
Die ware avonture van Adelie en Riley: Die amadidas en Die ware avonture van Adelie en Riley: Swembadmonster deur Felicia Snyman-Du Toit (Uitgewer: Lapa)
Titel: Die ware avonture van Adelie en Riley: Swembadmonster
Skrywer: Felicia Snyman-Du Toit
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780637001335
Titel: Die ware avonture van Adelie en Riley: Die amadidas
Skrywer: Felicia Snyman-Du Toit
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780637001359
Meer oor die reeks:
Adelie se beste maat is haar Boston Terriër-hond, Riley. Riley hou van speel en hy kry gereeld die zoomies. Hy los ook groot STINKbomme! Vir Adelie en Riley is daar geen grense aan die avonture wat hulle beleef nie. Die agtertuin verander in ’n wêreld waarin daar allerhande monsters en vreemde kreature wegkruip ...
Soms kom daar ’n boekreeks in jou lewe in wat jou laat lag, jou laat onthou hoe dit voel om ’n kind te wees en jou herinner dat verbeelding en werklikheid baie maklik inmekaar kan vloei – veral as jy ’n hond soos Riley in jou lewe het.
Ek het twee titels, Swembadmonster en Die amadidas, van Felicia Snyman-Du Toit se Die ware avonture van Adelie en Riley-reeks gelees. Ek het dit kort op mekaar gelees (dalk te kort, maar meer daaroor later) en dit was soos om twee avontuurlustige kinders dop te hou. Kinders wat net soveel sin maak as wat hulle absolute chaos saai.
........
Ek het begin met Swembadmonster, en reg van die eerste bladsy af het ek geweet hierdie boek verstaan kinders.
........
Swembadmonster: vol humor en menslikheid

Die ware avonture van Adelie en Riley: Swembadmonster deur Felicia Snyman-Du Toit (Uitgewer: Lapa)
Ek het begin met Swembadmonster, en reg van die eerste bladsy af het ek geweet hierdie boek verstaan kinders. Daar is iets ongelooflik eg daaraan hoe Adelie reageer toe sy die “monster” in die swembad sien – sy hardloop nie heldhaftig daarop af nie, sy hardloop reguit na haar ma toe. En as gevolg van die skok, laat sy ’n wind – iets wat ’n mens dalk sou verwag in ’n komedie, maar hier werk dit. Want kinders doen dit. En dit voel reg. Dit voel menslik.
Riley se stem is ’n hoogtepunt. Duidelik, slim en met net die regte hoeveelheid sarkasme, vang hy jou aandag en laat jou hardop lag. Ek’s mal oor sy tergende manier van praat – dit dra baie by tot die humor van die boek, sonder om ooit neerhalend te wees. Dis humor met hart.
“Dit sal nie werk nie. Jy is nie baie sterk nie. Ek kan jou ompluk wanneer ons toutrek speel.” (bl 31)
Dis snaaks, maar dit wys ook iets van Riley se verhouding met Adelie – daar’s liefde onder die terg.
Die amadidas: lekker om jou weer te sien, Riley!

Die ware avonture van Adelie en Riley: Die amadidas deur Felicia Snyman-Du Toit (Uitgewer: Lapa)
Die amadidas bring weer ’n ander avontuur en ’n baie lekker storie. Ek het dit onder ’n uur gelees en gedink: Yay, Riley se persoonlikheid het behoue gebly.
Albei boeke
Die stem van die volwasse verteller kom hier en daar bietjie deur by albei boeke. Party woorde of sinne laat my wonder of dit iets is wat Adelie rêrig sou sê of dink:
“Sê die mens wat hardop met ’n hond sit en gesels.” – (bl 9 in Swembadmonster)
En:
“Adelie se brein werk oortyd en sy trek haar voorkop op ’n plooi, soos sy frons.” – (bl 7 in Die amadidas)
Dit ruk my vir ’n rukkie uit die kind se wêreld. Adelie is slim, ja, maar sekere woorde, soos redeneer (bl 7 in Die amadidas), voel te formeel vir haar ouderdomsgroep en hoe sy in die algemeen praat.
Herhaling
Wat my opgeval het, is dat sekere beskrywings – soos die huis wat as ’n plek van avontuur beskryf word, Adelie en Riley se verhouding, of die skoorsteen wat lyk of dit rookseine stuur – herhaal word tussen die twee boeke, amper woord vir woord. As ’n leser wonder ek dan of die stories baie kort ná mekaar plaasvind, en of dit dalk net gemaklike herhaling is.
Adelie en Riley: ’n span om van te hou
Wat ek baie waardeer in albei boeke, is dat Adelie nie wag dat iemand haar probleme oplos nie. Sy probeer self – dit wys haar groeiende onafhanklikheid. Al werk alles nie altyd perfek uit nie, is daar altyd ’n leergeleentheid, en soms net ’n lekkerlag-oomblik.
.......
Hierdie is lekkerleesboeke vir die jong ouderdomsgroep: propvol avontuur en verbeelding. Ek kan die stemme hoor soos wat ek dit lees.
.......
Dan is daar Riley, die hond met soveel persoonlikheid dat jy hom byna kan hoor praat. Hy’s stout, wys en soms sommer net ’n bietjie sarkasties. Ek love dit. Sy teenwoordigheid bring nie net humor in nie, maar ook balans vir die erns waarmee Adelie die avonture benader.
Hierdie is lekkerleesboeke vir die jong ouderdomsgroep: propvol avontuur en verbeelding. Ek kan die stemme hoor soos wat ek dit lees.
Ja, party volwasse sinne en woorde glip in, maar hierdie twee karakters het in my hart gekruip. Ek wil graag sien wat Adelie volgende aanpak. Ek weet daar is nog boeke in die reeks, maar ek dink sy sal ’n fantastiese seerower maak.
Kortom: snaaks, menslik, verbeeldingryk. Ek sal beslis weer saam met Adelie en Riley ’n avontuur aanpak.
Lees ook:
Cliff-hanger: Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout – ’n resensie
Cliff-hanger: Joha van Dyk het haar siel in haar woorde vasgeskryf
Leesstof vir die skoolvakansie! Speurhond Willem in Japan: ’n onderhoud met Elizabeth Wasserman
Goue lint, my storie begint: Watter boeke koop ek vir my gretige of sukkelende kinderlesers?
Goue lint, my storie begint: Die effek van lees op kinders se breine
The post Cliff-hanger: Die ware avonture van Adelie en Riley deur Felicia Snyman-Du Toit – ’n kinderboekresensie first appeared on LitNet.
The post Cliff-hanger: <em>Die ware avonture van Adelie en Riley</em> deur Felicia Snyman-Du Toit – ’n kinderboekresensie appeared first on LitNet.