Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21644

Universitêre outonomie: Suid-Afrika, VSA en elders

$
0
0

Die sowat 31 000 universiteite in die wêreld is besonderse en kosbare instellings. By die ingangspilare van een van die oudste universiteite in die wêreld, die Universiteit van Granada in Spanje, staan gegraveer: “Die wêreld word staande gehou deur vier pilare: die wysheid van die geleerdes, die geregtigheid van die grotes, die gebede van die regverdiges en die dapperheid van die onverskrokkenes” (my vertaling). ’n Universiteit – die sanctum santorum van die geleerdes in ’n samelewing – kan gedefinieer word as “’n betreklik outonome instelling vir die bevordering van verskeie vertakkinge van gevorderde onderwys” (sien Wolhuter 2012). Die funksies van ’n universiteit wat uit hierdie definisie spruit, behels onderrig en leer, navorsing, gemeenskapsdiens, vernuwing, bewaring, handhawing en uitbouing van die kultuurskatte van die samelewing en die mensdom, en die uitspreek van maatskaplike kritiek (funksionering as die “gewete” van die samelewing (ibid). Om elkeen van hierdie funksies uit te voer, is outonomie en akademiese vryheid ’n voorvereiste. (Outonomie is geleë op institusionele vlak; die keerkant van die muntstuk, die vlak van individuele akademici en studente, is akademiese vryheid.) Onderrig en leer, byvoorbeeld die soeke na wetenskaplike waarheid as hoogste waarde, kan slegs in ’n atmosfeer van akademiese vryheid plaasvind waar sodanige soeke nie deur buitemaghebbers gekompromitteer of gekontamineer word nie. Die universiteit kan maatskaplike kritiek uitspreek slegs as die uitspreek van sodanige kritiek nie deur voorskriftelikheid van ander partye aan bande gelê word nie.

Die geskiedenis van institusionele outonomie en akademiese vryheid as een van die hoekstene van die universiteit as instelling het ’n interessante oorsprong en geskiedenis, en was teenwoordig by die begin van die eerste universiteit. Die vraag na waar en wanneer die eerste universiteit in die wêreld tot stand gekom het, is ’n moeilike vraag om te beantwoord. Ten minste sowat ’n halfdosyn universiteite in die wêreld maak aanspraak op hierdie eer, en elkeen op goeie argumente. Afhangende van hoe ’n universiteit gedefinieer word, is die Universiteit van Parys ’n sterk aanspraakmaker. Gedurende die hoog-Middeleeue was twee leermeesters, Pieter die Lombard en Abelard, ’n groot trekpleister aan die Katedraalskool wat in die Notre Dame Katedraal op die Isle de France, in die Seinrivier in die hartjie van Parys was. Die studente het in sulke groot getalle na die Katedraalskool gestroom dat die biskop (wat hoof van die katedraal en ook van die katedraalskool was) dit moeilik gevind het om sy klerikale of geestelike pligte te volvoer. Die biskop het toe die studente en leermeesters gevra om weg van die eiland na die linkeroewer van die Seine te skuif en daar met hulle onderrig- en leeraktiwiteite voort te gaan.

Toe hulle eers aan die linkeroewer was, was hulle nie meer onder die konstante en nabye, strenge toesig van die biskop nie, en het vrye denke na ’n kort tyd begin gedy, en dit was nie lank nie of dit het tot wrywing tussen die biskop aan die een kant en die studente en leermeesters aan die ander kant gelei. Toe die biskop probeer om sy gesag weer af te dwing, het die studente en leermeesters na die pous as hoof van die Rooms-Katolieke Kerk geappelleer. Op daardie stadium was Rooms-Katolieke Europa omsingel deur die magtige Islam-ryk. Dié ryk het voortreflike instellings van hoër onderwys gehad, nie net in die Midde-Ooste en Noord-Afrika nie, maar ook in Spanje in Europa. Omdat hy gevrees het vir die oorlewing van die Katedraalskool in Parys, en dat hy so ’n belangrike intellektuele vesting te midde van die Islam-aanslag kan verloor, het die pous die kant van die leermeesters en studente gekies. In 1215 het die pous ’n oktrooi  (edik) uitgevaardig wat die leermeesters en studente vrywaring van die biskop gewaarborg het. Hierdie datum kan as die begin van die Universiteit van Parys beskou word, met dan die waarborg van institusionele outonomie as hoeksteen. Al is hierdie beginsel erg geknou in die Franse hoëronderwysstelsel met die veranderinge wat Napoleon aan die begin van die 19de eeu ingevoer het, het die beginsel bly voortbestaan aan die Europese universiteit. Trouens, met die oprigting van die Humboldt-universiteit van Berlyn in 1810, wat ’n nuwe fase in die Europese universiteitswese ingelui het, het die beginsel nuwe lewenskrag verkry. Die Humboldt-universiteit is op die beginsel van Lehr- und Lernenfreiheit gebou. Die Humboldt-model is in 1876 na die VSA uitgevoer, met die oprigting van Johns Hopkins-universiteit. Uiteindelik het die model na die hele universiteitstelsel van die VSA versprei.

