Ons eie Cannes, die Silwerskermfees in Kampsbaai, is onlangs gehou, en kykNET en Karen Meiring verdien nogmaals ’n volstruisveerpluim vir hul belegging in die Suid-Afrikaanse filmbedryf.
Ná verlede jaar se uitstaande kortfilms was die vraag: Sal dit vanjaar weer so wees, of was 2015 net ’n uitskieter? Die antwoord is gelukkig dawerend: eersgenoemde! Met ’n hele vier komedies, baie dankie.
Uit die 196 konsepinskrywings is uiteindelik vyftien kortfilms geskep. Veral opvallend is dat elf van die vyftien se draaiboekskrywer en regisseur dieselfde persoon is. Myns insiens sorg dit gewoonlik vir die beste films, en verder dui dit op die talent, veelsydigheid en waagmoed van ons filmmakers, die meeste van hulle skaars ouer as dertig.
Arts (draaiboek en regie: PG de Jonge) gaan oor ’n outistiese jong vrou wat ’n idealistiese veearts ontmoet, wat lei tot ’n gruwelike en ontnugterende einde. Puik spel deur Charlenè Bruwer – sy is ’n verkleurmannetjie van ’n aktrise en amper onherkenbaar ná verlede jaar se Dis ek, Anna.
Beloofde land (draaiboek en regie: Mia Cilliers) is ’n heerlike komedie met Schalk Bezuidenhout as die diktator van Anskroepolis (dink aan Evita Bezuidenhout se Bapetikosweti). Daar word op ligte toon gespot met die bedenklike Afrikaanse musiek wat ons ore so treiter sowel as die veel ernstiger saak van korrupte politici.
Die biker (draaiboek en regie: Lisba Vosloo, met Geoffrey Butler as mederegisseur). Hierdie riller is maklik die stylvolste van die lys kortfilms, en Paul du Toit en Ian Roberts speel soos die veterane wat hulle is. Neil Harrison se kortverhaal is goed aangepas vir film, afgesien van die slot, waar die motivering vir die rol van die medepligtiges nie sterk genoeg is nie.
Die bok (draaiboek en regie: Philip van Zyl) is ’n getroue weergawe van die bekende kortverhaal deur Ingrid Jonker (’n herlees wys dat haar prosa nie so goed verouder het as haar poësie nie). Met die speelfilms Alison en Tess wat reeds uitgereik is, blyk 2016 Christia Visser – ons eie Jennifer Lawrence – se jaar te wees; sy is eenvoudig uitstaande in die hoofrol.
Die muse (draaiboek en regie: Frannie van der Walt) met sy klassieke driehoekverhouding is ’n treffer: ’n kluisenaar-skrywer met Aspergersindroom (Marcus Muller, in ’n suksesvolle wegbreek van die sepie Villa Rosa), sy manipulerende bestuurder (Milan Murray, indrukwekkend soos altyd) en die jong verpleegster wat aangestel word as sy versorger (’n puik Candice Weber).
En die wiele van die bus gaan om en om (draaiboek: Marina Bekker, regie: Pieter Grobbelaar). Nog ’n lekker komedie, oor ’n agtelosige busdrywer (André Stolz, in ’n nommerpas vertolking) wat sy vrag van tien psigiatriese pasiënte verloor – blykbaar gebaseer op ’n ware gebeurtenis!
Hum (draaiboek en regie: Willem Grobler). Hierdie paranoïese uitbeelding van ’n conspiracy theory-aanhanger is een van die fees se swaargewigte, dit slaan jou winduit (google The Hum om die agtergrond te kry). Carel Nel (wenner: beste akteur) gee ’n onvergeetlike vertolking. Benoem vir beste kortfilm, sowel as draaiboek (wenner) en regisseur.
