
Foto: Canva
Tom Jones in Parys
“Mens moet nie ’n reünie ligtelik opneem nie.” (R Mugabe, Bulawayo, 24 Oktober 2008)
“Hulle” sê dat as mens op ’n dieet gaan, jy kos moet eet wat knars – sagte kos word nie deur jou brein as kos geregistreer nie. Maar dan kom Nestlé en bedonner jou redenasie met ’n Milky Bar wat ’n geluid maak. Maar daaraan dink ek net vlietend toe ek met my kar voor die stoep stop en ek die geluid van die klippies onder my voete hoor. Net so vlietend is my gedagte aan my sportdae, met ’n slank en lenige figuur. Nou het ek ’n kussinkie wat veg teen my jean, wat sommer nou van Woolworths kom en nie meer ’n Levi is nie.
Ek is spyt dat ek nie ’n kollega se aanbod aanvaar het om sy SLK te leen nie. Nie net sou dit dalk my klasmaats beïndruk het nie, maar omdat dit ’n afslaankap is, sou die dakliggie nie so kwaai op my bles skyn met die oopmaak van die deur nie.
Op die stoep maal die mense rond. Die lig skyn selfversekerd en spontaan deur die vensters. Die mense, my klasmaats, maak elegante skaduwees. Dit laat my dink aan ’n toneel in Out of Africa, waar Meryl Streep en Robert Redford op ’n stoep dans. Die fliek se musiek was sad, die Green Gables s’n – nie toé nie.
Ek hoor ’n bekende laggie. Niks het verander nie. Sy wil Boney M se “Brown girl in the ring” hoor. Iemand anders, ek dink nie sy weet dat ek weet nie, wil “Nights in white satin” hoor.
Soos ek teen die trappe uitklim, kyk ek teen die lig in en kan nie dadelik die eienaar van die eerste hand wat na my uitgestrek word, herken nie. Dan sien ek dis Pieter, met ’n haarstyl wat anders is en ook ’n groter grootte as wat ek onthou. Dit pla my bietjie, want ek sou graag die langste op die paartie wou wees. Die Rolling Stones sing mos “You can’t always get what you want”.
Dan, om Raka aan te pas, “die vroue het hom tweede gewaar”. Daar is die usual suspects: eerstens, natuurlik, Riana, dan Elize. Dan die “J’s” – Juanita, Jackie en Jorika, dan die “A’s” – Annette en Anneke. Ek is bly om hulle te sien en besef dan dat homecoming, waarvan die Amerikaanse flieks altyd praat, eintlik ’n baie nice en akkurate beskrywing is.
Die groet aksie presenteer egter ’n klein tot medium grootte dilemma. Moet jy soen op die lippe, of delikaat ’n pik op die wang(e) plaas, die familieding doen? Die drukkie-deel is nie dubbelsinnig nie – mens staan eenvoudig soos ’n leer, waar net die boonste dele raak. Tot my ontsteltenis sien ek dat my tydgenote se liggame baie goed tred gehou het. My rekord van 12 blikkies Coke per dag het skielik nie meer na ’n prestasie gevoel nie. Later daag Gerrit op, onkreukbaar soos altyd.
Nog later staan ek en ’n sekere brunet en bespiegel hoekom party mense nie gekom het nie; mense wat ons gedink het na aan die vuur was. Sing Bruce Springsteen tevergeefs van “The ties that bind”?
Ek groet Christoffel en onthou ’n klein beige Datsun (voor dit Nissan geword het) wat ons een aand mee rondgery het, na kerk, en gaan milkshake drink het by ’n roadhouse wat nie meer bestaan nie. As ek reg onthou, was die album Hot August Night van Neil Diamond toe ’n treffer. “Sweet Caroline” Sondagaand in Schilbachstraat.
Op die tafels staan kos, keurig voorberei, keurig ten toon gestel. Maar ek eet niks. Die skielike intense aandag gee my ’n rush wat kos uit my gedagtes verdryf. Vir ’n amptelik geklassifiseerde introvert is soveel interaksie ’n skok op die sisteem.
Op ’n stadium stamp ’n ander brunet liggies aan my en sê: “Wat doen jy?” Ek skrik myself yskoud, want ek het intussen besef dat nie net my jean nie, maar ook my binnebroekie én my kouse by Woolworths gekoop is. Wat ’n verleentheid! Ek wil nog sê: “Ja, maar ek dra darem Cats van Edgars,” maar sy was klaar weg. ’n Dubbel whisky, sonder soda, het gehelp om die skok te verwerk.
Tussen die versnaperings deur het ek en Riana gou-gou die land en rugby se probleme uitgesorteer – ook vir Luke Watson.
“Hulle” sê mos ook jy het net een groot liefde in jou lewe. Na die naweek sou ek dink mens moet eintlik die eerste aand van so ’n byeenkoms die kwaaiste kuier, want die lekker van die weersiens kom eintlik net een keer – die eerste keer.
