Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21644

Radio 786 se Barakat-program: ’n onderhoud met Fatima Allie

$
0
0
Die LitNet-insetsel is deel van Radio 786 se maandelikse Barakat-program.
Barakat, met Fatima Allie, word aangebied in samewerking met die Afrikaanse Taalraad en LitNet.
Tasneem Daniels gesels met haar.

Wanner Aunty Fatima haa Barakat-program begin met “alle danke en lof kom tot Allah, die Barmhartige, die Genadiger”, voel ek ôse Kaapse Malay ancestors se approval. Alhamdulilah! Aunty Fatima het oek ’n award gewen mettie Western Cape Cultural Affairs Awards 2023, onner’ie category “A project that promotes South African sign language or the marginalized indigenous language of the Western Cape” vi haa advocacy vi Afrikaans. Mashallah! Lees mee: https://d7.westerncape.gov.za/assets/departments/cultural-affairs-sport/cultural_affairs_awards_2023_booklet.pdf

Fatima Allie het niks bekendstelling aan LitNet nodig’ie. Sy is baie dinge vi baie mense innie Cape Muslim Suid-Afrikaanse community, ve’al ’n radio feature in ôse huise deurie jare. Alhamdulilah! Vi my is sy ’n champion of note waarie Cape Muslim Afrikaans vernacular is concerned, en my dramaturgloopbaan. Sy is oek iemand wat my Mamma Allah Ra’gam (oo’lede), wat in Februarie 2025 maningal’t, innie prime van haa liewe in Walmer Estate gekennit. By extension is sy oek ’n source of stories vi my Mamma se familie, stories waa’aan ek vasklou!

Innie spirit vannie komende Jeugmaand en Labarang Hajj, die Cape Muslim Afrikaans terme vi Eid-ul-Adha, “die twiede Labarang innie Kaap”, waa ôs Hajj commemorate, die vyfde pilaar in Islam, het ekkie hidaayat (inspirasie) gekry ommet Fatima Allie te gesels. Lees mee hie onner:

Aunty Fatima vra altyd vi mense oo ôse asl – ôse “komvandaan”. My Mamma Allah Ra’gam (oo’lede) se komvandaan en Aunty Fatima s’n is amper’ie selle – ’n Bo-Kaap, Walmer Estate en District Six combo! Hoe het hierrie drie iconic plekke vi Aunty Fatima se personality oorie jare ge-shape?

Baie tramakassie (dankie) vir die geleentheid. Alle lof kom aan Allah alleen toe. Wat ’n kombo, soe wragtiewaar! Ons het die beste van alles gehad. Die ikoniese Bo-Kaap waar ons stamouers begrawe is en waar geskrewe Afrikaans ontstaan het. Walmer Estate met die mooiste views en die Azavia Masjied (moskee). In 1966, my geboortejaar, word die onvergeetlike District Six tot ’n wit gebied verklaar, as gevolg van die Groepsgebiedewet van apartheid. Hierdie gebeurtenis het my kinderjare verander. As die oudste van agt kinders, sewe meisies en een seun, was ek vyf jaar oud toe ek begin skool loop by George Golding Primary School in District Six. My skoolvriende van District Six en Drydocks was uit hulle huise gegooi en ek konnie verstaan hoekom hulle net van ons skool af verdwyn het nie. Toe die huise van District Six en Avalon Bioscope afgegooi was, as kind was ek 10 jaar oud, maar dit was fascinating om te sien hoe die wrecking ball die huise platgeslaan het. Min het ek geweet wat dit eintlik bedoel het, dat mense uit hulle huise en gemeenskap geskop was en op die Cape Flats gegooi was! Families was uitmekaargeskeur; dit was onmenslik! Die pyn en seer is nog steeds daar.

Toe ek Harold Cressy High School bywoon en meer oor die politieke situasie by ons skool leer, het ek toe eers verstaan wat met my skoolvriende gebeur het in die naam van apartheid. Islam leer ons om mooi saam te leef en apartheid was iets leliks en onnatuurliks en iets in ons siel het ons laat verstaan dat apartheid verkeerd was. Met my sterk Islamitiese geloof, my familie en die onderrig vanaf ons onderwysers by Harold Cressy High School, het ons opgestaan teen die apartheidregime. Ons het ge-boycott en ge-protest, maar nooit boeke of skole afgebrand nie! My ideology was ge-shape deur my geloof, my skooljare in District Six en my UCT-universiteitloopbaan. Justice before peace – geregtigheid voor vrede!

