Vlam in die sneeu, die liefdesbriewe van André P Brink en Ingrid Jonker
Redakteur: Francis Galloway
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781415209318
Lees ook:
- Ingrid Jonker se dogter gesels oor haar ma en Vlam in die sneeu
- The heart has spaces – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker
- Flame in the Snow – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker
- Liefde, seks, Vlam in die sneeu en Tristia
- Oor die transkripsie van Vlam in die sneeu se liefdesbriewe
1. Inleidende opmerkings
Die liefdesbriewe tussen André Brink en Ingrid Jonker is vir die eerste keer hier saamgebundel. Die verhouding tussen die twee skrywers het nog altyd opslae gemaak in die literêre gesprek, al is die verhouding lank reeds iets van die verlede en is albei skrywers sedertdien oorlede. Die uiteindelike verskyning van hierdie briewe in een bundel is in sigself ’n groot onderwerp in die letterkundewêreld en by die algemene publiek. Albei was jonk toe hulle ’n verhouding aangegaan het: Brink ongeveer 27 en Jonker 28. Jonker het op 19 Julie 1965 in die see by Drieankerbaai verdrink en Brink is betreklik onlangs op ouderdom 79 oorlede aan boord ’n vlug van Nederland na Suid-Afrika. Alhoewel Brink reeds die briewe vir publikasie aangebied het, het dit postuum verskyn. Die boek kan dus baie objektief gelees en beoordeel word, al was die briewe hoogs persoonlik.
Die poëtiese titel kan gelees word as die vlam van passie en liefde wat onvervuld brand in die sneeu van verlies en wanhoop. Ten spyte van die enorme invloed wat die verhouding op albei se lewens en werk, veral Brink s’n, gehad het, was dit uiteindelik tog ’n futiele verhouding. Iets van hierdie wrangheid blyk uit die volgende aanhaling uit ’n brief van 25 Augustus 1963: "Liefling, liefling, dis die héél swaarste tyd vir ons dié. Dit eis meer van ons as enigiets anders. Ons sal iets moet vind as ons nie albei ten gronde wil gaan aan negatiewe hunkering en eensaamheid nie. Ons moet iets hieruit haal wat positief is" (Brink).
Brink en Jonker gesels met mekaar oor hulle skryfwerk – sy oor poësie, hy oor prosa. Die leser kry inligting oor Lobola vir die lewe, meer oor Die ambassadeur en nog meer direk oor die ontstaan en ontwikkeling van Orgie, wat Brink beskryf as "ons boek". Van Jonker kry ons geringe inligting oor Rook en oker wat uiteindelik haar beste bundel sou wees.
Oor die boekemaakproses word redelik uitvoerig vertel en uitgewersfigure soos Koos Human, Bartho Smit, Chris Barnard en John Malherbe word dikwels betrek. Soms is dit bloot vaktegnies, soms oor emosionele belewenisse en partykeer ongeduld en heelwat venyn. Die gesprek handel dikwels oor literêre pryse en die gewone relletjies wat daarmee saamhang. Die simpatieke rol van Freda Linde (by John Malherbe) word ook goed belig.
Brink skryf byvoorbeeld oor Orgie: "Ek is in my skik. Ek dink hy't al meer ’n musikale konstruksie gekry, waar die emosionele, irrasionele, 'non-signifikatiewe' indruk van die woorde belangriker is as die logiese, waar simbole, woorde, sinsflardes soos klein musiektematjies terugkeer, en waar ek eintlik nie, soos in gewone prosa, één lyn of een rytjie note op ’n slag hanteer nie, maar probeer werk in akkoorde" (30 Okt 1963). Brink was hier in die vroeë fase van sy skryfkuns en het probeer eksperimenteel skryf. Van ’n leser se kant is dit jammer dat van sy groter romans en latere werke nie hier al ter sprake was nie. Die skrywer se siening van sy eie vroeë werk is nietemin uiters nuttig vir die student van die letterkunde, ook by die lees van sy latere werk.
