Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

In memoriam: Otto Jaekel Liebenberg (16 Augustus 1950 – 24 September 2016)

$
0
0

Foto's deur NALN verskaf

Otto Jaekel Liebenberg is om 10 voor 3 op Saterdagoggend 24 September 2016 (Nasionale Erfenisdag) in sy geboortestad, Bloemfontein, oorlede. Vir bykans drie dekades lank, vanaf 1987 tot sy aftrede in Augustus 2015, was hy die kurator van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), die bekende erfenisbewaarplek vir die Afrikaanse boekgeskiedenis in sy wydste betekenis.

“By NALN het ek daarin geglo om alle skrywers, groot en klein, se werk met dieselfde piëteit te hanteer. Oom Lokomotief het gesê in die letterkunde is dit so dat as jy die bosse uit die oerwoud verwyder die groot bome kaal staan. Ek het probeer om nooit elitisties te wees en rangordes op te stel nie." (Onderhoud met Amos van der Westhuizen, Volksblad, 30/1/2016)

Hierdie uitspraak van Liebenberg kan ’n mens duidelik aflees teen sy vorming as mens oor die jare heen. Hy is op 16 Augustus 1950 in Bloemfontein gebore, ’n plek wat lewenslank ook as voedingsbron vir sy navorsing en kulturele stimulus sou dien. Sy skoolloopbaan, van die destydse sub A tot standerd 10, voltooi hy op Jacobsdal, ’n klein dorpie in die Wes-Vrystaat.

Otto was ’n gesins- en familievaste mens by uitnemendheid, en kon sekuur vertel van die interessanthede in sy familie. Otto Willy Ernst Jaekel, sy oupa aan moederskant, is in Berlyn gebore, en het na oorlewering as tolk gewerk vir die Boeregeneraals tydens hulle Europese besoek ná die Anglo-Boereoorlog. In 1905 het die skip waarop hy in daardie stadium as kok gewerk het, by Die Koppe naby Knysna gestrand, en die Duitser het besluit om in Suid-Afrika te bly. Hy is later getroud met ’n nooi Kapp, en Otto se ma, Lily, was die oudste van ses kinders (nadat die eerste dogtertjie op driejarige ouderdom gesterf het). Hierdie Duitse familiegeskiedenis het Otto die res van sy lewe gekoester, en met sy bekende talent vir melodrama kon hy dikwels tot groot vermaak van ’n toehoorder, en met perfekte intonasie, uit ’n oorspronklike teks voorlees.

Sy pa en ma was twee besonderse kultuurkragte op Jacobsdal en het diep spore in die onderwys getrap. Otto sou hierdie voorbeeld volg deur sy studiekeuse van BA, BA Honneurs (Afrikaans) en ‘n Hoër Onderwysdiploma (met onderskeiding, en as ontvanger van die Didakta-medalje). In1976 voltooi hy ook ’n MA oor die taalstryder Oom Lokomotief, met Gerhard J Beukes as studieleier.

Sy veelsydigheid as leerder (prefek, onderhoofseun; bestuurslid van die debatsvereniging en redakteur van die skoolkoerant) brei uit tydens sy studentejare aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Hier is hy deel van die Afrikaans-Nederlandse Studiekring, die Geskiedenisvereniging, die Sendingaksie en die Opvoedkundevereniging.

Loopbaangewys maak hy ’n vlugtige draai as onderwyser aan die Hoërskool President Steyn in Bloemfontein, en as hulpdosent by die universiteit. Met sy tipies aweregse sin vir humor sou hy, ná die literêre statuur wat Antjie Krog begin verwerf het, dikwels opmerk dat hy in ’n stadium “vir haar klas gegee het”!

’n Aanvanklike ideaal om hom ná skool vir ’n loopbaan in die natuurwetenskappe voor te berei, het nou al ’n besliste regsomkeer na die geesteswetenskappe gemaak. Onder aanmoediging van PJ Nienaber, stigter en grootgees van NALN, bevind Otto hom teen Januarie 1976 in die pos van vakkundige beampte.

