Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21644

Taalgebaseerde spanning in Indië: ’n sosiohistoriese perspektief

$
0
0
1. Inleiding

Vanaf 2025 is Indië die land met die grootste bevolking ter wêreld (1 463 865 525, teenoor China se 1 416 096 094). Dit is ook een van die mees diverse lande in die wêreld wat betref die taleverskeidenheid, met 22 grondwetlik erkende tale, honderde streekstale en meer as duisend dialekte. Volgens verskeie bronne is die totale aantal tale en dialekte wat onderskei kan word, meer as 1 800.

Alhoewel hierdie diversiteit op taalgebied ’n bron van kulturele rykdom is, was en is dit ook ’n twispunt in die onderwys, staatsbestuur en nasionale identiteit. Onlangse verwikkelings in taalbeleide en linguistiese identiteitspolitiek het gelei tot ’n opwelling van spanning, veral tussen Hindisprekende en nie-Hindisprekende deelstate.

In 1965 het betogings in Tamil Nadoe uitgebreek teen die afdwinging van Hindi as die enigste nasionale taal, wat gelei het tot ’n kompromie wat Engels naas Hindi as ’n amptelike taal behou het. Hierdie bydrae ondersoek die oorsake, manifestasies en gevolge van taalgebaseerde spanning in Indië in die onlangse verlede.

2. Die koloniale agtergrond van die taalsituasie in Indië

2.1 Britse koloniale taalbeleid

Taalgebaseerde konflikte in Indië dateer terug na die koloniale en postonafhanklikheidseras. Die Britse koloniale beleid het Engels as die primêre administratiewe en onderrigtaal gevestig, terwyl inheemse tale vir laer vlakke van onderwys en plaaslike bestuur behou is. In 1835 het Thomas Macaulay in sy "Minute on Indian Education" Engels as die medium van hoër onderwys aanbeveel, met die doel om ’n klas van "browns in colour, but English in taste" te skep. Engels het in 1858 die amptelike taal van die regering geword, en inheemse tale is tot informele en plaaslike kommunikasie beperk. Hierdie beleid het gelei tot ’n diglossiese situasie waar Engels as ’n hoërstatustaal gefunksioneer het, terwyl inheemse tale oorwegend vir daaglikse interaksie gebruik is.

2.2 Onafhanklikwording

Met die onafhanklikwording van Indië was die taalbeleid een van die belangrikste kwessies waaroor uitsluitsel verkry moes word. Daar word bereken dat meer as 120 sogenaamde streekstale en meer as 1 600 stamgebaseerde tale en dialekte in die land gebruik word. Die prominentste tale benewens Hindi is Bengaals, Telugu, Marathi, Tamil, Oerdoe, Goedjarati en Pandjabi, wat in verskillende dele van die land, of deelstate, gepraat word.

Die Grondwet het in 1950 in werking getree, en daar is aanvanklik beplan om Hindi as die enigste amptelike taal van die land te verklaar, wat wel so aanvaar is. Die vraag ontstaan dan nou: Waarom Hindi?

Tans (volgens die 2011-sensus) is Hindi die moedertaal van ongeveer 43,63% van die totale bevolking. Hierdie syfer sluit verskeie dialekte in wat deur Hindi omvat word. As ’n tweede of bykomende taal word Hindi deur ’n verdere 13,47% van die bevolking gepraat, wat die totale persentasie sprekers wat Hindi magtig is, op ongeveer 57,1% te staan bring.1

Hindi is, soos hier bo genoem, egter nie die moedertaal van die meerderheid Indiërs nie, en daar was groot weerstand teen die bevordering van Hindi in dele van die land waar ander tale oorheers, soos in Tamil Nadoe, Wes-Bengale en Karnataka. In Tamil Nadoe het grootskaalse protesbewegings gevolg, waar mense geëis het dat hulle moedertaal (Tamil) gelyk gestel word aan Hindi. Hierdie protesbeweging het veral in 1956 gelei tot die Anti-Hindi Imposition Movement, wat sterk gekant was teen die afdwinging van Hindi. Maar ook ander deelstate het gevoel dat die bevordering van Hindi ten koste van streekstale hul kulturele identiteit ondermyn.

3. Die drietaleformule

As uitvloeisel van die weerstand teen Hindi is die sogenaamde drietaleformule, wat die eerste keer in die Kothari-kommissieverslag (1966) uiteengesit is, opgestel. Dit het ten doel gehad om ’n gebalanseerde benadering tot taalonderrig en amptelike gebruik in Indië te bevorder. Volgens die formule sou

  • Hindi die nasionale taal wees en as een van die hooftale in skole dwarsoor die land onderrig word
  • Engels ’n geassosieerde amptelike taal vir die sentrale regering bly, veral in administrasie, die sakewêreld en hoër onderwys
  • ’n streekstaal (die oorheersende plaaslike taal in elke staat) ook onderrig word, om te verseker dat streeksidentiteite en linguistiese diversiteit gehandhaaf word.

