Hy kom met die skoenlappers
Valda Jansen
Human & Rousseau
ISBN: 9780798172523
Die leser kan aanneem dat mens hier – soos dit met die ondertitel aangegee word – te make het met “‘n elegie aan verlore liefde”. So ‘n aanname onderskat egter die omvang van Hy kom met die skoenlappers. Wat verdoesel word op die stofomslag, is ‘n konteks waaroor daar nie genoeg gepraat en geskryf word in Suid-Afrika nie: hoe die individu voortgebring word nie net deur ouers, familie en sleutelgebeurtenisse in sy of haar lewe nie, maar ook deur die geskiedenis, die omgewing en die sosiopolitieke toontaal van die kinderjare.
Die boek is op die oppervlak inderdaad ‘n tipe rouklag aan ‘n gestorwe liefde. Die hoofkarakter – wat ‘n naam met die skrywer deel – werk aan ‘n onbegonne legkaart oor haar verhouding met Anders, wat sy in die vroeë negentigerjare in Jena in Oos-Duitsland ontmoet, ‘n taak wat sy onderneem met behulp van ‘n pak briewe van hom wat sy lank van vergeet het, ‘n onbetroubare geheue en ‘n vreeslike berou oor verspeelde kanse.
Sy het onlangs ontdek dat Anders dood is, te midde van groot veranderinge in haar persoonlike lewe: sy trek Kaapstad toe van Johannesburg af met haar seun, onseker oor die toekoms van haar huwelik, en voel eensaam en vreemd in ‘n bekende stad.
Die nuus oor Anders se dood is soos ‘n klein ongeluk op die hoofweg: niemand is beseer nie en die lewe, die verkeer, gaan ongeërg aan. Net die skok bly oor, ‘n intensiteit wat deur die skrywer-karakter bemiddel word deur woorde. Want “[o]nbeantwoorde woorde gaan sit in selle. Vele onbeantwoorde woorde word vele kwaadaardige selle.”
Op dié manier word skerwe bymekaar gepas: vele verledes (haar kinderjare in die Strand, haar etlike besoeke aan Duitsland, haar universiteitsjare, haar lewe in Johannesburg) en ‘n skurwe, ongemaklike hede.
Die ongladheid van dié proses word benadruk deur ‘n verskeidenheid skryfstyle: soms eenvoudige maar onthullende reportage oor haar nuwe roetines in Kaapstad; soms spreek sy direk vir Anders – of sy spook – aan. Partykeer trek sy ‘n ruk lank aan ‘n vislyn en kom met ‘n klein, helder vissie van ‘n herinnering uit. En dan is daar ook passasies van bewussynstrome sonder leestekens, wat beklemtonend dringend is.
Die eindresultaat is ‘n teks wat suggestief eerder as eksplisiet te werk gaan. Die liriese word bo die vertellende benadruk en die storie ontwikkel stadig, wasig soos die figuur in die sneeu in die prent op die boekomslag. Dit verg aandag – die leser moet saamwerk. Maar omdat die teks so poëties te werk gaan, verlangsaam dit die pas – die liriese toon en ylheid wat deur die teks se elisie bewerkstellig word, bou ‘n verbasend lang en diep storie.
Hierdie verhaal is nie, kom ‘n mens agter, ‘n elegie aan ‘n verlore minnaar nie, maar ‘n elegie aan ‘n self wat soek geraak het agter skanse wat begin as blote mure maar mettertyd begin inkelder. As volwassene is die verteller omring deur hoë mure in Johannesburg waar die sekuriteit so goed is dat “niemand sal sien as jy agter die muur seerkry nie”. Vir die verteller as kind was die meer verraderlike mure van apartheid eintlik ruite waardeur sy as bruin kind net mag uitkyk op haar omgewing, waarvan sy egter nie deel kon wees nie.
Ook beperkend in haar kinderjare is haar gesinsomstandighede: ‘n onderwyseres-ma met ses kinders en min tyd, en ‘n afwesige pa wat terugkom van die grens en hulle onderwerp aan sy soldaatmaniere en problematiese lojaliteit – ‘n doofheid en doodsheid te midde van ‘n skaarsonderdrukte huishoudelike en landsgeweld.
Anders het op sy beurt grootgeword “agter die muur” in Oos-Duitsland, waar hy droom om eendag die Atlantiese Oseaan te kan sien – iets wat binne reikafstand van die verteller se huis was, maar wat vir haar as bruin kind net so onbereikbaar was.
Die verteller se enigste ontvlugting is deur woorde: “Ek gaan onder die grond in waar woorde groei sonder dat iemand sien ek duik ondergronds … net as ek skryf kan ek die taal wees net as ek is kan ek die taal word net as ék kan ek die taal word net as ék kan ek word.”
