'n Artikel oor die Gotiek in die Afrikaanse letterkunde deur Gerda Taljaard-Gilson het onlangs in LitNet Akademies verskyn. Gerda en Deborah Steinmair het in 2015 die bundel kortverhale Skrik op die lyf vir NB-Uitgewers saamgestel. Deborah Steinmair skryf hier oor haar reis deur die Gotiek in die Afrikaanse letterkundelandskap.
Lees ook 'n resensie van Skrik op die lyf.
“Goties” impliseer spitskatedrale met klipbeelde van spuierduiwels, spookgeteisterde herehuise met krakende trappe en nokke vol vlermuise. Europese skadulandskappe met min daglig. Hoe akklimatiseer dit in sonnige Suid-Afrika? Op ons bodem suggereer “Goth” verwende, swartgeklede wit kinders wat sonlig vermy.
Maar kan ʼn mens in helder sonlig ook sidder?
Soos Gerda Taljaard-Gilson in haar artikel toon, het ons ʼn eiesoortige, unieke Gotiek in Afrikaans. Hier kom die duiwel in die mielieland aan; hy seil op sy maag; hy’t ʼn macintosh aan; en hy jaag sy dissipels dat die stof so staan.
Ons Goties is ʼn blatjang met allerlei skeute inheemse bestanddele soos toordokters, reënmakers, poltergeeste, tokkelosse, afkop Voortrekkernooientjies, giggelende hiënas, zombi’s en slinkse Slamaaiers. Want ril en gril en gru en sidder dié wil ons, reeds sedert Afrikaans se babaskoene: dink maar aan AG Visser se koplose ruiter van Skimmelperdpan: “Waarom rus jy nie, rus jy nie, Jan van der Meer?” (“Dis geen plek vir ʼn Christenmens daar in die nag.”)
Langenhoven het graag gegoël met bonatuurlike verhale in die kortverhaalbundels Geeste op aarde en Die wandelende geraamte en ander verskynings. (“Deur allerlei suggestiewe besonderhede slaag die skrywer daarin om die illusie te versterk dat sy spookgedaantes nie willekeurig uitgedagte verskrikkinge is nie, wat met sataniese lis die vereensaamde reisiger op ons verlate vlaktes onverwags bespring, maar dolende geeste met menslike eienskappe. En dit bereik Langenhoven, nie deur 'n fynuitgewerkte beskrywing nie, maar meestal deur 'n enkele aanduiding” – PC Schoonees.) Leipoldt se bangmaakbundel Waar spoke speel bevat verhale soos “Die wit hondjie”, “Lammervanger”, “Koranna se kopbeen” en “Gat in die kamer”.
Daar was verlede jaar ʼn bloedstollende vlaag inskrywings vir ons grilbundel Skrik op die lyf – ons kon kus en keur. Die diaboliese bonatuurlike reis lig en sonder bagasie en land geruisloos in enige landskap. Daar was Boere-Gotiese plaasromans, goëlery in industriële ruimtes, in kerke en pastorieë, hospitale, begraafplase en biblioteke – om maar ʼn paar milieus te noem.
In Jan Barend Wolmarans se “Engelekoor” steel ʼn dik boer en sy dun vroutjie engele van hul voorsate se grafte af, maar verlede en hede vervloei sodat hulle self die besteelde voorsate is. Die storie is omgeef van ʼn stokou, ingeteelde boereplaasellende: “[H]aar kyk kerf deur my; dit sny deur geskiedenisboeke, deur diep grond, strawwe geboortes, deur die lyke van meisies deur soldate verkrag, om afgebrande oeste en oor grafte van oerklip – klip wat nooit kan verpoeier nie.”
Nini Bennet se “Die dag toe my ma begin brei het”, waar die verteller se ma kompulsief begin tolletjie-brei tot sy haarself as ’t ware in ʼn swart kokon toespin, is Kafka-agtig grotesk met Afrikaïese ondertone: “‘Thula-thula,’ huil-sing die hoof-domestic vir my ma. Vreesbevange begin ek die swart toue om haar losknip … wanneer ek die laaste draad knip, wikkel sy haar vlerke los en dryf gewigloos tot teen die plafon.”