Voorheen reeds het die State Reorganization Act van 1956 Indiese state verdeel op grond van linguistiese identiteit, wat die rol van taal in streekspolitiek versterk het.

In den brede is Hindi egter in die noordelike state meer invloedryk en bekend as in die suide. Die drietalebeleid, wat, soos reeds gemeld, ook ’n streekstaal in die onderskeie deelstate insluit, is daarom ontwerp om die gaping tussen verskillende taalgemeenskappe te oorbrug, veral tussen Hindisprekende Noord-Indië en die nie-Hindisprekende Suid-Indië.

Die instelling van Hindi as ’n verpligte taal in skole en regeringsinstellings was ’n groot twispunt. Alhoewel Hindi die mees algemeen gesproke taal in Indië is, is dit veral in die suidelike, oostelike en westelike dele van Indië, soos hier bo aangetoon, nie ’n  moedertaal nie.

4. Klassifikasie van tale in Indië

4.1 Gebruiksgebaseerde klassifikasie

Tale in Indië funksioneer op verskillende vlakke van die samelewing:

  • Vir nasionale en interstaatlike kommunikasie dien Hindi en Engels as lingua francas oor state heen.
  • Streeks- en staatstale word gebruik vir administrasie, onderwys en media binne state (bv Pandjabi in Pandjab, Assamees in Assam).
  • Plaaslike en stamtale word in spesifieke gemeenskappe of landelike gebiede gepraat, maar nie wyd geskryf of gebruik in formele omgewings nie (bv Santali, Ho, Khasi).
  • Godsdienstige en liturgiese tale is Sanskrit (Hindoe-rituele), Arabies (in Islamitiese gebede), Pali (Boeddhistiese tekste), Persies (historiese invloed).
  • Stedelike en prestigedialekte word gevind in metropolitaanse gebiede, waar daar dikwels ’n vermenging van tale aangetref word (bv in Mumbai die vermenging van Marathi, Hindi en Engels, en Bangalore se Kannada-Engelse mengeltaal).

4.2 Etniese en identiteitsgebaseerde klassifikasie

Tale in Indië is dikwels ook ’n aanduiding van etniese, kaste- en gemeenskapsidentiteit:

  • Dravidiese tale (bv Tamil, Telugu, Kannada, Malajalam) word hoofsaaklik in Suid-Indië gepraat, sterk gekoppel aan kulturele en etniese erfenis.
  • Indo-Ariese tale (bv Hindi, Bengaals, Pandjabi) oorheers in Noord- en Sentraal-Indië, en vorm die grootste taalgroep.
  • Tibettaans-Birmaanse tale (bv Meitei, Naga-tale, Bodo) word in Noordoos-Indië deur duidelik onderskeide etniese groepe gepraat.
  • Austro-Asiatiese tale (bv Santali, Mundari) word deur Adivasi-stamgroepe gepraat, met mindere institusionele erkenning.
  • Anglo-Indiese en Kreoolse tale, bv Kristi-Engels, gepraat deur sommige Indiese Christene, Portugese Kreole (Daman, Goa).
5. Etniese en strekspanninge

In baie gevalle word taal nie net as ’n kernaspek van kultuur beskou nie, maar ook ingespan as ’n manier om politieke mag uit te oefen deurdat dit as identiteitsmerker fungeer. Daardeur vorm dit ook die oorsaak van konflik. In deelstate soos Maharasjtra (waar Marathi die meerderheidstaal is en as ’n hoeksteen van die staat se identiteit beskou word) en Pandjab (waar Pandjabi dominant is) vind ’n mens soms gewelddadige betogings wanneer die staatsregering poog om die gebruik van Hindi in amptelike kommunikasie of die onderwysstelsel te bevorder. Net so is Bengaals in Wes-Bengale die kern van politieke en kulturele identiteit. Daar is sterk gevoelens dat die bevordering van Hindi die staat se outonomie en kulturele erfenis bedreig.

5.1 Verdelende faktore

’n Eerste faktor is die toenemende belangrikheid van Engels in die Indiese onderwysstelsel wat gelei het tot ’n  situasie waar diegene wat goed Engels praat, dikwels as beter gekwalifiseerd of modern beskou word. Daardeur kan mense uit die laer sosio-ekonomiese agtergronde vervreem word, veral in landelike gebiede of gemeenskappe waar streekstale oorheersend is. In sulke gebiede word Engels nie algemeen verstaan of gepraat nie, omdat Engels hoofsaaklik in stedelike gebiede gepraat en onderrig word. Dit vorm dus ’n skerp skeidslyn tussen stedelike en landelike gebiede, veral omdat dit diskriminerend  werk ten opsigte van toegang tot geleenthede in sektore wat vaardigheid in Engels vereis.