Francis Galloway het ’n reusetaak verrig met die saamstel van hierdie briewe (in chronologiese volgorde). Tipografies is daar vir my een probleem, naamlik dat die inleiding deur Willie Burger as't ware onaangekondig verskyn. ’n Klein indeks sou die teoretiese inleiding beter kon skei van die titelblad en ook weer van die briewe. Andersins is die boek mooi versorg, ook met die klompie pragtige foto's in die middel. Daar is net genoeg foto's, nie te min en nie te veel nie.
Vlam in die sneeu leen hom tot verskillende benaderings, want daar is outobiografie, geskiedenis, briefliteratuur, persoonlike elemente, biegbriewe, beskouings oor letterkunde en literatore en ander skrywers. Ook tergende elemente soos lojaliteit, die versorging van die kinders en die blootlê van soveel intimiteit. Heelwat vrae dring aan op spekulatiewe antwoorde: Het die afsluit van die verhouding ’n rol gespeel in Jonker se selfdood? Hoe het dit Brink se loopbaan beïnvloed? Het Jonker se inspirasie vir skryf daardeur ’n knou gekry? En hoe het dit ander mense geraak?
2. Willie Burger se inleiding
Die inleiding van Willie Burger gee sekere biografiese inligting wat die leser kan help om plekke en tye bymekaar uit te bring. Burger verwys na Jonker as "die ikoniese digter wie se reputasie tot byna mitiese status uitgegroei het", en hy verwys na die eerste opening van die demokratiese parlement waar Nelson Mandela haar gedig oor die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga, voorgelees het. Ek kan akkoord gaan dat haar selfdood, haar destydse politieke bewustheid en die lees van die gedig bygedra het om haar ’n soort ikoniese status te gee. Dit is alles eksterne faktore wat hierdie bekendheid meegebring het. Burger verwys ook na haar verhouding met Brink wat veral in die literêre kringe en in die sosiale lewe van Kaapstad en Pretoria groot nuus, eintlik skindernuus, was. Op haar werk af beoordeel glo ek nie dat sy ikoniese status verkry het of verdien het nie. Soos Joan Hambidge in ’n bespreking van ’n nuwe heruitgawe van Ingrid Jonker se Versamelde Werk aantoon, is haar literêre aanbod betreklik klein en kan slegs ’n handvol gedigte as werklik goed beskou word. Haar gewildheid as digter hang saam met die soort mistiek wat om haar ontstaan het, en die eenvoudige aard van die verse wat veral jong lesers bekoor.
Brink was ook nog, soos Burger aantoon, op die vooraand van sy skrywerskap, en eers later, en selfs eers nou, kyk ’n mens na Brink as ’n groot romanskrywer. Brink het ’n besondere allure ontwikkel as uitmuntende dosent en as die skrywer wat bedrywig was in die apartheidspolitiek. Interessant genoeg het die verhouding van twee jaar met Jonker, sentraal bly staan in mense se beskouings oor Brink. Om redelik sinies te wees, Brink se populêre aansien het gebaat by die Jonker-betrokkenheid. As romanskrywer het hy nooit die kwaliteit werk gelewer van Etienne Leroux en Karel Schoeman nie, en later het die werk van Etienne van Heerden en ander hom geëwenaar en selfs soms verbygesteek. Hy bly egter ’n baie belangrike figuur in die Afrikaanse prosa.
Burger bespiegel of ’n mens kan praat van ’n briefroman, veral op grond van Jonker se mitiese beeld. Hy skryf: "Die leser word meegesleur deur die halsoorkop liefde wat uit die perspektief van ’n digter en ’n skrywer beskryf word." Hy meen dat die taal waarmee hulle hulle gevoelens blootlê, en hulle eerlikheid, aan die briewe ’n liriese kwaliteit kan gee wat dan meewerk aan ’n briefroman. Hierop kom ek later terug. Burger dink ook dat die figuur van Jack Cope wat met Jonker ’n aan-en-af-verhouding gehad het, ’n sterk motief binne die geheel kan wees.
