Dit was die rieldansers van Clanwilliam, die Betjies van Betjiesfontein in die junior afdeling en die Betjies Rooirots in die senior afdeling, wat met hul vernuftige voetwerk in die stof koning gekraai het tydens die ATKV-Rieldansfinaal van 2016.
Die 11de jaarlikse ATKV-Rieldansfinaal het op 3 Desember in die Paarl plaasgevind.
Soos gewoonlik het die stof gestaan.
Daar is getrap.
Daar is gevlieg.
Daar is uitgedaag.
Daar is nog stof gemaak.
Daar is vrede gemaak.
Die riel is ’n baie ou dansvorm wat ’n oorsprong het in die danse van Khoi en die San. Later het dit onder plaaswerkers, veral in die droë Noordwestelike dele van ons land, ’n bekende dansvorm geword.
Die riel het van die 1930’s tot die vroeë 1960’s hoogty op plase, veral onder skaapskeerders, gevier. Daarna het die gewildheid begin taan.
Die skrywer en storieverteller Elias P Nel het die ATKV gevra om die riel te red. Hy het geld ontvang daarvoor en het tien jaar gelede as ATKV-projekorganiseerder die rieldans as kultuurgoed begin bevorder. In 2006 het hy ʼn rieldanskompetisie gereël waaraan sewe groepe en 105 individue deelgeneem het. In 2015 was daar 82 groepe en 1 230 deelnemers. Dit is egter nie al nie. In 2015 het ’n groep rieldansers Los Angeles verower en as wêreldkampioene na Suid-Afrika teruggekeer. LitNet het destyds daaroor berig – klik hier. Vir hierdie werk is Elias P Nel, wat nou afgetree het, Saterdagaand deur die ATKV vereer. Japie Gouws, die uitvoerende bestuurder van die ATKV-Groep, het die huldiging oorhandig.
Elias sê grappenderwys dat die rieldans toentertyd spesiaal vir mense met slap knieë, lang asems en ’n klomp speelsheid in die gene geskep is. Hy het Saterdagaand gewys hy het steeds daardie gene.
Japie Gouws het nie op hom laat wag nie en in die gees van die riel het hy nie ’n uitdaging om te dans laat verbygaan nie.
Benjamin Bock het by Elias oorgeneem as die rieldansorganiseerder.
Amore Bekker, die aanbieder van Tjailatyd op RSG, was die mede-aankondiger. Sy het vir Benjamin, én die skare, laat skater met haar kwinkslae. Hier sê sy: "My skarniere is geolie, my boud hang hoog en my askoek is gaar."
Die riel het veral te make met die hofmakery tussen man en vrou, en om dit uit te beeld word diere en voëls nageboots, soos byvoorbeeld in die skoenlapperdans en die vlerksleep van ʼn haan, volstruismannetjie of kalkoen.
Soos met enige dansvorm is daar konvensies en die spanne word daaraan gemeet. Gewoonlik bestaan ’n rielgroep uit vier mans en vier vroue, soos die Calvinia Sitstappers wat hier volgens een van die konvensies dans.
Die Brandvlei Stofskoppers het egter Saterdagaand verras deur sewe mans en een meisie op die baan te plaas. Hulle storie was dan ook “Die Hennetjie en die Haantjies”. Hierdie Hennetjie is behoorlik die hof gemaak!
Die riel is tradisioneel ook ’n storiedans. Dit kom uit die dae van die jagters wat hulle gesinslede vermaak het met uitbeeldings van hulle jagtogte.
Vandag word ander stories vertel. Die jongste spannetjie, die Griekwa Hiënas, het byvoorbeeld die storie van vigs vertel.
Die rieldanskompetisie het plaasgevind onder die wakende granietsuile van die Taalmonument aan die hange van die Paarlberg.
Die amfiteater was gepak.
Heelwat bekende mense was in die gehoor. Hier is Danie van Wyk en LitNet se rubriekskrywer, Jason Lloyd.
Ander bekendes was die twee kokke van Bonteheuwel, ant Koelsoem Kamalie en ant Flori Schrikker, die skrywers van Kook saam Kaaps, uitgegee deur LAPA Uitgewers. Hulle is ontsettend gewild en talle mense het kom hallo sê en selfies neem. Die twee vroue werk geweldig hard, maar het altyd tyd vir ’n geselsie. Ook vir hulle medemens. Vrydagaand is die persfotograwe behoorlik getrakteer op pasteitjies, samoesas en pannekoeke uit dié twee se kombuise. Daar was ’n mooi oomblik toe Benjamin Bock die twee raakgesien het en hulle toe vra om op te staan. Onder luide toejuiging van die gehoor het hulle aan sy versoek gehoor gegee. Een van die mense wat die hardste geklap het, was Sunette Viljoen, Suid-Afrika se spiesgooikampioen en silwermedaljewenner in Rio (regs op die foto), wat die twee vroue onlangs tydens ’n boektoer ontmoet het.
Die riel is inderdaad vir almal.
Die spanne kan skitter.
So ook die individu.
Voorheen onbekende mense maak hulle buiging op die nasionale verhoog tydens hierdie jaarlikse finale.
Hiermee die volledige uitslae van Saterdagaand se kompetisie
Individuele pryse
Me Rieldanspersoonlikheid – seniors vir 2016: Bernadine Fortuin van Betjies Rooirots
Mnr Rieldanspersoonlikheid – seniors vir 2016: Angelo Hugo van Boesmanland Bitterbessies
Me Rieldanspersoonlikheid – juniors vir 2016: Lee-Ann van Wyk van Betjies van Betjiesfontein
Mnr Rieldanspersoonlikheid – juniors vir 2016: Jason Roberts van Calvinia Sitstappers
Beste danser – vroue in die senior afdeling: Anechia Cloete van Griekwa Ratelgat
Beste danser – mans in die senior afdeling: Abraham Willemse van Betjies Rooirots
Beste danser – vroue in die junior afdeling: Luwandri Schrader van Brandvlei Stofskoppers
Beste danser – mans in die junior afdeling: Cheslan Claaste van Betjies van Betjiesfontein
Grietjie van Garies-trofee vir die beste vordering – senior afdeling: Kammiesberg
Grietjie van Garies-trofee vir die beste vordering – junior afdeling: Net vir Pret 2
Pieter van der Westhuizen-trofee vir beste Rielkitaarknyper en opteller: Marvin Hanse van Calvinia Sitstappers
Mees dinamiese leier – junior afdeling: Peter Takelo van Net vir Pret 2
Mees dinamiese leier – senior afdeling: Elsabe Cloete van Griekwa Ratelgat
Trofee vir beste Rieldansliedjie: Gertruida Lombard van Boesmanland Bitterbessies
Trofee vir beste Rieldans-musikant: Alfred Basson van Betjies van Betjiesfontein
Spanpryse
Derde plek: Rieldansgroep – seniors: Kammiesberg
Tweede plek: Rieldansgroep – seniors: Calvinia Sitstappers
Senior Rieldanskampioene – Betjies Rooirots
Derde plek: Rieldansgroep – juniors: Net vir Pret 2
Tweede plek: Rieldansgroep – juniors: Calvinia Sitstappers 2
Junior Rieldanskampioene – Betjies van Betjiesfontein.
Fotografie: Izak de Vries
The post Twee splinternuwe rieldanskampioene gekroon appeared first on LitNet.