5.1.1 Die Noord-Suid-skeiding

Een van die belangrikste bronne van spanning rakende taal is die noord-suid-skeiding in Indië. Hindisprekende state (hoofsaaklik in die noorde) beskou Hindi dikwels as ’n simbool van nasionale eenheid, terwyl die suidelike state, waar tale soos Tamil, Telugu, Malajalam en Kannada oorheers, die druk vir Hindi beskou as ’n bedreiging vir hul linguistiese en kulturele identiteit.

Suid-Indië bied veral weerstand teen Hindi as gevolg van historiese en politieke faktore. Hindi word beskou as ’n simbool van oorheersing deur die noordelike, Hindisprekende bevolking. Daarbenewens het baie Suid-Indiese tale ryk literêre tradisies en kulturele erfenis, wat hulle voel ondermyn word deur die oorheersing van Hindi. Daarteenoor beskou Hindisprekende streke dikwels die bevordering van streekstale as ’n uitdaging vir nasionale eenheid. Sommige nasionale politici argumenteer dat ’n gemeenskaplike taal (dws Hindi) nodig is om kommunikasie regoor die land te bevorder.

5.1.2 Die toename in regionalisme

Oor die afgelope aantal jare het regionalisme duidelik toegeneem, met verskeie state wat aandring op groter outonomie op verskeie gebiede, insluitend taalbeleid. Dit het gelei tot ’n situasie waar baie streeksgebaseerde partye aktief pleit vir die beskerming en bevordering van hul onderskeie tale ten koste van Hindi.

So byvoorbeeld word die Marathi-taal in Maharasjtra beskou as ’n hoeksteen van die staat se identiteit, en is daar telkens betogings wanneer die staatsregering poog om die gebruik van Hindi in amptelike kommunikasie of die onderwysstelsel te bevorder.

Verder word Bengaals in Wes-Bengale beskou as die kern van politieke en kulturele identiteit. Daar is sterk gevoelens dat die bevordering van Hindi die staat se outonomie en kulturele erfenis bedreig.

5.1.3 Spanninge binne die Hindi-gordel

In teenstelling met die suidelike en noordoostelike state, is die Hindisprekende gordel in Noord-Indië meer verenig in sy ondersteuning vir die bevordering van Hindi. Hierdie streek staar egter sy eie uitdagings in die gesig:

Terwyl Hindi die oorheersende taal is, is daar steeds streektale, veral in die noorde, en dialekte wat sukkel om erken te word. So byvoorbeeld word Bhojpuri, Maithili en Magahi wyd in Bihar, Oetar Pradesj en Jharkhand gepraat, maar kry nie dieselfde erkenning as Hindi nie, wat gelei het tot eise vir die erkenning van hierdie tale in amptelike kontekste.

5.1.4  Die rol van Engels

Ten spyte daarvan dat Engels beskou word as ’n "skakel"-taal en ’n noodsaaklike hulpmiddel vir globale kommunikasie, het die bevoordeling van Engels ook spanning opgewek, veral onder diegene wat voel dat dit die stedelike elite bo landelike gemeenskappe bevoordeel. Engels word dikwels geassosieer met hoër onderwys, regeringsposte en die hoër klas, wat lei tot ’n gevoel van uitsluiting vir diegene wat dit nie vlot praat nie. Die toenemende belangrikheid van Engels in die Indiese onderwysstelsel het naamlik gelei tot ’n situasie waar diegene wat goed Engels praat, dikwels vir voorkeurposte oorweeg word tot nadeel van dié met mindere vaardighede in die taal.

6. Onlangse oorsake en gevalle van taalgebaseerde spanning

6.1 Die debat oor die afdwinging van Hindi

In onlangse jare het die sentrale regering se pogings om Hindi in sowel bestuur as onderwys te bevorder op weerstand deur verskeie nie-Hindisprekende state gestuit. In 2022 het ’n parlementêre paneel aanbeveel dat Hindi as die primêre onderrigtaal in tegniese en hoër onderwys gebruik word, wat gelei het tot wydverspreide betogings in Tamil Nadoe, Karnataka en Wes-Bengale.

