Jaco Botha in gesprek met Etienne Bloemhof, hoof van Fiksie by NB-uitgewers.
Beskryf asseblief jouself in een sin?
Lojaal, pragmaties, maklik geamuseerd, hopelik oopkop, buitengewoon nostalgies (buiten oor die destydse politiek), nie ’n kuddedier nie, teruggetrokke, het ’n broertjie dood aan pretensie.
Waar kom jou liefde vir boeke vandaan? Vertel ons so ‘n bietjie van jou kinderjare? Wie was jou gunstelingskrywers en watter boeke het 'n invloed op jou gehad?
Ek het vir sover ek kan onthou nog altyd ’n liefde vir stories gehad. Ek is dankbaar dat ek nog die goue era van Springbokradio kon beleef, en inryteaters. Kaalvoetdae op Wellington, later in Parow (Hoërskool Tygerberg). Sowel ek as my broer het ondiskriminerend gelees, want ons het gelukkig nie in ’n huis grootgeword waar fotoverhale, comics en ander voorbeelde van “pulp fiction” taboe was nie. Arend van die Oerwoud, Ruiter in Swart, Takoeza, Batman en Superman was net so welkom soos Jasper en Trompie, die Secret Seven en die Famous Five. Deur middel van die Classics Illustrated comics het mens vroeg-vroeg en byna terloops ’n belangstelling in wêreldletterkunde ontwikkel. Op skool het ek hoofsaaklik Engels gelees (van Roald Dahl tot Alistair MacLean en Ian Fleming; het darem ook waardering vir Shakespeare gehad); ons Afrikaanse voorgeskrewe boeke was maar saai (met die uitsondering van Joernaal van Jorik). Eers op universiteit sou ek byvoorbeeld behoorlik van die Sestigers en Tagtigers kennis neem.
Vertel ons meer oor jou studies en watter skrywers en boeke toe 'n invloed op jou lewe gehad het? Enige spesifieke aanhalings uit boeke wat jou bybly?
BA, BA Hons, MA (verhandeling: “Sluitingstrategieë in enkele Afrikaanse kortverhale”), DLitt (proefskrif: “Die omsetting van verhaal tot draaiboek tot film”), alles op Stellenbosch. Dosente soos Johan Smuts en Louise Viljoen het wêrelde vir my oopgemaak: dié van Rabie, Leroux, Barnard, Aucamp, De Vries, Breytenbach, Brink, Miles tot by Van Heerden, Prinsloo, en ander. Waar ek vroeër gedink het ek sou verder in Engels of geskiedenis studeer, was ek geprikkel en het ek eindelik begin trots raak op my taal. Taalkunde was vir my ’n noodsaaklike lastigheid, maar die letterkunde my passie. My gunsteling-aanhaling is egter ’n Engelse een, die openingsin van LP Hartley se The Go-Between: “The past is a foreign country: they do things differently there.” Ek het onlangs, met die uitgee van Johann Botha se roman Koukonap, weer die waarheid van dié woorde besef. Die meeste aanhalings wat my ad verbatim bybly is te skunnig om hier te herhaal. (Ek dink byvoorbeeld dadelik aan een uit Braam de Vries se “Die meisie met die bra-pistool”, nog een uit Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip.)
Vertel ons van jou loopbaan? Waar het dit begin? Wat was van die hoogtepunte in jou loopbaan?
Ek wou nie gaan onderwys gee, doseer of joernalis word nie, en het toe twee dekades gelede as redakteur by Queillerie ingeval. Ek was daarna ’n hele klompie jare by Human & Rousseau Alida Potgieter se fiksiekollega, toe twee jaar by LAPA as senior uitgewer, en sedert 2005 in ’n paar verskillende stoele by NB-Uitgewers. Alles wat ek in die bedryf geleer het, is te danke aan Hettie Scholtz, Alida Potgieter en Kerneels Breytenbach; boggheroppe was/is vir my eie rekening. Hoogtepunte was onder meer om te kon werk saam met skrywers vir wie ek ’n heldeverering gehad het (Breytenbach, Brink, Eybers, Etienne van Heerden), om ’n lang pad te kon stap saam met iemand soos Deon Meyer, om boeke van my broer Francois te kon uitgee (ons verstaan mekaar baie goed), om voortdurend saam met my vrou, Susan (boekontwerper/uitlegkunstenaar), aan projekte te kan werk ... Eintlik voel elke boek wat ek in die lewe help bring, steeds soos ’n hoogtepunt. En hoewel ek talle kollegas mis ná hul aftrede (al sien ek die meeste nog gereeld), rapporteer ek aan mense vir wie ek respek het, en is daar werklik voortreflike redaksielede wat nou stem begin dik maak. Ek wil nie soos ’n taalbul klink nie, maar ek is bevoorreg om ’n beroep te hê waarin ek hopelik iets vir Afrikaans kan doen. Ek dink ek is nie sleg met talentidentifikasie nie. En ek het nog steeds ’n stewige skoot idealisme weg. (Of is dit naïwiteit?)
Wat is die grootste uitdagings en geleenthede wat die Afrikaanse uitgewersbedryf vandag in die gesig staar? Is daar nuwe skrywers en strominge wat jou opgewonde maak?
