Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21802

'n Deurrit

$
0
0

“’n Deurrit” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

’n Deurrit

Ek het die ligte bewing van Lisa se vingers op my gewrig gevoel toe sy stadig hurk om die blomme op die grafsteen te lê. Ek kon die trilling teen my arm op tot in my skedel voel beweeg. Sy het ’n hele ruk so gebly. Ek kon haar kopvel effe deur haar ligbruin hare sien. Die skadu van ’n wolk het stadig oor ons geskuif. Ons was soos verlore siele in daardie verlate plek op daardie asvaal agtermiddag. In die pad langs die begraafplaas het motors stadig vanaf ’n verkeerslig gery.

Ek het die name op die grafsteen gelees asof dit ’n vreemde taal was: Jan Botha, Anna Botha, André Botha ... Waar daar so maklik “Lisa Botha” kon gestaan het, is die blink marmer genadiglik die graveerder se beitel gespaar. Ek het verwonderd teruggedink aan daardie gebeurtenis op die plaasdorp, vyftig jaar gelede.

Daar was daardie groefies op Mammie se voorkop terwyl sy haar hande by die wasbak afvee en skuins na my kyk. Haar bekommerde kyk. Sy kon duidelik nie verstaan waarom die nuus van die ongeluk my so ontstel het nie.

“’n Chevy het Mammie gesê?” Mammie het lewensmoeg gesug. “Ja, kind, wat maak dit tog nou saak watter soort kar dit was? Dis tog vreemde mense wat hier deur die dorp gery het.” Daar het ’n hol, verskrikte gevoel oor my gekom. “’n Gróén Chevy, sê Mammie?” Mammie se senuwees was gedaan. Sy het nie die tyd of lus vir onnodige vrae gehad nie. “Ag kind, wat kerm jy soos ’n kat met maagpyn! Gaan kyk tog net vir my wat daarbuite aangaan!”

Ek het nie buite toe gegaan nie, maar op Daddy se skryftafel na die koerant gaan soek. Daar was ’n beriggie oor ’n kar wat twintig myl of so buite die plaasdorp, op pad stad toe, gerol het. ’n Man, ’n vrou en hul seuntjie is dood. Hul dogtertjie het oorleef. Ek het opgekrul op my bed gaan lê. Ek was elf jaar oud.

Die vorige dag het die son gesê “tieng!” toe ek, kaalvoet en kaal bolyf, by die Pillays se koel kafeetjie instap om ’n creme soda en niekerbols te koop. Mister Pillay het die bottel met ’n klik-en-suis-geluid oopgemaak. By die deur moes ek my oë knip teen die son.

In die straat het ’n groen Chevy langs my stilgehou. Hulle was wit mense wat ek nie geken het nie. Die drywer was ’n fris man met ’n weglê snor. “Is daar dalk ’n tiekieboks hier naby?” wou hy weet. Die man se diep stem het my laat skrik. Hy het half moerig na die vrou langs hom en na die kinders op die agterste sitplek gekyk. Hulle was ’n seun en ’n dogter van omtrent my ouderdom. Die dogter het gevra: “Wat is jou naam?” Nog voordat ek kon antwoord, het die seun geantwoord: “Hy sal nie verstaan nie!” Die dogter het hom speels op die arm geklap. “Hy sál! Jy kan mos sien hy’s ’n kleurling!” Die kinders het mekaar gekielie en uit hul kele uit gelag. “Ag nee! Gedra nou vir julle!” het die ma geraas.

Hittegolwe het op die vaal, hobbelrige teer gebewe toe die Chevy om die draai verdwyn. Daar was ’n onaardse stilte.

Lisa se vingers het stadig uit myne geglip en dan weer bewerig vatplek probeer kry. Ek weet nie of sy gebid het nie, maar dit het so gevoel. Ek weet ook nie of sy geluidloos gehuil het nie. Ek weet net dat, toe sy uiteindelik haar hand fermer uitsteek en ek haar bewend orent trek, daar in haar oë ’n uitdrukking was wat so diep was, so verwyderd, dat dit my verslae gelaat het.

Toe daardie klop aan my deur gekom het, het dit so doodgewoon geklink. Na die vertrek van die kinders en die dood van my vrou was ek al lank genoeg op my eie om nie te sit en wag dat iemand anders die deur oopmaak nie. ’n Lig van kleur vrou met ’n skamerige glimlag het voor my gestaan. Sy was van middelmatige lengte en net ’n raps aan die mollige kant. Sy was geklee in ’n liggrys broekpak. Om en by sestig, het ek geskat.

“Vernon Bruintjies?” Sy was nie ’n lig van kleur bruin vrou nie. Sy was wit. Dit kon ek hoor die oomblik toe sy haar mond oopmaak.

“Dis korrek, ja.”

