
Nelandi Boshoff (foto: verskaf)
Yolanda du Toit praat met Nelandi Boshoff oor die Suidoosterfees-produksie, Hoek, lyn en sinker.
Jy is een van Suidoosterfees se NATi Jong Sterre. Hoe voel dit om te help skep aan die platform en ontwikkeling van jong talent?
Natuurlik is dit ’n absolute eer. Ek meen, hierdie platform het al vir soveel skrywers ’n plek in die industrie gemaak. En nie net word jy as opkomende kunstenaar die geleentheid gebied om jou storie lewe te gee en te deel met mense nie, maar jy ontmoet en word stap vir stap gelei deur ervare mense wat alles vir jou moontlik maak. Sonder Suidoosterfees, NATi Kunste en die Jakes Gerwel Stigting en Lee-Ann van Rooi, sou ek heelwaarskynlik jare gevat het om hierdie kabaret op die planke te sit en sou ek heelwaarskynlik nooit met Karli Heine en Roland du Preez kon werk nie en sou ek heelwaarskynlik nooit myself as skrywer sien nie. Die industrie kan vreesaanjaend wees vir jong kunstenaars, maar die NATi Jong Sterre-program het elkeen van daardie vrese weggejaag. En daarvoor sê ek dankie.
Hoe het jy by NATi Jong Sterre betrokke geraak?
Ek weet nou al ’n rukkie van hierdie projek en wou nog altyd betrokke wees, maar ek het gevoel ek is dalk nog nie gereed nie. En toe sê ’n medeskrywer en vriendin vir my dat mens nooit gereed is nie en dat ek net moet inskryf met die storie wat ek reeds het, ten spyte van die uitkoms. En toe, wraggies, was dit die beste uitkoms moontlik. Daarom is ek onmenslik dankbaar teenoor beide my vriendin en die paneel wat geglo het in my en my storie.
Jy is saam met vier ander jong dramaturge gekies vir deelname aan die NATi Jong Sterre-projek 2024 en jou teaterproduksie debuteer by die Suidoosterfees. Waar kom jou liefde vir stories vandaan?
Ek is eintlik onseker waar my liefde vir stories vandaan kom. Ek dink nie ek het ’n liefde vir stories soseer as wat ek liefde het vir karakters nie. Ek hou van karakters skep waarna iemand kan wys en sê: “Ek ken hulle.” Al is ’n karakter heeltemal fiksioneel, moet iemand hulle herken. En dit kom neer op woordeskat, dialek, spraakpatrone, sê-goed, gebare, houdings, gesigsuitdrukkings, postuur, ensovoorts, wat alles saamwerk om ’n spesifieke individu uit te beeld. Ek is mal daaroor om al daardie dinge in ag te neem wanneer ek ’n karakter skryf.
Wat inspireer jou stories?
Om eerlik te wees, ek kan op my een hand tel hoeveel stories ek al klaargeskryf het. So, nie baie nie. Maar inspirasie vir my lê in my eie ervaringe van die lewe, sowel as dié van die mense wat ek teëkom in my lewe. Ek hou van stories wat jou empatie en die manier waarop jy mense oordeel uitdaag. Stories waar jy sukkel om kant te kies en tot ’n slotsom te kom. En ek hou van ernstige sake neem en op ’n belaglike manier benader. Want op die ou einde van die dag leer jy baie van jouself en die mense rondom jou wanneer jy saam met almal lag; wanneer jy die enigste een is wat lag en wanneer jy die enigste een is wat nie lag nie.
Waaroor handel Hoek, lyn en sinker?
Hoek, lyn en sinker is ’n coming of age-eenvrouvertoning-kabaret wat handel oor ’n jong vrou, nou in haar finale jaar op universiteit. Deur die loop van die toneelstuk ontmoet die gehoor haar as spermsel en leer haar ken as babatjie, as kleine dogtertjie, as tiener, as die jong vrou wat sy vandag is en laastens as haar ma. Haar ma is ’n deurlopende stem in haar kop en maak dus menigte kere haar verskyning as karakter op die verhoog. Hoe sy grootgemaak is en hoe sy die lewe aanpak staan egter in teenstrydigheid met mekaar en daar is skuldgevoelens, veral teenoor haar ma en God. Die gehoor aanskou dus deur middel van sketse en opnuut-besoekte trefferliedjies die karakter se gewilligheid om herhaaldelik deur die skuiwergate van haar geloofstelsel te val.
Is dit oorspronklik geskryf met die idee dat dit ’n kabaret sou wees?
