Die eens geliefste organisasie van die toe nog onderdrukte mense van Suid-Afrika, die ANC, moet weer eens sedert sy stigting in 1912 ʼn Morogoro-oomblik beleef.
Dit moet ʼn oomblik van selfondersoek wees. ʼn Oomblik waar die ANC sy morele en intellektuele kompas gaan herinstel om van koers te verander. ʼn Koers wég van sy huidige dwaling in die woestyn van katastrofe.
Dit is die jaar 1969.
In die ooste van Tanzanië, 169km wes van Dar-es-Salaam en 223km oos van Dodoma, het 70 afgevaardigdes tussen 25 April en 1 Mei saamgetrek.
Dié afgevaardigdes – ten spyte van die toe hewige apartheidbestel wat almal gedwing het om ʼn vaste ras of etniese identiteit te hê en om apart te lewe – het uit ʼn mengelmoes Suid-Afrikaners bestaan.
Hulle het ANC-takke, eenhede van Umkhonto we Sizwe, leiers van die Indiër- en (sogenaamde) bruin mense, en van die revolusionêre werkersklasbewegings verteenwoordig.
Morogoro met sy pragtige Uluguru-bergreeks en sisalplantasies en ook die tuiste van die bekende jazz-legende Salim Abdullah, het ʼn omgewing van terugkaatsing, redetwis en besluitneming vir dié afgevaardigdes oor ʼn periode van sewe dae besorg.
Dié bymekaarkomgeleentheid sou later as die Morogoro Konsultasie Konferensie van die ANC bekend staan.
Dié konferensie sou binne die konteks van die moeilikste omstandighede vir alle Suid-Afrikaanse bevrydingsbewegings plaasvind. In 1960 sou die ANC en PAC verban word. Aktiviste sou of tronkstraf opgelê word of in “exile” gedwing word.
Die apartheidsregering se brutale handeling met politieke aktiviste sou die effektiwiteit van die bevrydingsbewegings binnelands kniehalter. Die Rivonia-verhoor in 1964 wat gesorg het dat baie leiers van die ANC en PAC langtronkstraf opgelê is sou dié situasie vererger.
Die bevrydingsbewegings was in vele opsigte, veral strategies, op hul knieë gedwing en moes nuut dink oor hoe om bevryding te bekom.
Die gevolg was die Morogoro Konsultasie Konferensie.
Interessant genoeg het die geskiedenis ʼn manier om homself te herhaal. Die ANC was soos nou met vele uitdagings in sy strukture gekonfronteer.
Die koördinasie van die politieke en militêre elemente, die skep van ʼn nuwe leierskap; nie net om leiers wat tronkstraf uitdien te vervang nie, maar ook om die internasionalisering van die “struggle” effektief te bestuur was van die knelpunte. Die mees omstrede kwessie was die posisie van “non-Africans” – oftewel “non-racialism” – binne die ANC.
Alhoewel die kwessie van nie-rassigheid binne die kongresbeweging met die stigting van die UDF in die 1980’s traksie gekry het, het die skep, verskansing en uitbouing van nie-rassigheid ʼn lang aanloop binne die kongresbewing gehad.
Die aanvaarding van die Vryheidsmanifes in 1955 wat verklaar het Suid-Afrika behoort aan almal, wit en swart het nie-rassigheid hoog op die agenda geplaas. Sodoende dat die ANC in 1958 in sy jaarverslag hulle herverbind het tot nie-rassigheid.
Die kwessie van nie-rassigheid binne die ANC en die breë kongresbeweging en die posisie van “non-Africans” binne die ANC het veral gedurende die 1960’s vir hewige debat gesorg.
Nie-rassigheid het uiteindelikheid tot sy reg in die ANC gekom en het in die 1970’s tot die oplewing van “Black Consciousness” gelei.
Die ANC ervaar nou weer ʼn Morogoro-oomblik. Die omstandighede is egter anders want dié organisasie is nou sy grootste vyand; nie die apartheidsregering nie.
Dié organisasie moet nou ʼn nuwe koers inslaan.
ʼn Nuwe koers wat die ANC weg sal stuur van faksiegevegte, swak dissipline, arrogansie en ʼn kultuur van korrupte kaders wat nie huiwer om die staatskas vir eie belang te plunder nie.
Meer as 700 klagte van korrupsie en bedrog hang oor die kop van President Jacob Zuma. Ons ekonomie staar ʼn moontlike afgradering tot rommelstatus in die gesig.
Waar gaan dit eindig?
Die ANC behoort as hy wil ook die Morogoro-oomblik spoedig op te los. Die vraag is egter of die ANC die wil en moet het om hul Morogoro-oomblik op te los?
The post Die ANC benodig weer 'n Morogoro-oomblik appeared first on LitNet.