Teen 1987 word hy, nadat Nienaber afgetree het, die nuwe kurator van die museum. In hierdie hoedanigheid het Liebenberg letterlik ’n leeftyd in diens van die wêreld van die Afrikaanse boek gehad. Sy buitengewone vermoë om deurentyd visionêr en vernuwend te bly dink en beplan het daartoe bygedra dat hierdie museum en navorsingsentrum steeds kon bly uitbrei en groei, en dit ten spyte van die feit dat verpolitisering van so ’n provinsiale bate baie maklik kon oorgeneem het.

“In my loopbaan,” het hy by geleentheid opgemerk, “was ek eerstens ’n staatsamptenaar wat beplan, uitvoer en rapporteer soos ’n staatsamptenaar. Tweedens moes ek probeer om NALN as kultuurgeheue te behou. Die twee was dikwels in konflik met mekaar” (Volksblad, 30/1/2016).

Die opvoeding wat hy van huis uit gehad het (en ook familie-invloede soos dié van onder meer sy oom, Otto Jaekel, van Nasionale Pers), en sy uitgebreide betrokkenheid by velerlei kultuurbedrywighede, het hom deeglik voorberei, geskool en steeds blý slyp vir sy jare lange interaksie met skrywers, uitgewers, navorsers, die publiek – trouens, die hele museologiese en kultureel-sosiale gemeenskap.

Vir bewaring het hy van meet af aan ’n besondere passie gehad, en sy kennis van bewaringsaksies is deur die jare onder die hand van ’n mentor soos Nienaber tot verfynde insig geslyp. Kyk ’n mens nou, na sy afsterwe, terug op sy betrokkenheid by feesorganisasies en reëlingskomitees, waar hy in die meeste gevalle ’n leidende rol gespeel het, is dit ‘n interessante en veelseggende verskeidenheid: GR von Wielligh 100; Pres JH Brand: ’n nalatenskap, 1998; Ishmael Mompati: ’n Huldiging; die Eeufeesviering van die Vierde Raadsaal,1993; Olaf Andresen, 1992; Warden-standbeeld, 1990; Inwyding van die Museum Ou Presidensie, 1985; die Bloemfonteinse Munisipale Eeufeesviering 1980; Vrystaatse Taalfees 1975; Feesgeleenthede vir Pannevis, DF Malherbe, Jochem van Bruggen, Eitemal, C Louis Leipoldt, ID du Plessis, om slegs enkeles te noem. Die entoesiasme en heelhartigheid waarmee Otto elkeen van hierdie projekte aangepak het, of leiding daarin geneem het, het ’n mens telkens verstom. Vir uiterstes was hy nie bang nie; “Droom groot!” was ’n imperatief; en wonderwerke was nooit uitgesluit nie. Vir die huldigingsgeleentheid vir Eitemal het hy persoonlik op soek gegaan na ’n lewende “Jaffie”  ... en hoewel hy met stowwerige skoene en leë hande moes terugkeer, was die oggend ’n feestelike sukses! ID du Plessis se borsbeeld, waarvan daar spesiaal replikas gemaak is deur die NALN se kunstenaar, Pieter Lategan, is eers in die Kaapstadse Tuine onthul en aan die Maleier-gemeenskap oorhandig voordat die volgende Du Plessis Philipstown toe is vir die dorpsmuseum daar. Otto het hom min gesteur aan wat ander mense as “mindere suksesse” sou bestempel – die feit dát iets gedoen is, was belangriker.

Tydens die kwarteeu-feesviering van die museum in 1998 was hy die dryfveer agter ’n reeks gebeure en programme wat menigeen uitasem gelaat het: wapperende, spesiaal-ontwerpte vlae wat gehys is, ’n saamdinkberaad, ’n dinee en reünie, en so meer. Ook die konseptualisering van die Sotho Letterkundemuseum, en die deurvoer van die proses tot die totstandkoming daarvan, was Otto se ideaal en visie.