Daar is ’n ernstige tekort aan skrywers in hul twintigs en dertigs. Wat terselfdertyd beteken die geleenthede vir hulle ís daar, want uitgewers is voortdurend op die uitkyk. Miskien lees ’n paar talentvolles hierdie woorde raak en skryf in vir NB se Groot Romanwedstryd, of stuur poësievoorleggings vir Tafelberg se Nuwe Stemme 6. Poësie is ooglopend die een genre waar jong talent wél gereeld na vore kom. Daar is byna elke jaar ’n paar sterk, opwindende debute; vanjaar is geen uitsondering nie, met onder meer Juanita Louw se In die grot van die sibille, en eersdaags Bibi Slippers se Fotostaatmasjien. En ons is groot dank verskuldig aan akademici soos Etienne van Heerden, Marlene van Niekerk, Joan Hambidge en Henning Pieterse wat in hul kreatieweskryfkursusse soveel jong skrywers oor die jare “publikasiegereed” gemaak het. Daar het die laaste ruk talle historiese Afrikaanse romans van hoogstaande gehalte verskyn. Dit sal egter lekker wees om meer gereeld “kontemporêre” romans te ontvang ... ons leef immers in interessante tye, vreemder as fiksie. Strominge? Ek dink dis verskralend om boeke en skrywers te wil saambondel; kom ons waardeer eerder die diversiteit. Die politieke en sosiale kommentaar is natuurlik steeds daar, dalk net implisieter as in die verlede. Dit is te betwyfel of daar sommer weer iets soos die Sestigers of selfs Tagtigers sal manifesteer (“die Tieners” val in elk geval nie lekker op die oor nie) en die speelveld het soveel verander, die skeidslyne tussen hogere letterkunde en die ander genres nou vaer as ooit in die verlede – en ek is maar te bly dat neerbuigende terme soos “middelmootliteratuur” en selfs “goeie, gewilde prosa” bykans verdwyn het.
Watse raad of wenke sou jy vir 'n debuutskrywer gee?
Dis seker maar afgesaag, maar: (1) Lees, lees, lees, so wyd moontlik. (2) Skryf omdat dit jou hartsbegeerte is en nie omdat jy bloot verlief is op die idee of beeld van skrywer wees nie. (3) Skryf oor dit wat jy ken, en neem kennis van wat in die wêreld om jou aangaan. (4) Neem die genre waarin jy werk, ernstig op – iemand wat neersien op liefdesverhale sal nie sélf een suksesvol kan skryf sonder om dit na ’n parodie te laat lyk nie. (5) Moet nooit kritiek van keurders of uitgewers persoonlik opneem nie, maar sien dit as verdere aansporing om die beste skrywer te word wat jy kan wees. No pain, no gain.
Wat is jou top 10 boeke van alle tye? En wat het hierdie boeke oor die algemeen na jou lewe gebring?
Ek verkies om nie hier op Afrikaanse skrywers te fokus nie, want gegee my betrokkenheid in die bedryf is ek nie objektief nie. Ek moet darem sê Karel Schoeman se ’n Ander land het ’n onuitwisbare indruk gemaak. Internasionaal? Round up the usual suspects. Raymond Carver se Collected Short Stories, Heart of Darkness (Joseph Conrad), The Wings of The Dove (Henry James), The French Lieutenant’s Woman (John Fowles), Midnight’s Children (Salman Rushdie), Catch-22 (Joseph Heller), The Best of Roald Dahl, Catcher in the Rye (JD Salinger), One Flew Over the Cuckoo’s Nest (Ken Kesey), A Passage to India (E.M. Forster). As jy my môre weer vra, sal die lys waarskynlik heeltemal anders lyk. Wat sulke boeke gemeen het, is dat jy na die lees daarvan dikwels met ander oë na die wêreld kyk. Én na jouself.
Behalwe boeke, wat is die ander passies in jou lewe? Gee ons asseblief 'n bietjie meer persoonlike blik op jou lewe.
Kyk rolprente (wyd, van Citizen Kane tot Hitchcock tot die jongste superheldfliek) en sporadies TV-reekse (met Boston Legal sou ons so vier, vyf episodes ná mekaar deurdraf, dan altyd sê ons lê die Boston-marathon af); probeer bybly met al die boeke wat my kollegas uitgee; luister musiek (wyd, van klassiek tot elektronies tot pop en rock, van ‘60’s tot hedendaags, uitgesluit rap, hip-hop en modieuse katelknaap-groepies); kyk graag rugby (al doen die SA Rugbyunie alles in hul vermoë om dié liefdesverhouding te beëindig); reis graag (saam met Susan; ek is nie meer ’n goeie soloreisiger nie); kuier saam met familie en goeie vriende, verkieslik naby die see of berge; eet graag by restaurante, veral Italiaans of Noord-Indies. Ek probeer min of meer op hoogte bly van die nuus, gewoonlik uit opregte belangstelling, andersins weens morbiede fassinasie (dat die Hlaudi Motsoenengs van hierdie wêreld selfs dikvelliger is as wat die Groot Krokodil in sy fleur was).
Watse boodskap het jy vir skrywers en lesers oor die algemeen?
Local is nog steeds baie lekker. Ons het skrywers van uitnemendheid, oor alle genres heen; hulle verdien wye erkenning en ondersteuning – eenvoudig dit.
Foto's verskaf
The post Mense agter boeke: Etienne Bloemhof, hoof van Fiksie by NB-uitgewers appeared first on LitNet.