Aunty Fatima is oek’ie PRO van Nakhlistan. Sê vi ôs mee oo Nakhlistan, Aunty Fatima se journey met hierrie organization, mettie founder Shukoor Mowzer, hulle programs en warrit bedoel om ’n PRO van ’n network soes hierrie een te wies.

In April 2005, toe ek Radio 786 verlaat na 10 jaar van radio-uitsending, het die wyle Shukoor Mowzer, stigter van Nakhlistan, my gebel en gevra om Nakhlisten se PRO, Public Relations Officer, te word. Ek het baie van Nakhlistan geweet, want toe ek by Radio 786 was, het ek Nakhlistan as my community organization gekies en ge-promote op Radio 786. Daar was net ’n instant connection met myself en Nakhlistan. So dit was amper ’n natuurlike move towards Nakhlistan, en 20 jaar later is ek nog steeds by Nakhlistan.

As ’n nie-winsorganisasie, en sonder staatsbefondsing, depend Nakhlistan op besighede en die gemeenskap. Die flagship activity van Nakhlistan is ons Eid-ul Fitr Cooking waar ons 186 x 130lt potte kos op houtvuur kook om oor die 95 000 van die needy (behoeftiges) te voer op die dag van Labarang. Hierdie celebration van Labarang kom 29 of 30 dae na Moesliem Puasa (Vas). Nakhlistan het uitgebrei na Muharram Cooking (Islamitiese Nuwejaar) en ook Moulood Cooking (in viering van die geboorte van ons Profeet Muhammad, Peace Be Upon Him). Nakhlistan het ook sopkombuise wat ons weekly service dwarsdeur die jaar. Ons het ook ’n Burial Service. So in essence, Nakhlistan groei met ons gemeenskap. Wanneer daar natural disasters, soes flooding of tornados of brande uitbreek, help Nakhlistan die gemeenskap waar ons kan. Die einde van April hierdie jaar, toe die Tokai-vuur verwoesting veroorsaak het, het Nakhlistan 2 x 130lt potte kos gekook vir ons helde, die fire fighters om baie tramakassie te sê. Ek geniet dit geweldig om die PRO van Nakhlistan te wees, want ek is betrokke in alle aspekte van die organisasie. Ek is die spokesperson, die social media en website content producer. Ek antwoord al die e-poskommunikasie en is verantwoordelik vir al ons advertensies. Ons website www.nakhlistan.org.za het meer inligting oor al ons activities.

Ôs beweeg narrie heilige tyd van Hajj, die maand van Thul Hijjah oppie Islamic calendar en Labarang Hajj innie Kaap. Gie vi ôs lesers ’n summary van hierrie heilige tyd op ’n religious en cultural level, en wattie woo’de Labarang Hajj bedoel. En wat was Aunty Fatima se favourite memories van Labarang Hajj van kleins af?

Hajj (pilgrimage) is die vyfde pilaar van Islam. ’n Moesliem moet ten minste een keer in hul leefheid gaan Hajj. Wanneer ’n Moesliem dit kan bekostig om te gaan Hajj, moet hulle gaan Hajj. Nie almal kry die geleentheid om te gaan Hajj nie, maar wanneer die geleentheid jou tref, is dit iets wonderliks! As Moesliem maak ons Duah (supplications) van kleins af om te gaan Hajj. Daar is nou ’n proses op SAHUC (South African Hajj and Umrah Council) se website om jouself te accredit vir Hajj. So wanneer jy jou notification van accreditation kry, is dit ’n wonderlike gevoel. Jy groet jou familie en vriende en dit is ’n baie emotional greeting. Dit begin met: As Allah my vergun, dan gaan ek Moeshaafier na die Baytullah (travel na Makkah). Families kom bymekaar om te eet en mekaar te groet en vra om Duah te maak vir ammal. In Kaapstad is daar ’n unique tradition wanneer ons die Hujjaaj gaan groet. Ons gee ’n Slaawat, ’n envelope met geld in. Hierdie tradisie is unique in die Kaap! Hajj is ’n rebirth en moenie lig ge-treat word nie. Dit is life altering en dit maak jou ’n beter persoon. My suster, Hajir, gaan vanjaar Hajj Ma Shaa Allah, en ons het decide om ’n Hajj meet and greet te het in ’n hall. Dit was amper soes ’n bruid waar ammal die familie en vriende vir haar kom groet het. Dit was regtig wonderlik!