Hy was betrokke by verenigings van uiteenlopende aard, almal ’n aanduiding van sy vele belangstellings en liefdes: die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, die Afrikaans-Duitse Kultuur-unie, die Genootskap Nederland-Suid-Afrika, die FAK, die VCHO, die Stigting Simon van der Stel; die Suid-Afrikaanse Vereniging van Argivarisse, die Suid-Afrikaanse Naamkundevereniging, en die Vriende van NALN (waarvan hy ten tye van sy afsterwe die voorsitter was). Daar was ook meer van hierdie betrokkenheid by sake wat hom na aan die hart gelê het.

Otto het ’n interessante en onverwagse verhouding met boeke gehad: “Ek moet bieg dat ek bitter min van die materiaal in NALN gelees het,” sê hy in die onderhoud met Amos van der Westhuizen. Tóg: “Ek blaai graag lui en nuuskierig deur ou boeke. Uit ’n Batho-huis kom WEG Louw se vertaling van ’n middeleeuse vertelling van Gustave Flaubert, ‘Die legende van die Heilige Julianus die herbergsame’. Dis manjifieke Afrikaans – dus twee meesters in een gelees. In ‘The vertical plane’ kommunikeer mense, vier eeue uitmekaar, via ’n rekenaar en Shakespeariaanse Engels. En volgens ‘We are not the first’ het uitgewiste hoëtegnologie-beskawings bestaan millenniums vóór ons bekende antieke geskiedenis” (“My leeskeuse”, Volksblad, 5/7/1999).

Hierdie allegaartjie-karaktereienskap van Otto was onder meer die stukkie lont wat die Boekemark in die Toring aangesteek het: ’n inisiatief wat deesdae in NALN se Ketelkelder voortleef. As kenner van argivale vondste kon hy boeke sekuur prys en takseer, en gereeld lekker lusmakeradvertensies oor boekskatte skryf om voornemende kopers na die Toring te lok.

“In Memoriam” veronderstel ’n neutedopkeuse. Maar in ’n neutedop sou Otto Jaekel Liebenberg, mens-van-NALN, nooit kon pas nie. Hy was, bo alles wat nou reeds gesê is, ook ’n woordmens: met kreatiewe bydraes in verskeie boeke, letterlik honderdtalle artikels in tydskrifte en koerante, rubrieke, radiopraatjies, boekpraatjies, feesredes en TV-opnames, toesprake en diverse openbare optredes landwyd, kon hy die presiese woord op sy plek laat ínkliek. Hy het ook gedigte, kortprosa en sketse geskryf (sommige onder die skuilnaam Ernst Otto).

Otto se lewe was altyd, in sy eie woorde, “’n wedloop teen tyd”. Sy legendaries-geworde deurmekaar kantoor het steeds geroep om méér aandag, meer snuffel, meer wonderlike brokke inligting aan die vergetelheid ontruk. Tot kort voor sy dood was hy besig met ’n reeks radiopraatjies getitel Note met stories. Hy het volledig geleef. Hy was ’n gedugte strateeg wat onverbiddelik kon bly voortwerk. Hy kon énige gespreksgenoot met woorde uitboul.

Toe ek Sondagoggend voor die ou sandsteengebou van NALN staan, met die oggendson blink op die ruite van Otto Liebenberg se kantoorvensters, het die oorbekende gedig van Eugène Marais by my opgekom: Was ons vriend en kollega se skielike dood ’n Skoppensboer-truuk, en lag dié meneer nou lekker?

Maar nee. Toe herinner ’n Vriend-van-NALN my aan die woorde van Breyten Breytenbach waar hy oor die dood skryf:

die laaste gedig paar nie
het nie die afsluiting van punt
of vraagteken nie
want die slotreël is slegs ’n sluis
is altyd ’n opsie
’n passasie se oopgaan
...
se oorgaan na die bevryding
van onsigbaarheid

The post In memoriam: Otto Jaekel Liebenberg (16 Augustus 1950 – 24 September 2016) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>