Vandag brand die vure rondom die Suid-Afrikaanse universiteitswese.
My eie ondervindings van universiteitsbestuur
In my jare, vanaf begin 1994, het ek as rektor van Unisa onmiddellik ‘n groot klomp hoofbrekens geërf. Die personeel was onseker en bang vir ons nuwe demokrasie; baie was nie net skepties nie, maar ook antagonisties. Dikwels moes ek dreigemente van verskuilde bomme in ons geboue hanteer. Baie kursusinhoude moes dringend hersien word om van verouderde “aparte ontwikkeling”-teorië skoongemaak te word. Aanstelling van lede van ander bevolkingsgroepe in die Akademie sowel as die Administrasie moes dringend aandag kry. Nuwe kursusse om aan die eise van ons nuwe grondwetlike en maatskaplike omstandighede te voldoen moes ontwerp en ingestel word.
Die ernstigste kopseer was om Unisa se afstandsonderrig te hervorm. Oor baie jare is die idee gevestig dat Unisa-studente op hul eie en op ‘n afstand studeer en deur middel van skriftelike lesings hul onderrig ontvang. Wat egter oor die tyd gebeur het, is dat duisende, meestal arm studente op die verskillende kampusse landswyd al hoe meer voltyds begin studeer het omdat die universiteit se studies goedkoper was en ook omdat hul woonomstandighede so haglik was dat privaat studie daar onmoontlik was. Die gevolg was dat Unisa inderwaarheid een van die grootste inwoonuniversiteite, indien nie dié grootste nie, in die land geword het.
Sommige ougarde-kollegas het moeilik aan hierdie feit gesluk. In die senaat moes ek dikwels hoor: “Wat soek al hierdie studente hier op die kampus? Hulle weet mos Unisa is ‘n afstandsonderriguniversiteit.”
Gelukkig het die oorgrote meerderheid van die Unisa-mense ingespring en die veranderings en hervormings met geesdrif aangepak, ou kursusinhoude oorgeskryf en nuwes ingestel. In ‘n paar jaar is meer lede van ander bevolkingsgroepe in die akademie en administrasie aangestel as in al die voorafgaande jare.
Studiesentrums vir tutoriale onderrig is op al die kampusse ingerig en meer groepsbesprekings is landwyd georganiseer. Ook baie belangrik: die studentekorps is georganiseer om inspraak in die bestuur van die universiteit te verkry en om hul stemme te laat hoor oor die inhoud van kursusse en algemene universiteitsake.
Dus kan ek sê dat met samewerking, begrip en onderlinge vertroue die bepaalde Unisa-knelpunte aangepak en beredder kon word, selfs toe daar kopstamptye was.
Internasionale erkenning as die eerste volwaardige afstandsonderriguniversiteit was oorweldigend.
Die situasie van ons universiteite vandag
Vandag het die situasie egter dramaties verander. Universiteitsprobleme oorspoel die ganse land. Ons hoor, lees en sien elke dag van betogings en rumoerighede op al die kampusse, betogings oor klasgelde en koshuisomstandighede. Ons sien beeldbestorming, brandstigting en ontwrigtings op ‘n massiewe skaal; geboue word gevandaliseer, sale afgebrand en eksamens ontwrig; deeltydse werkers staak. En oorheersend, nog die weerstand teen onderrig in Afrikaans.
Studentegelde
Tans is die belangrikste knelpunt die kwessie van klasgelde. Met die embargo hierdie jaar op die verhoging van klasgelde het die regering vir homself ‘n lat gepluk en nou word die aandrang vir geen verhogings volgende jaar nie net al hoe luider saam met strydlustige wekroepe vir gratis universiteitsopleiding. Daar is nou selfs die ontstellende gerug dat daar ook volgende jaar geen klasgeldverhogings gaan wees nie.
Waar gaan die geld vandaan kom? Universiteite sit landwyd met miljoene rande skuld en volgende jaar gaan dit nog erger word as klasgeldverhogings weer gekelder word.
Nou kom “Fees Must Fall”-studente-aktiviste, en selfs sommige universiteitshoofde, met ‘n dom voorstel, naamlik dat vir welvaartverspreiding rykes “gestraf” moet word met hoër klasgelde ten behoewe van arm studente. Hoe gaan “ryk mense” bepaal word, met watse soort middeletoets? Gaan daar ‘n glyskaal wees vir baie rykes, gemiddelde rykes en net-net rykes? Hoe gaan die rykheid vasgestel word? Hoe gaan gesorg word dat rykes wat lieg, aan die pen gaan ry? Is ‘n enkelma met ‘n bo gemiddelde inkomste, maar met drie minderjarige kinders, sorgbehoewende ouers en ook ander behoeftige lede van haar uitgebreide familie ‘n ryk mens? Wie val almal onder die kategorie “rykes” – net die ouers, of ook grootouers, broers en susters? Want daar is baie studente wat nie deur ouers befonds word nie maar deur gegoede familielede.
