The Betsie Beers, ’n betreklik jong band bestaande uit twee susters – Landi en Zelmari Degenaar – se eerste album word eersdaags vrygestel. Landi beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Landi. Hoe's dinge?
Hallo Henry, dinge is maar hectic maar baie exciting!
Geluk met die vrystelling (binnekort) van The Betsie Beers se eerste album, Heartbreak Road. Was die opneem van die album ’n intimiderende ervaring (vergeleke met sporadies snitte opneem om aanlyn te plaas), of hoe sou jy dit beskryf? Het julle ’n spesifieke "game plan" gehad in terme van beplanning vir die opneemproses, of het julle as jong band ’n rustiger benadering probeer neem?
Baie dankie. Ons het nie regtig gedink ons sal sommer ’n album maak nie, dit was net iets wat oor ons pad gekom het, gelukkig. Maar dit was nogals ’n stresvolle proses, veral nou om al die klein goedjies reg te kry sodat dit soos iets klink. Dit was ’n besonderse experience though.
Die bluegrass-country-folk-snitte (of hoe verkies julle die genrebepaling?) op die album getuig van ’n groot liefde vir dié musiekstyl, en ook ’n besondere instrument- en skryfvaardigheid daarin. Hoe het dié liefde ontstaan, en hoe sou jy sê het jul aanslag oor die jare gegroei of verander?
Ja, bluegrass-country-indie-folk, en so nou en dan bietjie rock ’n roll. Ek was nog altyd mal oor country- en bluegrass-musiek. Ek dink dit is al die snaarinstrumente, die eenvoudige rhythm en melody, die honest en real lyrics en natuurlik my favourite, die harmony.
Dit is natuurlik ook ’n moeilike genre om in te werk, juis vanweë die globale gewildheid daarvan ... dit kan meebring dat dit moeiliker is om uit te troon bo die res, om waarlik ’n stempel op die bedryf af te druk. Hoe gaan julle te werk om te verseker dat jul musiek uniek en onmiddellik herkenbaar is as ’n tune van The Betsie Beers? Of hoe werk daardie gedagtegang by julle – dalk eerder ’n geval van bloot doen wat mens wil en hoop andere vind aanklank daarby?
Wel, in Suid-Afrika is daar nie regtig so baie country bands of singer-songwriters nie, meer folk. So dit maak ons styl bietjie meer kenmerkend vir nou. Maar ek en Zel se harmony is iets spesiaal. En dit sonder ons uit, so ’n bietjie.
Gepraat van die skeppingsproses: jy het duidelik ’n natuurlike aanleg vir liedjieskryf. Almal het ’n verskillende proses wat hulle verkies – hoe werk joune? Wat word eerste neergepen – ’n woord of ’n akkoord? En hoe verloop dit van daar af? Hoe weet jy wanneer ’n liedjie "reg" of "gereed" vir die wêreld is?
Gewoonlik kom die tune eerste, en lyrics baie vinnig daarna. Maar dit gebeur soms dat my hart vol woorde is, dan skryf ek basically ’n gedig en dan het ek iewers ’n ou tune wat perfek pas daarby. En ook wanneer ek rym het dit gewoonlik al klaar ’n ritme.
Jy en Zelmari vorm die kern van The Betsie Beers. Nes met ’n egpaar of paartjie wat saam ’n band lei, kan daardie dinamika ’n seëning of ’n vloek wees! Hoe werk daardie interpersoonlike werkinge tussen julle twee? Julle doen dit al jare lank, so ’n mens neem aan die professionele verhouding is goed! Wat sou jou raad aan ander bands wees wat in dieselfde bootjie is?
Dit is absoluut meer ’n blessing as ’n curse, want ons stemme en ons styl vloei so eenvoudig saam omdat ons al van kleintyd af gewoond geraak het aan mekaar. En my raad is: as iemand ’n familie-band kan doen, doen dit. Dit is die beste soort. En doen goed saam, luister goed saam. Dit help met die energy op stage.
Die res van die band is ’n geval van daar-vir-optredes-maar-nie-permanente-lede-nie, as ek reg verstaan. Daar's wel gesoute musikante in die groep, soos Wynand Davel en Gerhardt Claassen. Hoe werk daardie set-up by julle? Hoe beplan julle toere en dies meer, in terme van wie op enige gegewe tyd deel van die band is? Sal julle ooit van The Betsie Beers ’n voltallige, vaste band wil maak, of wat is die ideale balans soos jy dit voorsien? Wat is die voordele en nadele van die set-up soos dit nou lyk?
Ons is baie lucky om hierdie great en gesoute musikante te hê wat saam met ons speel. Dit gee ’n hele ander tipe vibe. Baie meer vol en versatile. Ek en Zel sal nog steeds party klein gigs saam doen – dit is baie spesiaal en magical wanneer dit net ons twee is – maar vir groter gigs soos festivals en corporates het ons die volheid van die band nodig. So wanneer daar iets opkom, dan besluit ons of dit nodig is of nie. Dit sal amazing wees om ’n permanente band te hê, sodat ons kan saam groei en meer gemaklik op stage mekaar kan lees, soos wat ek en Zel doen as dit net ons twee is. Maar vir nou vat ons dit maar eers gig vir gig.
Al is die opkomende album jul eerste, het The Betsie Beers reeds ’n indrukwekkende CV – onder meer optredes by Rocking the Daisies en snitte wat op filmklankbane gebruik is. Wat is vir jou die hoogtepunte tot dusver? En enige laagtepunte? Enige agter-die-skerms-stories wat mense sukkel om te glo as jy dit oorvertel?
Ja, ons is baie gelukkig om al so baie te kon speel – en soveel groot gigs. Ek dink die beste en die lekkerste wat ons nog gespeel het, was ’n klein private festival op vriende se plaas in Houtbaai. Alles was net perfek. Ons het goeie klank gehad, dit was buite in die vars lug, mooiste, warmste atmosfeer en beautiful mense.
Wanneer die klank nie so great is nie, dan sukkel ons maar gewoonlik baie met feedback vanaf my banjo en ek en Zel kan dalk nie mekaar hoor nie, of een of ander probleem. Maar dit gebeur nie baie nie. Dit is altyd ’n plesier om te speel en by sulke gigs leer ons gewoonlik baie.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir The Betsie Beers, in so verre jy en julle dit kan beheer?
Wel, eerstens hoop ons vir die album launch om ’n groot sukses te wees, dan het ons al klaar ’n paar gigs wat opkom na dit en ook ’n paar vroeg volgende jaar. Daar is ook miskien ’n albumtoer wat moontlik kan gebeur volgende jaar. Maar ons beplan nie te ver vorentoe nie. Ons doen net wat ons doen omdat ons dit absoluut LOVE!
Wat is die sin van die lewe?
Om jou passion uit te leef, al is dit net vir jouself. Om nie op te gee nie en om ja te sê vir alles wat goed kan wees vir jou, al is dit die grootste uitdaging!
The post The Betsie Beers: "Vir nou vat ons dit maar eers gig vir gig" appeared first on LitNet.