Vanaf (Wes-) Europa en Noord-Amerika het die sogenaamde Westerse model van die universiteit na die res van die wêreld versprei, hetsy as direkte deel van kolonisering, hetsy as deel van die werksaamhede van sendinggenootskappe, hetsy deur die werk van filantropiese (buitelandse hulpverlening) of selfs buitelandse ondernemersaktwiteite, of deur die inisiatiewe van nuut geskepte (onafhanklike) state in die sogenaamde Globale Suide. Laasgenoemde het in die haas om universiteite tot stand te bring nie tyd gehad om inheemse modelle te ontwikkel nie, en het bloot die model wat in die gewese koloniale moederlande bestaan het, as templaat gebruik. Ten spyte van oproepe om verinheemsing en dekolonialisering, bestaan daar eenvoudig (nog) nie ander modelle van universiteite as die historiese (sogenaamde) Westerse model nie. My locus standi in die akademie is die wetenskapsveld vergelykende en internasionale opvoedkunde. Hierdie veld is gebou op die grondstelling dat onderwysinstellings en onderwysstelsels die produk is van hulle maatskaplike kontekstuele vormgewende kragte (sien Wolhuter, 2022). Onderwysstelsels en onderwysinstellings moet aan die eise van hulle maatskaplike kontekste voldoen, en moet in harmonie met die maatskaplike kontekste waarin hulle ingebed is, wees. Onderwysstelsels en onderwysinstellings kan nie summier van een maatskaplike konteks na ’n ander verplant word nie – nie sonder die deeglike verrekening, verdiskontering en akkommodering van kontekstuele verskille tussen die uitvoer- en die invoerkonteks nie. Hierdie grondstelling beteken dan dat die sogenaamde Westerse universiteit nie geskik is vir “buite-Westerse” kontekste, en die maatskaplike kontekste van die sogenaamde Globale Suide in die besonder, Suid-Afrika ingesluit, nie. Maar die taak om universiteitsmodelle vir sodanige kontekste te ontwikkel is nog nie volvoer nie. Op hierdie punt word aan die einde van die meningstuk teruggekeer.

Maar eers moet verduidelik word dat die universitêre outonomie en akademiese vryheid, al was dit nou aan die een kant ’n wesenskenmerk van universiteite, aan die ander kant ook al baie onder druk gekom het. Drie bronne van druk die afgelope aantal dekades moet hier aangestip word. Die eerste was die neoliberale ekonomiese revolusie wat sedert 1990 oor die hele aarde gespoel het, en wat nog steeds nie momentum verloor het nie. Dié revolusie het aan die kragte van die vryemark vrye teuels in die ekonomieë van die wêreld gegee. Meer nog, die beginsels van die vryemarkekonomie, soos die winsmotief, die redusering van die mens tot ’n produksie- en verbruikerseenheid, en die oorbeklemtoning van doeltreffendheid, prestasie en mededinging, is ook in sektore buite die ekonomie, soos die onderwys, insluitende hoër onderwys, ingedra (Wolhuter en Van der Walt 2019). In die universiteitsektor het die neoliberale ekonomiese revolusie onder andere ’n groei in die privaatuniversiteitsektor (insluitende privaatuniversiteite wat uit ’n winsmotief tot stand gebring is) behels. Maar ook in die openbare-universiteitsektor het die inbring van die beginsels van die neoliberale ekonomiese revolusie akademiese vryheid en die outonomie van universiteite geërodeer, onder andere deur die finansierders van universiteite (staat en sakesektor) wat in ruil vir hulle finansiële inset ’n al groter inspraak in die bestuur van universiteite geëis het.

Die Burgerregtebeweging in die VSA sedert die 1960’s en die groei van die leer van multikulturalisme in die sogenaamde Westerse wêreld sedert die 1970’s is twee tendense wat die universiteitsektor sterk beïnvloed het. Die aandrang op die dekolonialisering van onderwys en van universiteite in die sogenaamde Global Suide kan na hierdie twee tendense teruggevoer word. Terwyl baie vir al drie – die Burgerregtebeweging, multikulturalisme en die aandrang op dekolonialisering – gesê kan word, kan die verwording hiervan tot verskynsels soos woke-isme, kansellasiekultuur en aktivisme wat manifesteer in vandalisme, intimidasie, geweld en ander vorme van antisosiale gedrag, die verwerkliking van universitêre outonomie en akademiese vryheid wat in ’n geborge konteks van die vrye uitspreek en rasionele verdediging van menings plaasvind, onmoontlik maak. Hierdie verskynsels verteenwoordig ’n tweede bron van druk op akademiese vryheid en universitêre outonomie.