6.1.2 Weerstand in Nadoe Tamil

In Februarie 2025 het Tamil Nadoe se adjunkhoofminister, Udhayanidhi Stalin, betogings gelei teen die sentrale regering se nuwe onderwysbeleid (NEP) en sy voorgestelde drietaalformule, wat Hindi as ’n verpligte taal saam met Engels en die streektaal insluit. Stalin het die Unie-regering daarvan beskuldig dat hulle Hindi op Tamil Nadoe afgedwing het en gewaarsku teen ’n moontlike "taaloorlog" as die beleid afgedwing word. Hy het beklemtoon dat taal en identiteit van die allergrootste belang is vir Tamils ​​en bepleit die staat se bestaande tweetaalbeleid.

6.1.3 Taalbotsings in Bengaluru

In Oktober 2024 was Bengaluru die toneel van toenemende spanning tussen Kannada- en Hindi-sprekers. Voorvalle het konfrontasies ingesluit waar plaaslike inwoners daarop aangedring het dat slegs Kannada in Karnataka gepraat moet word. ’n Toektoek-bestuurder het byvoorbeeld ’n 23-jarige professionele persoon gekonfronteer omdat hy Hindi praat, wat die groeiende "taalmilitantheid" in die stad beklemtoon het. Hierdie botsings onderstreep die kulturele en taalkundige skeidslyne in Bengaluru, ’n stad met ’n beduidende bevolking van trekarbeiders.

6.1.4 KI-wysiging van oproepsentrum-aksente

In Maart 2025 het Teleperformance, ’n wêreldwye oproepsentrumoperateur, die gebruik van KI-sagteware geïmplementeer om Indiese en Filippynse aksente intyds te neutraliseer, met die doel om klanttevredenheid te verbeter. Terwyl die tegnologie poog om kommunikasie te verbeter, het dit debatte oor kulturele egtheid en identiteit ontketen. Kritici voer aan dat die begunstiging van Amerikaanse en Britse aksente die vooroordeel bestendig en die ryk linguistiese diversiteit van lande soos Indië ondermyn.

Hierdie voorvalle weerspieël die voortdurende uitdagings wat Indië in die gesig staar om sy ryk linguistiese diversiteit met nasionale beleide en globale invloede te balanseer.

6.1.5 Oerdoe en Moslem-identiteit in verkiesingspolitiek

Oerdoe word sterk geassosieer met die Moslem-gemeenskap in Indië, deels omdat dit in die 19de eeu die lingua franca van die Moslem-elites geword het en later, in 1947, as Pakistan se nasionale taal aangeneem is. In Indië word Oerdoe dikwels beskou as ’n taal van minderhede, en die politieke dimensie daarvan kom duidelik na vore in verkiesings:

  • Politieke partye soos die Samajwadi Party en All India Majlis-e-Ittehad-ul-Muslimeen (AIMIM) gebruik Oerdoe in veldtogte om Moslem-stemme te lok.
  • Regse groepe beskuldig die regering soms van "Urdu appeasement" as dit Moslem- kulturele regte ondersteun.
  • Hindutva-ideologie ("Hindoe-identiteit") het in sommige streke Oerdoe gemarginaliseer, en skole in deelstate soos Oetar Pradesj en Goedjarat het Oerdoe-onderwys verminder.
7. Slot: Die pad vorentoe

Indië se veeltalige aard is ’n kenmerk van sy identiteit, maar taalspanning bly voortduur as gevolg van ongelyke beleidsimplementerings en kulturele sensitiwiteit. ’n Volhoubare oplossing vereis inklusiewe beleidsbesluite, wat streekskonsultasies en tegnologiese vernuwings behels om taalgelykheid te bevorder. Digitale gereedskap, KI-gedrewe vertalings en gebalanseerde taalbeleide kan help om die kloof te oorbrug, terwyl dit verseker dat taalpluralisme ’n hoeksteen van Indië se demokrasie bly.

In Indië is taal nie net ’n kommunikasiemiddel nie, maar is dit ook ’n ingewikkelde sosiale, kulturele en politieke vraagstuk wat die land voortdurend uitdaag. Die kwessies rondom Hindi, Engels en die streekstale gaan nie net oor die gebruik van woorde nie, maar raak die hart van identiteit, mag en geldeenheid in die land. Indië sal waarskynlik steeds ’n dinamiese en uitdagende debat hê oor die balans van hierdie taalverskeidenheid en die invloed daarvan op die samelewing.


Eindnota

1 Hierdie persentasies verteenwoordig groot getalle sprekers. Soos elders genoem, het Indië China in Maart 2025 verbygesteek as die land met die grootste bevolking op aarde, nl 1 463 000 teenoor 1 416 000 (afgerond).

 

The post Taalgebaseerde spanning in Indië: ’n sosiohistoriese perspektief first appeared on LitNet.

The post Taalgebaseerde spanning in Indië: ’n sosiohistoriese perspektief appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21644

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!