Toespraak gelewer by Weskaapse Sportskool tydens CD-vrystelling 1 September
Lees ook: Nuwe film oor Adam Small bekendgestel
Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies -
o Allahoegste Gies
lat hierie woorde na onse harte gaan!
Die datum 12 September 2013 behoort na dese permanent in donkerdruk in ons dagboeke opgeteken te wees. Eerstens is dit die dag waarop een van ons land se belowendste leiers, Steve Biko, in aanhouding gesterf het. Suid-Afrika sal altyd wonder wat sou gebeur het as ….
Wat sou gebeur het as Biko wel die president van die land geword het? Wat sou gebeur het as diegene wat ‘n onreg teenoor Biko en die mensdom gepleeg het, hul fout kon regstel? Wat sou gebeur het as Chris Hani nie vermoor was nie? Wat sou gebeur het as Basil d’Oliviera wel vir sy geboorteland kon speel en nie uit pure frustrasie vir Engeland nie? Wat sou gebeur het as Adam Small die Hertzogprys geweier het?
Tweedens, en ook die doel van hierdie toespraak as eer aan Small, sal die dag onthou word vir die Hertzogprys wat op dié dag aan Adam Small toegeken is. Want anders as met die Steve Biko- en Chris Hani-gevalle was hier geleentheid om die onreg van die verlede reg te stel.
Vir diegene wat dalk nie al die feite ken nie: Adam Small is – soos die uwe – op Wellington gebore. Die huis waarin hy en sy ouers gewoon het, Terracestraat 23, staan net agter die Wellingtonse NG Sendingkerk op die hoek van Pentztraat. Sy familie aan vaderskant is Christelik-Gereformeerd en dié van sy moeder Islamities; dié invloede prent by hom vroeg reeds kulturele en godsdienstige verdraagsaamheid in.
Sy vormingsjare is op die plaas Goree buite Robertson, waar sy pa skoolhoof, gemeenskapsleier en lekeprediker van die plaaswerkers was. Sy vroegste herinneringe van hierdie gebied is die eenvoud en die armoede van die mense. Sy vader word later skoolhoof in Retreat op die Kaapse Vlakte. Dit is hier waar Small die eerste keer kennis maak met Kaaps, die spreektaal van werkersklasmense, wat hy so treffend in sy werk aanwend. Na matriek studeer hy aan die Universiteit van Kaapstad vir ‘n graad in tale en filosofie en voltooi in 1963 'n MA (cum laude) oor die filosofie van Friedrich Nietzsche. In hierdie tyd studeer hy ook aan die Universiteite van Londen en Oxford, onder andere onder die wêreldbekende wetenskapsfilosoof Karl Popper.
In 1959 word Small dosent in filosofie aan die Universiteit van Fort Hare, en in 1960 een van die akademiese grondleggers van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) toe hy as die eerste hoof van die Departement Filosofie aangestel word.
Hy publiseer verskeie digbundels en dramas, en selfs ‘n hoorbeeld in Engels, maar raak veral bekend vir die drama Kanna hy kô hystoe. JC Kannemeyer het Kanna hy kô hystoe vermeld saam met die belangrikste internasionale dramas in die wêreld. Maar ’n groot onreg word Small aangedoen, want anders as wat algemeen verwag is, ontvang hy nie die Hertzogprys vir Kanna in 1965 nie. In die vroeë sewentigs raak hy betrokke by die Swartbewussynbeweging en nog ‘n onreg word teenoor hom gepleeg, omdat hy as een van die intellektuele en segspersone van hierdie beweging gedwing word om by die UWK te bedank. Die rede? Omdat hy met die studente simpatiseer.
Maar die onreg teenoor Small hou nie hier op nie. Op ‘n later stadium word Kanna deur Truk opgevoer in Pretoria. Die spelers is almal wit, want bruin spelers is verbode in die staatsteater. Small self moes om ‘n permit aansoek doen om na sy eie werk te gaan kyk!
Ek sou nog baie ander voorbeelde kon aanhaal, maar my ruimte is beperk.
Ek sê ek praat met djou in Kaaps
Here, some van my critics
het nog never in allie djare
my taal hierso geperform nie
ek sê ma net weer net soes lank gelede
die’s g’n Gamat-taal nie.
Small sou dus so maklik sy rug kon gedraai het op Afrikaans, en in Engels kon gewerk en publiseer het (hy was besonder begaafd in beide tale, soos sy studie aan Ikeys en Oxford getuig). Maar hy doen dit nie. Toe die Hertzogprys in 2013 aan hom oorhandig is, sê hy in sy dankwoord, wat sy vrou Rosalie voorgelees het, die volgende: “Watter sin sou so ’n kleinserige gebaar tog maak? Paradoksaal het ek begrip daarvoor dat die prys nie voor nóú aan my toegeken kon word nie – alles was voorheen deurdrenk van apartheid …”
In dieselfde asem sê hy aan die jong digter Pieter Odendaal, na aanleiding van lg se roerende gedig waarin hy Small vra om te aanvaar dat sy pa, wat indertyd in die sogenaamde grensoorlog betrokke was, ’n goeie man is. Hieroor sê Small: “Pieter Odendaal, glo my, ek het begrip daarvoor dat goeie mense ingesuig is deur die siekte van apartheid. Ek verstaan.”
