“Ontoerekenbaar” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Ontoerekenbaar
Dood het net twee oorsake – natuurlik of onnatuurlik. Die onnatuurlike dood van mense fassineer hom al so lank as wat hy kan onthou. Moord, strafbare manslag en manslag. Hoe dieper hy die afgelope aantal jare delf, hoe meer besef hy dit is nie die daad wat hom fassineer nie, maar die toerekenbaarheid van die mense wat betrokke is.
Vroeg in sy loopbaan as sielkundige het hy oorweeg om in ’n plek soos Valkenburg te werk met die assessering van mense wat vir die dood van ander verantwoordelik is, maar hy het daarteen besluit. Hy verkies sy privaatpraktyk waar hy elke pasiënt volgens sy eie stel kriteria kan evalueer en sy eie gevolgtrekkings kan maak.
Daar is ’n ligte klop aan sy kantoordeur en die nuwe ontvangsdame maak die deur versigtig oop voordat hy kan antwoord. Na drie weke kan hy steeds nie haar naam onthou nie. Dis Selmarie, Lismarie, Elismarie of iets dergeliks. Die vorige een se naam was maklik, Susan, maar hy moes haar dienste na ses maande termineer. Sy was eenvoudig net te onbetroubaar.
“Jammer om te pla, Dokter, maar u twaalfuur afspraak het herskeduleer. Moet ek hoor of die eenuur afspraak vroeër kan inkom?”
Hy skud sy kop. “Nee, ek hou nie daarvan om rond te skuif nie. Ek het genoeg werk voor die volgende een.” Die jong vrou trek die deur net so versigtig toe as wat sy dit oopgemaak het.
Die lêer wat hy uit die toesluitkas haal, is dikker as die meeste van dié van ander pasiënte. Hy plaas dit op sy lessenaar. Soos op alle pasiëntelêers is daar slegs voorletters op die omslag, FLM. Die naam, Francois Louis Mouton, is op die eerste bladsy. Net dit. Persoonlike besonderhede van pasiënte word apart ook agter slot gehou. Hierdie lêer is die kroon van sy navorsing, sy mees intieme geval met verreweg die meeste inligting in vergelyking met ander pasiënte.
Die inhoud van die lêer is bladsye en bladsye handgeskrewe verklarings. Geskryf in ’n netjiese sterk handskrif met ’n vulpen. Min mense skryf deesdae met die hand en bitter min gebruik ooit vulpenne. Hy blaai na die eerste verklaring van Mouton en begin dit vir die soveelste keer lees:
Hulle sê mens se eerste keer is die moeilikste, maar ek dink dit is net as dit beplan word. My eerste keer was ’n ongeluk. Ek was elf.
Ek sit op die stoep van die Ladies’ Bar waar my ma en haar vriende elke Vrydagaand drink. My ma drink Cane en lemonade en ek drink passion fruit en lemonade. Sy bring ’n brandewyn en Coke en sê ek moet dit vir die blinde man by die orrel gee en vra hy moet Distant Drums speel.
Die blinde man rol sy oë en lek met ’n dik tong oor sy lippe terwyl hy speel. Sy vingers wat die klawers druk, is kort en vet. Ek wag tot hy klaar is met sy liedjie voordat ek die glas op die orrel neersit en die boodskap oordra.
Die man keer my voor ek loop. “Wat’s jou naam?”
“Francois Louis,” sê ek.
“Lekker sterk naam, Francois. Ek is Darryl,” en die man streel sy hand oor my bors en oor my maag. “Jy’s ’n gesonde knaap.”
Deur die aand koop Ma nog drie brandewyne wat ek moet aflewer dat hy nog Jim Reeves-liedjies speel. Darryl sê ek moet vir hom by die stasie gaan kuier waar hy die skakelbord doen. “Jy moet kom kyk hoe werk ek. As jy my help, betaal ek jou. Mens moet vroeg nuwe dinge leer.”
Maandag na skool het ek gegaan, maar dit was nie vir die skakelbord nie. Ek moes saam met hom toilet toe gaan.
Die sielkundige vluglees die volgende gedeelte waar sommige sinne halfvoltooid en deurgehaal is. Details wat ’n kind van elf eers jare later kon neerpen. Hy lees die laaste twee paragrawe wat hy reeds goed ken.
Darryl het my tweerand gegee. Die ander grootmense wat daar werk, het nie vir my gekyk toe ons terugkom nie. Ek het geweet hulle weet. Ek het by die Griek se kafee op die hoek koeldrank en chips gekoop en later besluit om terug te gaan stasie toe. Darryl het gesê ek kan halfvyf weer kom as hy klaar gewerk het, dan gee hy my nog geld, maar ek het nie ingegaan nie.