Maar dit word haar ook ontneem: wanneer sy vir haar pa die gedigte wys wat sy as kind skryf, haal hy sy belt uit – hy wil weet waar ’t sy die goed gesteel. Sy trek af in haarself in. Later, op universiteit, terwyl sy Duits studeer, vra die dosent vir haar ‘n vraag en sy kry nie ‘n antwoord uit nie. Maar skryf kan sy skryf, sê die dosent, en “ek kyk op soos iemand wat wakker word”. Die stilte self, die verteller self, word ‘n muur, ‘n burg – afgesny en onbereikbaar vir haarself.
Teen die einde van die boek ry sy Strand toe om te gaan kyk na die huis waarin sy grootgeword het. Dis nou omring deur ‘n heining. Sy ry met die kuspad langs en maak die kar se venster oop. “Hoe lank het dit my geneem om te besef dat ek nou mag kyk, dat die see my nou geoorloof is, dat ek die sand en see en alles wat daarin is nie meer hoef te sien asof deur ‘n venster nie, asof in ‘n prentjie wat in ‘n ander land afspeel.”
Gedurende die verblyf in Jena, wanneer sy vir Anders ontmoet, in die vroeë negentigerjare, word daar baie gepraat van “Vergangenheitsbewältigung”, ‘n woord wat beteken om vrede te maak met die verlede, veral in ‘n openbare diskoers met die doel om ‘n verskriklike geskiedenis kollektief te kan verwerk en verstaan.
Die intieme verhouding wat verlore gegaan het – as gevolg van die verteller se onbewuste skanse as verweerreaksie – vee ‘n komplekse hopie probleme bymekaar wat universeel uitdy: swart, wit, die beperkings wat mense opgelê word deur regimes, pa’s wat soldate is in oorloë wat later as onregverdigbaar en boos onthul word.
Deur die oog van hierdie naald onderneem Jansen ‘n belangrike literêre stap in die trant van Vergangenheitsbewältigung en trap suutjies agter die woeste ontploffings op sosiale media, waar die “dis alles in die verlede, kom ons beweeg aan”-brigade die beseerdes uittart. En waar, tereg, die ontwaakte (#woke) Twitter-leër meedoënloos uiteensit hoe en hoekom dit onmoontlik is in ‘n land waar die individu en die samelewing soos hy nou daar uitsien, gevorm is deur ‘n korrupte en etterende verlede.
Hierdie subtiele verhaal se bydrae op daardie vlak moet nie onderskat word nie, en omdat dit ‘n boek is wat fluister, sou dit maklik wees om te doen. “Ek soek na ‘n woordeskat … buite woorde”, en dit doen sy dan ook, en openbaar ‘n nuwe uitsig wat nóg in Afrikaans nóg in Engels al voorgekom het nie.
Dit is die storie van ‘n doodgewone mens wat besef dat sy haar nie kon weer teen die vernieling van ouers en vaderland nie: “Ek was nie ‘n heldin nie ek was nie in die struggle nie ek is nie gemartel nie ek is nie verban nie ek het nie gely vir my land nie ek het nie baklei nie ek is nie in die tronk gegooi nie.” Hierdie verklaring van ‘n gebrek aan heldhaftigheid is nie ironies bedoel nie en tog kan blote oorlewing soms ‘n teken van dapperheid wees.
Dit is hierdie stories wat vertel moet word – maar hulle moet gehoor word óók, want dit is hier waar die waarheid borrel soos waterstofperoksied op ‘n wond: in die marginale, die onmerkwaardige, die eentonige alledaagse afskaal, inkort en opsluit wat vir miljoene mense noodsaaklik was.
Daar is geen groot onthulling aan die einde van Skoenlappers nie: net ‘n stil aanvaarding van spyt; net genoeg om aan te hou met die aanhou.
En hoe? “Ek neem julle woorde met my saam ek neem julle woorde weg ek neem die woorde uit julle monde ongesiens ek neem julle van julle woorde weg ek is ‘n dissident ek is ‘n skandaal …”
Nie net met sy titel nie, maar ook met sy intieme stem en verlange herroep Hy kom met die Skoenlappers Hettie Smit se Sy kom met die Sekelmaan. En net soos Smit destyds baanbrekerswerk gedoen het, doen Jansen dit ook deur die elegie aan verlore liefde meer te laat wees: ‘n elegie aan ‘n verlore self, ‘n verlore land.
Dit stel ‘n nuwe, ‘n vurige standaard.
The post Boekresensie: Hy kom met die skoenlappers deur Valda Jansen appeared first on LitNet.