Burger verwys na die rol van sensuur wat in daardie tyd ’n groot twis- en gesprekspunt was. Hy aanvaar dat korrespondensie van hierdie aard sterk intieme gegewens sal openbaar, ’n kwessie wat wel ter sake is by die beoordeling van hierdie werk. Burger vat sy volledige inleiding saam aan die einde daarvan: "Die eeue oue temas van verbode liefde, verraad en lojaliteit, van samelewingsdruk op individue en roekelose opstand teen burgerlikheid, en die onverbiddelikheid van die dood, word in hierdie briewe deur twee woordtowenaars oorspronklik bedink en helder verwoord." Met aspekte van hierdie opvattings van Burger kan ’n mens saamstem, met ander kan jy verskil.
3. Briefroman?
In Afrikaans is Etienne Leroux se 18-44 die belangrikste briefroman. Die skrywer het dit so beplan en hy alleen het al die briewe geskryf as ’n roman, met indirekte insette uit die werklike briewe van 18, die vroulike eweknie, in werklikheid Ingrid Winterbach. Winterbach was ’n student aan Wits toe sy ’n korrespondensie met Leroux gevoer het. In die siklus waarvan 18-44 die eerste roman uitmaak, word dit gevolg deur die ingrypende "mitologie-roman" Isis en die siklus sluit met die "plaasroman" Na'va, gelaai met mitologie, mistiek en ’n sterk teugie apokaliptiese literatuur. Ook ’n oorgang na die twee apokaliptiese romans Magersfontein, o Magersfontein en Onse Hymie.
Soos Galloway in haar redakteursnota opmerk, ontbreek daar briewe op verskeie plekke. Die briefwisseling word afgewissel met telegramme en talle telefoonoproepe, waarvan die leser geen rekord het nie. Die feit dat hierdie briefwisseling dus hiate het in die "storielyn" en nie bewustelik ingestel was op ’n eenheid nie, en die leser heelwat aannames moet maak, skakel die idee van ’n briefroman uit. Tog is daar ’n ontwikkelingspatroon, daar is karakters wat indirek in die vertelling intree, en daar is die twee hoofkarakters wat die "verhaal" skep. Om hierdie redes is dit tog goed om na die briewe in ’n bepaalde verhaalpatroon te kyk.
Die twee hooffigure, die skrywers en sprekers, openbaar baie van hulleself in die briewe, selfs tot ongemak van die leser by tye. André Brink toon reeds in daardie stadium van sy lewe sy geweldige belesenheid in veral Europese letterkunde en filosofie. Daar is gepaste (en aanvullende) aanhalings in feitlik elke brief – oor die verhouding, oor Ingrid, maar ook ter wille van "erudisie" en oor die suiwer skoonheid van letterkunde. In ’n brief van 2 Junie 1963 verwys hy na Osiris, na simbole uit Oud-Egipte en haal hy ’n gedig van Paul van Ostaijen aan. Dan skryf hy: "Hemel, dié brief is besig om ’n bloemlesing te word. Vergewe maar! Maar hoe dink ek ánders aan jou as deur die poësie? As ek jou blote naam uitspel, is dit die titel van ’n gedig." Daar is talle sulke simbool- en literêr-belaaide briewe; trouens daar is min briewe waar dit nie in groter of mindere mate voorkom nie. Is dit die spontane uiting van iemand by en in wie die literatuur so ingebed is dat dit deel word van die persoonlikheid? Of van iemand wat sy intense liefde (en verliefdheid) slegs deur die stylvolle taal van ’n digter behoorlik kan verwoord?