Ek het op die trap in die duikweg gesit. Toe hy met sy wit stok aan die bopunt van die trap verskyn, het hy gehuiwer en gevra of daar iemand is. Ek het tjoepstil gesit. Toe hy sy voet na die eerste trappie uitsteek, het ek hom gepootjie. Sommer net. Ek onthou presies hoe hy die trappe afgetuimel het en met sy kop skeef en sy een arm onder hom op die duikweg se sementvloer geland het. Dit was ’n ongeluk; ek dink nie ek wou hê dat hy moes doodgaan nie.
Die sielkundige kyk na sy potloodaantekeninge langs die plekke waar hy by vorige geleenthede woorde omkring het. By Darryl het my tweerand gegee het hy die naam onderstreep en TOEREKENBAAR geskryf. By Dit was ’n ongeluk staan ONTOEREKENBAAR, 11 jaar!
Hy blaai deur die lêer, verby klein voorvalle wat neergepen is. Mededelings van dinge wat op die oog af onverwant is, maar tog ’n patroon vorm en later weer herhaal word. Soos Mouton se wateroefeninge.
As my ma en pa baklei, lê ek in die bad met my kop onder die water. Ek tel 1-krokodil, 2-krokodil, 3-krokodil, 4-krokodil en kyk hoe lank ek dit kan doen. Toe ek hoërskool toe gaan, kon ek die swembad drie keer onderwater deurswem sonder om op te kom vir asem.
Drie bladsye verder duik die onderwateroefeninge weer op, maar net toe hy begin lees, klop die ontvangsdame weer en stoot die deur oop. “So jammer om te pla, Dokter, maar die volgende pasiënt is reeds hier. Ek weet dis meer as ’n halfuur te vroeg, maar hy lyk baie angstig en ek het gedink …”
Die sielkundige hoor nie die laaste gedeelte van haar sin nie. Haar stem irriteer hom. Sy praat nie, sy teem. Dan is daar ook nog die oordrewe onderdanigheid en die feit dat sy daarop aandring om elke boodskap persoonlik te kom oordra eerder as om die foon te gebruik. Hy begin vermoed sy doen dit met opset om hom te treiter.
Sonder om op te kyk trek hy sy dagboek nader, plaas sy vinger op die naam van die volgende afspraak en sê: “Is dit eenuur?”
Sy huiwer voordat sy antwoord. “Nee, Dokter, maar soos ek verduidelik het, die pasiënt …”
Hy benadruk elke volgende woord. “ĺs dít éénúúr?”
Sy stamel iets, retireer en trek die deur toe. Hy maak ’n nota in sy kop om na die vrou se aanstellingskontrak te kyk. Hy vermoed sy gaan nie lank hou nie. Dan lees hy verder deur Mouton se handgeskrewe verklaring:
In St 7 is daar ’n skoolkamp. Ek haat die goed, maar ma het my gedwing. Sy sê ek moet vriende maak. Die eerste aand moet ons wors braai en stokbrode maak. Ek sit alleen. My deeg val elke keer van die stok af. Dawid Grobler en sy groepie sit oorkant die vuur en maak aanmerkings. Hy het altyd ’n juigkommando by hom.
“Hei Fransie, lyk my jou deeg is bietjie slap. Jy moet dit vryf, dan word dit stywer.” Ek ignoreer hom, maar hy hou aan. “Fransietjie, ek scheme daar’s iets verkeerd met jou hande. Wys ons jou hande,” skreeu hy en hou sy eie hande met palms na voor uitgestrek. “Toe man, ek wil sien hoekom jou deeg nie werk nie.”
Om hom te laat end kry wys ek my handpalms vir hulle, en besef dit was ’n fout. “Yes!” jubel Dawid. “Ek het julle gesê. Check dit uit, sy hande is vol hare van al die draadtrek.”
Die volgende dag reageer ek nie op die spottery nie en maak of ek nie die oordrewe handgebare sien nie. Voor middagete gaan almal swemgat toe. Dit pas my, ek kan eenkant op my eie wees en onder die water wegswem tot agter die rotse. Dié wat nie kan swem nie, sit op die gras.
Dawid is eerste in en swem tot in die middel van die diep swemgat. Hy trap water en daag almal uit om tot by hom te swem. Niemand sien kans nie. Ek sak onder die water in en swem. Terwyl ek swem, tel ek 1-krokodil, 2-krokodil, 3-krokodil … My rekord is 205 sekondes. Nie naastenby so lank soos die man in die Guinness Book of Records se 20 minute nie. Maar lank genoeg om tot onder Dawid te swem en hom aan sy enkels onder die water in te trek. Lank genoeg om sy arms teen sy lyf vas te pen en hom vas te hou. Lank genoeg dat hy ophou skop en spartel. Ek los hom en swem onder die water tot by die rotse. Toe ek opkom, het twee onderwysers al ingeduik en swem tot waar Dawid was. Ek het gedink hy gaan weer opkom, maar hy het gesink.
