdien erkenning en applous.
Dit geld die kinderhuiskinders. En Miss Hannigan (Charon Williams Ros). Die aaklige, armsalige vrou. Vir haar ontwikkel mens 'n soort empatie! 'n Juweel is ook haar broer, die glibberige Rooster (Stephen Jubber) en sy metgesel, die akrobatiese Lily (Delray Halgryn).
My jong medeteaterganger – my dogtertjie – het hierdie twee se manewales baie geniet. Hul skurwe grappies was bo-oor haar kop en begrip, maar hul boosaardighede was komies genoeg dat sy vir hulle kon lag. Annie is 'n gesinsproduksie wat groot én klein tegelykertyd bevredig.
Agter die skerms was hier baie ure se harde werk. Erkenning aan almal wat betrokke was by die aanmekaarsit van hierdie produksie: Nikolai Foster, George Dyer, Colin Richmond, Ben Cracknell, Mark Malherbe, Nick Winston, Heather Scott Martin en Bryan Schimmel.
- Lewende teater
Die stuk het in 1976 die eerste keer op die verhoog gespeel en baie kere daarna. Volgens die New York Times word Annie jaarliks tussen 700 en 900 keer in die VSA opgevoer. Daar is ook drie Annie-films vervaardig (in 1982, 1999 en in 2014).
Hier is "Tomorrow" uit die 2014-film:
My jong medeteaterganger het die 2014-film gesien en ek het vooraf gewonder: Sou die teaterstuk haar soveel interesseer?
Maar sy verkyk haar aan die kuns wat voor ons oë plaasvind: die stel, die beligting, die kostuums. Die kleure, die klanke.
Ons albei is verstom deur die oëverblindery van 'n toneelstuk: toe sy wegloop, is Annie een oomblik nog op die verhoog, die volgende nie meer nie. Maar hoe dan? Ek besef ek was besig om 'n ander toneel dop te hou, en Annie het onder my neus verdwyn.
Ook: tydens lewende teater beleef mens die medegehoorlede se reaksies. Die gehoor kon nie wag om vir Annie hande te klap toe sy die eerste slag "Tomorrow" sing nie – 'n mens voel die antisipasie aan. 'n Polisieman onderbreek die lied en mense klap sommer tussendeur, met sy aankoms, wél hande. Want hulle kan dit kwalik onderdruk, hulle wíl haar toejuig.
Ek oordink 'n praktiese kwessie van lewende teater: Hoe laat gaan slaap die kinders op die verhoog? En: hoe kry hulle dit reg om nog mooi te sing en toneel te speel as hulle eintlik nou al moeg is?
Hier's 'n verskil tussen film en lewende teater. As die hond nie wil eet nie, gaan hy nie later eet nie. As die kind moeg is en nie op haar stukke is nie, is die oomblik verby. Elkeen kry net een kans. As gevolg hiervan verdien almal ekstra komplimente, want daar was geen verspeelde kanse die aand toe ek die stuk gesien het nie.
- Temas om uit te sonder
a) Verlange na 'n ouerfiguur en verlange na 'n kind
Anders as in 'n sprokie waar Sneeuwitjie passief lê en wag dat die onbekende prins haar soen en bevry, hou Annie net soveel van Mr Warbucks soos hy van haar, vervul hul albei 'n soort vader-kind-leemte in mekaar se lewens.
In die toneel waar Annie en Mr Warbucks met mekaar dans, wonder ek 'n oomblik lank of ek met my dogtertjie behoort te gesels oor danse met onbekende volwasse mans – maar hier is geen ondertone of suggestie dat daar rede tot benoudheid is nie. Daar is ander tye vir gesprekke hieroor. Hierdie toneelstuk is ontvlugting en dis nie nodig om dit onnodig te kompliseer nie.
b) Amerikaanse politiek
Die politieke omstandighede van die Depressiejare: Annie speel af gedurende die tydperk terwyl Roosevelt aan bewind is. Die toneel waartydens die kabinet met hom vergader en Annie hom ontmoet, bespreek hulle eers moedeloos die land se werkloosheid en armoede. Ná die gesprek met Annie sing die hele kabinet "Tomorrow" – en terwyl die gehoor pas gehoor het dat Hitler aan die verrys is in Duitsland, is hierdie lied opeens werklik hoopvol: môre gáán beter wees. Terwyl almal met vandag se kennis weet: dit was nie.
