Mishandel, misbruik, misken – Joey Haarhoff was my ma
Amor van der Westhuizen se verhaal aan Carla van der Spuy
LAPA
ISBN: 9780799379594
Die inleiding en eerste hoofstuk is inderdaad hoe die skrywer, Carla van der Spuy, daarna verwys: “’n vuishou in die maag”. Natuurlik is die name Gert van Rooyen en Joey Haarhoff baie bekend weens die berugtheid van hul dade, maar om dié verhaal uit die mond van haar dogter, Amor van der Westhuizen, ‘n aanvanklike slagoffer, te lees is hoogs ontstellend. Carla kwyt haar goed van haar taak as skrywer om dié roerende verhaal neer te pen, wat geen maklike taak kon gewees het nie. Sy laat jou die emosies vóél en nie net lees nie. Emosies wat ‘n mens lank nadat jy die boek toegemaak het, nog bybly.
Amor en Carla voer jou op ‘n reis wat strek van die klein Amor se lewenstog, die bang klein dogtertjie met wie heelwat lesers dalk tog op ‘n manier kan identifiseer. Veral as jy jou eie kinders gebaar het, is dit moeilik om te sluk. Jy vóél haar vrese, alleenheid, haar angs. Dis ook verstommend hoe lank mense wel kan terug onthou – in Amor se geval selfs haar babajare.
Die eerste hoofstukke is die vertelling oor mishandeling aan die hand van haar eie gesin en ook familie. In haar woorde: “Mishandeling was die norm.” Ek moet erken ek moes soms ‘n paar draaie loop voordat ek verder kon lees. Die emosies wat sy beleef het, voel jy diép hier in jou binneste. Kenners op onderskeie gebiede is ook geraadpleeg en is ‘n gunstige aanvulling in dié outobiografie. Dis duidelik dat iets ‘n mens wel deur tragedie dra in jou lewe, jou staande hou. In Amor se geval was dit haar atletiek en liefde vir diere.
Bladsy vir bladsy beleef jy haar bangheid, haar daaglikse stryd en die konflik wat aan jou hartsnare pluk. Meer dinge maak dalk sin in die berugte gebeure waartydens die kinders in die tagtigerjare spoorloos verdwyn het. Sy vertel hoe haar eie niggie een van die slagoffers was, die emosie van hoe ‘n familie so iets verwerk, maar ook hoe dit aan die hand van haar eie ma, Joey, was. Daar word ook fokus geplaas op wie en wát Joey was en hoekom sy dinge só gedoen het. Hoe dit Amor vir ‘n lang tyd gevorm en haar lewe oorheers het, maar ook hoe dit haar sterker gemaak het en gedryf het om suksesvol te wees. Die meeste mense was moontlik nie eers bewus van die geweldige impak wat Gert en Joey – die feit dat dit háár ma was – op haar en haar eie gesin gehad het nie. Hoe dit was om self verdagtes te wees en die spanning wat dit meegebring het. Dis hartroerend hoe vriendskap, hetsy tussen haar en haar man, haar eie kinders en vriendinne, asook geloof, weer eens die pilaar in mens se lewe is wat jou deurdra selfs wanneer jy geen idee het hoe verder nie. Haar lewe is nie net ‘n storie nie, maar ‘n leerskool, ‘n avontuur waaruit baie ervarings vir ander iets kan beteken.
Hierdie outobiografie gaan jy beslis nie net lees en bêre nie. Daar is baie wat jou gaan bybly. As ‘n baie letterlike leser kon ek vroeg in die boek al ‘n duidelike lyn vir myself trek vir wie ek dié boek sou aanbeveel al dan nie. Een ding wat die leser móét weet: dié boek gaan jou skok, jou laat huil en verstom laat staan oor die wreedheid van nie net mense teenoor mekaar nie, maar teenoor hul eie kinders, hul eie bloed. Die kommunikasie tussen Carla en Amor is duidelik, en Amor se verhaal word nie net as “iemand se hartroerende verhaal” weergegee nie, maar sal báie beslis as inspirasie vir ander dien. Dís graag waarop ek die fokus wil plaas en dié leesstof vir ander aanbeveel: die inspirerende verhaal van Amor, die klein dogtertjie en wat sy als moes ontbeer aan die hand van ‘n liefdelose en wrede moeder, wat ontwikkel het tot ‘n suksesvolle vrou, haar reis om haarself te vind, aanvaarding en uiteindelik heling, is beslis ‘n bemoediging en ‘n bewys dat waar daar ‘n wil is, is daar beslís ‘n weg.
The post Boekresensie: Mishandel, misbruik, misken – Joey Haarhoff was my ma (Amor van der Westhuizen se verhaal aan Carla van der Spuy) appeared first on LitNet.