
Boekomslag: Geheim in die riete deur Constant van Graan (Tafelberg, 2024)
- Cliffordene Norton skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
Titel: Geheim in die riete
Skrywer: Constant van Graan
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624095330
........
Van die eerste sin af was ek vasgevang: “Die stem word stil toe Kruhan voor die riete gaan staan.”
........
’n Karavaanpark klink dalk na ’n idilliese plek om te woon, maar Kruhan Malherbe dink nie so nie. Die plek is vol eienaardige mense en daar’s geen vriende nie. Een nag volg Kruhan twee otters tot anderkant die riete, na waar ’n vriendelike seun op ’n vlot sit en braai. Timma is die vriend waarop Kruhan gewag het! Terug in die karavaanpark hoor hy stories van mense wat verdwyn het: die eienaar se kleindogter, en ses jaar vantevore, ’n elfjarige seun. Kan Timma help om die raaisels op te klaar?
*
Hierdie boek was vir my ’n avontuur. ’n Avontuur wat jou nie los nie.
Nee wag, dit was ’n roller coaster. Om eerlik te wees, ek weet nie watter beskrywing werk beter nie, want albei pas ewe goed.
Die eerste sin
Van die eerste sin af was ek vasgevang: “Die stem word stil toe Kruhan voor die riete gaan staan.”
Sommer daar wonder jy: Watter stem? Wat het dit gesê? Hoekom is dit nou stil? Wat beteken dit vir Kruhan? So begin die storie – nie met ’n klomp verduidelikings nie, maar met misterie en ’n belofte van iets besonders.
Ons ontmoet Kruhan in ’n karavaanpark. Hy is in Kebospark, want sy ouers wil hom graag die “wêreld wys” – oftewel, rondry van een Suid-Afrikaanse karavaanpark na die ander. En ja, daar wag avontuur. Maar ons leer ook vir Kruhan ken: sy frustrasie met ouers wat altyd werk, avonture wat lankal opgehou het en daardie stille eensaamheid wat jy voel sonder dat dit ooit reguit gesê word.
As volwasse leser verstaan ek die ouers se werksverpligtinge. Maar as kind, of eerder as daardie deel van myself wat nog ’n kind is, was ek vies. Kruhan se ma raak heeltemal opgeslurp in haar werk en sy pa kanselleer sy beloofde uitstappie. Dit maak seer – en die boek wys dit sonder om te oordryf. Dis net ... menslik.
Ons ontmoet vir Kruhan wanneer hulle by ’n nuwe karavaanpark aanland, maar hierdie een voel anders. Nie reg nie. Die gevare in die storie voel eg, maar nie oorweldigend nie. Dit is opwindend.
Nou goed, hierdie boek is al ’n ruk uit, so ek voel nie sleg om ’n bietjie weg te gee nie. (So: spoiler alert – dis jou eie skuld as jy dit nog nie gelees het nie. )
Die wonderwêreld versteek agter die riete
Een aand betree Kruhan ’n wêreld anderkant die riete. Dis ’n lagoon van magic, eenvoud en skoonheid – amper soos ’n droom waarin jy kan aanhou lewe. Ek kon verstaan hoekom hy wil bly.
Timma het my as ’n volwassene die creeps gegee. Dis vreemd dat dit vandag normaal is om jou inligting – naam, van, selfs geboortedatum – aan sosiale media toe te vertrou, maar sodra Timma Kruhan se naam geken het, wou ek skreeu: Hardloop! Toe hy weet Kruhan hou van Iron Brew-koeldrank wou ek die rooi vlag hys.
Die inwoners van Kebospark
Die res van die karakters is briljant uitgebeeld. Jy voel hoe jou opinies verander soos die bladsye aangaan. Die Jaarsma-tweelingbroers het my aanvanklik behoorlik die creeps gegee – ek meen, wie neem foto’s van iemand sonder hulle toestemming? Maar hulle verskille is só goed uitgebeeld, en hul gespot onder mekaar is natuurlik, snaaks en baie herkenbaar.
........
Die karakters van die boek is goed gekies. Almal word só vinnig en doeltreffend geskets dat jy omgee. Jy wil weet wat van hulle word. Dis ’n rare talent: om met min woorde karakters te skep wat jy nie sommer vergeet nie.
........
Mevrou Górecki, die eksentrieke palmleser, was vir my eers ’n cliché – daai vreemde vrou wat altyd net daar is vir ’n komedie. Maar hier word sy ’n belangrike spilpunt in die storie, met die wasbeer Frederiku as bonus. Sy is meer as net ’n gimmick. Ek was regtig beïndruk daarmee.
Die karakters van die boek is goed gekies. Almal word só vinnig en doeltreffend geskets dat jy omgee. Jy wil weet wat van hulle word. Dis ’n rare talent: om met min woorde karakters te skep wat jy nie sommer vergeet nie.
Ek het twee klein frustrasies met Geheim in die riete gehad:
- Eerstens, die formatering. Daar’s soms lynbreuke waar daar nie regtig tydsverloop of perspektiefverandering is nie. Dit ruk my so ’n bietjie uit die vloei, veral aan die begin.
- Tweedens, die spook van Margie voel soms té volwasse. Ek verwag dat spoke emosioneel vasgevang bly in die tyd toe hulle gesterf het. Margie voel op tye meer soos ’n wyse tante as ’n afgestorwe kind. Dis nie sleg nie, net ... effe verwarrend.
Maar die einde? Eenvoudig en tog diep. Kruhan groei. Nie dramaties nie, nie groot woorde en heldedade nie – maar innerlik, stil. Dit was ongelooflik bevredigend.
Met Geheim in die riete het ek gelag. Ek het gevoel. Ek het onthou hoe dit voel om nuuskierig te wees. Ek sal dié boek sonder twyfel aanbeveel – vir seuns, vir dogters, vir enigiemand wat hou van ’n storie wat avontuur, misterie en hart kombineer.
*
Aan Kruhan: Ek verstaan die pyn van ’n vreemde naam. Jy gaan eendag daaroor lag.
Lees ook:
Cliff-hanger: A thousand eyes on you by Mia Arderne – a book review
Cliff-hanger: A thousand eyes on you by Mia Arderne – a book review
Cliff-hanger: Joha van Dyk het haar siel in haar woorde vasgeskryf
Cliff-hanger: Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout – ’n resensie
The post Cliff-hanger: Geheim in die riete deur Constant van Graan: ’n resensie first appeared on LitNet.
The post Cliff-hanger: <em>Geheim in die riete</em> deur Constant van Graan: ’n resensie appeared first on LitNet.