Die hedendaagse politieke omstandighede: die toneelstuk het onlangs, tydens die Amerikaanse verkiesingsveldtog, in Broadway gespeel. Daar is al geïmpliseer dat die stuk se krag so omvangryk is dat die musiekblyspel as 'n soort bemarking aangewend is (Mr Warbucks is 'n Republikein, maar Roosevelt 'n Demokraat).
c) Klasseverskille en armoede
Daar was baie definitiewe klasseverskille in die tyd toe Annie geleef het. Mr Warbucks is uiteindelik nie net 'n geharde sakeman nie, maar ook 'n gawe man. Tog is daar 'n hele skare wat vir hom werk. Hulle is onsigbaar, soos wat Suid-Afrikaners se huiswerkers ook is, maar hulle is alomteenwoordig.
d) Van geld gepraat: die betekenis van die frase "bet your bottom dollar"
Niks met iemand se sitvlak te doen nie. Hierdie is 'n outydse manier om tydens 'n kaartspel jou laaste kans te vat. Verwed jou heel onderste dollarnoot, die laaste bietjie van jou geld wat oorgebly het. Vat 'n kans asof jou lewe hiervan afhang.
As Annie oor môre sing, is dit 'n versugting. Jy béter saam met Annie glo dat môre gaan beter wees as vandag. Verwed jou geld hierop, jou laaste bietjie hoop.
Hierdie produksie is wel een van hoop. Mens hoor hoedat die sin "You're always a day away" uiteindelik verander in "You're only a day away."
- Annie vir die Suid-Afrikaanse gehoor in 2016
Die produksie wat in die Kunstekaap te siene is, is baie getrou aan die oorspronklike Amerikaanse teaterstuk wat die eerste keer in 1976 opgevoer is.
Hoewel alles in New York en Washington afspeel, is die akteurs Suid-Afrikaans, en so ook hulle aksente. Maar vertaal die storie vir Suid-Afrikaners na hul lewensomstandighede?
Ja – jy sal sterk raakpunte kan vind tussen Suid-Afrika vandag en die New York van die 1930's: daar is heelwat armoede en groot klasseverskille.
Ek is bevoorreg om hierdie toneelstuk te kon sien, om toegang daartoe te hê. Ek weet dat alle Suid-Afrikaners dit nie beskore is nie. Die maer man wat na ons motor omgesien het in die wind, het nie in die teater gesit nie. Terselfdertyd weet ek ook dat die mense in die teater baie hard gewerk het, dat die akteurs wat skoolkinders is, laat gaan slaap het en steeds aand ná aand vir goeie vermaak gesorg het. Die mense wat die geld het om hulle te kan ondersteun, moet dit doen.
Dis droog in Afrika, maar die son mág maar môre skyn. Dit móét skyn. En die kunste is so nodig soos water – die land kan nie daarsonder nie. Die toegang tot produksies van hierdie gehalte gaan voortbestaan slegs as die kaartjies hiervoor verkoop, as mense dit ondersteun.
En gaan woon dit by gewoon omdat dit die moeite werd is om hierdie produksie te gaan beleef.
Jy kan die storie in 140 karakters opsom. En elke karakter op die verhoog het boonop 140 talente: hulle kan sing, dans en toneelspeel en al hulle harde werk so maklik laat lyk.
#annie #gaankykself
Annie speel nog tot 8 Januarie 2017 in die Kunstekaap. Hier is nog besonderhede.
The post Teaterresensie: Annie by die Kunstekaap appeared first on LitNet.