Met dié dat ek half verdwaas daar gestaan het, moes sy self vra: “Mag ek maar inkom?”

“Ja, kom gerus binne. Jammer dat ek jou in die koue laat staan.”

“Dankie. Nee wat, dis in die haak. Dis ék wat moet jammer sê omdat ek sommer uit die bloute hier opdaag.”

“Ag nee wat, dis oukei. Jy sou my nie kon kontak nie. Ek is die afgelope ruk van die lug af nadat my foon gesteel is.”

Sy het effe ongemaklik gestaan. Toe steek sy skamerig haar hand uit.

“‘Skuus, ek is Lisa Botha. Ek is ’n kunsonnie by Shades, hier om die draai. Ek ry amper elke middag hier by jou huis verby.”

“Dis mos ’n private skool met klein klasse?”

“Ja, dank die vader tog!”

Ek het gaan tee maak en toe ek terugkom, staan sy by die boekrak.

“Ek sien jy’s nogal ’n ou vir die Sestigers.”

“Ja, deur daai ouens se boeke kon ek nogal ontsnap uit die bedompige kampies van destyds. Hulle het my laat asemhaal.”

“Maar wag, ek staan hier en klets en neem jou waardevolle tyd in beslag. Meneer Bruintjies ...”

“Ag, noem my sommer Vernon.”

“Goed ... Vernon,” sê sy toe effe onseker.

“Vernon, jy wonder seker waarom ek hier is ...”

Sy het haar sak oopgemaak en ’n dunnerige boek te voorskyn gebring.

Met ’n wye glimlag hou sy toe die voorblad na my uit. Dit was my nuwe novelle.

“Ek was laas week by die bekendstelling. Ek moes ongelukkig vroeg loop en daar kry ek toe nie die geleentheid om jou handtekening te kry nie.”

Ek het geteken en die boek aan haar teruggee. Sy draai dit toe na die agterblad en kyk lank daarna. Toe sy weer opkyk, was daar ’n vreemde uitdrukking in haar oë. Dit het ’n gevoel gelaat, ’n soort atmosfeer geskep waarin ’n mens diep geheime sou kon deel.

“Vernon, daar is iets wat ek net nie uit my gedagtes uit kan kry nie en jy is dalk die enigste een wat vir my ’n antwoord het.”

Ek het in afwagting na haar gekyk.

“Ek sien hier op die agterblad dat jy as kind op Ellisrus gebly het.”

“Ja, ek het. Maar waarom sou dit jou interesseer? Dis mos maar ’n asvaal ou plekkie.”

Haar oë het effe geblink. Sy het stadig gepraat.

“Ek was as kind saam met my hele gesin in ’n ongeluk buite die dorpie. Ek het hulle almal verloor.”

Ek het na haar gestaar. Die omringende geluide van verkeer en die stemme van mense buite was in die lang oomblikke van stilte buitengewoon luid.

Ek het na my hande sit en kyk en toe ek opkyk, gaan sy voort.

“Ek het vir twee weke of so in die hospitaal gelê sonder dat enige iemand vir my gesê het my mense is dood. Ek moes hoor hulle sterk almal in ’n ander hospitaal aan. Hulle beserings was glo erg maar hulle was buite gevaar.” Haar oë het opgedam en ek het ’n snesie aangegee.

“My pa het op daardie skroeiende dag gestop en ’n seuntjie in die straat nader geroep ... Hy was die laaste ander mens met wie ons voor die ongeluk gepraat het.”

Ek het lank stil na die vloer sit en kyk. ’n Verandering in haar stemtoon het my laat opkyk.

“Nou is ek bang om jou te vra ... Was jý daardie seuntjie?”

Ek was verstom.

’n Swaar stilte het gehang.

“Wás dit jy?”

My stem was hees toe ek na ’n ruk vra: “Hóé het jy geweet?”

“Wel, daar is ’n toneel in jou boek wat my laat wonder het. Ek het dit oor en oor gelees en gevoel dit lees so werklik dat die skrywer dalk so-iets moes beleef het.”

“Jy’s reg. Dit wás ek.” My eie stem het vir my vreemd geklink.

“So, ons ken mekaar eintlik al jare?”

“Ja.”

Ons was ’n rukkie stil.

“Kan jy nou meer.”

“Ja, nè?

“Weet jy, Vernon, ek kon ná hulle begrafnis vir maande aan niks anders as hulle dink nie. Dis eers jare later dat ek vaagweg die bruin outjie in die pad begin onthou het. En dat hy nie die kans gehad het om sy naam te sê nie ... Weet jy, ek voel soms nogal skaam dat nie een van ons eens omgekyk of selfs vir jou gewaai het daai dag nie.”

My oë het teen die mure rondgetas.

“Ek dink soms julle het my, op ’n manier, saamgeneem op daai rit. Dit voel soms vir my asof ek ook in daai ongeluk was. Dat dit ons twéé was wat oorleef het ...”

