Titel: Goud kan nie roes nie
Skrywer: Paul-Constant Smit
Uitgewer: Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781485903253
Goud kan nie roes nie is die skrywer se debuutwerk. Die hoofkarakter, Con Slaughter, is 'n regte Chuck Norris (wat sy skoenveters met sy voete vasmaak, en dies meer): bobaas vuisvegter, rewolwervegter uit die Amerikaanse Wilde Weste, entrepeneur, goudmagnaat en 'n paar ander dinge.
Die verhaal begin met die koningin van Skeba (998 vC) en spring dan na die vroeë goudvelde aan die rand (1883). Tussendeur bring Slaughter lang tye met 'n Boesman en 'n swart man deur. Hulle beleef saam avonture en voer diep gesprekke wat insig in hul kulture gee.
Die leser kry ook wat waarskynlik aan hom onbekende, maar niefiktiewe, insigte is in die ontdekkingsreisiger Vasco de Gama se wrede gesagvoering oor sy skeepslui.
Die ontdekking van dagboeke uit die antieke tyd en Skeba se ekspedisie na Suider Afrika lei tot Slaughter se ontdekking van die eerste goudneerslag en sy rykdom wat daarop volg. 'n Komplot tussen Engeland en Duitsland wat die geskiedenis kan verander en die rol van die kanselier Otto von Bismarck maak ook 'n deel van die avontuurverhaal uit.
Die skrywer se goeie beskrywings van pistool- en vuisgevegte – 'n kuns wat die hoofkarakter in Amerika en van 'n Chinees aangeleer het – lees oortuigend, al is dit dalk net vir iemand wat nie oor die kennis en insigte beskik nie.
Die verteller se aaneenstrengel van gebeure en die manier waarop ou geskiedenis en nuwe storielyne telkens ingevleg word, vertraag dikwels die pas en maak dit nie 'n maklike boek om te lees nie. 'n Mens kry 'n paar keer die indruk dat Smit met sy eie teks verdwaal het en dat die geskiedenis in die pad van die verhaal se verloop staan. Daar word aan die begin klem gelê op die koninging van Skeba se persblou oë. In die verhaal trou Slaughter met twee susters nadat hy een van hulle in 'n poskoets-rooftog gered het. Hulle het dieselfde persblou oë, maar die leser soek vergeefs na hul moontlike verband met die koningin van Skeba.
Die verhaal eindig ná grepe uit die Anglo-Boereoorlog en Slaughter se waarskuwings dat die Boere 'n slagting gaan beleef. Ten laaste voer hy 'n gesprek met Paul Kruger in Nederland.
Dit is 'n dik boek (421 bladsye) wat 'n beter produk kon gewees het met 'n dikte van 300 bladsye. Dit sal dalk help as die leser met die deurlees aantekeninge maak wat hom sal help om die storie te volg. As die spanningslyne of verloop nie volgehou word nie, kan 'n boek heeltemal misluk, maak nie saak hoe goed die onderdele nagevors is nie. En navorsing wat te duidelik wys, is soos 'n swart bra by 'n wit bloes. Dit is nogal dikwels die probleem by historiese verhale en 'n fout wat goeie teksredakteurs moet raaksien.
Ja, Goud kan nie roes nie, maar ongelukkig word hierdie resensent gelaat met die gedagte dat alles wat blink nie goud is nie.
The post Boekresensie: Goud kan nie roes nie deur Paul-Constant Smit appeared first on LitNet.