’n Ander vraag kom ter sprake: Het Brink afskrifte van sy briewe aan Jonker gehou met die moontlikheid van latere publikasie? As die leser brief na brief lees, is daar tog ’n patroon aan die ontwikkel, ten minste subtiel suggereerbaar. Op hoeveel maniere nòg kan ’n mens die passievolle briewe volhou as dit nie gedra word deur ruim literêre aanhalings en verwysings nie? Brink, en ook Jonker, kla soms oor die yl en onvolkome waarde van die woord om hierdie vlam aan die brand te hou. Maar die woorde stel die skrywers tog in staat om hulle diepste emosies aan mekaar oor te dra. Hulle skep verbasend min neologismes, maar daar is ’n stelletjie woorde wat van die intiemste momente en sake verslag doen. Brink se styl is elegant, selfs wanneer dit driftig word. Die pragtige styl van veral sy latere romans word hier reeds goed gevestig. In die brief van 4 Julie 1963 skryf Brink ’n insiggewende sin: "Of is dit verskriklik, en harteloos, dat mens so objektief teenoor jou eie lyding en lewe kan staan dat jy altyd bewus is van 'literêre moontlikhede' daarin? Dalk." Hy sê verder dat dit ’n soort genade is, en dat dit jou in staat stel om jou grootste aanspraak, op menswees, te behou. Op 5 Januarie 1964 skryf hy: "Maagdelike kind, ryp, ryp, vrou, geseënde mens: vul jou lampie, want jou bruidegom kom. Intussen hef ek my hande oor jou op en besweer jou teen die Bose; en ek lê op jou en beskerm jou in liefde en word met jou: mens, en vry." Hieruit is tog aan te neem dat die liefde nie net seksualiteit en die vleeslike is nie, maar dat dit ook uitdrukking soek in poëtiese gestalte. Daar is seker nie te twyfel aan Brink se verknogtheid aan Jonker en haar liggaam nie, maar tog is daar die spieëlbeeld van die genot om liefde te ervaar in poësie en in filosofie. Die briewe van Brink is beslis nie net spontane uiting van liefde en verlange na die geliefde en die seksuele nie; dit is ook berekende (?) letterkunde.
Alhoewel die briewe van Jonker ook baie verwysings na die letterkunde bevat, het dit ’n veel meer spontane, meer egte, karakter. Sy skryf uitvoerig oor haar daaglikse probleme, soos die bediende, haar geldtekort, haar gedurige trek van een plek na ’n ander, dikwels as gevolg van bekostigbaarheid, en haar genot wat sy uit haar dogtertjie Simone kry. Die alledaagse dinge speel ’n groot rol in haar briewe. Ook sy is egter passievol en vol verlange na Brink en na die lyflike. By Jonker is die leser meer bewus van die feitlik ruwe egtheid van haar emosies en begeertes. Die letterkunde is bysaak, alhoewel haar briewe ook mooi en dikwels digterlik geskryf is. Dit is egter in ’n styl en vorm wat geen bybedoeling ontketen of die leser daarvan bewus maak nie. Haar briewe is aan André Brink, nie aan ’n potensiële leserspubliek nie.
By albei is daar dikwels ’n "teks vir die dag" in ’n soort vroom-godsdienstige milieu. Alhoewel sommige hiervan uit die Bybel kom, kan dit nie gelees word as iets godsdienstigs by hulle nie. Albei erken hulle is agnostici, maar dat hulle verlang na ’n groter en dieper mag waarin geloof kan setel. Baie van hierdie aanmoedigende frases is van blywende aard; ander is net clichés, soms glo ek ietwat spottend. Daar is geen werklik religieuse ondertoon by Brink of Jonker nie. Dit wil nie sê dat hulle twee oppervlakkige mense was nie. Die diepte kom behoorlik na vore in veral die literêre belewenis.
Alhoewel Brink en Jonker die enigste stemme is wat direk praat, is daar ’n hele stel karakters wat uit die briewe na vore kom. Baie sentraal is die figuur van Jack Cope, die Engelse skrywer, met wie Jonker ’n verhouding gehad het, en met wie die verhouding steeds voortgaan in die twee jaar van haar en Brink se verhouding. Soos Willie Burger aantoon, is Cope vir Jonker nie net ’n minnaar nie, maar as heelwat ouer man ook ’n soort vaderfiguur. Haar eie pa, Abraham Jonker, ’n politikus, het min met haar te maak as gevolg van haar leefwyse en haar betrokkenheid by linkse politiek. As sy byvoorbeeld vir hom ’n eksemplaar van haar bundel Rook en oker wil gee, kry sy ’n baie kil briefie van hom dat hy haar nie in die openbaar wil ontmoet nie. Haar toenadering word behoorlik afgewys. Brink blyk baie jaloers te gewees het op Cope, alhoewel Cope tog konstant ’n soort toevlugsoord vir Jonker was. Brink kon nie vir haar die mate van bestendigheid gee wat Cope haar gegee het nie. Sy jaloesie was misplaas. Of Brink ooit werklik vir Jonker ’n soort standvastigheid wou bied, is onseker. Hy begeer om ’n kind by haar te hê, hulle praat enkele kere oor egskeiding, maar dit bly vaag en ongenuanseerd.