Dit alles, terwyl ons belastingstelsel gegoede mense reeds meer belasting laat betaal, onder andere vir maatskaplike dienste en miljarde rande vir maatskaplike toelaes.
Natuurlik is die voor die hand liggende dat die regering subsidies aan universiteite moet verhoog nadat dit oor die jare gekrimp het, en ook meer geld in die Nasionale Studente-ondersteuningsfonds moet stort. Maar die staatskas is leeg en ongelukkig het die Fonds- administrasie nie ‘n goeie reputasie nie en is duisende der duisende lenings nog nooit verhaal nie.
‘n Gedeeltelike oplossing is dat private instansies, kerkgenootskappe en korporasies hul eie ondersteuningsfondse moet stig. Soos Jan Hofmeyr en sy dapper mense met hulle studiefonds reeds vir dekades duisende studente met beurse en lenings ondersteun het.
Die hart van die dilemma
In die soeke na oplossings vir die huidige dilemma van klasgelde en universiteite se geldelike penaries sal ‘n diepgaande sosiologiese ondersoek gedoen moet word na die profiel van ons studente. Duisende studente met bedenklike toelatingskwalifikasies en ontoereikende taalvaardigheid stroom na die universiteite omdat dit vir hulle die belofte inhou van ‘n toekomstige beter bestaan. Ook om die voordele van studentwees te kry, goedkoop etes en huisvesting in koshuise. Maar minder as 50 persent van hulle haal die paal en val uit.
Die voor die hand liggende rede vir so ’n grootskaalse vermorsing van menspotensiaal is natuurlike te vinde in ‘n swak onderwysstelsel, die ontwrigtings van onderrig en afgebrande skole, onbevoegde leerkragte en lae slaagvereistes. Studente kom na die universiteit met beroerde taalvaardighede, meestal omdat moedertaalonderrig op ‘n vroeë stadium reeds verwaarloos is.
In werklikheid is die hart van die dilemma nog veel dieper. Duisende studente kom uit huise met geen boeke, geen leerkultuur, nie die minste kennis van die universiteitswese of respek vir geleerdheid nie. Nou, skielik, moet hulle opeens die wêreld van hoër onderwys betree en aan die eise van selfstudie, dissipline en studietoewyding voldoen. Geen wonder dat die meeste studente moed verloor en uitsak nie. Of aktiviste word nie. Dit is opvallend dat studente wat wel presteer, uit huisomstandighede kom waar ‘n leerkultuur met boeke gekweek is saam met tuisonderrig en konstante ouerlike ondersteuning. Daar is wel baie uitsonderings, maar die meeste van hierdie presteerders is kinders van toegewyde onderwysers, dikwels van pastore in kerkgenootskappe en van amptenare of geskoolde werkers met hoër grade van opleiding.
Die weg vorentoe is duidelik. Universiteite sal hul toelatingsvereistes drasties moet verhoog en aan voornemende studente wat nie kwalifiseer nie, die moontlikhede van tegniese opleiding bied.
Die gradering van Suid-Afrikaanse universiteite
Op die wêreldgraderingslys van 2 000 universiteite is Suid-Afrikaanse universiteite glad nie hoog aangeskryf nie, alhoewel ‘n paar wel ‘n plekkie laer af kry.
Onlangs het die University Ranking by Academic Performance na 18 Suid-Afrikaanse universiteite gaan kyk en hulle gegradeer op grond van hul wetenskaplike produktiwiteit, hul navorsingsimpak en navorsingskwaliteite, sowel as internasionale erkenning.
Dit is ‘n baie belangrike gradering. Voorheen is ons universiteite net op ‘n globale skaal gegradeer. Nou is ons universiteite binne die raamwerk van ‘n ontwikkelende land in ‘n rangorde geplaas en kan gesien word hoe hul teen mekaar opweeg.