Na die verskillende rituals wat die Hujaaj ondergaan op Miena, Arafaat en Musdillifah, gedurende die dae van Hajj in Makkah, Qurbaan ons op Labarang Hajjie. Die Qurbaan (sacrifice of lamb, sheep, ox or goat) van die diere moet menslik uitgevoer word. Labarang Hajjie is ons tweede Labarang en dit is ’n dag van viering. As kind kon ons nie mooi verstaan hoe die slagting van ’n skaap deel van Labarang Hajjie was nie. Ons wil net gaan Slamat vi Labarang sê sodat ons ons Labarang geld kan kry en met ons niggies en niefies kan speel! Toe ons ouer word, het ons besef hoe belangrik die Qurbaan is vir onsself en die gemeenskap. Die Qurbaan is ’n spiritual re-birth. Die vleis word mooi skoongemaak en uitgedeel met familie, vriende en die gemeenskap. Hierdie jaar vind die Hajj gedurende die eerste week van Junie plaas.

Aunty Fatima was oek station manager op ’n tyd by Radio 786 (100.4) in Kaapstad, en nou is Aunty Fatima’rie host vannie Barakat-radioprogram op ’n Sondag, 17:00–18:00, ’n Afrikaanse program in samewerking mettie Afrikaanse Taalraad en LitNet. Sê vi ôs mee oorie program ennie highlights vannie program oorie jare. En hoekô is Barakat ’n Afrikaanse woo’d?

Vanaf 1995 tot 2005 was ek deel van Radio 786. Dit was ’n wonderlike tydperk in my lewe. Ek het begin as ’n aanbieder en geleer hoe om nuus te lees, hoe om te edit, hoe om te produce. Ek was ’n programming manager, ’n outside broadcast manager, ’n marketing manager en ook ’n general manager. Net ’n correction. Ek was nie ’n station manager nie, maar die general manager. Na 10 jaar se radio-uitsending het ek besluit om die radio te los, maar ek het nog steeds ’n relationship met Radio 786. Soes ’n mens nou aangaan in jou jare in, vra jy jouself verskillende vrae. Doen ek genoeg vir my gemeenskap? Wat kan ek nog doen om ’n verskil in mense se lewens te maak? Ek besef toe dat ek myself sien as ’n taal- en kultuuraktivis. Afrikaans is my moedertaal. Lutfia Vayej, ’n familievriend, het my introduce aan die Suidoosterfees. Ek het na dit betrokke geraak met die SBA (Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans). Dit is deur Niel le Roux van die SBA dat ek weer my Afrikaans gevind het. Hy, Marlene le Roux en die SBA het my ge-nominate om deel van die Afrikaanse Taalraad te word en deur hierdie twee organisasies het ek besef ek moet Afrikaans terug huis toe bring en Barakat, ’n Afrikaanse program op Radio 786, was gebore.

Barakat beteken blessings en in die Kaapse Maleise gemeenskap is ’n Barakat, ’n “doggy bag met blessings”. Dit is ’n “take away with blessings”, wat mense huis toe neem na ’n event. So Barakat as die naam vir die program is vir mense om te luister na die program en ná die program vat hulle wat hulle geleer het huis toe, dan deel hulle dit met familie en vriende. Barakat word die eerste Sondag van elke maand uitgesaai op Radio 786 in samewerking met die Afrikaanse Taalraad en LitNet. Op Barakat praat ons gemaklike Afrikaans. Barakat laat die luisteraar van Radio 786 gemaklik en trots voel oor Afrikaans, onse Afrikaans waarmee ons grootgeword het.

Afrikaans is ons lewende erfenis. Afrikaans is onse moedertaal en ons moet trots voel oor die taal en ons stamouers wat Arabiese Afrikaans ontwikkel het. Elke Barakat-program is ’n highlight vir my, want al die guests praat met sulke passion oor Afrikaans en wat Afrikaans vir hulle beteken. Maar wat my hart regtig trek, is ons jeug, van wie jy, Tasneem Daniels, deel van is, wat Afrikaans vorentoe gaan neem, solang lewe!

Ameen Insha’Allah, Aunty Fatima! Ôse Barakat-themed Puasa (Bahasa is Indonesian virrie Arabiese term Ramadaan) calendars sit nog altyd mashallah op ôse fridges innie kombuis, met reminders vannie woo’de waamee ôs (of ôse ouers) grootgewôd het – puasa, labarang, trawee, waktoetyd, sower. Sê vi ôs mee oo hierrie calendar collaboration, wie was involved innie Arabies en Malay in Afrikaanse translations en aan wie wassie calendars gegie?

Die Ramaldaan Waktoetye calendars is regtig ’n keepsake. Die tema vir Barakat hierdie jaar is: Bring Afrikaans terug huis toe! Veral gedurende die maand van Ramadaan (Puasa) gebruik die Kaapse Moesliems Arabiese en Maleise Afrikaans. Conrad Steenkamp van die Afrikaanse Taalraad het in een van ons Bosberaad-vergaderings ’n suggestion gemaak vir ’n Ramadaan-kalender. So hierdie jaar by die Spar Cape Town Ramadaan and Lifestyle Expo, in samewerking met Radio 786, het ons hierdie calendar ge-launch.

