Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Onderhoud: Toast Coetzer en Erns Grundling oor Weg Agterpaaie

$
0
0

Toast Coetzer en Erns Grundling gesels met Naomi Meyer oor Weg Agterpaaie wat op die TV-kanaal Via uitgesaai word.

Toast en Erns, julle is albei ervare reisjoernaliste by Weg. En bied deesdae die program Weg Agterpaaie op Via aan. Hoe verskil tydskrifjoernalistiek van joernalistiek voor die televisiekamera vir julle? En wat is dieselfde?

T: Dit is heeltemal anders. Wanneer jy op ’n storie is vir Weg, reis jy meestal alleen. Jy maak jou eie planne, ry soos jy wil, slaap waar jy wil. Jy talm langer op een plek wanneer jy voel dis nodig. Ons het Weg Agterpaaie met ’n baie klein span verfilm – dit was net ek en Erns, en die kameramanne Chris Kritzinger en Kobus Zietsman. Maar TV-maak is anders, want elke dag en uur kos geld. Ons het net twee dae gehad vir elke episode wat ons moes verfilm, en het uiteindelik 31 dae sonder ‘n rusdag gewerk. Ons was pootuit na die tyd, maar dit was die moeite werd.

E: Daar was wel ook ooreenkomste. Eerstens was baie van die plekke wat ons besoek en karakters met wie ons gesels het, te danke aan jare se gesamentlike kennis wat ek en Toast tydens Weg-reise na Namibië opgebou het. Dit sou baie moeilik gewees het om by al hierdie mense te kon uitkom sonder hierdie kennis, want daar sou gewoon nie genoeg tyd gewees het nie. Maar bygesê, een van die geskenke van reis is die verrassings langs die pad en onverwagse ontmoetings, en daarvan het ons baie gehad tydens ons maand in Namibië. Ons doel met die program was om getrou te bly aan die Weg-manier van reis, soos ons al jare vir die tydskrif doen. So dit is op ’n manier ’n reis van tydskrif na televisie. 

Erns leen gou Abraham Fries se fiets naby Gunau.

Wie se idee was die konsep van Weg Agterpaaie en die doel van die program?

T: Weens Media24 se direkte betrokkenheid by Via is daar al lankal planne om ’n Weg-program te maak. Ons het die naam Weg Agterpaaie voorgestel en gereken dat Namibië die perfekte plek sou wees om mee af te skop. Ons, en ons lesers, is almal lief vir Namibië, en ons ken die land goed.

E: Ek het gehoor elke episode is 24 minute lank en gewoonlik in drie seksies van agt minute elk. Ek het toe “How to write a treatment for TV” ge-Google en met ’n kaart en ’n klomp Weg-tydskrifte gaan sit. So het ek en Toast saam op die inhoud van die episodes en die reisplan besluit. Ons het van ons kontakte gebel en afsprake vasgemaak en die res aan die noodlot oorgelaat. Albei was ons uiters goedgesind tydens hierdie reeks.

Erns neem kokerbome af op Liebenrust-gasteplaas.

Weg Agterpaaie se naam verklap seker reeds: kykers word geneem na plekke waar daar nie skares mense is nie. Is ek reg? Vertel asseblief van die bestemmings wat julle tydens hierdie reeks besoek het?

T: Ja, die konsep van ’n agterpad strook met die kernidentiteit van Weg as tydskrif, en dis hoekom ons dit ook deel van ons treetjie na TV wou maak. Op ’n agterpad sien jy iets wat die deursnit-toeris dalk misry op die hoofpad. ’n Agterpad vat jou na plekke en mense waarvan jy nooit sou kon droom nie.