Ook Jonker sê telkens dat niemand haar ooit kan "hê" nie.
Ander persone wat sterk figureer, is Jan Rabie en sy vrou, Marjorie Wallace. Dit is by hulle dat Brink en Jonker mekaar ontmoet het. Hulle was dadelik halsoorkop verlief. Alhoewel die Rabies die verhouding nie goedgekeur het nie, bly hulle sentraal in die prentjie. Soms is daar rusies, dan weer toenadering, maar oor die algemeen is dit ’n effens krapperige verhouding. Uys Krige is ongeveer in dieselfde posisie. Ook hy keur die verhouding af, en ook tussen hom en die verliefdes is daar gedurig krapperigheid en dan weer toenadering. Hierdie verhoudings op vriendevlak speel egter nie ’n beduidende rol in die Brink-Jonker-verhouding nie. Die karakter van Estelle Brink, Brink se vrou en die ma van hulle seuntjie Anton, is meer kompleks.
Uit die korrespondensie is dit nie duidelik hoe die verhouding tussen Brink en Estelle was voor die ontmoeting met Jonker nie. Tydens die verhouding met Jonker is Brink redelik en soms erg negatief oor haar, alhoewel hy feitlik behep was met Anton, na wie hy konstant verwys as sý seun. Hy probeer die verhouding van haar (en ander) weghou, wat ’n bra naïewe houding weerspieël. Dit was egter onmoontlik om so ’n ooglopende verhouding weg te steek. Sy gevoel teenoor Estelle het al hoe meer ontwikkel in irritasie. As Estelle gaaf is teenoor hom, maak dit hom rasend (307); dikwels volg rusies; en as hy oor Jonker huil op die rusbank, ontstig Estelle se etery en kouery hom, terwyl sy nie eers bewus is van sy verdriet nie. Dit is natuurlik uit sy houding teenoor haar dat sy beslis moes geweet het van die verhouding; ook normaal dat sy haar huwelik aan die gang probeer hou – daar is immers Anton. Brink se houding is selfbejammerend en selfsugtig. Ten spyte van sy liefde teenoor sy seun bereken hy ook nie wat die effek op die kind kon wees nie.
Jonker voer ’n feitlik boheemse bestaan. Sy wissel van woonplek, het die intense verhouding met Brink en laat haar dogtertjie Simone dikwels oor aan ander; oorweeg selfs ’n kosskool. Tog is sy kennelik baie lief vir haar kind en wil sy graag haar lewe gelukkig en mooi maak met presente. Simone is terdeë bewus van haar ma se verhouding met Brink en skryf briefies vir hom om hom vir geskenke te bedank. Dat sy onbestendig grootgeword het, is onvermydelik. Maar André en Ingrid is doenig met mekaar en ander mense is ondergeskik.
Ander karakters wat die briewe bevolk, is ander skrywers en figure in die uitgewersbedryf, soos reeds genoem. Die kommentaar oor hierdie mense word bepaal deur die ondervinding wat Brink en Jonker met hulle gehad het. Soms is dit redelik gunstig, ander tye weer vol venyn. Skrywers soos WA de Klerk (Bill), Barend Toerien en Abraham de Vries, en literatore soos AP Grové en Rob Antonissen, maak ook "gasverskynings". Ook na hulle word soms gunstig en soms ongunstig verwys, na gelang van die literêre weersomstandighede. Antonissen, Brink se simpatieke departementshoof, word gunstig beskou, terwyl sy destydse kollega, WEG Louw, baie venyn moet verduur. Geen van hierdie karakters, soos ook die groepie uit vriendskappe, sorg egter vir genoeg van ’n struktuur om van ’n briefroman te kan praat nie.