’n Derde bron van druk op akademiese vryheid en universitêre outonomie in die hedendaagse wêreld is die groeiende tendens van populisme, wat sedert ongeveer ’n dekade gelede in baie dele van die wêreld sigbaar is. Die verskynsels waarmee populisme verbind word, of wat elemente daarvan vorm, soos identiteitspolitiek, etniese of identiteitsmobilisering, fopnuus, onverdraagsaamheid, reduksionistiese denkskemas en persoonlikheidspolitiek, maak eweneens die verwerkliking van akademiese vryheid en universitêre outonomie onmoontlik. Terwyl die mees markante voorbeeld hiervan sekerlik die optrede van Donald Trump in die VSA is, is dit nie moeilik om ander voorbeelde in alle wêrelddele te vind nie.

Oor wat nou deur betrokkenes in die openbare diskoers in onderwys gedoen kan word om hierdie gevaarlike, potensieel vernietigende tendense se eroderende effek op akademiese vryheid en universitêre outonomie te stuit en om te keer, word die volgende aan die hand gedoen. Een sigbare manifestasie van die neoliberale ekonomiese revolusie in die universiteitsektor is die opkoms van internasionale universiteitsranglere wat universiteite — aangevuur deur regerings en deur die ekonomiese magsblok — so naarstig najaag (Wolhuter 2023a, 2023b). Die formules wat deur hierdie internasionale ranglere gebruik word, sluit nie juis maatstawwe van akademiese vryheid en universitêre outonomie in nie. Die internasionale akademiese gemeenskap, gesteun deur ander in die openbare diskoers oor onderwys, wat akademiese vryheid en universitêre outonomie hoog aanslaan, kan op die insluiting van sodanige maatstawwe in die indekse van die internasionale ranglere aandring. So kan ’n gespierde, gesinkroniseerde poging aangewend word om ’n teenkrag teen die erosie van akademiese vryheid en universitêre outonomie te vorm. En so kan ruimte geskep word vir universiteite in die sogenaamde Global Suide, Suid-Afrika ingesluit, om in ’n veilige omgewing ’n universiteitsmodel te konstrueer wat geskik en tot voordeel van die mense en die kontekste van die sogenaamde Globale Suide is.

Bibliografie 

Salajan, FD en TD Jules (reds). 2022. Comparative and international education (re)assembled. Londen: Bloomsbury. 

Wolhuter, CC. 2012. ’n Wêreldklasuniversiteit in Suid-Afrika: ideaal, wenslik, haalbaar, werklikheid, hersenskim? LitNet Akademies 9(2): 284-308.

—. 2022. Fathoming the unexplored. Education in comparative and international education. In Salajan en Jules (reds) 2022.

—. 2023a. Suid-Afrikaanse universiteite in die internasionale wedloop op universiteitsranglere, deel 1: Die opkoms en beoordeling van die verskynsel van internasionale universiteitsranglere. LitNet Akademies, 20(1):313–33. https://doi.org/10.56273/1995-5928/2023/j20n1d3.

—. 2023b. Suid-Afrikaanse universiteite in die internasionale wedloop op universiteitsranglere, deel 2: Die Suid-Afrikaanse geval. LitNet Akademies, 20(1):334–55. https://doi.org/10.56273/1995-5928/2023/j20n1d4.

Wolhuter, CC en JL (Hannes) van der Walt. 2019. Neo-liberalism and the human rights creed: Conflicting forces vying for control of the global education agenda. South African Journal of Education, 39(4):1–12. https://doi.org/10.15700/saje.v39.n4a1834.

Lees ook:

Suid-Afrikaanse universiteite in die internasionale wedloop op universiteitsranglere, deel 1: Die opkoms en beoordeling van die verskynsel van internasionale universiteitsranglere

Suid-Afrikaanse universiteite in die internasionale wedloop op universiteitsranglere, deel 2: Die Suid-Afrikaanse geval

’n Wêreldklasuniversiteit in Suid-Afrika: ideaal, wenslik, haalbaar, werklikheid, hersenskim?

 

 

The post Universitêre outonomie: Suid-Afrika, VSA en elders first appeared on LitNet.

The post Universitêre outonomie: Suid-Afrika, VSA en elders appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21644

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>