In Martin Botha se “By die drif” verduidelik ʼn sangoma vir ʼn seun: “Die ding wat saam met die tokkelos loop, is die Grootslang. Grootslang soek jou en Tokkelos help hom, want hy is bang vir Grootslang. Hy sal jou nie nou kry nie, maar hy sal jou kry. Eendag.”
In Johann Nell se “Tocata in D-Minieur” is die losieshuis se naam Gotland House. Henning Pieterse se “Dood in die Marico” is ʼn speurverhaal wat op ʼn plaas afspeel, met ʼn sangoma, ʼn geel hond, misvlae en ʼn rivier met iets wat in die donker waters roer. “Mary Ellis se revolusie” van Trisa Hugo handel oor reïnkarnasie en wraak.
Martin Steyn se “Die trommel” is voorstedelik; die walglike stiefpa sit en TV kyk met die afstandbeheer in sy hand geklem: Die Nataniël Tafel, Boer soek ʼn vrou – en praat nie meer sedert hy vermoor is nie. Of is hy?
“Stoor” van Ilse van Staden speel in ʼn groendakhuis in ʼn voorstad af. Die verteller is ʼn buiteaardse wese, maar in die stoor skuil daar iets veel donkerder. In Malene Breytenbach se “Die spooklig” is die ruimte weer ʼn plaas wat al vir geslagte in die familie is, met spookagtige wit skape in die skemer; “die soet reuk van hulle wol, asook die muskusreuk van urine”.
In Amos van der Merwe se verhaal “Daardie oë” noem die verteller, Henk de Graaff, homself ʼn ondernemer. “Nie ‘lykbesorger’ nie.”
RR Ryger se “Abednego” speel in ʼn ou huis in Centurion af met ʼn oupa se spook wat loop, ʼn Kersvaderpak in die kas, baie bloed en ʼn budjie.
In Marion Holm se “Blinde Geloof” spook dit op die verhoog. Linza de Jager se “Doekom” is weer ʼn plaasverhaal met ʼn spokende groottante, ʼn katgedaante en die sonde van die vaders wat die kinders na geslagte besoek. Fanie Viljoen se “Dors” is tipies Suid-Afrikaans: ʼn plaasverhaal met ʼn huishulp wat summier ontslaan word onder verdenking van diefstal, waarna ʼn hiëna op die werf verskyn.
Gerda Taljaard se “Die Heiveld” is waarlik Goties, met ʼn abdy, ʼn kardinaal, ʼn inkwisiteur, heiveld, pluimgras en vleilelies wat in heksebloed groei. Herman Lategan se “Götterdämmerung” speel op ʼn operasietafel in ʼn hospitaal af.
Facebook speel ʼn rol in Peter van Noord se “Kug”, en die agtergrond vir Alex J Coyne se “Boelie” is ʼn spoorweghuis met ʼn enkelkind wat na sy dronk ma omsien en die gevare op straat trotseer.
Annelise Erasmus se “Die Niks” is ʼn erotiese bangmaakstorie in ʼn kantoorgebou. In Nicholas Hattingh se “Boekbevloek” spook karakters uit Afrikaanse romans by ʼn leser. In Rene Lötter se “Die duiwel kom jou haal” gryp die bonatuurlike helder oordag op ʼn Kaapse bergwandeling in. Hilda Smits se “Hek van die Dooies” is ʼn reisverhaal met ʼn buitewêreldse angel, en in Chantél van Tonder se “Gansklip” is die agtergrond ʼn ouetehuis in Pretoria, met terugflitse na die plaas, “twintig hektaar dorre niemandsland”.
Die Feesgety het dikwels sinistere ondertone. Cecile Cilliers se “Nuwejaarsvrees” gaan oor die geraamte by die feestafel, en in Lien Botha se “Oukersaand” (met ʼn plaas as agtergrond) kom die wyse manne nie uit die Ooste aan nie, maar uit ʼn sinkplaneet waar moord gekweek word.
Die 46 uiteenlopende verhale wys dat Afrikaans met sy harde “g”-klank hom uitstekend leen tot die Gotiese, die glibberige, die grusame en grillige. Geraamtes, gedaantes, goëlgoed, gif, grafte, gebeentes, geeste, gode, gespook. Gots.
The post Hoe goël Goties in Afrikaans? appeared first on LitNet.