Die standaard-romkom het ’n baie spesifiek resep: ’n liefdesverhaal met ’n lawwe storielyn, gemiddelde humor en eendimensionele karakters. Iemand raak verlief. Iemand vang iets lafs aan. Niemand is regtig sleg nie. Liefde oorwin mos als, selfs seksisme en verneukery.
Dis koue kos, skat spring gelukkig hierdie middelmatigheid vry. Dit is werklik snaaks, en nie enigsins soetsappig of pretensieus nie. Iets wat moeilik is om te bewerkstellig. Van die humor is nogal riskant daarby. (Kyk uit vir die meeste tonele met Elsabe Zietsman.)
Tog het die film ’n hart en siel. Die verbrokkeling van ’n familie en die hartseer verbonde daaraan as ’n lewensmaat en ouerfiguur die familie verraai, word vasgevang in ’n ontroerende vertolking deur Anna-Mart van der Merwe. Haar verhouding met haar seun staan ook uit.
’n Verdere verrassing is dat die verneuker, in dié geval Bernard (die onkeerbare Deon Lotz), nie vergewe word nie. Sy verraad word nie onder die mat ingevee ter wille van ’n glansweergawe van die lewe nie. Aan die einde is daar skaars iets van hom oor.
Dit is nie ’n perfekte film nie. Dit is te lank, en ’n hele paar tonele moes eerder in die snippermandjie beland het. Die uiters gemiddelde kamerawerk en kosstilering is ’n geleentheid wat deur die vingers van die regisseur geglip het. Dink byvoorbeeld aan Wes Anderson se komieklike Grand Budapest Hotel. Die kleurvolle (en simmetriese) stilering en kinematografie was een van die belangrikste aspekte van daardie film.
Dis koue kos, skat ontgin geen nuwe terrein nie, maar is ’n uiterse snaakse en geslaagde bydrae tot die Afrikaanse filmbedryf.
O ja, Frank Opperman is kostelik as Ari.
The post Dis koue kos, skat – snaaks, maar sielvol appeared first on LitNet.