Op pad terug ry ek by die kleuterskool van juffrou Schutte verby en besef dat ek saam met party mense vir 13 jaar was. Jene, dit dra mos gewig? Of is dit net naïewe romantiek? Ek onthou die dag toe ons gehoor het dr Verwoerd is dood. Selfs as kleuters het ons onrustig geword.
Steeds op pad terug besef ek ook dit gaan die eerste keer in my lewe wees wat ek moet betaal om in my geboortedorp te kan slaap.
In een of ander straat naby Schuttestraat (waar my oupa-hulle gebly het – vandag is daar baie tralies voor die vensters) was die huis waar, ek dink haar naam was Susan Taylor, gebly het (sy is later Johannesburg toe). Óf daar, óf by Hennie Coetzee se huis, het ek my eerste garage paartie bygewoon. Dan dink ek aan treffers soos “Love Hurts”, “Crimson and Clover”, “Hippy Hippy Shake” en die uitputtende “Radar Love” (was hy nege minute lank?). Natuurlik wou almal met “Cry to me”, die sogenaamde close dance, ’n nice girl kry – praat van vraag en aanbod. Die neonligte het ook mos klere wit gewys, ons harte was (toe?) ook so. O ja, ook “The locomotion” en “Let me roll it”.
Terug in my kamer het die gesigte en gesprekke rondgemaal en het ek gesukkel om aan die slaap te raak. Ek besluit toe om, in pleks van skape tel, my te verbeel ek ry met ’n binneband van die feesgronde af tot by die Mimosa-tuine. Dit laat my slaap tot halfagt. Ek is rusteloos en vat dus weer die band tot in die Mimosa-tuine, en slaag daarin om tot negeuur te slaap. Om eerlik te wees, en mens moet seker eerlik wees, kon ek nie wag vir tienuur nie.
By die skool is dit showtime, folks.
Ek kyk regs en sien die dubbelverdiepinggebou, hoor meneer Streicher se stem: “Wimpie, jy het soveel potensiaal” wat my destyds so ’n warm gevoel om my hart gegee het. Maar hy het my nog steeds gebliksem, aldus het ek ’n tweede warm gevoel gekry!
Ek groet my gabba, Eddie. Hy het een keer my lewe gered, en dit sonder enige formele noodhulpopleiding. In standerd vyf het ek naamlik een keer met ’n wiskundetoets vir meneer Potgieter by hom ’n antwoord afgekyk (Kathleen, ek weet ons moet dit nog bespreek). Ek dink die toets het oor GGD’s gegaan – meneer Potgieter het, om ons te help om dit te onthou, van Groot Gert Dannhauser gepraat. Tydens die toets het ek geweet die antwoord is ’n bekende boer in die distrik, maar ek is nie goed met name nie, en Eds moes help.
Saam het ons die oorgang van HF Verwoerd aangepak. Raar maar waar, het ons twee sagmoediges dikwels met die rateltaaie juffrou Oberholster gebots. She just got to us. Waar het sy die krag vandaan gekry om ’n rottang so te buig? Ek en Eddie was rooms in Bloem en het seker tussen ons, met behulp van twee reuse- wit en groen erdebekers (ek dink hulle was R4,99 by Checkers), ’n halwe ton Ouma-beskuit opgeëet.
In die hoek is die kamer waar die kadettoerusting gebêre was. Dan was daar ook mos haarinspeksie op Woensdae – wat sou mens gee om weer hare te hê, lank genoeg om konflik met die owerhede te ontlok?
In die ander hoek is die klas waar ons Afrikaans by meneer Theron gehad het. Hier het – en ek weet nou is nie ’n goeie tyd om na Engels oor te slaan nie – die urban legend van die gatvel ontstaan. Tot vandag toe hou plaaslike inwoners vol – laat in die nag, in donker kroeë, na ’n potjie snoeker, met sigaarrook wat dik en blou hang – dat selfs ’n bekende professor van Potchefstroom eenmaal daar deurgeloop het. Is dit waar? Hoe sal mens ooit weet? Zorro rides again.
Ons sit in mevrou Strong se klas. ’n Baie interessante aspek wat ek opmerk, is dat die banke met die jare gekrimp het, want nou druk dit my vas. Daar was mos ’n meneer Coetzee, aka Gatiepie, ’n Woody Allen look alike. Ek verbeel my daar was ’n storie dat een van die matriekseuns hom eenkeer aan sy baadjie agter die deur opgehang het. Is dit waar? Hoe sal mens ooit weet?
Ons drink koeldrank, eet pikante lekkernye met “Klas van 78” op en vat ’n baie lang pouse – vir die eerste keer word ’n aangename aktiwiteit nie deur die klok onderbreek nie.