E: Ons het besluit om vir hierdie eerste reeks net op die suide van Namibië te fokus. Vir mense wat die eerste keer na die land reis, is die suide die aangewese plek om eerste te verken. Ons het begin in die Grünau-distrik, daarna gereis na die Karasberg en Kalahari, toe gemik na Keetmanshoop en omstreke, en verder wes gery na Aus, toe noord tot by Sossusvlei en Solitaire, en toe al die pad suidwes na Lüderitz en die Sperrgebiet, voor ons suidwaarts gery het, terug na die Oranjerivier. Dit is so rofweg ’n sirkel deur die suide, as jy jou verbeelding mooi gebruik. En sover as wat ons kon, het ons op grondpaaie gery, want dit is waar die agterpaaie tot hul volle reg kom. 

Visriviercanyon

Die verlatenheid van die Visriviercanyon, wat julle tydens 'n onlangse episode besoek het, het my verbeelding aangegryp en my lus laat voel om dié omgewing saam met my gesin te besoek. Gee asseblief 'n paar praktiese wenke vir 'n gesin wat lus het om vanuit Suid-Afrika by hierdie natuurwonder uit te kom.

T: Die Visriviercanyon is maklik om vanuit Suid-Afrika te bereik. Jy ry teerpad tot by Grünau en daarvandaan meestal skaflike grondpad (die sinkplate is soms wel erg na Ai-Ais se rigting). Jy kan dus daar uitkom met enige kar, alhoewel iets soos ’n sportnutsvoertuig beter sou wees, of enigiets met hoë grondvryhoogte. Omdat die canyon in die suide van Namibië is, hoef jy nie so ver te ry nie – dit is ’n bekostigbare bestemming, en heeljaar mooi (net vrek warm in die somer).

Die Weg Agterpaaie-span gesels met Dolf de Wet van Die Withuis-gastehuis

E: Die blyplekke in die suide is werklik puik en vang iets vas van die landskap en sy mense. Ek kan vir almal aanbeveel om Dolf en Kinna de Wet se Withuis-gasteplaas te besoek – hul gasvryheid en die omvangryke aandete (hierdie is Vleis Sentraal) wat toegedraai in ’n kombersie by jou afgelaai word, is besonders. En die Gondwana-lodges in die suide, soos die bekende Canyon Roadhouse naby die Visriviercanyon, is ook ’n moet. En as jy werklik wil voel hoe dit is om op ’n plaas in die suide te bly, gaan oornag by Hans en Sonia Eberhard se Liebenrust-gasteplaas buite Karasburg. O ja, en dan is daar DuneSong Breathers in die Kalahari, Klein-Aus Vista buite Aus, en Namtib in die Tirasberg ... As ek so aanhou, gaan ek nou my sakke begin pak en weer in die pad val!

 Julle is vriende en kollegas. Hoe was dit om saam voor die kamera te werk?

T: Ons reis eintlik nooit saam nie, en werk gewoonlik apart van mekaar op die langpad. Maar ons is darem al baie lank vriende en sit langs mekaar op kantoor. Ons het al tente gedeeel, saam gebraai, saam ge-Oppikoppi. Dit was dus maklik.

Toast ontmoet 'n meerkat by Kalahari Game Lodge.

E: Ek en Toast ken mekaar al van ons studentedae in die laat ‘90’s. Ons persoonlikhede verskil nogal op baie maniere, ek kom dit selfs meer agter soos wat ek die episodes in die reeks kyk! Dit klink seker corny, maar ek dink ons gun mekaar die ruimte vir elkeen om volledig homself te wees. En dis iets kosbaar. En ook: as jy 31 dae onder dikwels stresvolle omstandighede saam in ’n Hilux oor die 6 000 km kan aflê en steeds baie goeie vriende voor en agter die kameras is, sê dit iets van ’n vriendskap se diepte. Soos Toast in die reeks vra: “Wat op aarde kan skeefloop?” 

  • Foto's verskaf
  • Weg Agterpaaie is op Woensdae-aande om half nege op die TV-kanaal Via, DStv-kanaal 147

 

The post Onderhoud: Toast Coetzer en Erns Grundling oor Weg Agterpaaie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>