Suid-Afrika staan op ’n kruispad, en die keuses wat nou gemaak word, sal die land se trajek vir dekades bepaal. Terwyl die winde van verandering aanhou waai, is dit die kollektiewe verantwoordelikheid van burgers, politici en burgerlike organisasies om te verseker dat hierdie winde ’n beter, meer inklusiewe Suid-Afrika inwaai.
In ’n kragtige toespraak getitel “Winde van verandering en die groei van nasionale bewussyn” by die gespreksgroep DINK in die Strand het die uitvoerende hoof van die FW de Klerk-stigting, Christo van der Rheede, die huidige politieke en sosio-ekonomiese uitdagings in Suid-Afrika en die wêreld ontleed.
Van der Rheede het gewaarsku oor die RNE se broosheid en die ANC se “magsug en hebsug” wat sekere beginsels ondermyn. Hy het ook sosio-ekonomiese krisisse uitgelig, soos 59,6% jeugwerkloosheid en 28 miljoen mense wat afhanklik is van toelaes.
Sy toespraak by Sunset Books, geïnspireer deur die historiese “winds of change”-toespraak van die voormalige Britse premier Harold Macmillan op 3 Februarie 1960, het die kompleksiteit van nasionale bewussyn en die politieke omwenteling in Suid-Afrika onder die loep geneem. Van der Rheede se insigte bied ’n skerp blik op die kragte wat die land se toekoms vorm, veral in die konteks van die RNE en die globale winde van proteksionisme, nasionalisme en ekonomiese herskikking.
Van der Rheede het sy toespraak begin deur te verwys na Macmillan se waarneming in 1960 dat die “winde van verandering” wat deur Afrika waai, gekenmerk word deur ’n groeiende nasionale bewussyn wat koloniale strukture uitdaag. Sestig jaar later, het Van der Rheede aangevoer, ervaar die wêreld soortgelyke winde, maar met nuwe dinamika. “Ons sien winde van verandering op globale en plaaslike vlak,” het hy gesê, “van proteksionisme en etnonasionalisme in sommige lande tot ’n opwelling teen korrupsie en swak bestuur in ander.”
In Suid-Afrika is hierdie winde veral kompleks. Die nasionale verkiesing van 2024 het ’n politieke aardverskuiwing teweeggebring, met 52 politieke partye wat deelgeneem het, ’n rekord in die land se demokratiese geskiedenis. Die verkiesing het geen meerderheidsparty opgelewer nie, wat gelei het tot die vorming van die RNE, ’n koalisie van 10 partye wat ooreengekom het om volgens die beginsels van die Verklaring van Voorneme te regeer. Hierdie beginsels sluit respek vir die Grondwet, nierassigheid, deursigtigheid en bewysgebaseerde besluitneming in.
Van der Rheede het die RNE as ’n “redelik suksesvolle” eksperiment beskryf, maar gewaarsku dat dit deur interne en eksterne kragte bedreig word. Die ANC, wat steeds die dominante party in die koalisie is, sukkel om sy “kultuur van magsug en hebsug” af te skud, wat die beginsels van die RNE ondermyn. Hy het gewys op die ANC se neiging om politieke opportunisme te benut, wat spanning met ander partye, veral die DA, veroorsaak.
“Die DA moet vrede maak met die kultuur van politieke opportunisme wat in die RNE heers en leer om dit tot hul voordeel te benut. Die ANC slaag daarin en maak geen geheim daarvan om dit tot hul voordeel te benut nie.”
Hy het voorgestel dat die party die “sirkus van opportunisme” in ’n “dinkskrum van superidees” omskep om dringende nasionale kwessies aan te spreek
Die ideaal is, volgens Van der Rheede, om die politieke opportunisme van kleiner partye in ʼn rigting te druk om die kwessies wat alle Suid-Afrikaners raak, aan te spreek en blywende oplossings te vind.