Ek wil vandag voorspel dat hierdie gedig van die jong Pieter en Small se begrip daarvoor in die toekoms as maatstaf vir versoening gebruik gaan word. Small het nie net Odendaal se pa vergewe nie, maar ook alle ander soortgelyke pa’s ongekwalifiseerde vergifnis aangebied. Toe Pieter Odendaal op Saterdag 15 September 2013 hierdie gedig in die Breytenbach Sentrum voorlees tydens de bekendstelling van die digbundel en CD Vi Adam Small kon ek nie anders as om te sien hoedat ‘n paar groot Afrikanermans ‘n traan wegpink nie. Dit is oomblikke soos dié wat my moed gee vir die toekoms, wat my motiveer om aan te gaan met my werk as Afrikaans-dosent aan die US. Want as Small en Mandela en Neville Alexander kan vergewe, wie is die kleinlikes wat so kleinsielig is dat hulle nie kan vergewe nie?
Hopelik sal die wyses op Stellenbosch ook leer uit Small se versoenende houding. Elders het ek reeds geskryf die oorlewing van Afrikaans hang nie af van wat op Stellenbosch gebeur nie, maar van die vergewensgesindheid van ’n Adam Small wat bereid is om ’n Hertzogprys dekades nadat hy dit verdien het, te aanvaar. Die toekoms van Afrikaans hang af van hardwerkende onderwysers soos diegene wat nou voor my sit en hul middag opoffer om na Small se werk te kom luister.
Ten slotte: die Hertzogprys, eenmaal so verdelend, het gesorg vir een van die groot versoeningsoomblikke van ons land. Politieke versoening, sê Small, is belangrik, maar intellektuele versoening, wat slegs deur die filosofie en die kuns gedra kan word, is diepsinniger en die grond van alles. Daarom moet ons nie huiwer om aandag te gee aan simbole wat ons mense verdeel nie. In hierdie opsig is die debat rondom die nasionale volkslied relevant. My eie standpunt is dat ons die land se burgers die geleentheid moet gee om ‘n heel nuwe nasionale lied te komponeer. Maak dit n kompetisie en kry so almal betrokke. Laat die land se burgers dan met lirieke vir die nuwe lied vorendag kom in al 11 tale, want daar is goeie skrywers in elkeen van ons 11 landstale. Elkeen sing dan dieselfde lied by hul onderskeie byeenkomste, elkeen in die taal van hul keuse. So maak ons nasionale simbole werklik inklusief.
Seën hierie taal – Adam Small
Seën hierie taal oek Here Kaaps en Afrikaans wat, soes ek Djou vertel het, singend is, bestem virrie kitaar: ‘n taal met curves, het ek vi' Djou gesê, soes van 'n sexy engel ...
Maar die belangrikste les uit die lewe van Small is dat Suid-Afrika steeds onreg pleeg teenoor sy burgers, soms sonder dat ons dit besef, en soos in die geval van Biko en Hani kry ons selde of ooit die geleentheid om daardie foute reg te maak. Small se Hertzogprys, al kom dit, in sy woorde, “tong in die kies, maar tog – feitlik op (my) sterfbed”, was dus ‘n genade. Maar genade gaan nie altyd ons bas red nie. Suid-Afrika en sy leiers sal baie harder moet werk om te verseker dat sulke foute nooit gebeur nie. Die gevolge mag dalk net te veel wees vir hierdie jong en onervare demokrasie om te hanteer.
Nou vrinne
Kaaps is nie ‘n joke nie
Dis ʼn straight en diep taal vannie mense
waar hulle in gebore word en eerste kwyl
en dan allie transactions van hulle lewe in beklink
hulle bietjie maybe baie liefde soek, en haat
en dan, daa' byrie final beacon vannie dood in sterwe,
en, dja of course djy moet dit sing
Ja, verseker Small ons, die toekoms van Afrikaans het lank laas so mooi geblink as nou. Laat ons dus opvrolik.
want vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so
hy het gavra wat’s in my hand
en vrinne
in my hand was my kitaar. (CD)
Kô lat ons sing! Vir Small en vir Afrikaans!
Michael le Cordeur is hoof van die Departement Kurrikulumstudies in die Fakulteit Opvoedkunde aan die US.
The post Kô laat ons sing vi’ Small se Hertzogprys appeared first on LitNet.