Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21831

Onderwys se begrotingsprioriteite

$
0
0

Michael le Cordeur (foto: verskaf); klaskamer (foto: Pexels)

Noudat dat die begroting uiteindelik goedgekeur is, neem Michael le Cordeur die vrymoedigheid om 10 onderwysprioriteite voor te stel.

Inleidend: die begroting

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het met sy hersiene begrotingsrede bekendgemaak dat die totale begroting vir basiese onderwys vir 2025–26 altesaam R349,5 miljard bedra. Dit is R100 miljoen minder as die R349,6 miljard wat in die verwerpte begroting toegeken is en ongeveer 6% van ons land se BBP – heelwat meer as die res van die wêreld se 4,4%. Wêreldwyd spandeer regerings ’n beduidende deel van hul begroting aan onderwys omdat die verwagting is dat dit dividende sal lewer wat hulle lande se baat.

Die vraag is – soos aan my gestel tydens die onlangse KKNK – of die belastingbetaler waarde vir sy geld kry as ons die insette met die uitsette vergelyk. My antwoord is “Nee”. Ek gee toe dat die regering nie álles gelyk kan doen nie. Maar as ek myself in die skoene van die Minister van Basiese Onderwys kon stel, sou ek 10 begrotingsprioriteite voorstel.

  1. Puttoilette

Ons het goed gevaar sedert ek in 2019 die eerste keer geskryf het oor die 3 372 skole met puttoilette (Netwerk24, 19/03/19). Daarvoor moet ons vir Angie Motshekga bedank. Tans kom puttoilette nog net voor in KwaZulu-Natal (40 skole) en in die Oos-Kaap (100 skole). Dit maak dus nie sin dat die Oos-Kaapse Departement van Onderwys in 2024 bykans R500 miljoen van sy begroting aan Tesourie teruggegee het nie. Met daardie geld kon hulle die probleem van puttoilette finaal opgelos het. Dit getuig van ’n gebrek aan politieke wil om kinders se waardigheid en selfrespek te respekteer deur hul reg op ’n veilige toilet te erken.

Dit is daarom verblydend dat die SAFE-inisiatief (Sanitation Appropriate for Education) hulpbronne kon mobiliseer en dat verskeie sakemanne bygedra het om onveilige toilette in skole te vervang. Dit bewys net weer dat daar baie Suid-Afrikaners is wat die nuwe Suid-Afrika wil laat werk. Daarom sou ek as ’n eerste prioriteit finaal wegdoen met puttoilette. Ons durf nie toelaat dat nóg ’n Michael Komape in ’n puttoilet sterf nie.

...........
Daarom sou ek as ’n eerste prioriteit finaal wegdoen met puttoilette. Ons durf nie toelaat dat nóg ’n Michael Komape in ’n puttoilet sterf nie.
...............
  1. Onderwysers

Salarisse van onderwysers beloop 76% van onderwysdepartemente se begrotings. Besnoeiings het die laaste paar jaar provinsiale departemente onder geweldige druk geplaas. Die Wes-Kaap moes sowat 2 400 onderwysposte oortollig verklaar. Onderwysers was nog altyd die belangrikste komponent van enige onderwysstelsel. Aristoteles het gesê elkeen wat sy skoolloopbaan onthou, onthou sy onderwysers. Dit is vir ’n kind irrelevant of hy onderrig word volgens die UGO-benadering of die KABV-beginsels. Hulle onthou wel die onderwyser wat na skool tyd saam met hulle op die oefenveld spandeer het; wat hulle naweke en vakansies vergesel het na musiekopvoerings; wat as pa opgetree het vir die kind wat sonder ’n pa grootgeword het. 

Ek verwelkom dus die bykomende R19 miljard wat bewillig is om sowat 11 000 onderwysers landwyd in die klaskamers te hou. Hou in gedagte dat die geld net vir drie jaar is en dus nie genoeg om ’n volhoubare oplossing te bied nie. Maar dit is ’n begin.

  1. Klaskamers

As die uitspraak van ’n regter van die Hooggeregshof ernstig opgeneem word (toe hy aangedui het dat die Hoërskool Overvaal vol is omdat elke klas 35 leerling het soos voorgeskryf), is bykans 80% van alle skole in Suid-Afrika “vol”. Sommige is selfs oorvol, omdat dié skole baie meer as 35 leerlinge per klas het. Dit beteken honderde skole moet gebou word en ons weet die land het nie nou die geld daarvoor nie.

...........
Die vraag is hoe gemaak om die dringende tekort aan skole aan te spreek. Ons moet prioritiseer deur elke jaar ’n paar skole per provinsie te bou.
............

Die vraag is hoe gemaak om die dringende tekort aan skole aan te spreek. Ons moet prioritiseer deur elke jaar ’n paar skole per provinsie te bou. Die Wes-Kaap gaan byvoorbeeld 29 skole in die volgende drie jaar bou. Die kabinet moet die proses nou monitor om ’n herhaling van die Oos-Kaap-gebeure in 2024 te voorkom.

  1. Onderwyserassistente

Dit wil dus voorkom asof ons minstens vir die afsienbare tyd op oorvol skole aangewese sal wees. Die las van die onderwysers wat hiermee moet worstel, moet egter aangespreek word. Hulle word nie méér betaal om hierdie ondankbare taak te doen nie. Die aanstel van onderwyserassistente bied ’n oplossing. Dit word reeds met vrug elders in die wêreld en in sekere provinsies gedoen. Die Wes-Kaap bestee byvoorbeeld vanjaar R113 miljoen om 4 370 assistente aan te stel as deel van hul BEEI (basiese-onderwys-indiensnemingsinisiatief). Nie net verlig dit die taak van onderwysers nie, maar dit skep ook werk vir jeugdiges.

