Chris Rock het ’n paar jaar terug ’n dokumentêr genaamd Good hair gedoen, oor die obsessie in die Amerikaanse swart gemeenskap oor wat “goeie” hare nou eintlik is.
In een van die snaaksste en tegelyk sprekendste tonele in die film praat hy met haarkappers oor waarna hulle soek wanneer hulle hare aankoop om in verlengstukke te gebruik. Deur die bank was die antwoord dat dit natuurlike mens-hare moes wees. Dan pluk Rock ’n bos kroes hare uit en vra of hulle dit wil koop. Een stilis het selfs ’n tree weg van die boskaas gegee. Niemand wou natuurlike “swart” hare koop nie. Gladde Indiërhare, aan die ander kant, word met ope arms verwelkom. Die slotsom waartoe Rock aan die einde van die dokumentêr kom, is dat gladde hare as “goeie” hare beskou word, as die ideaal waarna gestreef moet word. Sg etniese hare, swart hare in sy natuurlike staat, is iets wat ten alle koste getem moet word. Dis ’n lukratiewe besigheid met omset wat multimiljoen rand beloop, hierdie “goeie”-hare-bedryf, soos wat Black Like Me en Jabu Stone in Suid-Afrika kan getuig.
Viola Davis, die bekroonde Amerikaanse aktrise, het opspraak gewek toe sy by ‘n Hollywood-glansfunksie, die Oscars, opgedaag het met haar hare in ’n netjiese modieuse afro. Dit was eenvoudig nog nooit gedoen nie – die verwagting was nog altyd dat jy met gladde hare opdaag, of dit nou ’n pruik, chemiese relaxer of deur ingevlegte haarstukke gebeur. Davis het eenvoudig geweier om aan daai eng definisie van wat “red carpet ready” beteken, te voldoen.
Oprah Winfrey het in een episode van haar geselsprogram kykers en die kamera toegelaat om haar vir ’n dag te volg. Die program begin waar sy met haar natuurlike hare opstaan, voordat ’n haarstilis daaraan kan werk. Daar het ’n senuweeagtige gegiggel deur die studiogehoor gegaan, en die spanningsvlakke het eers regtig begin daal toe die haarstilis Oprah se hare begin bewerk in die meer herkenbare styl waarmee sy op televisie verskyn.
In Suid-Afrika was daar onlangs ’n opskudding toe ’n sepie-aktrise met haar hare in ’n natuurlike toestand in ’n episode van die program verskyn het. Ek moet bieg, ek kyk nie sepies nie en ek het dus geen idee hoe die aktrise vooraf gelyk het nie. Ek neem aan haar hare was altyd “getem”.
Rastafariërs se hare word as “vuil” beskou. Hardnekkige gerugte wil dit hê dat daar meer as veertig verskillende soorte luise in Bob Marley se hare gevind is na sy dood.
Swart hare in sy natuurlike toestand was nog altyd as problematies en ongewens beskou. Met Boesmans se “peperkorrels” word daar net soveel spot gedryf.
Die boodskap wat jong swart dogters elke dag kry, waar hulle ook al gaan, elke keer as hulle die televisie aanskakel, is dat dit wat natuurlik hulle s’n is, nie aanvaarbaar is nie – hulle hare, hulle lippe, hulle heupe. Juis daarom het “Black is beautiful” feitlik ’n oorlogskreet geword, terwyl dit eintlik maar net bevestiging van iets vanselfsprekend behoort te wees. Juis daarom is dit nodig om #BlackLivesMatter uit te roep, oor en oor en oor. Daar is so min positiewe bevestigings rondom swartheid.
Dink maar aan sprokies. Die heks dra altyd swart, die heldin se witheid word op een of ander manier bevestig. Swart is boos, wit is rein. Die mitiese bose swart man is die gogga wat baba bang maak in Suid-Afrika.
Dis teen hierdie agtergrond dat die herrie wat die afgelope week by ’n Pretoriase skool uitgespeel het, gesien moet word.
Ek wil dit onomwonde stel: om dit af te maak as ’n eenvoudige geskil rondom ’n skool se netheidsreëls is om die hele punt van die protes te mis. Dit gaan oor veel meer as die lengte van hare, of die voorgeskrewe style waarin dit gedra mag word, en selfs of die styl kulturele betekenis het. Die hart van die protes gaan daaroor dat ’n integrale deel van ’n groep se identiteit misken en verwerp word.
Die argumente wat ter verdediging van die skool se reëls aangevoer is, was soms so belaglik dat dit amper nie reaksie werd is nie. Een daarvan was dat die kinders agter ’n kind met ’n afro nie die bord sal kan sien nie. Hoe hanteer skole lang of frisgeboude kinders? Word hulle gepenaliseer omdat die kinders agter hulle nie kan sien nie, of word die sitplekreëlings net anders getref?
’n Ander argument was dat die dogter wat die gesig van die protes geword het, van Indiese afkoms is en dat ’n afro dus nie kultureel vir haar gepas is nie. Dis nie die punt nie. Haar hare in sy natuurlike toestand groei in ’n afro uit, en haar reg om dit so te dra, word misken.
Dan – wat deur baie as troefkaart voorgehou word – is die argument dat daar een skool in Soweto (dus, kode vir “swart skool”) is wat ook nie braids toelaat nie. Die argument is dan dat die haarreëls nie rassisties of negatief kan wees as daar ’n swart skool is met dieselfde reëls nie. Beteken dit dan dat apartheid nie so erg was nie, want daar was swart polisiemanne en soldate en askari’s en informante wat gehelp het om die regime in stand te hou?
Die regulasies rondom die netheid van hare, en veral swart hare, is problematies eenvoudig om die volgende rede: wie se standaarde van netheid as die norm aanvaar word, en wie die standaarde afdwing. In ’n land met ’n swart meerderheid, deel van ’n kontinent met ’n swart meerderheid, kan dit mos onmoontlik aanvaarbaar wees dat ’n swart kind met arrestasie gedreig word omdat sy aandring op die reg om haar hare in ’n natuurlike styl te dra.
Dis nie die eerste keer dat skole, vasgevang in die greep van konserwatiewe denke, onkant betrap word wanneer hulle met diversiteit gekonfronteer word nie. Die laaste keer toe ’n skooldogter die grondwetlike hof genader het, oor haar reg om ’n neusring te dra, het die hof die dogter gelyk gegee.
Daar is alreeds in Port Elizabeth ’n saak met soortgelyke feite wat in die regsproses is. Tensy die onderwysdepartement en individuele skole indringend na hulle haarbeleid kyk, gaan daar waarskynlik ook binnekort ’n hofbevel kom om hulle te verplig om dit te doen.
Audre Lorde het ’n dwingende argument uitgemaak hoekom elkeen van ons ’n plig het om betrokke te raak by protes teen ongeregtigheid: “[I]f I fail to recognise them as other faces of myself, then I am contributing not only to each of their oppressions, but also to my own, and the anger which stands between us then must be used for clarity and mutual empowerment, not for evasion by guilt or further separation. I am not free while any woman is unfree, even when her shackles are very different from my own. And I am not free as long as one person of color remains chained. Nor is any of you.”
Dit gaan nie net oor hare nie. After all, soos wat baie oumense vinnig sal opmerk, ’n hond k@k ook hare.
The post 'n Hond k@k hare appeared first on LitNet.