Ek kyk na meneer Schreuder se klas, onthou hoe hy eenkeer baie moeite gedoen het met ’n geskiedenistaak. Hy het Pretoria toe gery en vir ons klomp boeke gefotostateer (in watter jaar het fotostate ingekom?) vir gebruik in die taak. Ons moes vreemde woorde soos “ibid” in die voetnote gebruik. Vir die eerste keer was “op cit” nie iets lekkers nie. Glo my vry.
Om die draai was die Wessel Steyn-saal. Daar het ons ons standerd ses-vertoning gehad. Op daai stadium was die treffers onder andere “Pretty Belinda”, “Carol OK” en “Free Electric Band”. Jare later, as ’n eerstejaar op Kovsies, sou laasgenoemde weer prominent word in my lewe – met sokkies met dameskoshuise. Ek onthou ook veral een volkspeleaand wat ek met Laura gedans het en hoe lekker dit eintlik was. Jammer dit is nie meer dikwels gedoen nie. Eenkeer by Laura se huis het ons na David Bowie se “Sorrow” geluister. Tot vandag toe is dit vir my mooi. Is dit die Bybel wat sê hartseer is goed vir die hart?
In die ander hoek van die vierkant was meneer Nel. Ek onthou die oggend toe hy ons vertel het dat Elvis dood is. Herstel mens ooit van so ’n skok? Meneer Nel het nog die dag ’n ligblou safaripak aangehad. Ek onthou ook dat sy aardrykskundenotas in so ’n aanmekaar tikskrif was. Isobare, siklone en tifone – miskien moes ek tog maar harder geswot het. Met sy rottang het hy ook dikwels Gert en ek se agterstewes van laag- na hoogdrukareas laat beweeg. Teen die muur – onthou ek reg? – was daar ’n bordjie met ’n rympie van Langenhoven op wat sê dit is die beste as ’n vuurtjie met entoesiasme sy werk klaarkry.
Aan die tennisbane se kant was meneer Claassen se klas. Ek kon nie die naam van ons voorgeskrewe boek onthou nie, maar Jaco het op ’n stadium die naam gesê. Oor dié boek sê Wikipedia:
The Sea Hawk is a novel by Rafael Sabatini, originally published in 1915. The story is set over the years 1588-1593, and concerns a retired Cornish sea-faring gentleman, Sir Oliver Tressilian, who is villainously betrayed by a jealous half-brother. After being forced to serve as a slave on a Spanish galley, Sir Oliver is liberated by Barbary pirates. He joins the pirates, gaining the name “Sakr-el-Bahr”, the hawk of the sea, and swears vengeance against his brother.
Ek onthou ook nog toe hy, askies, ek bedoel Meneer, vir ons Herman Charles Bosman se A Bekkersdal Marathon voorgelees het. Tot vandag toe vir my ’n uitstekende skrywer. Ek onthou ook hoe hy vir ons die present perfect tense of so iets verduidelik het aan die hand van “Come and lay down by my side” – uit Kris Kristofferson se “Help me make it through the night”.
Dan is daar, soos die Engelse sê, “The small matter of …” Een jaar het ek en Juanita en Pieter en Riana en Theodor na ’n jeugkongres van die Nasionale Party in Bloemfontein gegaan, saam met meneer Claassen. Almal sê altyd hoendervleis – o ja, my been was in gips – gaan so goed saam met witwyn. Dit is onwaar. ’n Leë bottel witwyn raas baie meer as ander drankbottels. Veral as ’n minister praat. Hierdie klein misverstand, wat eintlik maar net jeugdige onkunde was, het egter ’n nadraai gehad. Maandagoggend, net na ons hierdie stukkie dialoog gelees het, ek sal dit nooit vergeet nie, waar een van die karakters gerook het:
I see you have acquired that filthy habit.
I have known filthier.
That I by no means doubt.
Ek en Theodor moes na klas bly. As ek hier skryf, begin my handpalms sommer sweet. In elk geval, daar is ’n wanopvatting dat Skype ’n onlangse uitvinding is. Meneer Claassen het ek en Theodor minstens drie keer met ’n bamboes geskype sonder dat die lyn opgebreek het. Die klank was regtig suiwer.
Oorkant die paadjie was meneer “Moos” Marais. Een aand het ons mos toktokkie by sy huis gespeel. Toe hardloop hy een van ons in en sê: “Toe bulletjie, gee die name, gee die name.” Ek onthou hoe hy altyd vir my gesê het: “Toe Albertsie, trek ’n streep onder daai syfers anders val hulle op jou kop.” Tot vandag toe is dit vir my ’n relatiewe funny opmerking.
Saterdagaand was lekker. Sondag sad.
It’s good to touch the green, green grass of home.
The post Tom Jones in Parys first appeared on LitNet.
The post Tom Jones in Parys appeared first on LitNet.