Kolskoot (draaiboek en regie: Wimpie van der Merwe). Nog ’n uitstekende komedie, pikswart, oor ’n afgeremde kêrel (Albert Pretorius) wat sukkel om homself van die gras af te maak. By 2014 se Silwerskermfees is Pretorius uitgesonder as Jong Ikoon, en in elke rol waarin ek hom sedertdien gesien het, is dit glashelder hoekom. Ook hierdie een, waarvoor hy benoem is vir beste akteur.
Koue voete (draaiboek en regie: Lara Lourens). Die fliek werk met ’n interessante idee: ’n troue en ’n moord wat lyne kruis. Kaz McFadden is sedert Die Wonderwerker ’n akteur om dop te hou, hier in die rol van ’n boemelaar. André Velts en Juanita de Villiers staan ook uit as die paartjie wat ’n aanval van koue voete die aand voor die troue moet afweer.
Merk. Sny. Stoor. (draaiboek en regie: Ricardo Liut). Nog ’n puik drama, oor ’n jong kunstenaar se onverwerkte trauma oor die dood van sy ma (Suzi Swanepoel in ’n stewige vertolking). Jacques Bessenger, in die hoofrol, is altyd ’n plesier op die grootskerm, hier goed ondersteun deur Lilanie Prinsen.
Onthou (draaiboek: Elanie Rupping, regie: Susan Coetzer). ’n Klein, intieme film oor ’n kwasterige ou tante (Marga van Rooy, benoem as beste aktrise) en die jong lat (Phillip Schnetler) wat haar versorger word. Ek het lank laas soveel sinergie tussen twee totaal uiteenlopende karakters en akteurs gesien. Dis ouderdom en jeug wat ’n tweepas dans, en dis pragtig.
Oom (draaiboek en regie: PJ Kotze). Donker komedie, hierdie “Dag van die oom”, en in alle opsigte ’n uitstekende stuk werk. Pierre van Pletzen kan talle jonger akteurs onder die tafel in speel, en die nuweling Philippus Boshoff vertolk sy sinistere karakter nét reg. Anrich Herbst sorg vir die snaaksste toneel. Benoem vir beste film, draaiboek en regisseur.
Plankekoors (draaiboek: Ludwig Binge, regie: Nini Conradie). Die vierde komedie, en weer eens ’n eenvoudige idee wat perfek uitgevoer is. Dit wil gedoen wees om twee hoofkarakters (Antoinette Kellermann en Greta Pietersen) in dieselfde statiese ruimte te hou (twee aktrises se aantrekkamer) en hulle boonop dieselfde teks uit elkeen se perspektief te laat herhaal. Plankekoors is ’n ars poetica vir die teater, en tussen die snaaksheid deur word gewigtige dinge gesê oor akteur wees en die belang van kuns. Antoinette Kellermann is benoem as beste aktrise.
Spoor(loos) (draaiboek: Jannes Erasmus, regie: Marisa Drummond). Ten spyte van die onopgeklaarde vrae waarmee hierdie film jou laat, bly die grinterige atmosfeer jou by. Fezile Mpela as die sorgsame taxibestuurder en Pulane Sekepe as die prostituut wat hy probeer help, lewer goeie samespel.
Vlees van my vlees (draaiboek en regie: Matthys Boshoff). Toe kom die beste laaste. Hierdie is ’n skreiende, skrynende verhaal oor verlies, met skitterspel deur Erica Wessels (wenner: beste aktrise) en James Alexander (benoem: beste akteur) as die egpaar wie se gelukkige lewe aan skerwe spat wanneer ’n motorongeluk haar verlam laat. Vlees van my vlees verdien sy bekroning as beste kortfilm deur en deur, met Matthys Boshoff ook aangewys as beste regisseur.
’n Kortfilm is, soos ’n kortverhaal, ’n gekonsentreerde kunsvorm – een waarvoor ek al meer waardering kry. Hou kykNET en die Woordfees 2017 dop vir vertonings van hierdie films; dis die moeite werd om daarby uit te kom.
The post Kortfilms Silwerskermfees 2016 appeared first on LitNet.