Die verhaallyn in die briewe gaan in die eerste plek oor die fasette van die verhouding. Daar is telkens geleenthede om mekaar te sien te kry, veral in Kaapstad. Ingrid het die droom van ’n oorsese besoek, wat uiteindelik deur beurse en ander fondse moontlik gemaak word. In Europa leef sy vir die tydjie wat sy daar is, ook iets van ’n vlinderbestaan tussen bestemmings. Uit Engeland na Nederland, terug na Engeland, na Frankryk en redelik skielik terug na Suid-Afrika. Die vakansieroetes stem ooreen met haar bestaan hier, altyd op soek na iets anders, nuwe ervaring, bereid tot nuwe ontnugtering. Dan is sy terug en die verhouding tussen haar en Brink gaan weer die gewone gang. Telkens verlang hulle so erg na mekaar dat hulle vir mekaar skryf dat dit nie langer so kan aangaan nie, maar tog gaan dit so aan. Objektief beskou is ’n minder gunstige oordeel dat die kern van die verhouding nie liefde in ’n meer vergeestelikte sin was nie, veral nie by Brink nie. Ten spyte van die literêre ondertone en Brink se tasbare hulp met Jonker se publikasie, en soms geldelik, is dit die liggaamlike, die lyflike, wat die botoon voer. In die brief van 12 September 1963 skryf Brink na aanleiding van Jonker se klag oor "honger ly, geestelik-seksueel": "Wéét ek nie! Vóél ek nie self nie! Maar die papie het nog nie gekrimp nie. Sál ook nie. Want die verlange laat nie net my hart – soos die oumense sê – "met ’n punt trek" nie! Of, in die brief van 17 Oktober 1963: "– en dan, die konsentrasie van alles, ek ín jou diep, en jy so sag daar en so diep en met so ’n vás-vasklou.” Daar is talle sulke voorbeelde, veral in die Brink-briewe. Dat daar ook ’n sterk liefde tussen hulle was, is nie te ontken nie. Of was dit tog net ’n lang verliefdheid? Op 15 Maart 1965 tel hy die dae tot wanneer hulle weer bymekaar sal wees. In April 1965 skryf sy: "Net ’n nagsêsoentjie en ’n groot biek ? bly oor ons paar dae saam. Ek is baie naby jou, ek is baie lief vir jou." En ’n bietjie later, ook in April, skryf sy: "En ek sal dink aan ’n gelaat, ’n geliefde gelaat, jou gelaat ... Bly soet saam met al ons geheime." Maar dan, op 27 April 1965, skryf Brink ’n grotendeels onromantiese brief in teenstelling met die hartstog van onlangs nog. Hy haal die volgende nostalgiese en droewige vers aan:
April is the cruellest month, breeding
Lilacs out of the dead land, mixing
Memory and desire, stirring
Dull roots with spring rain.
Onmiddellik hierna, onder die opskrif "April", skryf hy: "Lief kind, sit by my en luister. En probeer verstaan dat dit die swaarste is wat ek nog vir enige mens moes sê, ooit. Ek wil dit in die minste woorde doen, want jy is vrou. Ek mag nie eens vergiffenis vra nie, want dit impliseer skuld – en net so min as wat ek ooit skuld kan voel oor my en jou, kan ek dit hieroor voel." Hy vertel dan van sy verhouding, ook seksueel, met Salomi Louw. Hy groet Ingrid met trane en met liefde, maar die afsluiting is bloot "André". Op 19 Julie 1965 verdrink Jonker in die see by Drieankerbaai; die algemeenste opvatting is dat dit selfdood was. Daar was geen verdere briewe van haar nie.
4. Agterna
Die algemene aanname is dat Brink en Jonker polities baie aktief was. Min daarvan word in die briewe weerspieël, behalwe dat Jonker politieke verhore bywoon en sydelingse kontak met sommige polities aktiewe persone gehad het. Brink word ook nie werklik geteiken nie, en ook die sensuur van destyds raak hom eintlik eers later as in hierdie periode. In die verhouding speel dit ’n uiters ondergeskikte rol.
’n Interessante literêre verskynsel is dat veral Brink in feitlik elke brief ’n ander aanhefformule gebruik. Dit sou tot ’n klein studie kon lei om te probeer vasstel of die aanhefvorme ’n doelmatige plan openbaar. As voorbeelde in die Brink-briewe:
My liewe mensie (27 Mei 1963)
Klein liefling (1 Junie 1963)
Ingrid-meisie-myne (5 Junie 1963)
O my liewe dogtertjie (4 Julie 1963)
Ingrid-Kokon, my liefling (9 September 1963)
Liefling, kleine witte poesje (23 Oktober 1963)
Ligkind, my Kokon (9 Januarie 1964)
Kontjie myne (19 Maart 1964)
Ingrid, liefling knapie (15 November 1964)
Liefling lieflikste (4 Maart 1965)
Lief kind (27 April 1965) – die laaste brief.