Ja, ek het met die konsep vorendag gekom toe ek ’n eenvroustuk moes skryf as my finale eksamen, toe ek besig was met my Drama (honneurs) in Kabaret by die Universiteit Stellenbosch.
Is daar punte waarmee die gehoor sal kan identifiseer?
O ja. Ons almal moes grootword, ons almal moes al een of ander tyd in een van die lewe se slaggate trap en ek is byna doodseker ons almal het al gevoel ons stel iemand na aan ons teleur.
Karli Heine en Roland du Preez gee lewe aan jou karakters. Hoe voel dit?
Al wat ek gaan sê, is dit stel my gerus. En dit is ’n absolute eer dat hulle ingestem het om hierdie projek ook as hulle s’n aan te neem.
Dra Karli die teks oor soos jy in gedagte gehad het?
Niemand sal ooit iets oordra presies soos jy dit in gedagte gehad het nie. En dis wat dit so wonderlik maak. Want wat jy in gedagte gehad het, is dalk nie heeltemal wat die teks vereis nie. En ek het tot dusver net die voorlesing van my teks gesien en dis eintlik maar net ’n druppel in die emmer. Maar bygesê, ek was baie tevrede met daardie voorlesing, so ek kan my net indink hoe briljant die finale produk gaan wees. Karli is ’n uitstekende aktrise en sangeres wat altyd die ekstra myl sal gaan. Daarom kan ek nie wag om die show vir die eerste keer te beleef saam met die gehoor nie.
Het jy enige verdere insae/betrokkenheid in/by die kabaret?
Ek is glad nie betrokke by repetisies nie. Ek het wel na die New Voices-voorlesings ’n paar klein veranderinge aangewend nadat ek Roland en Karli geraadpleeg het. Sedertdien is dit nou heeltemal in hulle hande en ek kan maar net ontspan, want my werk is klaar vir eers.
........
Op die ou einde wil ek hê die gehoor moet huis toe gaan en besef dat ons almal kan bekostig om bietjie meer genadig te wees teenoor ons geliefdes. Nie almal dink soos jy nie. Nie almal het dieselfde vrese as jy nie. Nie almal leer lesse soos jy nie.
........
Hoe voel dit om ’n aktrise te wees, maar nie in jou eie produksie op te tree nie en dit oor te laat aan Karli en Roland?
Dit was aanvanklik ’n vreemde gevoel, aangesien hierdie projek ontwikkel is vanuit ’n eenvroustuk wat as my finale eksamen gedien het toe ek my honneurs in Kabaret gedoen het by die Universiteit Stellenbosch. Dit het vereis dat ek moes skryf en optree en ek was op beide beoordeel. Maar om terug te staan en om slegs op skryf te fokus was baie voordelig, nie net vir my nie, maar ook vir die teks. Ek skryf nie vir myself en my vermoëns nie en dus word daar geensins onbewustelike perke gestel nie. Ek skryf net en iemand anders tel die papier op en vertolk dit wat daar staan vanuit hulle perspektief, lewenservaring en vermoëns. So word nuanses en nuwe insigte uit die teks ontlok en ek dink dis ’n merkwaardige ding. Dis waarom ek ook glad nie betrokke is by repetisies nie. Bygesê, dit het my ook forseer om “finaal” te skryf. As ek self in dit gespeel het, kan ek jou waarborg die teks sou met elke repetisie aangepas word. So, ek moes laat gaan en laat staan. Dis iets wat ek móés leer.
Jy en Roland du Preez, wat die regisseur is, gee lewe aan die kabaret. Is hulle ook te sien in die produksie en wat is hulle rol/wie is hulle karakter?
Roland is regisseur, maar hulle begelei ook Karli Heine wat die rol van Marijke vertolk op klavier. Hulle is ’n briljante musikant en dit maak net sin dat hulle ook hierdie rol inneem.
Wat sou jy graag wil hê moet die gehoor saam met hul huis toe neem?
Op die ou einde wil ek hê die gehoor moet huis toe gaan en besef dat ons almal kan bekostig om bietjie meer genadig te wees teenoor ons geliefdes. Nie almal dink soos jy nie. Nie almal het dieselfde vrese as jy nie. Nie almal leer lesse soos jy nie.
Lees ook:
’n Onderhoud met Nelandi Boshoff, een van Suidoosterfees se NATi Jong Sterre
Persverklaring: Gratis teater stel Suidoosterfees NATi Jong Sterre bekend
The post Suidoosterfees 2025: Hoek, lyn en sinker – ’n onderhoud met Nelandi Boshoff first appeared on LitNet.
The post Suidoosterfees 2025: Hoek, lyn en sinker – ’n onderhoud met Nelandi Boshoff appeared first on LitNet.