Die film begin met Rolanda Marais wat wakker word, regop sit en vir die kamera kyk. Dan begin die kamera terugbeweeg, uit die kamer uit, in die gang af. Jy sien Roelanda steeds in die bed sit. Sy kyk steeds vir die kamera. Ek het reeds hier geweet Johnny is nie dood nie is iets besonder.
Roelanda Marais is weerloos, dromerig en kompleks. Jy hou van haar. Jy hou nie van haar nie. Heen en weer. Albert Pretorius bring die hart en siel. Illana Cilliers is beneuk en bakleierig, maar die enigste karakter wat reg is vir die waarheid, vir die postrevolusie blues.
Die kinematografie en stilering van die laat ’80s en 2002 is foutloos. Ek dink spesifiek aan een toneel waar twee akteurs in die kombuis tee drink. Die koppies is ’n onpaar. Die meeste Suid-Afrikaners sal beide van die koppies (selfs met ’n tikkie nostalgie) herken.
Daar is tonele waar die stilering, die kamerawerk, die storie en die akteurs perfek saamsmelt. Die huispartytjie, skottelgoed was in die swembad, die droomtoneel…
Die “tracking shots”, waar ’n kameraman die akteurs volg by ’n partytjie, of om hulle sirkel waar hulle aan tafel sit en eet, trek ’n mens dadelik teen wil en dank in die film in. Sover ek verstaan, was die een skoot by die huispartytjie omtrent 16 minute lank. Dit voel asof jy dit droom. Regisseur Christiaan Olwagen het gesê hy wou dit laat voel soos ’n motorongeluk waarvoor jy nie kan ophou kyk nie. Christiaan, jy het dit reggekry.
Met groot name soos Kerkorrel en Kombuis, om net twee te noem, as klankbaan, kan jy nie fouteer nie. Die mees indrukwekkende stem is egter dié van Illana Cilliers. Haar weergawe van “Gee jou hart vir Hillbrow” in die swembadtoneel gaan my lank bybly.
Daar is ooreenkomste tussen die karakters en Kerkorrel, Dagga Dirk en ander openbare figure in die Voëlvry-toer. Met tye wonder mens of dit dan nie biografies is nie. Dan besluit jy dit is totale fiksie. Dan wonder jy weer.
Die onderwerp is nog nie een wat werklik aangeraak is nie – die postrewolusie blues van die Afrikaner. Dit kyk na die storm-en-drang-jare van ’n groep studente wat, met die Voëlvry-toer as klankbaan, geglo het hulle gaan apartheid eiehandig beëindig. Dit kyk ook na hul lewens 14, 15 jaar later, wanneer sommiges getroud is en kinders het, ander nie ’n werk kan behou nie, en onvermydelike ontnugtering toesak.
Alhoewel die film spesifiek na die Afrikaner kyk, en die klankbaan tot ’n sekere generasie spreek, glo ek dit is ’n universele film. Postrevolusie blues is ’n universele verskynsel en die gehalte van die film, die toneelspel en die musiek sal grense oorsteek.
The post Filmresensie: Johnny is nie dood nie appeared first on LitNet.