Uit hierdie beperkte opgaaf wissel dit van sentimentele tot liefdevolle tot seksueel gedrewe tot redelik neutrale aanhefvorme. Dit is moeilik om deur hierdie aanhefvorme ’n progressie, of regressie, in die verhouding te onderskei. Teen die einde word dit wel redelik neutraal. In Jonker se laaste brief is die aanhef liefdevol: “Liefsteling, André”. Hier is wel ’n afwenteling van die passie van vroeër. By Jonker was daar ook intussen ’n verhouding met die skilder Herman van Nasareth, alhoewel dit as platonies voorgehou word. Jonker se liefde en gevoel vir Brink kon wel aan die afkoel gewees het, maar by Brink is die passie vir Ingrid vervang deur passie vir ’n nuwe minnares, later ’n volgende mevrou Brink. Daar was nog verdere huwelike by Brink, maar dit het geen verband met die Jonker-verhouding nie.
Die vraag wat reeds destyds gestel is, was of die verhouding destruktief was. Dit is ook bespiegeling, maar dit was destruktief in dié sin dat dit allesverterend was. Dit was sekerlik destruktief vir Brink se huwelik en ook vir Jonker se gebrek aan standvastigheid. Jonker het gely onder moeilike kinderjare en ’n onsimpatieke pa, terwyl Brink ’n baie standvastige agtergrond gehad, met twee liefdevolle ouers wat deurentyd aan hom lojaal was. Wat die effek op Anton en Simone was, is nie te bepaal uit die briewe nie. Die verhouding was wel ruim skinderstof vir die literêre wêreldjie. Tussen die skrywers was dit ’n gewilde onderwerp van kwasimorele menings en selfs veroordeling. Die literêre toneel was toe, soos steeds vandag, ’n nes van jaloesie, leedvermaak en valsheid.
Ten spyte van die ruim toekenning van ruimte vir literêre aanhalings en filosofie, het die briewe ook elemente van sentimentaliteit, by albei. In die brief van 30 Oktober 1963 skryf Brink: "Ek het jou lief, heerlikste, ek wil weer by jou kom, verruklik wees by jou, vraagloos en gelukkig en sereen en onstuimig. Ons gaan die see en son baldadig en roekeloos geniet". Of: ".. en jou ken wat terg en tart; en jou geurige gladde spikkelskouers; en jou rug wat bruin is van die son; en jou wit ronde borsies, vol en met melk, en die dierbare tuitjies daarop ..." By Jonker is daar ook hiervan, maar ook dikwels meer neutraliteit as by Brink. Al hierdie faktore dra by tot die literêre rykheid van die versameling. As die leser die briewe lees sonder die konteks van die hopelose realiteit daarvan, word die briewe wel ook ’n letterkundige werk in eie reg. Bring dit tuis onder die hofie "Liefdesbriewe", maar dit het ’n eiesoortige literêre waarde.
Was die verhouding maar van die begin af gedoem tot ’n droewe einde? Was Brink ernstig, so ernstig soos wat Jonker wel was, of altans, só het dit deurgekom? Op 5 September stuur sy vir Brink haar vrye vertaling van dele uit e e cummings se gedig "Somewhere I have never travelled":
Die landskappe van jou oë sal my maklik blootlê
al het ek my hart gesluit soos twee hande
jy ontvou my keer op keer soos die lente
bedrewe en heimlik haar eerste roos
En as jy my sou verlaat geslote dan
sal my voorhof sluit mooi en onmiddellik
soos die hart van die blom sou droom
van ’n wit sneeu wat alles oral bedek.
The post LitNet Akademies-resensie-essay: Vlam in die sneeu, die liefdesbriewe van André P Brink en Ingrid Jonker, redakteur Francis Galloway appeared first on LitNet.