Die sielkundige lees die kantaantekeninge wat hy in potlood gemaak het. Hy haal ’n pakkie heldergroen Postit-notapapier uit en skryf met sy potlood daarop. “Ongeluk, skoolpoetse loop soms verkeerd. Gebrekkige toesig van onderwysers.”
Hy het die bladsye in die lêer al soveel keer deurgelees dat hy die meeste uit sy kop ken, maar hy staan telkens verstom oor nuwe insigte wat hy kry. Dit is asof Francois Louis Mouton met elke deurlees iets nuuts aan hom openbaar. Hy het iewers gelees dat die gedigte van bekwame digters soms boodskappe bevat wat nie in die gedigte staan nie, beelde wat in die wit spasies tussen woorde en reëls voorkom. Só is die inhoud van hierdie lêer – vol boodskappe in die wit spasies.
Hy blaai verby ander hoërskoolvoorvalle waarvan nog een ook noodlottig was: ’n onderwyser wat tydens ’n sportdag deur ’n bus doodgery is. Mouton beskryf die voorval nie breedvoerig nie, maar vir ’n sielkundige met fyn waarnemingsvermoë en bladsye vol aantekeninge is dit duidelik dat die seun nie bloot deel van ’n groep was wat toegekyk het hoe die onderwyser skielik voor die bus beland nie. Toevallig ook dat dit juis dié onderwyser was wat twee weke voorheen vir Mouton voor ’n hele standerd nege-klas verkleineer het.
Tydens Mouton se universiteitsjare was daar ’n voorval waar ’n damestudent per ongeluk verwurg is. Met geen getuies nie is ’n verdagte nooit vasgetrek nie. Die sielkundige blaai tot by daardie gedeelte en lees dele daarvan.
In my eerstejaar moes ons ’n senior vra vir die Valentynssokkie. Ek wou nie, maar toe kry ek ’n briefie. ’n Mooi brief wat sê sy weet hoe dit voel om ’n outsider te wees. Ek moes haar op die stoep by haar koshuis se sydeur kry. Ek moes ’n das en baadjie dra en blomme om te wys ek is nie skaam nie.
Dit was donker en ek kon net-net ’n figuur uitmaak wat langs die deur staan. Toe ek by die stoep kom, gaan die ligte aan en oral kom seniors agter bosse uit. Op die stoep het ’n kaal opblaaspop met ’n ronde gat vir ’n mond teen die muur gestaan.
Dit het my drie weke geneem om uit te vind wie die brief geskryf het en nog twee weke voordat ek haar kon konfronteer toe ek haar een aand gevolg het. Sy en ’n ou het onder die pawiljoen verdwyn. Na ’n rukkie het hy alleen uitgekom. Hy was kwaad. Ek het ’n ruk gewag en haar toe gaan soek. Ek wou net hê sy moes verduidelik. Sy wou weghardloop. Ek het haar met my arm om haar nek gekeer en haar mond met my ander hand toegedruk. Ek wou net ’n verduideliking hê. Sy het probeer loskom, maar ek was sterker. Toe het sy slap geraak, net soos Dawid in die swemgat. Ek het haar daar gelos en ’n werker het haar die volgende oggend gekry.
Die sielkundige kyk na sy potloodaantekeninge aan die einde van die verklaring:
Was die pop ’n onskuldige studentepoets? Nee.
Was dit deurdag en beplan? Ja
Was dit haar doel om FLM te verkleineer? Beslis.
Was FLM toerekenbaar? Nee
Hy kyk na sy horlosie. Daar is nog 16 minute voor die volgende afspraak. Hy blaai na die gedeelte oor Mouton en sy ma. Naas kindermoord, is ouermoord waarskynlik die mees ondenkbare daad. Maar in Mouton se geval was dit nie moord nie, nie eens manslag volgens die geregtelike doodsondersoek nie. Sielkundiges weet dat elke optrede of reaksie ’n sneller het. Mouton se sneller met sy ma was in sy finale studentejaar met die begrafnis van sy pa.
Ek het ’n heldeverering vir my pa gehad. Al het ons nooit dieselfde band gehad as wat hy met my broer gehad het nie. Ferdinand is twee jaar jonger as ek en hy het Pa met alles gehelp. Pa kon enige stukkende ding regmaak. Hy was slim. Hy was streng en pragmaties. Die huis wat hulle vir ’n woonstel moes verruil toe hy begin siek raak, het hy self ontwerp en met sy eie hande en twee handlangers gebou. Hy was altyd sober, nie soos Ma nie. Sy was wisselvallig as sy gedrink het. Pa het kanker gekry, jonk, skaars 45. Ek wou alles wat mooi was oor hom in die kerk sê.