Die toespraak het ook die skaal van Suid-Afrika se sosio-ekonomiese uitdagings uitgelig. Van der Rheede het statistieke aangehaal wat die omvang van die krisis illustreer: 13,2 miljoen Suid-Afrikaners leef in uiterste armoede, ’n toename van 140 000 in net een jaar. Ten tyde van hierdie toespraak het werkloosheid op 32,1% gestaan, met jeugwerkloosheid (jongmense van 15 tot 24 jaar) by ’n katastrofiese 59,6%. Byna 28 miljoen burgers is afhanklik van maatskaplike toelaes, gefinansier deur slegs 7,9 miljoen persoonlikebelastingbetalers – ’n stelsel wat volgens hom onhoudbaar is.
“Terwyl hierdie krisisse ons land in die gesig staar, is die RNE-vennote besig om mekaar te ondermyn,” het hy gesê. Hy het gewys op interne ANC-strydsituasies, met figure soos adjunkpresident Paul Mashatile en Gauteng-premier Panyaza Lesufi wat die DA uit die RNE wil verdryf ten gunste van partye soos die EFF of MKP. Hierdie magstryd, gekombineer met die ANC se konsultatiewe konferensie later in 2025 en die nasionale konferensie in 2027, kan president Cyril Ramaphosa se posisie verder destabiliseer.
Van der Rheede het Ramaphosa se leierskapstyl as strategies maar afsydig beskryf. “Hy mikrobestuur nie sy kabinet nie,” het hy gesê, en laat geskille eerder deur die RNE se geskilbeslegtingsmeganisme hanteer. Ramaphosa fokus eerder op globale platforms om sy posisie te versterk, soos Suid-Afrika se voorsitterskap van die G20 in 2025. Die G20, wat 85% van die wêreldwye BBP en twee derdes van die wêreldbevolking verteenwoordig, bied aan Ramaphosa ’n kans om homself as ’n globale leier te posisioneer.
Onlangse diplomatieke bewegings, insluitend ’n ontmoeting met die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, en oproepe met Amerika se president, Donald Trump en die Russiese president, Wladimir Poetin, dui op Ramaphosa se pogings om Suid-Afrika se internasionale aansien te versterk. “Hy gebruik hierdie geleenthede om vrede te bewerkstellig, handelsvoordele te beding, en sy vyande binne die ANC te neutraliseer,” het Van der Rheede opgemerk. Die ondertekening van omstrede wette soos die Bela-wet en die Onteieningswet is ook deel van hierdie strategie om sy basis te versterk.
Die toespraak het ook die globale konteks aangespreek, met ’n fokus op die herlewing van nasionale bewussyn in lande soos die VSA en China. In die VSA het Trump se proteksionistiese beleid, insluitend tariewe op 60 lande en meer as 100 uitvoerende bevele, die ekonomiese en politieke landskap hervorm. Van der Rheede het gewaarsku dat hierdie “orkaansterkte” winde vernietigende ekonomiese gevolge kan hê, veral vir verbruikers wat hoër pryse in die gesig staar as gevolg van tariewe.
In China, daarenteen, het die “Made in China 2025”-inisiatief die land as die “wêreld se fabriek” gevestig, gedryf deur goedkoop arbeid, gevorderde infrastruktuur, en ’n hoogs geskoolde arbeidsmag. Dit het gelei tot ’n handelsbalanstekort van byna $300 miljard vir die VSA in 2024, met China, Mexiko en Kanada as die primêre handelsvennote. Van der Rheede het opgemerk dat Mexiko, danksy die USMCA-ooreenkoms, China in 2023 as die VSA se top uitvoervennoot verbygesteek het.
Van der Rheede het sy boodskap afgesluit met ’n oproep aan Suid-Afrikaners om die “kaf van die koring te skei” en die RNE te ondersteun as die land se beste hoop vir stabiliteit en vooruitgang. Hy het beklemtoon dat die Grondwet en die Handves van Menseregte die rigting moet bepaal, nie “winde” van politieke opportunisme, ego’s, of rugstekery nie. “Die herlewing van nasionale bewussyn moet demokrasie, menseregte, en sosiale geregtigheid bevorder,” het hy gesê, “anders loop ons die risiko om agteruit te gaan.”
Lees ook:
The post Winde van verandering: Suid-Afrika se nuwe politieke landskap in fokus first appeared on LitNet.
The post Winde van verandering: Suid-Afrika se nuwe politieke landskap in fokus appeared first on LitNet.