Illustrasiekursus aangebied deur
Mia Oosthuizen, Elizabeth Gunter en Die Breytenbach Galery
Gemotiveer deur die feit dat daar ruimte is vir heelwat meer illustreerders, veral in SA, wat die boek, storie en boekmaakproses ken, word die tweede omvattende en onafhanklike illustrasiekursus hierdie jaar in Suid-Afrika aangebied. Die kursus begin Saterdag 21 Junie 2025, duur 18 maande en bied aan kunstenaars die unieke geleentheid om aan die hand van gespesialiseerde hulp hul illustrasiedrome te bewaarheid.
Die aanbieders:
- Mia Oosthuizen het al meer as 15 jaar ervaring in kinder- en jeugliteratuur en het ’n deeglike akademiese en professionele verstaan van die ingrypende rol wat illustrasies speel. Hiernaas het sy ook gespesialiseer in die illustreerder as tweede skrywer en die noodsaak van die samewerking tussen uitgewer, illustreerder en skrywer.
- Elizabeth Gunter is een van ons land se top kunstenaars wat plaaslik en internasionaal erkenning geniet. Sy was vir meer as 20 jaar verbonde aan die Kunsdepartement van US waar sy leraar, mentor en studieleier vir talle kunstenaars was. Sy is meesterlik in haar vermoë om kunstenaars nie net tegnies, konseptueel en prakties se begelei nie, maar om kunstenaars ook te begelei in die verstaan van kuns as medium waarin jy jou eie stem, betekenis en narratief kan weergee.
- Die Breytenbach Galery op Wellington is ’n kunsgalery met wonderlike fasiliteite. Onder leiding van Anne-Ghrett Erasmus Coetzee, is die Galery ’n bymekaarkomplek van kunstenaars, met fokus op die bevordering en ontwikkeling van plaaslike talent.
Elke kontaksessie fokus op kinder- en jeugliteratuur, kreatiwiteitsoefeninge, tegniese opleiding en tegniese oefeninge. Elke maand kry die kunstenaars ’n opdrag om te voltooi waarop hul individuele terugvoer vanaf Mia Oosthuizen en Elizabeth Gunter sal kry. Elke opdrag werk mee tot ’n finale produk wat byvoorbeeld ’n (woordelose) prenteboek of ’n portefeulje kan wees.
Indien jy nie vir jong kinders wil illustreer nie, is dit nie ’n probleem nie. Die illustrasies waarna gekyk word, sluit onder meer ook in jeugliteratuur en grafiese romans.
Die kostes is R2500 per maand en sluit in:
- Kursusmateriaal;
- Een kontaksessie per maand op ’n Saterdag by die Breytenbach Galery op Wellington.
- Koffie, tee en middagete;
- Persoonlike en deurlopende raad en terugvoer op werk.
Kunstenaars is wel verantwoordelik vir hul eie kunsmateriaal, maar ons begin met wat jy reeds het om onnodige uitgawes te vermy.
Daar is beperkte plek, so moenie wag nie. Stuur drie voorbeelde van jou kuns voor of op 16 Junie 2025 na Mia Oosthuizen (miaoosthuizen@gmail.com) en Elizabeth Gunter (gunter.elizabeth01@gmail.com). Ons kom dan so gou moontlik na jou toe terug.
The post Persverklaring: Illustrasiekursus by die Breytenbach Galery op Wellington begin 21 Junie 2025 first appeared on LitNet.
The post Persverklaring: Illustrasiekursus by die Breytenbach Galery op Wellington begin 21 Junie 2025 appeared first on LitNet.