Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Vir Angus oor sy kommentaar onderaan my brief van 7 deser

$
0
0

Beste Angus

Ek wil jou nie in ’n hoek dryf soos jy beweer nie. Inteendeel,  ek probeer verhoed dat jy jouself in ’n hoekie toeverf deur allerhande wilde stellings te maak, soos dat Standaardafrikaans oud-Afrikaans is (oukei jy’t nou erken dit was ‘n glips) of dat ’n taal eers ’n grammatika kry as ’n grammatikus dit beskryf het.  Ek reken terselfdertyd het jy min of meer dieselfde idee ten opsigte van my – wys my waar ek wilde stellings maak – en op hierdie wyse verbreed ons inderdaad mekaar se kennis soos jy sê.

So nee, ek wil nie wys “hoe slim en geleerd [ek] is  . . .  en dat [ek] verskriklik baie navorsing gedoen het wat taal betref  ...” nie want ek is nie slim en geleerd nie en het ook geen navorsing wat taal betref gedoen nie. Jy het tog al verskeie male gesê dat ek gereeld wys dat ek min of niks van taal weet nie.  Ek vertel maar net vir jou wat vir my sin maak en as dit onsin is kan jy (wat soos ek verstaan tersiêre opleiding tov taal het) my mos daarop wys en ek leer weer iets (mits, natuurlik, wat jy my sê sin maak).

Iets wat byvoorbeeld nie sin maak nie is jou stelling dat Afrikaans Kaaps-Hollands is wat gesuiwer is van anglisismes.  Waar sou die anglisismes vandaan kom?  Buitendien, ‘anglisisme’ beteken Engelse spreekwyse eerder as die lukrake ingooi van Engelse woorde. Die bewering dat Standaardafrikaans ontstaan het deur anglisismes uit te sif is gewoon onwaar.  Ook heeltemal onlogies; dit sal baie snaaks wees as daar ‘n taal bestaan wat deur ‘n reduksiemetode ontstaan het.  Jou stelling dat Afrikaans  “ ... Kaaps-Hollands [is] wat gesuiwer is van anglisismes en veronderstelde verkeerde grammatika” is nie waar nie.  Die hedendaagse ‘Kaaps-Hollands’, lyk dit my, is hoofsaaklik gewone Afrikaans deurspek met Engelse woorde wat eers later bygevoeg is (en steeds al hoe meer bygevoeg word).

Jy vra hoeveel die voorreg het om in ’n klas te sit en, wat neerkom op grammatika, te leer.  Gaan alle kinders nie deesdae skool nie?  Dié wat nie skoolgaan nie is by verre ’n minderheid en dit is nie hulle wat die taal ‘stuur’ nie, kan jy maar sê.  Buitendien, taal leer op skool bepaal nie die taal nie; die grammatika is reeds daar, die onnies dink niks uit nie, wat hulle die kinders (of vreemdelinge) leer bestaan reeds.  Dit kan wees dat mense wat verkeerd aan moedersknie geleer word reggehelp word (vgl Pygmalion) maar taal leer op skool is meer die inskerp van bedrewenheid, soos maar met alles gebeur.  Kyk byvoorbeeld na sport; almal kan hardloop en spring maar, as jy ’n rugbyspeler of gimnas wil word, is om gebrei en afgerig te word noodsaaklik.

Jy sê as Afrikaans nie gedurig verander nie word dit ’n dooie taal.  Streng gesproke is alle tale ‘dood’. ’n Taal kan nie rondloop of fietsry nie; dit is ’n abstrakte ding.  ‘Dooie taal’ is maar ’n spreekwyse om na ’n taal te verwys waarvan die sprekers dood of weg is.   Jy verwar oorsaaklik en gevolg;  dit is nie gebrek aan verandering wat veroorsaak dat na ’n taal as ‘dood’ verwys word nie, maar gebrek aan sprekers (wat dan , logieserwys, tot gevolg het dat die taal nie verander nie).

Wat Afrikaans op die oomblik bedreig is die verdwyning van sy sprekers.  Al hoe meer slaan oor Engels toe en ’n groot gedeelte van die sprekers wat nog nie Engels omhels het nie praat die taal al hoe swakker (soos jy saamstem) totdat hy nie meer gepraat word nie; jy ken mos die trappe van vergelyking van swak: swak, swakker, glad nie.  Veral die Afrikaans op baie van die sepies is kensketsend van die swak Afrikaans waarvan jy praat en dus ’n teken van die agteruitgang.  Jy is dus nie besig om die geboorte van ‘n nuwe taal te aanskou nie, want dit is bloot, noem dit maar onbedrewe, taalgebruik.  Jy kan mos nou vir jouself dink man, as jy ’n Engelse woordeboek nodig het om dit in, sê Hongaars, te vertaal kan dit nie Afrikaans wees nie.

Jy sê die sin ‘usually as ek vir myself goals geset het achieve ek hulle’ moet taal wees so asof ek sou beweer dit is nie.  Natuurlik is dit taal, wat anders kan dit wees?  Wat ek gesê het is dat dit nie Afrikaans is nie (want ’n Afrikaanse woordeboek alleen kan nie gebruik word om dit te vertaal nie). Dit is ook kennelik nie ’n nuwe taal nie; dis ’n mengsel van twee bestaande tale.  Wat jou opmerking oor die vis en skyfies betref; niemand sal sigarette in plaas van skyfies koop nie; die verkleinwoordjie van ‘skyf’, ‘n sigaret, bestaan nie (miskien ‘stompie’) want daar is nie miniatuur sigaretjies nie.

Op ’n punt van orde, jy sê ek praat van ‘gemorstaal’.  Ek kan nie dink dat ek ooit so ’n wood gebruik het nie; ek het telkens van geradbraakte taal gepraat, ‘gemors’ het ’n baie meer negatiewe konnotasie en dit sal taktloos wees om van gemorstaal te praat.  Indien ek het, vra ek om verskoning.

Groetnis

Jan Rap

 

 

 

The post Vir Angus oor sy kommentaar onderaan my brief van 7 deser appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!