Soos te verwag, het universiteite met gevestigde navorsingskulture en -tradisies die top-graderings bo die 300-merk gekry. Agt universiteite, met die Kaapse universiteit die eerste en die ander – Wits, KwaZulu-Natal, Stellenbosch, Pretoria, Noordwes, Johannesburg en Wes-Kaap. Sommige van hierdie universiteite het gevestigde fakulteite met uitstekende navorsingsfasiliteite, soos die mediese, ingenieurs-, veeartsenykundige en natuurwetenskapfakulteite. Met hul bewese navorsing en die nodige regeringondersteuning kan hulle beslis nog aspireer vir hoër graderings op die wêreldranglys. Omdat studie en navorsing in hierdie fakulteite bepaalde akademiese prestasies vereis en hulle nie massa-innames kan bekostig weens die koste van laboratoria en duur apparate nie, kan hulle baie hoër toelatingsvereistes stel en is hulle nie slagoffers van die studentemassifikasie nie.
Die toekoms van die ander 10 universiteite is onseker. Weens die bedankings en aftredes van baie senior dosente wie se poste deur jong, wel intelligente maar onervare dosente gevul gaan word, en die massatoevloei van swak studente, is die gevaar van gebrekkiger dosering en verlaagde standaarde nie vergesog nie. Nagraadse opleiding en die moontlikhede van navorsing gaan ernstig onder druk kom en in sommige gevalle selfs opgeskort word. Die moontlikheid dat sommige van hierdie universiteite die status van voorgraadse universiteitskolleges verkry, met hopelik sterk klem op beroepsopleiding, moet onder oë gesien word. Dit is wat met universiteite in Afrika gebeur het, byvoorbeeld met die eens hoog aangeskrewe Makekere-universiteit in Kampala. Alhoewel die moontlikheid van nagraadse studies steeds aangebied word, word daar gekonsentreer op voorgraadse grade en veral diplomas, baie in die praktiese velde van landbou en gesondheidsorg. Unisa het in hierdie opsig blykbaar alreeds die voortou geneem deur die universiteit as “A University of Africa” te bestempel.
Die toekoms van die universiteitswese in Suid-Afrika
Die huidige universiteitsdilemmas en -probleme moet beslis getakel word.
Maar terselfdertyd moet die toekoms van inwoonuniversiteite nou reeds vierkantig en vreesloos beskou word. Universiteitsonderrig het alreeds die digitale era betree. Dit gaan gebeur dat studente al hoe meer hul lesings, met klank en beelde, op hul tablette, waar ook al buite kampusse, kan sien en aflaai. Ook biblioteekmateriaal en boeke sal op dieselfde manier opgesoek kan word. Selfs op hul selfone. Een van die dae gaan studente hul eksamens nie meer op kampusse aflê nie, maar onder streng sekuriteit om bedrog uit te skakel soos alreeds op lughawens gebeur, in banke, finansiële instellings en kuberkafees. Inskrywings en eksamenuitslae kan alreeds op die net gedoen en verkry word. Gradeplegtighede sal afgeskaal word tot klein fakulteitsfunksies. Dosente se kantore en fasiliteite sal afgeskaal word omdat hulle tuis werk en net dan en wan vir ‘n lesing of twee op kampus verskyn. Soos alreeds by Unisa gebeur.
Al hierdie ontwikkelings gaan maak dat tradisionele inwoonuniversiteite totaal hul residensiële karakter gaan verloor. Al wat miskien gaan oorbly, is plekke vir tradisionele studentesamekomste en pret en sport. Reuse-amfiteaters, groot lesingsale, uitgebreide biblioteekfasiliteite, dosentekantore, ‘n menigte koshuise, kafeterias en selfs sportterreine gaan oorbodig en onbenut word. Ambisieuse bouprojekte sal opgeskort moet word. Universiteitsbesture sal geboue en koshuise asook onbeboude grond moet verkoop of verhuur omdat sulke luukshede gewoon nie meer nodig of in aanvraag gaan wees nie.
Die goeie nuus is natuurlik dat so ’n ontwikkeling aan universiteite die kans sal gee om uit hul finansiële moeilikhede te kom.
Afrikaans as universiteitstaal
Hoe daar ook al gewroeg word oor Afrikaans as voertaal van die tradisionele Afrikaanse universiteite, hoe daar ook al gepoog word met taalbeleide en vorme van gelyktydige onderrig en tolkdienste, asook hofsake en ander manmoedige veldtogte, moet aanvaar word dat Afrikaans op ons kampusse uitgeroei gaan word. Kultureel gestremdes, selfs sommige Afrikaners op universiteitsrade, gaan toegee aan die eise vir die afskaffing van Afrikaans. Hierdie besture en mense aanvaar dat Afrikaans as gebruikstaal, as ‘n soort patois, sal voortbestaan as kommunikasietaal en op kuns- en ander kultuurfeeste sal voortlewe. Lippediens word bewys aan ander inheemse amptelike tale as voertale, met die eenvoudige besef dat hoëvlakkundigheid daarvoor nie bestaan nie en dat so ’n ontwikkeling nog groter finansiële verpligtinge gaan meebring.