Ramaldaan Waktoetye, a 1446/2025 calendar deur’ie collaborators vannie Barakat-program

Ons het vir Boorhaanol Publishing, wat die Boeka Treats publish, gevra of hulle ons kan help om ’n Afrikaanse Ramaldaan Waktoetye-kalender bymekaar te sit. Ons het Mogamat Alexander se boek The Cape Muslim vernacular including Dictionary of loanwords in the Cape Muslim vernacular ook in hierdie calendar ge-include. Baie tramakassie aan Mogamat Alexander en Abdul Muhaimin en span van Boorhaanol Publishing wat dit ’n werklikheid gemaak het, deur die mercy van Allah. Ons het die Ramaldaan Waktoetye calendars far and wide gedeel by die Spar Cape Town and Ramadaan Lifestyle Expo. Van Masiete in die Kaap, Touwsrivier, Piekterberg, Malmesbury, Bo-Kaap, Salt River, Wynberg, Mitchells Plain, Athlone, Islamic Skole, LitNet en Lidorganisasies van die Afrikaanse Taalraad. Ons het net 5 000 gedruk, maar die digital copy is available op die Afrikaanse Taalraad en die Arabies-Afrikaans se sosiale media-bladsye.

Een ding wat ek admire, is Aunty Fatima se understanding vannie value of succession ennie rol vannie youth innie future van Afrikaans, ve’allie Cape Muslim Afrikaans vernacular. Sê vi ôs lesers wat kan hulle expect oppie Barakat-program (1 June) in Jeugmaand in Suid-Afrika?

Baie tramakassie, Tasneem, vir die mooi woorde. Islam leer ons van die belangrikheid van succession. Dit is deel van ons planning for the future. Ons moet altyd fokus op wie gaan oorneem van ons. Volgende jaar, in Shaa Allah (Godgewillig), word ek 60 jaar oud. Ek is al ’n ouma en dit is tyd om die aflosstokkie aan die jonger geslag te oorhandig. Darem raak ek so excited oor jouself, Tasneem Daniels, Abdu Daiyyaan Petersen en Ameer Adams, wat so opgewonde is oor Afrikaans. Julle is sulke old souls en dit maak my hart baie bly om te sien hoe die jeug ownership vat van onse Afrikaans met passion en purpose! Junie is Jeugmaand en op Barakat, die 1st Junie 2025, wil ons graag vir julle drie op Barakat feature, as aanbieders en gaste terselfdertyd. Ek wil graag sien hoe julle drie met mekaar interact om te wys hoe die jeug Afrikaans terug huis toe bring!


Fatima Allie: ’n kort profiel

Fatima Allie is die oudste van agt kinders. Gebore in die Bo-Kaap, grootgeword in Walmer Estate en skoolgegaan in Distrik Ses.

Gegradueer aan UCT met BSocSC, met hoofvakke in Sielkunde, Sosiologie en Sosiale Antropologie. Sy het 10 jaar van radio-uitsaaiwese-ervaring en sien haarself as ’n taal- en kultuuraktivis.

Sy is ’n kommunikasiebestuurder en bied tans Barakat aan, ’n Afrikaanse program op Radio 786 in samewerking met die Afrikaanse Taalraad en LitNet.

Sy is die PRO van Nakhlistan, ’n NPO wat die behoeftiges in die Wes-Kaap voed. Sy bied ook humanitêre ondersteuning waar sy ook al kan, al is dit in Kaapstad of in die buiteland.

Fatima is 58 jaar oud, ’n ma van vier kinders en ouma van twee kleinkinders.

Afrikaans is haar moedertaal!

Luister en lees ook:

LitNet-insetsel op Radio 786 se Barakat-program: LitNet se Skole-afdeling (LitNet Akademies)

LitNet-insetsel op Radio 786 se Barakat-program: die jaar wat was en die jaar vorentoe

Barakat-program: ’n onderhoud met Marlene le Roux en Tasneem Daniels

#opdielug met Ivan Ndevu

LitNet is #opdielug!

Cape Town Ramadaan & Lifestyle Expo 2018: ’n onderhoud met Fatima Allie

Die Bo-Kaap: my erfenis

 

The post Radio 786 se Barakat-program: ’n onderhoud met Fatima Allie first appeared on LitNet.

The post Radio 786 se <i>Barakat</i>-program: ’n onderhoud met Fatima Allie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21644

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>