Toe ek my huldeblyk net voor die diens vir Ma wys, het sy dit teruggegee sonder om te lees. “Ferdinand doen die huldeblyk. Ek het vergeet om jou te sê.”
Ek wou weet hoekom. Ek is die oudste. Ma wou nie antwoord nie. Ek het aangedring. Die ander mense was al in die kerk. Ma het my vir die eerste keer wat ek kan onthou reguit in die oë gekyk, maar met totale weersin. “Want jý ís nié ’n Mouton nie. Hy was nie jou pa nie.” Net dit. Toe het sy omgedraai en saam met my broer in die kerk ingeloop.
Ek het later na die woonstel toe gegaan om met haar te praat. Sy was al dronk en lus vir baklei.
Die sielkundige ken die res van die storie uit sy kop. Hy het dit al soveel kere deurgelees. Daar was ’n geregtelike doodsondersoek van die hele tragiese tafereel wat die aand na die begrafnis in die woonstel afgespeel het tussen ’n bedroefde, maar beskonke weduwee en haar seun. Totdat sy haarself oor die balkonreling gewerp het met haar seun wat haar probeer keer, maar hulpeloos moes toekyk hoe sy elf verdiepings ver na benede stort.
Na afhandeling van die geregtelike doodsondersoek is die staatsaanklaer ingelig dat daar geen gemene spel vermoed word nie en die dossier is gesluit. ’n Tragiese voorval as gevolg van ’n tragiese sameloop van omstandighede.
Hy ken egter die feite wat in die wit spasies tussen die lyne van die handgeskrewe verklarings van Mouton lê. Hy kan die kolletjies verbind waartoe die ondersoekbeampte nie toegang gehad het nie. Om ’n patroon te herken en te bevestig moet daar na veel meer as een tragiese voorval gekyk word.
Hy maak die lêer toe en sluit dit in die kabinet weg. Dit is 12:58 en hy spring die ontvangsdame voor toe hy die foon optel en sê: “Ek is gereed vir die afspraak.”
Die jong man wat inkom, lyk of hy dae laas geslaap het. Die wit van sy oë is bloedbelope, die bruin hare is ongekam en vra om gesny te word. Hy het ’n aantal dae laas geskeer.
“Dankie dat ek op short notice ’n afspraak by Dokter kan kry, maar ek cope nie meer nie. Die hofsaak is erg en die koerante maak my mal. My vrou is met die kinders na haar ma toe en die werk wil my al fire. Ek weet nie …”
Die sielkundige hou sy hand op. “Wees rustig, Meneer Cilliers. Alles op sy tyd.” Hy kyk na sy dagboek. “Strafbare manslag en dronkbestuur. Dis ’n lang regsproses wat sy loop moet neem, my werk is om jou te help om deur dit te kom.”
“Dankie, Dokter, soos ek vir die girl by reception verduidelik het, ek … my prokureur het gesê ek moet met iemand gaan praat …”
Die sielkundige knik. “Hierdie is net ’n inleidende afspraak. Na afloop hiervan sal ek ’n beter prentjie hê van wat gaan volg.” Hy bly ’n rukkie stil. “Ek gaan my bes doen. Daar is net een uiters belangrike voorwaarde wat ek aan al my pasiënte stel. Ek verwag absolute eerlikheid.”
Die jong man antwoord vinnig. “Absolutely, cross my heart, Dokter. Ek sal eerlik wees. Genuine.”
“Dis goed so, want die loon van die leuen is mos die dood, of hoe?”
Die man lyk vir ’n oomblik uit die veld geslaan en probeer dan iets ligs van die opmerking maak. “Lucky for me is die doodstraf mos nou weg?” en hy lag halfhartig.
“Nie noodwendig nie,” antwoord die sielkundige, maar lag dan gemoedelik as hy die man se verwildering sien. “Toemaar, sommer net ’n ou grappie.”
Hy beduie na die deur. “Terloops, buite die kantoor is ek ‘Dokter’, maar hier is ons informeel, hier is ek Francois of Louis. Ek verkies Louis.”
Hy maak ’n houtkissie op sy lessenaar oop en haal ’n Parker-vulpen uit. “Dié pen kom al meer as twintig jaar saam met my,” sê hy, meer teenoor homself as vir die pasiënt. Hy trek sy notaboek nader en skryf die datum en die pasiënt se naam in ’n netjiese handskrif aan die bokant van die blanko bladsy. Hy kyk op en glimlag. “Sal ons begin?”
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie
The post Ontoerekenbaar first appeared on LitNet.
The post Ontoerekenbaar appeared first on LitNet.