Die kern van die saak om Afrikaans as voertaal af te skaf, is geld. Afrikaanse studente word minder en dit word al duurder om dié taalonderrig voort te sit omdat die staatsubsidies hoofsaaklik op studentegetalle gebaseer is.
Gelukkig as een deur toegestamp word, word ‘n ander deur oopgesluit en word die kanse vir Afrikaans as hoëronderrigtaal weer geskep. Akademia, die Afrikaanse inrigting vir hoër onderwys, is die herout van ‘n nuwe dageraad. Met sy vernuwende maniere van afstandsonderrig bevind hierdie instelling hom reeds volledig binne die digitale wêreld. Vir die huidige word gekonsentreer op besigheid- en beroepsopleiding, maar ontwerpe vir Afrikaanse onderrig in die regte, en gou ook in kultuurvakke, is reeds op die tafel. Honderde hoogs opgeleide Afrikaanse voormalige dosente is entoesiasties en wil saamwerk om te verseker dat standaarde gehandhaaf word. Die moontlikheid van vennootskappe met voorheen Afrikaanse universiteite om Afrikaanse kursusse aan te bied met akkreditasie, word reeds ondersoek. Glo binnekort gaan private instellings met die nodige bewyse van gehalte toegelaat word om hulself ook universiteite te noem. Akademia word dan die Akademia Universiteit.
Uit my eie betrokkenheid by hierdie instelling het ek die gevoel dat daar ‘n blink toekoms vir Akademia wink. Ek ervaar dieselfde opwinding wat ons in die nederige beginjare van Unisa gehad het.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se beursskema vir Afrikaanse verhandelinge en proefskrifte is nog ‘n groot stap vorentoe. Afrikaanse kandidate vir die meesters- en doktorsgrade wat hul verhandelings en preofskrifte in Engels skrywe, soms maar wankelrig, glo dat so ’n verhandeling en proefskrif meer bekendstelling oorsee sal kry, terwyl hul produkte eintlik in ‘n see van Engelse akademiese geskrifte gaan versink. ‘n Afrikaanse verhandeling of tesis met ‘n goeie Engelse opsomming het meer kans om oorsese belangstelling te wek omdat geleerdes dáár bewus is van die gehalte van Afrikaanse geleerdheid en baie kere bedag en geïnteresseerd is om anderstalige geleerdhede te ontdek. By Harvard is daar byvoorbeeld Afrikaanse geleerdes wat goeie Afrikaanse verhandelings en tesisse onder oë neem en deur vertalings en opsommings aan die betrokke vakdosente beskikbaar stel.
Terloops, dink daaraan dat ons beste en gewildste skrywers se boeke soms in meer as 20 ander tale vertaal word.
Kampvegters vir Afrikaans in die universiteit word soms uitgekryt as taalbulle of -osse wat in die verlede leef en verkrampte, outydse waardes aanhang. In werklikheid is die voorstanders kultuurmense wat die Dietse en Europese wortels van Afrikaans waardeer, en meer nog, wat weet dat Afrikaans die sleutel is om die rykdomme van die Nederlandse, Vlaamse en Duitse geleerdheid te ontgin, wat bewus is van die hoë waarde van Afrikaans as akademiese taal en kan wys na mense met ‘n Afrikaanse tersiêre opleiding wat in ons land en oorsee uitnemend presteer het en nog steeds presteer.
Ten diepste is vir sulke voorstanders Afrikaans nie net ‘n kommunikasiemiddel nie, maar die suurstof van die gees, soos Breyten sê.
Ten einde
Hierdie artikeltjie is my stuiwer in die beurs. Instemming daarmee is nie die belangrikste nie. My hoop is dat die Heher-kommissie wyer sal gaan as net ‘n ondersoek na studentegelde en ‘n breër ondersoek na ons universiteitswese in die algemeen sal doen. Indien nie, dat hul kernaanbeveling sal wees dat ‘n kommissie van hoogstaande en kundige persone aangestel word om ons universiteitswese vir nou en die toekoms te beskou met besliste aanbevelings, soos die Van Wyk de Vries-kommissie amper 40 jaar gelede gedoen het.
- Marinus Wiechers, voormalige rektor van Unisa
Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.
This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.
The post Quo Vadis Suid-Afrikaanse universiteite? appeared first on LitNet.