“Live to fight another day, soos die Engelsman sê.”

“Nee, meer ’n geval van leef om ’n ander dag vrede te maak.”

“Met die noodlot en die verlede.”

“En met wie ons is.”

“En was.”

Ek het vir ons ’n glasie gaan skink en toe ek gaan sit, sê-vra sy onverwags: “En wie ís ons? Wie wás ons? Hoe, byvoorbeeld, was jou verhouding met die wit mense op die dorp daai tyd?”

“Jong, dis nou vir jou ’n mondvol wat ek daarop moet antwoord. ’n Enkele straat het ons van die wit mense geskei. Aan ons kant het die swart en bruin mense saamgebly. Smiddae was ons ’n mengelmoes van seuns wat in die straat sakkiebal-rugby gespeel het. Dit was net wanneer ons mekaar op straat in die geselskap van grootmense raakgeloop het, dat ons in verskillende wêrelde was.”

“Ek vra die vraag omdat ek in jou werk geen bitterheid raaklees nie. Ek bedoel nou oor apartheid.”

Ek het gesug en geglimlag. “Weet jy, ek dink dit kom van my pa af. Hy was ’n lekeprediker van die sagter soort. Een wat die Christelike boodskap nie bloot gepreek het nie, maar gelééf het. Op sy bedkassie was daar, langsaan die Bybel, ook die versamelde preke van die Amerikaanse prediker en burgerregte-aktivis, Martin Luther King jr ... jy weet, die ou van I Have A Dream?”

“Ja, ek onthou daardie foto van sy uitgestrekte liggaam op die balkon nadat hy geskiet is.”

Ek het stadig geknik en kon myself skaars hoor prewel.

“A tough mind and a soft heart.”

Sy het half-vraend na my gekyk.

“My pa se gunsteling-King-aanhaling.”

“Jou pa moes ’n interessante mens gewees het.”

“Ja, hy was. Hy was die hoof van ons skool. En as daar nou een ding is wat ek jou omtrent hom kan vertel, is dit dat hy nooit, maar nooit die huis verlaat het sonder dat jy hom deur ’n ring kon trek nie. Die hoed met die veertjie langs die kant, die perfek geknoopte das, die grys pak, die blink gepoetste skoene en die Zobo-horlosie wat aan ’n kettinkie van sy lyfband af hang. So was hy elke dag aangetrek, al was dit ook net om die entjie winkel toe te stap.”

“’n Regte ouwêreldse jintelman dus?”

“Die beste wat jy kon kry.”          

Ek het ’n teug gevat en agteroor geleun.

“Weet jy, hy was nederig in sy handel en wandel met mense, maar hy het ook ’n diep trots gehad.”

Ek het my volgende woorde versigtig gekies. Soos wanneer ’n mens teen ’n steil heuwel af beweeg en jy versigtig vastrapplek soek wanneer die klippertjies begin te rol.

“Weet jy, ek dink daar was ook ’n ander rede waarom hy altyd so onberispelik geklee was. Ek dink sy deftige klere was, veral in ’n tyd soos daardie, ook sy skild en pantser. Ek dink hy wou seker maak dat niemand ’n fout kon maak oor wie hy was nie.”

Lisa het na my gekyk asof sy nie geweet het wat om te sê nie. Na ’n ruk het sy gesug.

“Ai, weet jy, ek voel soms skaam oor hoe dinge in daardie tyd was.”

“Nee, jy hoef nie. Jy was immers ’n kind.”

“Ek bedoel, namens my mense.”

“Ek verstaan wat jy sê, maar onthou dis ook maar die storie van die mens ... eintlik van alle lewe ... Ons is maar almal deel van ’n bloedige voedselketting. Die magtige skryf die geskiedenis in die bloed van die swakkere ...”

Ons het albei vir ’n lang ruk stil agteroor gesit. Toe leun sy skielik vorentoe en vra: “Ek gaan hulle môremiddag besoek. Wil jy saamkom?”

Die aand na ons besoek aan die begraafplaas het ek gedroom ’n groen Chevy hou langs my stil. Asof dit die natuurlikste ding op aarde was, het ek daardie mense na ons huis toe genooi. Ons het saam met Mammie en Daddy ’n koppie tee geniet. Ek het die kinders ons tuin en hoenderhok gaan wys. Hulle pa het vir Daddy gevra waar hy aan al daai boeke gekom het. Hulle ma het die aroma ingesnuif en vir Mammie gevra watter resep daai nou weer was. Ons het saam met hulle tot by die hek gestap. Die mans het blad geskud. Die vroue het omhels. Daar was beloftes van ’n wedersiens.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

The post 'n Deurrit first appeared on LitNet.

The post 'n Deurrit appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21802


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>