Madness: Songs of Hope and Despair is ’n kantate deur psigiater Sean Baumann, wat Sondagaand vir slegs een optrede in die Baxter-teater verskyn het.
Die verhaal handel oor ’n jong man, Themba, wat saam met sy ma van die Oos-Kaapse platteland na Kaapstad verhuis. Hy kry ’n beurs om argitektuur aan die Universiteit Kaapstad te studeer en slaag sy graad met lof. Ten spyte daarvan dat hy uitgestyg het bo sy omstandighede, sukses behaal het en ook ’n meisie het vir wie hy lief is, begin hy stemme hoor en glo dat hy ’n genie is, soms selfs God. Hy is konstant vreesbevange en sy toekomsplanne begin deur sy vingers glip. Wat volg, is sy opname in ’n psigiatriese hospitaal, die vervreemding van sy naasbestaandes en die uiteenlopende opinies en ondersteuning van verskillende rolspelers, soos ’n psigiater, ’n neurowetenskaplike, ’n tradisionele geneser, ’n pastoor en die hospitaalpersoneel. Uiteindelik, met die hulp van medikasie, verkry Themba insig in die staat van psigose waarin hy verkeer het, word hy ontslaan uit die hospitaal en wens die verpleërs hom sterkte toe met sy herstel.
Die ervaring van die rolspelers agter die skerms, soos regisseur Lara Foot, kunstenaar Fiona Moodie, komponiste Galina Juritz en Dizu Plaatjies en ontwerper Koeka Stander, was opvallend in die professionele, maar tog persoonlike, wyse waarop hierdie treffende verhaal na die verhoog gebring is. Foot is ’n bekroonde regisseur, en sy het met Baumann meegewerk tydens haar voorbereiding om bewus te word van die vooroordele en kwessies rondom psigiese steurnisse. Moodie se kunswerke is met dié van pasiënte in Valkenberg gekombineer ten einde ’n akkurate weerspieëling van die wroeging te verseker.
Die produksie is ’n uitsonderlike voorbeeld van hoe ’n komplekse, abstrakte ervaring met behulp van drie mediums – woord, musiek en kuns – vir die gehoor byna tasbaar gemaak kan word. Die stel bestaan uit sewe instrumentaliste op die voorgrond, ’n negestemmige ensemble in die agtergrond en ’n deursigtige skerm wat hulle van mekaar skei. Die skerm is die medium waarop die visuele kuns vertoon word – potloodsketse en animasie wat die storielyn en subjektiewe ervarings van die karakters uitbeeld. Die teks word dan ook deurlopend saam met die beelde op die skerm vertoon.
Die teks, musiek en visuele elemente is uitstekend met mekaar verbind en wissel op grond van wie aan die woord is. Tydens Themba se spreekbeurte is die beelde baie intens, met monsteragtige figure, slange en wisselende perspektiewe op die struktuur van die brein, soms ook net ’n gekrap. Die handskrif waarin sy woorde geskryf is, is baie onnet en wissel voortdurend in grootte soos die stemme in sy kop nuwe vorm aanneem. Daarmee saam is die musiek onheilspellend, met wisselende ritmes en kontrasterende note, en die solis se sang dra dringendheid en desperaatheid oor. Daarteenoor word die neurowetenskaplikes se karakterisering as ’n koue of afsydige entiteit bewerkstellig deur beelde van breinskanderings, netjies-getikte woorde en musiek met ’n reëlmatige tempo. Die pastoor se handskrif is vloeiend en die klank van ’n orrel kom sterk deur. Die aandag aan fyn besonderhede is uiters geslaagd daarin om die beelde en emosies by die gehoor tuis te bring.
’n Belangrike eienskap van die produksie is die mate waartoe dit in die Suid-Afrikaanse konteks gesetel is. Daar vertoon allerlei beelde van die platteland en ’n plakkerskamp teen die agtergrond van Tafelberg. Ek dink dit maak dit makliker om jou met die storie te vereenselwig, aangesien dit wys dat psigose nie beperk is tot ’n sekere groep nie en selfs by een van jou naasbestaandes kan voorkom. Daar woord ook kommentaar gelewer op die realiteit van ’n tekort aan plek in die staat se psigiatriese hospitale en die druk wat dokters ervaar om pasiënte so vinnig as moontlik te ontslaan. Dit roer ook die aktuele kwessie van psigiese steurnisse aan, sowel as die debatte rondom die oorsake daarvan – die subjektiewe bewussyn van die werklikheid, veranderinge in die struktuur van die brein en neurale netwerke, demoniese magte wat besit neem van jou liggaam en voorouers wat poog om met jou te kommunikeer. Verder kan jy na afloop van die vertoning voel asof jy meer geleer het oor die diagnose, verloop, behandeling en implikasies van psigose op die pasiënt en sy naasbestaandes.
Sean Baumann se ervaring met soortgelyke pasiënte en hul simptome het verseker dat die produksie omvattend genoeg is sonder om die karakters se ervarings te oordramatiseer of die gehoor ongemaklik te maak. Soms was die teks (meestal in Engels, met ’n Afrikataal hier en daar) ’n bietjie onsentimenteel en eenvoudig in vergelyking met die sterk beelde en emotiewe musiek. Die sangers, onder leiding van die bekwame Chad Hendricks, se harmonisering was onverbeterlik en hulle het daarin geslaag om die betekenis van die teks in hul stemme oor te dra. As dit egter nie vir die teks op die skerm was nie, sou ek in baie gevalle nie kon hoor wat gesing word nie, omdat die uitspraak met tye baie onduidelik was.
Hierdie produksie is propvol simboliek, en die storielyn trek die leser in en maak hom persoonlik betrokke by Themba se ervaring. As ek die dawerende applous, die trane in my medegehoorlede se oë en die gesprekke na die tyd in berekening bring, weet ek met sekerheid dat die produksie ’n blywende indruk gemaak het en hopelik gesprekke rondom psigiese steurnisse sal fasiliteer.
The post Teaterresensie: Madness: Songs of hope and despair by die Baxter-teater appeared first on LitNet.