  1. Graad R

In ’n vorige artikel het ek breedvoerig uitgewei oor graad R wat nou verpligtend is. Graad R is baie lank afgeskeep in Suid-Afrika, en ons pluk nou die wrange vrugte daarvan. Deur R10 miljard oor die volgende drie jaar beskikbaar te stel vir vroeëkinderontwikkeling is ’n stap in die regte rigting. Ek is opgewonde om te verneem dat die Wes-Kaap R845 miljoen gaan bestee om graad R uit te brei. Die subsidie word verhoog van R17 tot R25 per kind, wat egter steeds nie genoeg is nie, maar die bykomende fondse sal gelyke toegang tot gehalte-onderwys aan 700 000 meer kinders bied. Dit is vir my ’n pluspunt.

  1. Norme en standaarde

Enigeen wat ’n skoolhoof is of was van ’n kwintiel 1- tot kwintiel 3-skool, soos ek, weet hoe belangrik die norme-en-standaarde-toewysing vir die skool is. Hierdie skole is te arm om skoolfonds te hef en is volledig van staatshulpbronne afhanklik. Die nasionale norme en standaarde vir skoolfinansiering word jaarliks deur die minister bepaal. Dit gee duidelike instruksies waarvoor die geld aangewend mag word, soos handboeke, skryfbehoeftes, munisipale dienste en instandhouding. Tans werk dit uit op R1 672 per leerling per jaar, of R8 per dag per kind. Dit is steeds baie min, maar daarsonder kan arm skole nie oorleef nie. ’n Verhoging sal verwelkom word.

Juis daarom skrei dit ten hemele dat die Oos-Kaapse onderwysdepartement een derde van verlede jaar se norme-en-standaarde-toewysing (R890 miljoen) weerhou het – in ’n provinsie waar die armste skole met die meeste puttoilette voorkom. Pogings van Fedsas dat dié provinsiale departement moet verduidelik waarom hierdie geld nie bestee is nie, was tot nou vrugteloos. Dis genoeg om van enige begroting ’n bespotting te maak.

  1. BackOnTrack-program

Die Covid-grendeltyd het gelei tot ernstige leerverliese in skole se leer-en-onderrig-programme. Die Wes-Kaap bestee vanjaar R322 miljoen aan hul BackOnTrack-program en die program toon reeds beduidende vordering in wiskunde in graad 9 en tale in graad 3. Alle provinsies behoort te begroot vir inhaalprogramme wat ons nader sal bring aan die internasionale standaarde vir geletterdheid, wiskunde en wetenskap. 

...........
Alle provinsies behoort te begroot vir inhaalprogramme wat ons nader sal bring aan die internasionale standaarde vir geletterdheid, wiskunde en wetenskap. 
.............
  1. Voedingskemas

Geen kind kan op ’n leë maag leer nie. Sommige leerders moet die huis al in die vroeë oggendure verlaat en etlike kilometer stap om by die skool te kom. Leerders se toegang tot basiese voeding is in die Grondwet gewaarborg. Daarom is voedingskemas ingestel waar skole nie oor ’n koshuis beskik nie. Dit is egter nie naastenby genoeg nie. ’n Nasionale studie oor inkomstedinamika (NIDS) wys op toenemende gevalle van hongersnood onder leerders.

  1. Leierskapsopleiding

Ek het reeds melding gemaak van belangrike besluite wat geneem moet word in die bestuur van ’n skool. Dit vereis sterk leierskap, maar nie alle skoolhoofde en beheerliggame is hiervoor opgelei nie. Voorts word die beheerfunksies van die beheerliggaam dikwels verwar met skoolbestuur wat die taak is van die skoolhoof en sy bestuurspan. Een van my onaangename take as kringbestuurder was om konflik tussen ’n skoolhoof en die beheerliggaam te besleg. As die beheerliggaam en die skoolhoof in harmonie saam werk, is sukses gewaarborg. Die regering behoort meer geld in leierskapsopleiding te belê. Dit sal ons miljoene rande bespaar.

  1. Skoolsport

Omdat ek self rugby en krieket gespeel het, en 18 jaar betrokke was by die administrasie van skolesport, het ek groot waardering vir dié deel van die kurrikulum, waarvan die waarde dikwels onderskat word. Die wanpersepsie bestaan dat die kurrikulum slegs die akademie, klasse en eksamens behels. Franklin Bobbitt het reeds in 1918 na die kurrikulum verwys as ’n kursus van ervaringe wat akademie, kultuur én sport insluit. Sport is ’n meganisme vir die kind se holistiese ontwikkeling. Jy leer dat alles nie net om wen gaan nie – verloor is deel van die lewe. Daarom behoort sport en kultuur deel van elke skool se begroting te wees.

  • Michael le Cordeur is emeritus professor in Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en ’n onderwyskonsultant.

Lees ook:

Top matriekuitslae ≠ beste onderwysstelsel

VVA-Leeskonferensie: "Elke kind wil lees"

Menseregtedag 2025, belangrike dae in die onderwys – en hoe onderwysers se regte soms geskend word

The post Onderwys se begrotingsprioriteite first appeared on LitNet.

The post Onderwys se begrotingsprioriteite appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21831


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>